Dis dans en musiek wat my en Abelardo bymekaar gebring het – ’n hunkering na herontdekking en ons soeke na onsself. Vyf dae lank, in Champaigne Valley in die Drakensberg, was ons deel van ’n groep mense wat die jaarlikse Biodanza-byeenkoms daar bygewoon het. Hulle verduidelik Biodanza só:
Biodanza is a form of intervention intended to further health and well-being by encouraging self-expression and autoregulation through music, dance and inter-action. It originates from South America and was developed by Rolando Toro.
Ons het ons skadu’s gedans, en ons lig – en uiteindelik het ek vir Abelardo gesien, en hy vir my. Hy kon sy oë nie van my afhou nie.
“Would you like to come swimming with me?” het hy my ná die laaste sessie van die dag genooi.
Natuurlik. Hy’t sexy gelyk en ek het warm gekry.
Ons het van die ander weggedrentel, gesels, gelag. Sommer oor niks gesels.
Dis ’n voorreg om onsself te kan wees hier, sonder drank, sonder dwelms – sonder enige vorm van stimulasie behalwe dit wat van binne af kom.
En hier is ons nou. Ons nat lywe spook om warm te word in die maanlig. Gelukkig is dit hoogsomer en die verskil tussen swembadwater en sweet is net ’n paar minute …
Hoekom vertel ek jou hierdie storie?
Omdat Abelardo die eerste man was aan wie ek werklik my maagdelikheid met vergunning gegee het.
Wag, laat ek gou verduidelik. Hier volg die kort weergawe, ter inleiding: Naai is maklik. Dis ’n gekletter en ’n geraas en dit beteken minder as ’n sigaretstompie wanneer die hyg en suig verby is. Ek het dit al tot vervelens toe gedoen, met meer mans as wat daar dae in ’n jaar is. Ek het geleer om my emosionele self en my fisieke self te skei. Daardie aand, vir die eerste keer, het ’n man sonder voorbehoud na my uitgereik. Dit was wonderlik.
“Kiss me,” het hy gesê.
Ons het liefde gemaak. Dit was dit. En toe dit klaar was, was dit klaar. Dit was ’n oomblik in tyd waar twee siele aan mekaar kon raak.
Die verskil tussen liefde maak en seks, myns insiens, is dít: Jy kan nie liefde maak as jy nie lief is vir jouself nie, en jy kan nie lief wees vir jouself as jy nie jouself ís nie. Hoe gee jy van jouself vir iemand as jy nie ’n begrip het van die waarde van dit wat jy gee nie?
Ek beskou nie my verlede as “diep” en “donker” nie – dis steeds ’n belangrike deel van wie ek nóú is. Ja, ek het foute gemaak. Baie. Maar ek hou van myself. Hier en nou, soos ek is. Ek het geleer dat ek nie verskoning hoef te vra vir wie ek is nie. Om sin aan jou lewe te gee, moet jy jouself kan wees. Ek glo dit.
Abelardo en ek het op wolke van selfliefde gesweef en dit met mekaar gedeel. Sy hande het aan my gevat soos dié van iemand wat lief is vir homself. Ek kon hom soen soos ’n vrou wat vir haarself omgee, wat nie verskonings maak vir haar seksualiteit nie. My orgasmes gee geboorte aan nuwe wêrelde in myself; dis ’n integrale deel van my wese en ek gaan nie jammer sê daarvoor nie.
Maagdelikheid gaan oor baie meer as net ’n vlies. Ek is dankbaar dat ek my maagdelikheid weer van vooraf op die ouderdom van 35 kon verloor. Ek het selfs die bewys gesien: die volgende oggend toe die son opkom, was daar ’n bloedmerk op die klippe langs die swembad.
Maagdelikheid is mý keuse; maagdelikheid hoef nie ’n fisieke toestand te wees nie.
Ja, Abelardo: ek het myne vir jou gegee …
Miskien sal ek dié mooi man eendag weer êrens raakloop.
Wie weet?
2. In die stad van lig, liefde en monsters wat in kerktorings bly
Maagdelikheid is maar altyd ’n issue vir vroue.
Begin duskant die eerste draai, het Carel gesê. Maar ek wil graag eers ’n bietjie objektiwiteit probeer inwerk. Indien jy ’n verhaal oor jouself wil skryf, moet jy die vermoë ontwikkel om elke nou en dan uit jouself te kan klim en van bo af na jouself te kyk asof jy iemand anders is. Hulle noem dit die derde persoon.
