Ek het nie geweet presies wát ek glo nie, maar ek was oortuig dat die god waarin ék geglo het nie so dom of eng soos die kerk se groot geeste was nie.
’n Wêreld se verskille het tussen ons gelê.
Een middag na skool het ek oudergewoonte by ons eetkamertafel gesit en koerant lees toe alles vir my net te veel word. Op die voorblad was ’n foto van ’n swart man wat tydens onluste in die townships met ’n spies deurboor is. Die ding het aan weerskante van sy lyf uitgesteek. Ek het in trane uitgebars en my ma het nadergestorm en gedink ek huil oor die foto, maar eintlik het ek gehuil omdat ek die komende Sondag voor ’n kerk vol mense sou moes staan en lieg. In ’n koekerige, roomkleurige pakkie. Darem met sykouse aan. (Halleluja.)
Dit was te laat vir omdraai, want Ouma en Oupa sou na die tyd vir koek en tee opdaag. Die aankondiging van ’n algehele ommeswaai in my gemoedstoestand en geloofsoortuiging sou nie baie goed by hulle afgaan nie.
Druk maar deur, my kind. Jy sal nooit spyt wees nie. Ma is baie trots op jou …
Ek hét toe daar gestaan en lieg.
En daarna opgehou om kerkdienste by te woon.
Ek was nog steeds ’n koekerige dogtertjie in murg en been wat elke dag getrou my huiswerk gedoen het en goeie maniere gehad het en só skaam vir die manlike geslag was dat my wange begin bewe het as ek met hulle moes praat.
Siestog, sussie.
Teen dié tyd wil jy seker weet: hoe de moer het ek myself dan vir langer as ses jaar aan die seksbedryf oorgegee?
Want ek kon. Ek wóú.
Ek kan dit nie anders stel nie.
Want ek het geleer om braaf (of is dit dalk dom) genoeg te wees om my eie antwoorde te gaan soek.
Want ek wou gaan kyk wat aan die donker kant van suburbia broei, wat gebeur as die ligte afgaan.
En waarheen val jy wanneer jy oor die randjie trap en die duisternis in tuimel?
Ek het geweet lig is altyd deel van die donker en donker is altyd deel van die lig. En ek het geweet daar is nie iets soos net één waarheid nie.
Ek het altyd geweet ek sou weer kon terugkom, al sou dit nie onveranderd wees nie. Ek wil nie eendag ’n vyftigjarige voorstedelike huisvrou of loopbaangerigte ysterkoei wees wat al dekades getroud is met ’n bleskop-boepensman, die gemiddelde 2,5 kinders het en dan skielik rooimiere kry en ’n volskaalse vloermoer gooi nie. Of tot in my siel toe depressief raak omdat ek meteens besef ek het nooit regtig my jeug beleef of geniet nie.
O nee. Ek het my wilde kant gaan verken …
4. Gee jou hart vir Hillbrow
Johannes Kerkorrel se song het nog al die jare die vrees, die verlatenheid en die boheemse funkiness van dié plek daai tyd vir my vasgevang; ek kon rêrig verstaan wat hy bedoel.
Ek het dit beleef, aan my lyf gevoel, dit geruik en ingeasem soos wat ’n mens sigaretrook intrek.
Hillbrow.
Hoe het ’n koek van Linden daar beland?
Ek het altyd gewonder hoe anders die Eloffs was as daar ’n vergelyking getref sou word tussen ons en die talle tipiese godvresende Afrikaanse huisgesinne wat hulle kinders na Hoërskool Linden gestuur het. Almal van ons het tog op ’n daaglikse basis met mekaar te doen gehad.
Ons was seker nie veel anders nie. My pa was ’n rekenaarprogrammeerder, ’n regte computer geek, en my ma ’n huisvrou. (Die tuisteskepper.) Skuins oorkant ons het ’n snaakse bierboep-omie en sy vrou gebly. Sy het so ’n byekorfgedoente vir ’n kapsel gehad. Hulle twee kinders was vieslike brats, sulke snotneus-vuilbekke. Maar ons moes Sondae in die kerk gedienstig oor en weer vir mekaar glimlag. Ons kon almal net sowel karakters in The Simpsons gewees het.
Kyk, daar was goeie tye en daar was slegte tye by die Eloffs. Sadly, soos ek ouer geword het, het die slegte tye langer geword en die tussenposes korter. Of ek het dit net al meer en meer begin besef soos my begrip mettertyd ontwikkel het. Daar was ’n tyd toe my ma haar huistake met ’n geneurie verrig het; sy’t baie gelag en ons het altyd lekker saamgelag. Maar later was daar nie meer musiek wat as klankbaan vir die goeie tye gedien het nie. Niemand het meer gelag nie. Daar was nie eers meer tussenposes nie; die slegte tye het aaneengeloop.
