“Anna, jy gaan jou vasloop. Moenie met my probeer speletjies speel nie. Ek laat my nie vermaak nie, en beslis nie deur jou nie. Staak hierdie kinderagtigheid liewer dadelik. Ek kan myself dalk vergeet as ek vanmiddag terugkom en ek moet weer teen jou suur gesig vaskyk. Want dis tog iets wat ek nie kan verdra nie . . . ’n dikmond-kleuter.”
Met hierdie verdoemende woorde draai hy op sy hak om en stap by die vertrek uit terwyl die water plassies om haar voete maak. Sy staan soos ’n soutpilaar toegedraai in die groot wit handdoek. Waar, wáár op aarde kom sy aan hierdie aaklige neef? wonder sy verstom.
Al haar goeie voornemens om haar reg te ruk en beheer oor haarself te kry, rol saam met die Land Rover se wiele die werf uit. Sy voel haar nate kraak en dis of iets elke oomblik in haar gaan ontplof. Selfs haar geliefde diere bring haar nie in ’n beter bui nie. Inteendeel. Sy haal haar slegte humeur op hulle uit. Veral Lang Leentjie kry die wind van voor vanoggend.
“Mors jy nou weer op hierdie stoep dat ek dit moet kom skoonmaak . . . Toe loop! Loop veld toe na jou maters toe. Jy hoort daar, nie hier nie! Geen koekies meer vir jou nie! Loop vreet blare soos jy moet! Sjoe! Weg is jy! Loop soek vir jou ’n maat en kry kleintjies vir jou beduiwelde baas!”
Ook die Tweeling is vanoggend nie so gewild nie. “Ek is nou siek en sat daarvan om elke oggend bed op te maak vir julle. Kyk hoe lyk hierdie kombers! Dis aan flarde! Julle ís varke. Julle hoort snags agter ’n bos of in ’n gat in die grond te slaap. Geen sjokolade meer nie. Gaan grawe bolle!”
So baklei-baklei het sy die stalle bereik, kom by die staldeur tot stilstand en kyk toe hoe Salmon besig is om die perde te versorg. Die beeld van ’n meisie wat lyk asof sy in haar bosbroek gegiet is en asof sy op ’n perd se rug gebore is, verskyn vlugtig voor haar. Weer is dit sommer haar tong wat aan die praat gaan: “Salmon, saal vir my daardie perd op.”
Sy oë rek. “Juffrou?”
Sy stoot die onderdeur van die stal oop, stap na die blou skimmelmerrie, streel met haar hand oor haar nek. Sy het die perd die eerste dag al hier gesien en sy het Lochner en Salmon haar al ’n paar keer sien ry en gister was die groot madame ook op haar rug. Die perd het haar nog altyd opgeval en sy weet instinktief dat sy goed geteel is. Sy het skielik ’n drang om die merrie te ry.
“Jy het gehoor wat ek gesê het.”
“Maar kan juffrou dan perdry?”
“Ja.” Sy weet nie waar sy daaraan kom nie, maar sy weet sy kan. Hoe goed weet sy nie, maar sy weet skielik sonder twyfel sy het al voorheen perdgery. Sy kan ’n perd hanteer.
“Maar juffrou het nog nooit saam met meneer gery nie,” keer Salmon half verskrik.
“Hy het my net nog nooit genooi nie.” Sy frons. Nee, hy het nie. Sommer net aanvaar ’n stadsjapie kan nie perdry nie, soos hy so baie ander dinge ook net aanvaar . . . “Waarheen is meneer? Hoekom is jy nie saam nie?”
“Ek moet vanoggend die gras sny en die bome natmaak. Meneer is na die olifanttrop toe. Hy het gaan kyk na die nuwe kalf wat aangekom het.”
“Wat? Is daar ’n nuwe kalfie?” vra sy verras.
“Ja. Ons het gister op hom afgekom. Die een koei was mos dragtig.”
Ansie byt haar onderlip vas. O, hoe spyt is sy nou dat sy dit misgeloop het! Hy kon haar mos daarvan gesê het en dat hy vanoggend gaan kyk, dink sy vererg. Plaas daarvan steek hy toe liewer ’n preek af! Sy is sommer van voor af vies. Sy vergeet gerieflikheidshalwe dat sy wél genooi was.
“Toe nou, Salmon. Saal op die merrie.”
“Maar ek dink nie meneer sal wil hê juffrou moet alleen ry nie,” probeer Salmon ongemaklik keer. “Hy laat juffrou Charlene nie eens toe om te ry as hy nie by is nie.”
“Kom sy dikwels hier perdry? Haar broer het mos ook perde.”
“Ja, maar dis sommer plaasperde, nie sulke goeie goed soos hierdie nie. Sy kom ry dikwels saam met meneer wanneer sy op die Lodge is. Juffrou het gister seker gesien . . .”
“Ja, ek het gesien. Maar ék het niemand nodig om my hand vas te hou nie. Ek kan alleen ry.”