Ek het dit by die befaamde Britse skrywer D.H. Lawrence in sy veelbesproke roman Lady Chatterley’s Lover geleer. Beide die hoofkarakter en haar lover was om die beurt die derde persoon.
Wat maagdelikheid betref: wanneer weet jy vir seker jy’s joune kwyt?
Was dit toe ’n meisie, ene Karin Eloff, een middag by haar ouma en oupa op die grasperk touch met haar niggies gespeel het en toe só hard op haar hak te lande gekom het dat daar bloed in haar broekie was? Selfs haar sussie sou vir die res van haar lewe die middag van die bloed-in-die-broekie onthou. Of was dit toe sy in graad een tydens ’n gimnastiek-oefening op die balk gestruikel het en hard met die ding tussen haar bene geland het? Daar was daardie dag óók bloed in haar broekie.
Dan was daar die keer toe sy begin menstrueer het. In graad nege eers. Die bloed het in dik, snotterige klonte saam met die warm water by die stort se drein afgespoel. Party stukke het teen die stortbodem se teëls bly vasklou. Sy’t daarna gekyk en baie bly gevoel dat sy nou ’n vrou is. En sy het gewonder of dit beteken dat sy nie meer ’n maagd is nie.
Kort daarna, in graad tien, het sy vir ’n maand Duitsland toe gegaan op ’n skool-uitruilskema, waar sy die mees fenomenale orgasme van haar lewe bereik het. Sy het tuisgegaan by ’n familie wat ’n agttienjarige tienerseun gehad het. En hy het supersexy, superjagse tienermaatjies gehad …
Op een of ander wyse gebeur dit toe dat een van hulle in ’n gemeenskaplike gesuiptheid bo-op haar beland. Sy, op die naat van haar rug met ’n jean aan, haar bene effens oop en haar skaambeen (sonder enige skaamte) vorentoe hoog uitgestoot; hy, ook ten volle geklee, met sy groot ereksie wat met stadige, instinktiewe bewegings teen haar klitoris skuur.
Nou ja. Die geskuurdery moes iewers heen. Hulle was lankal verby die eerste draai en kort duskant fyndraai.
Die materiaal van sy jean, asook haar eie wat teen haar klitoris vryf – en sy stywe, vriendelike hupstootjies – het haar klammigheid deur alles tot in sy ontvanklike porieë laat sypel. Voor sy kon keer, het sy spasties begin ruk en gewonder of sy besig is om geboorte te gee aan wat sweerlik die lekkerste lekkerte was. Sy het besluit as sy nie nóú haar maagdelikheid kwyt is nie, dan kan hulle dit maar hou. Sy kon haar geensins voorstel dat penetrasie van enige aard lekkerder as broeknaai kon wees nie.
Die dag toe sy in biologiese terme haar maagdelikheid verloor het, het sy glad nie daaroor getwyfel nie. Dit het in Parys gebeur op haar twintigste verjaardag. Sy’t au pair-werk in Nederland gedoen, maar wou haar verjaardag gaan vier in Parys, die stad van lig, liefde en monsters wat in kerktorings bly.
Alleen.
Maar toe werk dit nie so uit nie.
By die Fountain of Innocence het sy in die flou somersonnetjie gesit en fantaseer oor die verbygangers met hul dik, donker hare en Franse aksente toe hy skielik langs haar staan en haar iets onverstaanbaar in Frans vra. Sy kan nie onthou presies wat dit was nie, maar ’n Franstalige man het as tolk tussenbeide getree en aan haar verduidelik dat die knaap wou weet of sy ’n toeris is.
G’n wonder die Verenigde Nasies sukkel nie. Die hele affêre het hopeloos te ingewikkeld geraak en sy is tot vandag toe oortuig: Much got lost in translation.
Gelukkig het hy uiteindelik darem in baie gebroke Engels met haar begin praat.
Sy naam was Patrick Po.
Noudat sy met nostalgie daaraan kan terugdink, besef sy die man het so ’n klein, mak penissie gehad het – ’n regte ou voëltjie. En hy’t aan kleinvoël-sindroom gely. Vir ’n eerste keer was dit egter gangbaar.
Hul gesprek was lagwekkend oppervlakkig. Vroegaand, toe sy na haar hotel wou teruggaan, het hy skielik ’n baie meer dominerende houding begin inneem. Hy’t voorgestel dat hulle ietsie gaan eet. Sy was nie dom nie en het ’n onrustige, maar onweerstaanbare krieweling op haar maag begin kry.
Hy’t haar vertel hy’s ’n Spaanse