Ons huis was ’n woestynslagveld vol kak, hare en lyke waar eens liefde en geluk was. Ek het nooit skoolmaats huis toe genooi nie; ek was te bang hulle gaan skinder by hulle huise daaroor. Ma, Karin se huis is genuine hel …
Ek het eerder by my vriende gaan kuier. Wanneer my ma my toegelaat het. En oor die toestande tuis gelieg: Nee, tannie, ons huis is ’n lekker plek!
Tydens my matriekeksamen het my pa een aand by my kom sit terwyl ek geswot het en aangekondig hy het besluit om van my ma te skei. Sy tydsberekening was nie van die beste nie, maar ek was verlig. Amper bly. Miskien sou dit ’n einde bring aan die emosionele grofgeskut en die gekonsentreerde daaglikse bombardement.
Dit het nie. Dit het net erger geword en my ma se skreeuery onuithoudbaar.
Ek was dus desperaat om so vinnig moontlik ná skool uit die huis te kom. Sommer ver weg. En al was Hillbrow slegs tien minute se ry van ons huis, was dit ver genoeg.
Al die weirdo’s, artists, misfits, pinks-addicts en runaways het soontoe uitgewyk.
Glo my, ek het tuis gevoel daar.
Ek het eenvoudig vir my ouers gesê God roep my soontoe en dat ek ’n sendeling by ’n uitreik-aksie in Hillbrow gaan word. My ouers het belangriker dinge gehad om hulle oor te bekommer as dit waarmee ek my besig hou. Tuis het dit redelik beroerd gegaan: my ma het ’n ineenstorting gehad en in ’n inrigting beland. Sy kon nie glo haar man skei haar nie.
Die Christen-aksie waarby ek aangesluit het, was geweldig militant. Nadat die sogenaamde dominee my en ’n ander meisie betas het en daar vir my gesê is ek loop soos ’n koei op hitte rond, het ek van hulle af weggehardloop na ’n ander uitreik-aksie wat meer spiritueel as Christelik was. Daar was nie dieselfde veroordelende element wat ek by die Christene beleef het nie. Ek het heelwat veiliger gevoel. En onmiddellik tuis.
Shelter for teenage runaways and drug-addicted prostitutes, het die bordjie by die voordeur gesê.
Die plek is deur ’n Afrikaanse egpaar bedryf wat my meer oor die lewe geleer het as wat ek in twaalf jaar op skool geleer is. Die eerste ding wat ek geleer het, is: Don’t fix it if it ain’t broken. Dit het ongelooflik sin gemaak. As iemand nie jou hulp wil hê nie, moenie gaan staan en arrogant wees en hulle psige met jou hogere, alleswetende reddingspoging verkrag nie. Los hulle uit!
Ons het dus net hulp verleen aan dié druggies wat hulp wóú hê. Niemand is gedwing om uit te droog as hulle nie wou nie. Die hulp was eenvoudig die voorsiening van skoon spuitnaalde en ’n plek om te bad en te eet vir druggies, asook kondome vir prostitute. Dit was nie ’n rehabilitasiesentrum nie. Die benadering was if you have to do it, do it responsibly.
Ek was ’n kuis agttienjarige. Ek het nog nooit met dwelms te doen gehad of dit gebruik nie. Ek was eintlik self net besig om van die harde realiteit van my ouers se bittere egskeiding te ontsnap.
Maar kort voor lank was ek moerse nuuskierig oor hierdie donkerrooi, bloederige newel van sleaze en kreatiwiteit wat Hillbrow was. Ek het ’n beheptheid met die onderwêreld ontwikkel, want dit het die donker, emosionele draaikolk binne my weerspieël. Ek het daarmee geresoneer.
My herinneringe aan Hillbrow is half surrealisties: ’n pink-addict wat in ons badkamer bloed teen die mure laat spuit; die TV-program Carte Blanche se kameraspanne; ek en die ander meisie wat daar gebly het wat voor die kamervensters saans op die musiek van Frank Duval dans terwyl eensame enkellopende mans in hul karre stadig in die straat verby ry op soek na een van die prostitute wat voor op die sypaadjie uithang; of ek en sy wat net stil langs mekaar sit in die aandwind wat na die stank van besoedeling, daggarook en vryheid geruik het; ons wat glasbottels teen mure stukkend gooi om aan ons innerlike verwarring uiting