Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624056492
Скачать книгу
Ek kon nie anders nie. Die man is baie beïndruk met jou. Hy wou sommer oorry Friedesheim toe om jou ’n aanbod te maak. Ek kon niks anders doen as om hom alles te vertel nie. Ek weet nie wat hy vir sy span gesê het nie, maar hy verseker my niemand sal verklap dat jy die Lodge besoek het nie. Ook nie dat jy blykbaar ’n filmekspert is nie. Waar op aarde kom jy aan jou kennis?”

      “Ek is nie ’n ekspert nie. Altans, ek weet nie wat ek is nie. Ek weet nie waar my kennis vandaan kom nie, Don. Dit was net skielik daar. In elk geval, ek kan dit nie waag om nou weer oor te ry nie en jy moet Jack asseblief hier weghou.”

      “Ja. Ek weet. Ons sal ander planne prakseer. Maar Jack is baie gretig om jou weer te siene te kry.”

      “Ek weet nie of ek hom weer wil sien nie.”

      “Wat? Hoekom nie?”

      Sy sug. “Asseblief, kom ons los dit eers daar. Ek is heeltemal verward . . .”

      Don se stem is simpatiek. “Arme meisie. Ek verstaan. Moenie jou so ontstel nie, Ansie. Alles sal regkom. Hou net moed.”

      “Ja. Ja, natuurlik. Tot siens, Don.”

      Daardie aand eet sy alleen, nie omdat sy honger is nie, maar net om Liesbet tevrede te stel. Daar is nog steeds geen teken van die baas van die plaas nie. Meneer het regtig die skoot hoog deur, dink sy sonder drif. As dit dan is soos wat hy oor Charlene voel, wens sy hy wil trou en klaarkry. Dan sal hy háár uitlos sodat sy met haar lewe kan voortgaan . . . en met die soektog na haar verlede.

      Dit is skielik niks lekker om alleen op die stoep te sit nie en sy gaan maar kamer toe. Daar bevind sy haar weer voor die spieël, kyk sy weer teen die spieëlbeeld vas en omdat daar niemand is met wie sy kan gesels nie, gesels sy maar met die vrou in die spieël.

      “Wie is jy, vroumens?” vra sy. “Watter soort mens was jy voordat jy saam met my hierheen gekom het? Jy lyk so vaal en oninteressant, maar ek begin ’n vermoede kry jou verlede is allesbehalwe vaal en oninteressant. Jy is ’n dame met twee gesigte. Jy kyk my verniet met sulke groot, onskuldige oë aan. Ek begin ’n sterk vermoede kry agter hierdie vaal gesiggie en onskuldige ogies skuil ’n ander soort vrou.” Sy giggel, sien dat die oë na haar teruglag. “Ja, dis belaglik om te dink jy kon ’n stoute katjie gewees het maar . . . snaakser dinge het al op hierdie aarde gebeur. Van die grootste moordenaars het babagesigte en groot, ronde oë, lyk asof hulle net nog vlerkies moet kry. En jy, dame, jy lyk of botter nie in jou mond kan smelt nie, maar jy kan my ’n ding of twee vertel, nie waar nie? Nou, hoekom vertel jy nie! Maak oop jou mond en vertel my wie en wat jy is!”

      Sy slaan met ’n vuis op die spieëltafel en gaan val huilend op haar bed neer. Haar wange is nog nat toe die Land Rover ure later, lank nadat die silwer maan oor die maroela- en kameeldoringtoppe opgekom het, die werf binnery.

      Ansie wens die volgende oggend sy het tog maar skelmpies ’n ligte lipstiffie gekoop om die ergste bleekheid te verskans. Sy het ’n slegte nag agter die rug. Dit was gevul met nagmerries, met kameras wat op haar afstorm en haar te pletter wil val en skerp ligte wat pynlik in haar oë skyn en haar verblind. Sy was nog wakker toe Lochner so laat tuis kom en het haar kop sommer toegetrek onder die laken want hy het, soos sy verwag het, homself eers kom vergewis dat sy niggie veilig in die bed is voordat hy ook gaan slaap het. Sy het net gebid dat hy nie die laken van haar kop sou aftrek nie, want dan sou hy die tekens van ’n stortvloed trane duidelik in die maanlig gesien het.

      Lochner is in ’n gemoedelike bui aan ontbyttafel.

      “Gister geniet?” vra sy vriendelik, hoewel sy natuurlik glad nie wil weet nie.

      “Ja. Dis nogal lekker om so dan en wan ’n bietjie uit die roetine los te breek. Jy kan spyt wees jy het nie saamgekom nie.”

      Sy moet haar woorde versigtig kies. Hy moenie agterkom sy weet dat hy Charlene gaan oplaai het nie. Hy sal dadelik wil weet waar sy daaraan kom.

