Dit was my eerste kennismaking met woede. Wow, hoe interessant, het ek gedink.
Toe ek ’n bietjie ouer was, het ek gewoonlik vroegoggend na my ma-hulle se kamer gesluip en dan op die bed gespring en geskree ek is die Pink Panther. Daarna, nadat my pa weg is werk toe, het ons my ma gehelp om die beddens op te maak en die melk en lemoensap by die voordeur gaan haal. Daai tyd het die melkery nog ’n karretjie gehad wat teen sonop als voor die hek afgelewer het – en niemand het dit gesteel nie.
My ma se kamerjas was maroen en al die sakke was vol opgefrommelde sneesdoekies. Haar neus het seker maar baie geloop. Laatoggend het ons Siembamba geluister. Elke dag was Tannie Susan en Otterjasie ’n hoogtepunt. Ek en my kwaai sussie was selfs eenkeer ateljeegaste op die program. Ek het die maatjies vertel van die Mac-Mac-waterval, die Bruid se Sluier en toe Koljander-koljander gesing. Dit was my eerste openbare optrede.
Ek onthou dat ek op drie reeds ’n woord vir orgasme gehad het. Dit was só grusaam dat ek dit nie eers hier wil herhaal nie. Nee, ek gaan nie – maar dis baie soos die Franse se Little Death.
Little Death? Ek het nóú nog nie ’n idee waar ek dít vandaan gekry het nie. Hoe ek my orgasmes met ’n soort doodgaan verbind het, weet die Here alleen. Het dit dalk iewers uit die kollektiewe onderbewuste gekom? ’n Vorige lewe waarvan ek onbewustelik bewus was? Wie sal weet?
Ek dink ek en my sussie het albei van kleins af ’n sterk verbintenis met daai kollektiewe reservoir gehad. Sy’t sommer een oggend vroeg doodkalm vir ons vertel: “Oumie is dood.”
Toe ons huistelefoon laatoggend lui, was dit presies die nuus wat aan my ma oorgedra is.
My sussie se verklaring? Sy’t dit gedroom.
Ons het baie rondgetrek voor ek skool toe is. In ’n stadium het ons ’n huis gehad met ’n groot agterplaas; daar was ’n enorme heuwel waarby ons altyd afgerol het. Dit was ook hier waar ek my eerste kat gekry het. ’n Swarte. Sy naam was Ponti, genoem na Carlo Ponti, die stylvolle Italiaanse aktrise Sophia Loren se man.
Ek onthou vividly hoe ek Ponti vir die eerste keer onhandig opgetel en op my bed neergesit het. Daar het swart merke agtergebly. Bleddie kat. Ek was ontsteld omdat hy sy kleur aan my beddegoed afgesmeer het. Hoe moes ek geweet het katte se verf kom af? My ma sou die supermoer in wees!
Ek het Ponti van my bed af verwilder en was baie kwaad vir hom. Ek het eers later jare besef dit moes die swart politoer van my spieëlblink kerkskoentjies gewees het en nie die arme kat se verf nie. Ek het natuurlik met my skoene op die bed geklim om hom te verjaag, so jy kan jou voorstel hoe my bed op die ou end gelyk het.
My ma wás absoluut die supermoer in. Shame. Ponti het uiteindelik weggeloop. Hy was maar ’n rondloperkat, het my ma getroos.
Dit val my nou by ons het ook ongoddelik stywe, wit kouse saam met die spieëlblink skoentjies kerk toe gedra. Dit was so styf om my bene dat ek my op die ouderdom van vier al oor spatare begin bekommer het. Ek het mos gesien hoe lyk party ou tannies se bene: vol pers strepies wat soos paaie op ’n padkaart oor hulle kuite kronkel. Dit kon net as gevolg van daai stywe kouse wees.
Ek en my sussie kon lank voor skool lees en skryf. My ma het die noodsaaklikheid van taalvaardigheid baie ernstig opgeneem – iets waarvoor ek haar ewig dankbaar sal wees. Ek het as gevolg daarvan later deur skool en universiteit geseil. (Behalwe vir graad een.)
Ons het ook ’n boks vol wiskundige speletjies gehad wat my ongelukkig nie rasend van opgewondenheid gehad het nie. My ma het egter gesorg dat ons speelgoed stimulerend was: vergrootglase, ontkiemende boontjiesade, klippies, Kupie-poppe en blikke vol knope.
Ek dink ek was drie toe ons ’n TV gekry het. Ek en my sussie het altyd met groot oë voor die TV na die toetspatroon gesit en staar. Toe die letters begin rol, het ons soos blits ons speelgoed en blokkies weggepak – dit was tyd vir die TV om te begin! Ons is toegelaat om Haas Das, Redding Internasionaal en Die Muis van Mars te kyk. Heelwat later ook Dallas, hoewel dit kwansuis net vir grootmense bedoel was. Ek het anyway nie verstaan wat hulle sê nie. My pa was ’n groot fan.