Salmon trap rond. “Maar dis gevaarlik! Die perd kan in ’n gat trap of enigiets kan gebeur wanneer julle by die hekke uit is en daar is gevaarlike diere in die veld.”
Sy begryp Salmon se penarie en gee ’n bietjie toe. “Ek sal nie veld toe ry nie, Salmon. Sommer net ’n entjie met die pad langs.” Sy sien die onsekerheid bly in sy oë en sê ongeduldig: “Nou toe dan maar. Ek sal self opsaal as jy te bang is vir jou meneer. Ék is nie vir hom bang nie.” Sy klink parmantig, maar sy is glad nie so seker van haar saak nie. Sy glo sy het al perdgery, maar sy is nie so seker of sy al een opgesaal het nie.
Salmon moet maar kopgee, duidelik baie onrustig en hy waarsku die hele tyd: “Moet asseblief nie van die pad afdraai nie! Moet asseblief nie te ver ry nie! Moet . . .”
“O, Salmon, jy kloek soos ’n ou hen,” keer sy die stortvloed en sit haar voet in die stiebeuel. Die effense onsekerheid in haar wyk toe sy in die saal sit en die leisels neem. Sy kán perdry! Hoe goed, sal sy uitvind sodra sy onder Salmon se wakende blik uit is.
Sy is nie so goed soos Charlene nie, besef sy na ’n rukkie. Sy bly bo en sy ry redelik, kan haar perd beheer, maar sy is beslis nie ’n ekspert nie. Nietemin. Dit gee haar groot vreugde om darem ook iets te kan doen wat daardie dame kan doen. Sy voel nie meer so heeltemal minderwaardig nie.
Maar saam met hierdie gevoel van selftevredenheid skiet daar ook onwelkome vrae in haar op. Vir ’n gewone stadsjuffrou wat in ’n woonstel bly en in ’n kantoor werk, is dit ’n bietjie vreemd dat sy kan perdry. Daar is wel ryskole, maar sy dink nie sy het in dáárdie kategorie geval nie, want lesse is ’n groot luukse vir ’n gewone sekretaresse. Maar waar op aarde sou sy leer perdry het? Sy sug. Elke dag raak die vrae net al meer en die antwoorde bly uit. Haar verlede is vir haar nou nog ’n groter raaisel as toe sy die eerste dag haar bewussyn herwin het. Miskien moet sy liewer nie so hard probeer delf nie. Miskien was dit baie wys woorde van suster Gertenbach toe sy haar gewaarsku het dat sy dalk moet bly wees dat sy alles van gister vergeet het, want baie mense sal wát wil gee om van gister te vergeet.
Sy is so diep versonke in haar somber gedagtes dat sy nie besef dat sy verder ry as wat sy oorspronklik beplan het nie. Skielik doem die lyndraad tussen Hunters Lodge en Friedesheim voor haar op.
Sy trek die perd in, huiwer. Sy wens sy kon gou vir Don gaan dagsê, maar net die gedagte dat sy haar teen sy suster sal vasloop, laat haar dadelik daarvan afsien. Dié dame sal natuurlik nie kan wag om Lochner in kennis te stel dat sy een van sy strengste reëls oortree het nie, en dit is om alleen te gaan perdry. Buitendien is die Lodge vir haar verbode grond. Die filmspan – die gruwelike, sondige, bose mense – is mos daar. Sy frons. Tog, sy is nuuskierig. Sy twyfel of sy sou gewees het as Lochner nie so ’n onverstaanbare houding aangeneem het nie. Maar nou . . . Sy glimlag effens. Hy sê mos sy is kinderagtig. Dan is sy seker, want sy weet sy tree nou presies soos ’n kind op: sê vir ’n kind nee dan is dit so goed jy sê ja! Ná nog ’n oomblik van nadenke, draai sy die perd weer terug en stuur haar voort in die rigting waarin hulle gegaan het. Maar toe sy die lynhek deur is, gaan sy nie langer padlangs nie. Teen Salmon se bevel in, en teen haar eie nugter verstand in, draai sy van die pad af die veld in.
Natuurlik besef sy dat sy ’n onverantwoordelike ding doen. Soos Salmon gewaarsku het, is dit baie gevaarlik om te perd op ’n wildplaas rond te ry waar daar groot roofdiere is. Die perd kan in ’n gat trap en haar afgooi; of dit kan vir iets skrik en op loop sit; of ’n slang kan dit pik of . . . ’n Duisend gevaarlike dinge kan met haar gebeur, maar Ansie oorweeg dit nie nou nie. Sy weet nie hoekom nie, maar sy is nou verskriklik nuuskierig om te sien wat op die Lodge aangaan. Miskien is die filmspan nie eens daar nie, dalk is hulle al besig om êrens in die veld tonele te skiet. Maar dit weerhou haar nie daarvan om die merrie versigtig in die huis se rigting te stuur nie. Daar is nie sonde in kyk nie. En as niemand weet sy kyk nie, is dit nog minder sonde. Dis mos nie dat sy met die mense kontak maak en onder hul bose invloed kan verval nie,