Stiletto. Karin Eloff. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Karin Eloff
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9781920323677
Скачать книгу
eenvoudig makliker deur die lewe. Almal kon dit mos sien. Niemand hou van ’n ongeskikte, lui kind nie.

      In graad vier moes ons vir die ouens op die grens briewe skryf as deel van een of ander projek, en hulle het selfs vir ons teruggeskryf. Ek het geen idee gehad wat op die grens aangaan of dat die ouens vir wie ons geskryf het by geleentheid doodgeskiet of opgeblaas is nie. Ek onthou net hoe teleurgesteld ek was omdat ek gereken het dat die ou wat vir my teruggeskryf het nie baie goed kon spel nie.

      Ek het selfs onderhoofmeisie van die laerskool geword.

      Wil jy nou meer.

      My ma was baie streng met ons en het nie toegelaat dat ek my beenhare skeer of sykouse dra nie. Die seuns het my dikwels gespot oor my lang beenhare. Dit was verskriklik. Sykouse was totally die in-ding toe ek in graad sewe was. Jy was regtig hipercool as jy sykouse gedra het. Ek onthou dat ek briewe vir my ma geskryf het waarin ek haar behoorlik vir ’n paar sykouse gesmeek het, maar sy wou niks weet nie.

      Vroeg ryp, vroeg vrot, was haar mening. Daar was dus nie hoop vir my nie, het ek gedink.

      Maar die hoop beskaam nie. Een Saterdagmiddag in graad sewe het ek in die bad gesit. My sussie, wat toe al in die hoërskool was, het by die badkamer ingevlieg en vir my ’n skeermes deur die lug gegooi voor sy weer daar uit is.

      Jis, thanks, het ek gedink – maar wat de fok nou? Ek was baie opgewonde, maar het nie ’n idee gehad wat om presies volgende te doen nie. Hoe skeer ’n mens beenhare? Ag, wat. Hoe moeilik kan dit tog wees?

      Toe skeer ek sommer alles af, die helfte van my vel inkluis. Ek het soos ’n padongeluk gelyk, maar was ekstaties gelukkig: die seuns sou my nie meer spot nie. Uiteindelik was ek méér as net ’n koek en ’n akademiese wrak; ek was ’n koek én ’n akademiese wrak met gladde bene. En skraapmerke.

      Daar was darem een of twee seuns in die laerskool wat van my gehou het. In graad sewe het ek aan die skool se operette deelgeneem en verlief geraak op Tiekie die Nar. Ons is toe gekys. Hy’t vir my ’n klein, rooi satynhartjie gestuur via Mienkie, die skooltert. Ek het nie veel gedink van hierdie kys nie. Ons het dan nie eers met mekaar gepraat nie! Kommunikasie was regtig ’n probleem. Watter kys het ’n kans gestaan as ’n mens net skaam-skaam loer? Wat was die knaap se probleem?

      Mienkie was my verhoudingsraadgewer. Haar raad aan my was: “Sê net vir hom jy’s gatvol vir hom – dis al.”

      Die kys is toe uit.

      Toe’s ek met ’n ander outjie gekys wat vir my pouses groen Super M-melkskommels gestuur het. Dit was cool en alles, maar weer eens het die gebrek aan kommunikasie my gepla. Ten minste was die Super-M’s ’n beter deal as simpel satynhartjies. Ek het van sy praktiese aanslag gehou.

      Sondae het ons kerk toe gegaan, katkisasieklasse geloop, koerant gelees en gebraai, soos wat die meeste voorstedelike Afrikaanse gesinne gedoen het (en nog steeds doen).

      In die hoërskool het ek stadig begin om myself te word. Dit was in die 1980’s. Teen die agtergrond van die Noodtoestand en die laaste stuipe van die Bosoorlog het alles oor politiek gegaan. My ouers was aktief by die politiek betrokke, Vrye Weekblad is gestig en daar was baie integrasiegroepies op skool om ons aan swart kinders bloot te stel. Omdat ek nie sport gedoen het nie, het ek by die politieke en kultuurorganisasies van die skool aangesluit.

      Graad agt was vir my ’n baie ongelukkige jaar. Ek was smoorverlief op ’n outjie met punk-hare en bad-ass maatjies. Hulle was waarskynlik vir die derde jaar reeds in graad agt. Hulle stemme het al gebreek. Hulle was dom, maar sexy – sommer omdat hulle ouer en jagser as die res van ons was. My hart het gebreek toe Die Punk aankondig hy en sy gesin trek Kaap toe.

      My storm en drange het my toe sommer genoop om van die huis af weg te loop. Ek het geglo my ma druk my akademies te hard en sy’t boonop durf dink Die Punk is tydmors. Ek het baie seergemaak gevoel omdat sy nie my liefde vir hom ernstig wou opneem nie.

      Die hele skool het uitgevind ek het weggeloop, want ek het – wait for it – skóól toe weggeloop.

