Titelblad
KROES
PAT STAMATÉLOS
KWELA BOEKE
Opdrag
Vir
Anastasía Stamatélos en Reggie Seale
Ioánni en Glenda Stamatélos
Níki Stamatélos
Aléxis Stamatélos
en
Kay Heyns
Hoofstuk 1
My dadda maak my die oggend wakker. Ek lê nog warm onder die komberse, met net my bruin krulkop wat uitsteek.
“Pettie,” sê hy saggies terwyl hy oor my hare streel, “Mamma is weg. Sy kom nie weer huis toe nie. Onse mamma is dood, Pettie.”
Ek knik my kop en staar hom grootoog aan. Dis nes of Dadda vir my sê die oggendkoffie is koud. Daar is nie ’n vloed van trane nie, nie die besef van wat die dood nou eintlik beteken nie.
Dit vat ’n lang ruk voor ek besef dat die oggendkoffie nooit weer warm sal wees nie. ’n Kind van agt aanvaar die dood gouer en makliker as grootmense. So wil dit voorkom. Dis snaaks, maar dit is so.
Na my dadda my die slegte nuus vertel het, huil ek tog later ’n bietjie, maar die besef van die dood is nog nie heeltemal daar nie. My susters en broer se oë is wasig en rooi van die huil, maar hulle kyk weg as ek hulle aanstaar.
Die volgende paar dae voel dit vir my ek loop in ’n dwaal. Baie dinge gebeur om my, maar ek word nooit ingesluit nie. Mense kom, praat in fluisterstemme, skud hand en gaan dan net so skielik weer. Soms kyk hulle my kant toe, skud die kop en vee oë af. Ek kry ’n bietjie skaam vir al die aandag en vlug vinnig kamer toe.
Ek onthou die begrafnis. Die sand wat op die kis gestrooi word, die vroue in swart klere en big party hats. Met droë oë staar ek na die huilende mense. Ek dink: Hoekom staan en huil hulle nou oor mý mamma? Sy was mos nie hulle mamma nie. Toe ek sien hoe hulle huil, wil ek ook huil.
Eintlik onthou ek die swartbedekte kniekoppe en stowwerige skoene beter as die gesigte. Die mense staan my amper toe. Ek kyk na die groot gat by my voete, en bo die gat die blink boks. Ek kyk goed daarna. Dis die eerste keer dat ek so iets sien. Die handvatsels blink. Hulle lyk asof hulle met Mamma se Brasso blinkgevryf is.
Ek weet my mamma lê in die boks en ek praat met haar.
“Die handvatsels blink, Mamma. Hulle lyk net so mooi soos jou potte in die sitkamer. Mamma lê nou in die blink boks, maar wat van my? Wie gaan nou my brekfis maak, my lunchboksie inpak, my klere stryk? Ek wens Mamma kon al dié dinge sien, Mamma sou ook surprised gewees het om so baie mense hier te sien. So baie wat oor Mamma huil. Ek self het nie geweet so baie mense is lief vir Mamma nie.”
Die graaf vol sand word voor my ingestoot en met ’n onseker hand vat ek ’n vuis vol, skaam-skaam. Ek kyk op en sien hoe die mense my dophou, en ek voel so ’n bietjie important. Die boks begin stadig te sak. Laer en laer die donker gat in. Ek voel skielik baie verdrietig en die trane rol. Ek strooi die bietjie sand kis se kant toe. In my gedagtes groet ek my mamma.
“Die bietjie sand is vir jou, Mamma. Koebaai. Koebaai.”
Maar my mamma kan my nie hoor nie, sy is regtig dood.
Die dae voor my mamma se dood onthou ek goed. Miskien glo niemand my vandag nie, maar ek het eenkeer ’n stukkie uit die Bybel vir haar gelees. Die mense in die kombuis raas en sy kan nie mooi hoor wat ek lees nie. Sy tel die koppie op wat langs die bed op die kassie staan en slinger dit deur die oop deur tot teenaan die gangmuur. Dit spat in stukkies.
My oudste suster, Kay, kom kyk. “En nou, Mamma?” vra sy en lag ’n bietjie, maar onse mamma lag nie.
Mamma is moeg en siek. Sy moet hospitaal toe; sy weet dit, maar sy wil nie. Sy is bang, want haar niggie Joey is kort tevore ook hospitaal toe ná ’n lang siekbed, en na net een dag in die hospitaal is sy dood. Mamma het gedink Joey moes maar liewer by die huis gebly het, dan het sy nie so jonk doodgegaan nie.
Mamma se voet is seer en stukkend. Dadda praat met haar daaroor.
