Stiletto. Karin Eloff. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Karin Eloff
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9781920323677
Скачать книгу
instrument do you play?” wou sy weet.

      “A computer,” het hy geantwoord.

      Nee, regtig. Sy was naïef genoeg om verstom te wees toe sy hoor ’n mens kan musiek maak met ’n rekenaar.

      “I will show you,” het hy belowe.

      Na ete het hy gesê sy moet vir ’n rukkie by hom kuier sodat hy vir haar sy rekenaarmusiek kan speel. Haar waarskuwingsliggies het begin flikker – sy het geweet dit sou baie onverantwoordelik wees om in ’n vreemde, temperamentele Spaans-Franse akteur se woonplek te gaan musiek luister.

      Die reuk van seks het swaar in die lug gehang. En dit was meestal net van sý kant af. Maar, het sy in haar onnoselheid geredeneer, dit wás haar twintigste verjaardag en as sy nie nóú haar maagdelikheid verloor nie, gaan sy seker nooit nie.

      Op pad na sy woonstel het hy haar hardhandig teen die muur van ’n ondergrondse tonnel vasgedruk en gesoen. Steeds het dit niks vir haar gedoen nie, maar die idee was tog opwindend – om ’n vreemdeling in Parys te soen gebeur nie elke dag nie. Daar was geweld in sy bewegings wat haar seker op ’n verwronge manier effens jags gemaak het. Hy’t sy vingers in haar mond gedruk en sy een been hard tussen hare ingedwing.

      Daar wás kans vir omdraai, maar sy’t nie omgedraai nie.

      Sy’t die soort vrees vir die situasie gehad wat kinders vir die duiwel in die Kinderbybel het – hulle harte spring uit hulle kele; die godvresende betowering is angs- sowel as genotgedrewe.

      Hulle wil kyk.

      Sy moes voel.

      Dit het op daardie oomblik ’n berekende besluit geword, want sy’t geweet daar sou nie kans vir omdraai wees as sy eers by sy woonstel ingestap het nie. Toe sy oor sy woonstel se drumpel trap, het sy geweet sy’t hom nou toestemming gegee om met haar te doen wat hy wil.

      Hy’t haar vasgegryp. Hy’t ’n CD van die rockgroep U2 op sy rekenaar gespeel en die oomblik toe hy haar gepenetreer het, het die liedjie One gespeel.

      Hy’t haar met soveel krag platgedruk dat sy geweet het daar is geen kans om te ontsnap nie. Hy’t haar in haar gesig geslaan en daarna gesoen, haar hare getrek en haar lyf kort-kort in ’n ander posisie gegooi.

      We’re one, but we’re not the same.

      Did I disappoint you, leave a bad taste in your mouth?

      Did you come here to play Jesus to the lepers in your head?

      het U2 gesing.

      Toe sy hom uiteindelik vra om asseblief net meer sagkens met haar te werk omdat dit haar eerste keer is, het hy haar soos ’n besetene uitgejou.

      “You lie, bitch!” het hy vingerswaaiend gekoggel.

      Hy’t vreemde goed begin sê en haar bang gemaak. Die gedagte het by haar opgekom dat sy dalk nie hierdie aand sou oorleef nie. Sy’t paniekerig geraak, haarself begin verwyt en haar gedagtes in ander rigtings probeer dwing; sy’t teruggedink aan die kere toe sy as klein dogtertjie haar Kupie-poppe op hul rubbervoorkopppies gesoen het, asof sy vir hulle lief was. (Dit het haar sussie gewalg. Hoe kon ’n mens liefde aan ’n rubberpop betoon? Maar daar was troos in die reuk van babapoeier.)

      Die Fransman het haar teruggepluk na die hede, na die vreesaanjaende seksspeletjie op die vloer van sy beknopte, vuil woonstel.

      “I’ve pinned you down like a butterfly now,” het hy in haar oor gefluister. “You are the ocean and I’m the rock.”

      Dit het haar onrustig gemaak. Miskien probeer hy net kinky wees, het sy haarself probeer gerusstel. Miskien.

      “After I make love to them, I kill all my lovers,” het hy gehyg.

      Sy was nou heeltemal beangs. “Please … please take me back to my hotel!” het sy gesmeek.

      Hy het ingestem, op voorwaarde dat sy eers ’n perske eet terwyl hy toekyk en masturbeer.

      Nee. Sy kon nie.