My eerste crush was op Piet die Weermuis, Haas Das se regterhand. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het hom net kwaai gelaaik. Ek het selfs ’n Piet Weermuis-hangertjie gehad.
My volgende groot crush was op Wilma van Buck Rogers in die 21ste eeu. Sy’t altyd sulke cool, stywe, blink outfits gedra. Daarna was dit die Australiese sangeres Olivia Newton-John. Ek het veral van haar legwarmers en sweatband gehou. Dis nie dat ek enigsins homoseksuele neigings getoon het nie; ek dink elke dogtertjie raak verlief op iemand wat sy hoop sy sélf eendag sal kan wees.
Maar ek het toe helaas nie Olivia Newton-John geword nie.
Die eerste man op wie ek verlief was, was my pa. Hy was my prins. My ma het partykeer toegelaat dat my pa ons bad en ek onthou hoe sagkens hy met my en my sussie gewerk het. As hy my nat hare moes uitkam, het hy dit nooit getrek nie. Dit was ongelooflik belangrik; hy’t my nooit seergemaak nie.
Die volgende man op wie ek smoorverlief geraak het, was die Amerikaanse popsanger Donny Osmond. Ek was daarvan oortuig dat ek eendag met hom sou trou, al het hy in Amerika gebly. Asof dít nou saakgemaak het! My liefde vir hom het my laat glo dat ek tot alles in staat was – selfs al moes ek soontoe swem. Ek het onderhoude met myself begin voer in my kamer oor my verhouding met Donny, waarin ek Engels met ’n Amerikaanse aksent probeer praat het. Die res van die gesin het agter die toe deur gestaan en lag vir my. Hulle het seker gedink dis oulik en skreeusnaaks. Ek was goed bek-af toe ek uitvind. Hoe kón hulle vir my lag? Sies.
Alles is gedoen wat met ons gedoen moes word: My ma het ons gereeld tandarts toe gevat, daar’s saans vir ons stories gelees en ons is goeie maniere geleer. Ek het nie eens één keer in my broekie gepiepie nie, sover ek kan onthou. Toe ek in graad een was, het my ma besluit ek moet klavierlesse neem. Dit sou my dissipline leer, my diepliggende musikaliteit ontgin, verfyn en poleer. My nader aan Donny Osmond bring …
Ek het nie vir dáái een geval nie, maar nogtans ingestem. Ek het tot in graad sewe met die klavier deurgedruk – lank nadat my Donny Osmond-fase so oud en deurgelees soos laasweek se Huisgenoot was. Ek het gevorder tot op die vlak van graad vyf met Unisa se praktiese eksamens. Ek het ook viool gespeel tot op die vlak van graad drie. (En nee, dit het nie soos ’n martelende tandetrekkery geklink nie.)
Toe die tienerjare my soos ’n bolhamer tref, wou ek natuurlik niks meer van dié klassieke kak weet nie – dit was so uncool soos bril dra of etterpuisies op jou voorkop. My ma-hulle het my verseker dat ek eendag bitter spyt sou wees indien ek ophou, maar my redenasie was dat ek dit altyd later as ’n volwassene sou kon hervat as ek wou. (Verlede jaar, toe die gogga my wragtig weer byt, het ek besluit: Now for something similar, but completely different. Ek speel nou tjello.)
Ek moet sê ek het op laerskool in fact sulke goeie maniere gehad dat ek eenkeer sommer my hand opgesteek het om vir die juffrou te vra of ek elders in die klas kon gaan sit omdat ek nie langs ’n dom seuntjie wou sit nie.
Hoe het ek geweet hy was dom?
Sommer. Hy wás net. Dit was mý besluit.
Ek hét mos asseblief gesê, juffrou …
My ma het in die Montessori-onderwysmetode geglo, en daar was nie daai tyd baie sulke kleuterskole nie. As gevolg daarvan was ek nooit in ’n kleuterskool nie. Toe ek in graad een kom, het ek glad nie die rympies geken wat die ander kinders reeds in die kleuterskool geleer het nie, maar ek kon skryf en lees. My ma het my nie gedruk om soos ’n baba te skryf nie, dus kon ek goed skryf, maar ai – my handskrif was lelik; daar was niks soos netjies sag op en hard af met die potlood by my nie. Dit was seker meer van ’n gekrabbel, want niemand kon dit lees nie. Ek het graad een toe amper gepluk omdat ek nie die simpel kleuterskoolrympies geken het nie en omdat my handskrif gelyk het asof ’n dronk spinnekop in ink geval en al struikelend oor ’n bladsy geskuifel het.
In graad twee het ek my eerste pak slae in die skool gekry. Ek het “Johannesburg” met twee J’s gespel. Die juffrou wou weet of ek probeer snaaks wees, maar ek kon nie verstaan wat sy bedoel nie. Later