“Die ambulance kom, Nel. Sê vir die mense by die hospitaal vannie seer voet. Hulle sal kyk daarna. Jy moenie vergiet nie, sê vir hulle.”
En nou is sy dood. Die warm koppie koffie is koud.
’n Mens se brein is ’n snaakse ding . . . Dinge wat jy dink hy sal onthou, vergeet hy dadelik, maar ander dinge bly, en jy wonder jare later daaroor. Dis dinge wat jou later laat wakker lê. Amper soos ’n tiekieboks. Jy gooi jou tiekies in terwyl jy praat en jy praat lekker en jy gee nie ’n thought vir die tiekies wat jy reeds ingegooi het nie, maar dan, ewe skielik, wil een tiekie nie deurval nie. Hy sit vas en jy weet nie hoekom nie. Jy slaan die boksie met die sagte kant van jou vuis en miskien vloek jy ook ’n bietjie, maar die tiekie bly sit. En hóm gaan jy onthou, die tiekie wat vasgesit het, maar die ander het jy lankal vergeet. So is die mens se brein. Party dinge bly vassit.
So is dit die aand toe ons hospitaal toe gaan om vir Mamma te gaan kuier. Die aand voor haar dood. My dadda neem ons en ons sit ingeryg in sy second-hand kar. Kay sit voor, sy is die oudste. Agter is dit ek, Dorie en my ouboet, Stewie. Ons is stil, ons weet nie wat voorlê nie. Dadda het gesê onse mamma is baie siek.
Die eerste ding wat ek sien toe ons nader aan die bed stap, is die boggel onder die deken, en ek weet Mamma het gesê. Hulle het ’n ding onder die komberse gesit sodat die komberse nie aan haar seer voet raak nie. Ons sien dit almal raak.
“Sy het vir hulle gesê,” sê Dadda tevrede.
“Ek is bly sy het vir hulle gesê,” sê Kay.
Ek en Dorie en Stewie sê niks, maar ons kan sien sy het gesê van die seer voet.
Ek kan nie onthou of Mamma iets gesê het en wat ons gesê het nie. Haar oë lê diep en donker in haar kop, swart krulle uitgesprei oor die wit kussings. Sy sit-lê teen die kussings en kyk na ons. Haar vier kinders en haar man. Ek wil haar ’n drukkie gee, maar ek is te klein en die bed is te hoog. Sy lê daar bo en ek staan hier onder.
Met die gaan tel Dadda my op en ek soen haar saggies, bang ek maak haar seer. Die ander kinders groet ook. Sy lyk net moeg, soos iemand wat nou opgee.
In my gedagtes sien ek haar staan in die kombuis, een voet op ’n stoel, elmboog op die knie, sigaret tussen die vingers en tong tussen die tande. Dan dink sy diep en ver terwyl sy vir die potjie op die stoof wag om die kos klaar te kook.
Nou lê sy plat en die visiting time is verby en ons is op pad huis toe.
Ons loop vinnig tot by ons kar onder die groot boom. Die ligte om die hospitaal is min en die parkeerplek donker. ’n Man lê op die naat van sy rug langs ’n motorfiets, net so ’n entjie van ons kar af. Hy lê uitgestrek, bene ver uitmekaar, die leerbaadjie toegezip en sy oë toe. Kompleet soos iemand wat op ’n kruis vasgespyker is. Hy lê doodstil. Dis aardig en ek voel bang. Dadda sluit die kar oop en ek klim eerste in. Ek is klein, maar ek weet van die skollies.
Selfs in die donkerte van die boom kan mens sien dis ’n wit man. Dadda staan lank na hom en kyk, maar van ver af. In die veiligheid van die kar druk ek my neus plat teen die ruit. Die ander staan ook ’n oomblik stil om na die uitgestrekte figuur te staar. My dadda is nie seker of hy nader moet gaan nie. Miskien het die man hulp nodig, maar hy kan ook besope wees. Ons kinders moedig Dadda nie aan om nader te gaan nie, en hy draai die rug. So laat ons die man daar lê.
Dadda start die kar en sit die ligte aan. Nog ’n keer kyk ons na die man wat steeds roerloos daar lê. Dadda swaai die karretjie se stert en ons is weg.
Soos ’n tiekie wat bly vassit, bly die ding van daardie donker nag in my brein. Hy sit behoorlik vas. Sê nou maar die man het ’n hartaanval of so iets gehad en het net gelê en wag op ’n goeie Samaritaan om hom te help? Miskien was hy nie ’n skollie nie, nooit dronk nie. En sê nou onse dadda het gaan kyk, hom gehelp – sou die liewe Heer nie miskien onse mamma gesond