      “Ek het gewonder wat jy die hele dag aanvang. Of het jy dalk geselskap op die dorp waarvan ek nie weet nie, neef?” vra sy skalks en dink droog sy kon straks ’n aktrise ook gewees het. Sy vaar glad nie sleg nie.

      Sy oë terg. “Probeer weer. Ek vertel niks nie.”

      Sy probeer maar by sy bui aanpas. Hoekom moet Lochner nou juis vanoggend, wanneer sy die minste lus voel daarvoor, tergerig wees? “Dan ís daar een? Ag, vertel my! Wanneer is die groot dag? Ek hoop darem ek gaan in die gevolg wees. Ek behoort eintlik die strooimeisie te wees. Ek is immers familie.”

      “Jy sal lank wag om mý strooimeisie te word. Vergeet maar dadelik daarvan.” Hy sien sy lyk effens afgehaal en vervolg: “Nee, ek het toe maar vir my geselskap saamgevat toe jy nie wou saamkom nie. Ek het Charlene gaan oplaai.”

      “O.” Hy is stil en teen wil en dank moet sy vra: “En wat doen julle toe alles?”

      “Moet ek jou sowaar álles vertel?”

      Sy frons. Haar vermoë om toneel te speel reik net só ver en nie verder nie. “Nee, jy hoef my absoluut niks te vertel nie. Ek stel nie eintlik belang nie. Ek is maar net beleef,” sê sy bot en buk oor haar bord mieliepap.

      Maar Lochner se bui is vanoggend onblusbaar. Hy lag sowaar hardop. “Jy jok, juffrou! Maar daar is niks vreesliks om te rapporteer nie. Ek het my besigheid afgehandel en Charlene het in die winkels en apteke rondgedwaal, natuurlik weer ’n spul onnodige goed gekoop en toe is ons na die buiteklub. Ons het maar net gesels en ’n baie lekker ete gehad en so ’n bietjie gedans en toe teruggekom. Stop. My storie is uit.”

      Haar oë ruk verbaas op na hom. “Gedáns. Dans jy dan?”

      Sy gesig versober. “Ja. Het jy nie geweet nie?”

      “Nee. Hoe moes ek weet?” Daar is iets in die manier waarop hy na haar kyk wat haar ongemaklik laat voel en sy sê op ’n tergende toon: “Waar het jy leer dans? By Friedesheim se bobbejane?”

      Maar hy vind dit nie snaaks nie. “Nee. Op universiteit.”

      “O ja! Jy was mos op universiteit. Ek bly al vergeet.”

      “Ja.”

      Hy staan vinnig op en sy kyk hom verbaas aan. Sy het nou weer iets gesê wat hom nie aanstaan nie. Ag, liewe land, tog! Sy bly ook in die moeilikheid.

      “Lochner, dit was maar net ’n ou grappie oor die bob- . . .”

      Hy gee haar nie kans om klaar te praat nie. “Hier is Charlene nou. Jy moet klaar eet as jy wil saamgaan.”

      “Saamgaan waarheen?”

      “Olifante toe. Ek gaan haar die nuwe kalfie wys.”

      “Nee, dankie. Ek gaan nie saam nie.”

      “Hoekom nie?”

      Nee kyk, genoeg is genoeg. “Omdat ek nie van die geselskap hou nie,” antwoord sy reguit.

      Hy kyk haar ’n oomblik lank stil aan, draai dan op sy hak om. “Soos jy wil.”

      Sy sit nog met die halfgeëte bord pap voor haar toe sy die Land Rover hoor vertrek. Sy sit haar elmboë op die tafel en laat haar gesig in haar handpalms sak. Sy het nog nie eens die nuwe kalfie gesien nie en nou gaan Charlene voor haar kyk. Sy sou so bitter graag vanoggend saam met hom wou gaan, maar dan alleen saam met hom. Sy sou . . .

      “Hoekom huil jy?”

      Sy spring op, kyk die verbaasde Liesbet met stromende oë aan. “Ek, Liesbet, huil van beduiweldheid.”

      Sy voel nog steeds in ’n beduiwelde bui toe sy later Hunters Lodge se nommer skakel. Wel, Lochner en Charlene rinkink rond, hoekom mag sy nie ook nie?

      “Don, Charlene en Lochner is veld toe. Hulle sal seker op die vroegste teen middagete terug wees. Kan jy my kom haal?”

      “Ek kom kry jou dadelik, meisie.”

      Jack is baie bly om haar te sien en hy maak geen geheim daarvan nie. Dit laat Ansie ongemaklik voel. “Maar wat wil jy hê moet ek doen?”

      “Net