      “I’m not hungry,” het sy gesnik. Sy wou net alleen wees. Sy’t pas haar maagdelikheid opgeoffer, dit prysgegee. Meer as dit: dis met brutaliteit van haar weggeneem.

      “WHY YOU SUCH A CRY BABY???!!!” het hy skielik soos ’n besetene op haar geskree.

      Sy wou bad, hom met seep van haar afwas. “Please take me back!” het sy gehuil.

      Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het hy haar teruggeneem hotel toe. Haar lyf het geskud soos sy huil toe sy haar kamerdeur in die vroeë oggendure agter haar toedruk.

      “Ag, dankie, dankie, dankie …” het sy geprewel.

      Sy was veilig.

      Sy was alleen.

      Hoekom, het sy haarself tot vervelens toe afgevra, hoekom was jy so fokken stupid?

      Sy het in ’n vreemde stilte in die bad gesit. En skielik dood gevoel. Gestroop van emosie. Sy wóú niks voel nie. Ure lank het sy hom van haar afgewas. Geskrop. Oor en oor.

      En geleer om niks te voel nie.

      Dit sou haar later nog nuttig te pas kom: kaal tot op die been – uitlokkend, maar sonder aansit, sonder emosie, sonder oordeel, sonder betekenisvolle gevolge.

      Sy was bly sy was nie meer ’n maagd nie, maar sy’t nie van seks gehou nie. Dit het haar seer gemaak. Sy’t verlang na die warm, omarmende broeknaai-orgasme in Duitsland, maar in haar hart het sy geweet: ’n mate van geweld sou van toe af ’n rol in haar seksuele ervarings moes speel. Elke keer sou dit seer genoeg moes wees om soos die eerste keer te voel. Dit het ’n vreemde soort godvresende betowering vir haar ingehou.

      ’n Week lank het sy in die strate van Parys rondgedwaal en gewonder of mense kon sien dat sy nie meer dieselfde mens is nie. In haar drome kon sy voel hoe Patrick Po aan haar vat. Sy kon sy asem en sy lyf ruik. Die hol kol op haar maag waarmee sy elke oggend wakker geword het, was nie van honger nie.

      Maar die drome het mettertyd vervaag. En sy was steeds ’n maagd, het sy besluit. Sy het haar voorgeneem: Niemand sou haar maagdelikheid van haar wegneem nie.

      En al het sy later in die seksbedryf beland, sou sy ’n maagd bly. Penetrasie sou dit nooit verander nie … totdat sy sou besluit om dit uit vrye wil aan iemand te gee.

      En dit sou toe ook ’n Spanjaard wees.

      Toevallig?

      3. Suburbia

      Ek is ’n Broederbond-baba wat met dubbellaag-toiletpapier en fluoriedpilletjies grootgeword het.

      Ons huis was ’n plek wat volgens ’n rigiede roetine gefunksioneer het. Daar is tydens my vormingsjare groot aandag gegee aan elke moontlike aspek van opvoeding, behalwe ball sense.

      (Dít sou ek eers heelwat later kry – maar nie die soort waarop my ma sou trots wees nie.)

      My eerste herinnering is van my sussie wat eendag die bliksem in was vir my.

      Ek het met haar naaimasjientjie gespeel. Dit was ’n Fisher Price-speelding, nogal van ’n goeie gehalte. Dit was nie elke dag dat ek die geleentheid gekry het om met haar goed te speel nie, maar om een of ander rede het ek daardie dag die kans gehad. Ek moes nog baie klein gewees het, want ek het binne-in die uittreklaai onder haar bed gepas; ek kan onthou dat ek nog in doeke was, want my boude was gepad, of miskien was ek net vet!

      Skaars het ek in my eie, heerlike naaimasjien-wêreldjie verdwaal toe ’n koddige, klein donkerkop-krullebol die kamer binnestorm. Oukei, ek erken: dit wás haar kamer, after all. Sy moes seker drie of vier jaar oud gewees het, want die lyfie was nog tipies baba: ronde magie, ronde wangetjies en kort, stomp bewegings. Ek kan glad nie onthou wat sy gesê het nie, want ek het nog nie Afrikaans gepraat of verstaan nie. Maar dit moes moerkwaai geklink en moerkwaai gelyk het om só ’n indruk te laat. Haar vuisies was gebal en haar vet armpies het woes soos ’n windmeul gedraai. Haar een kort, vet beentjie het die ritteltits gekry – soos Elvis Presley s’n in sy vroeë jare.