      Moenie lag nie. Dit was erg.

      Ek het nie huis toe gegaan die middag ná skool soos ek moes nie. Ek wou eerder by die skool bly, want daar was die betrokke aand ’n sokkie waar ek Die Punk sou kon sien. My ouers was rasend van bekommernis. Ek het in die skool se kleedkamers weggekruip. Die hoofmeisie het my probeer ompraat om huis toe te gaan. Ek was in ’n toestand. My lewe was volgens my ’n doodloopstraat. Die Punk was byna op pad Kaap toe en my ma was van plan om my te hok omdat ek nie genoeg na haar sin akademies presteer het nie. My lewe het geen sin meer gehad nie.

      ’n Ruk tevore het ’n matriek-ou my in een van die gange vasgekeer en my vertel ek’s lelik en toe vreeslik lekker daaroor gelag. Ha-ha-ha. Ek’t ’n bril gedra en was doodskaam daaroor. Die Punk was die enigste mens op hierdie planeet wat gedink het ek’s mooi. Hy’t my dit gesê. Ek het hom geglo. En nou word ek nog van hom weggehou op die vooraand van hulle trek Kaap toe. En hoekom? Omdat ek moet swot!

      Wel, fok julle.

      My pa het my uit die kleedkamers kom haal. Hy’t sy arm om my skouer gesit, my na ons kar toe gelei en vir my gesê: “Ek’s teleurgesteld in jou.”

      Ons het in ’n doodse stilte huis toe gery.

      Toe ek by die huis instap, het ek gedink my ma gaan bly wees om my te sien. Ek het gedink sy sou verstaan en ophou om my akademies so te druk. Sy’t net gesê sy wil my nooit weer sien nie. Sy was natuurlik emosioneel gedreineer en wou ook maar net ’n goeie ouer wees, maar ek was platgeslaan.

      Die res van graad agt was doodvervelig. Graad nege ook. Ek het darem mettertyd ’n ander bron van opwinding ontdek. My sussie het met ’n bitter slim outjie uitgegaan en ek was van die begin af doodverlief op hom. Sy’t gesê hy gaan nog eendag ons land se president word. Sy naam was Chrissie. Chrissie Mulder. Later het hy Chris Chameleon geword en baie mooi plate gemaak, soos hy dit noem.

      Somehow het ek deur my hele hoërskoolloopbaan aan Chrissie se bestaan vasgeklou. Ek het hom drie jaar lank net dopgehou, tot hy uit die skool uit is. Sy bewegings en belangstellings het my gefassineer. En my hoop gegee. Hy was ook “anders” en ek het gesien hoe sukkel hy daarmee. Ek was dus nie die enigste kind wat nie kon inpas by die res van die kinders wat net in netbal en rugby belanggestel het nie.

      Ek was ’n nerd met ’n free spirit. Chrissie ook. Daar was nie plek vir kinders soos ons op skool nie. Elke keer as hy net in my rigting gekyk of met my gepraat het, het al die verkeerde woorde en gesigsuitdrukkings uitgekom. Ek het nie geweet hoe praat ’n mens met so ’n slim, sexy ou nie. Ek het wet dreams oor hom gehad.

      Selfs toe hy klaar was met skool en ek nog twee jaar oor gehad het, het ek net aan hom gedink. Ek het nooit weer met iemand anders op skool uitgegaan nie. My ma sou my in elk geval nie toegelaat het nie, want ek moes net swot. Daar was nie tyd om met seuns “behep” te raak nie, soos sy dit gestel het. My obsessie met Chrissie Mulder het my hart en my hoërskooljare volgemaak; sy doen en late was motivering genoeg om op te staan en aan te gaan. Elke dag.

      Ek het naderhand nie geweet hoe ek óóit by iets soos ’n normale verhouding of by seks met mans sou uitkom nie. Ek was dan so skaam! Op ’n dag het ek moed bymekaargeskraap en my biologie-juffrou gevra of ’n man se penis soos ’n hond s’n lyk. Ek het eenkeer ’n hond se stywe pienk polonie gesien en my morsdood gegril.

      “Ja, Karin,” het sy geantwoord, sonder om te blik of te bloos.

      Eeeeeeuuuuuu …

      Ek het toe maar besluit ek wil asseblief tog net nóóit seks hê as dít is hoe ’n penis lyk nie.

      In matriek was ek toe veronderstel om belydenis van geloof af te lê in die Gereformeerde Kerk, maar ek was nie heeltemal seker wat my geloofsoortuiging was nie. Ek en ons dominee het nie so lekker langs dieselfde vuur gesit nie. Ek het een Sondag in die katkisasieklas die woord “evolusie” genoem en moes toe hoor: “Ek sien swarigheid vir jou as jy súlke idees het.”

      Ons moes die Heidelbergse Kategismus memoriseer sonder om te verstaan wat dit beteken, en ons moes dan voor die hele kerk gaan verklaar dat