Onvergenoeg sien Ansie hoe Charlene haar ongenooid op ’n stoepstoel neervly. Tot haar ergernis merk sy op dat die model, ten spyte van ’n hele warm dag op ’n perd se rug, steeds baie goed vertoon. Sý lyk gewoonlik soos ’n uitgewringde bondel wasgoed wanneer hulle saans terugkeer uit die veld.
“Kan ons asseblief iets kouds kry?” Lochner kyk Ansie skaars aan toe hy die versoek rig. Hy wend hom dadelik tot Charlene en glimlag goedkeurend: “Ek moet sê, jy dwing my bewondering af, Charlene. Jy was lanklaas op ’n perd se rug. Is jy nie styf en seer nie?”
Die meisie lag na hom op met vonkelende oë. “O, nee, my vriend! Ons kan maar môre weer so maak. Ek is superfiks. Ek ry weliswaar nie so baie perd oorsee nie, maar ek is verplig om ’n streng oefenprogram te volg.”
“Natuurlik. Daardie figuur moet opgepas word.”
Ansie gee pad kombuis toe, dra Lochner se versoek aan Liesbet oor en vlug kamer toe. Sy is nie vanaand lus vir die geselskap op die stoep nie. Gefrustreerd wag sy om die dreuning van die bakkie te hoor, maar dit bly uit. Toe Liesbet kom sê sy moet kom eet, kan tien wilde perde haar nie uit haar kamer getrek kry nie.
“Ek wil nie eet nie, dankie, Liesbet. Sê hulle moet maar eet.”
Liesbet kyk haar ondersoekend aan. “Maar jy het vanmiddag ook nie geëet nie.”
“Ek is nie honger nie. Ek gaan nou stort en lê.”
Maar sy straf haarself verniet. Die twee op die stoep mis haar glad nie. Elke dan en wan klink ’n klokhelder lag op en dikwels word dit vergesel deur die dieper lag van die man. Wat hulle betref, is daar net twee mense op Friedesheim vanaand. Hy kon ten minste darem kom navraag doen het. Vir al wat hy weet, kan sy siek wees. Toe die bakkie se dreuning eindelik vervaag, voel sy werklik nie meer so gesond nie. Toe daar kort daarna ’n klop aan haar deur opklink, is haar redelikheid ook daarmee heen. Wat kom soek hy nóú hier?
“Ansie . . .” Die deur word sommer oopgemaak en sy kyk hom gesteurd aan. Hy kyk vas in ’n paar onvriendelike oë. “Jy het nie kom eet nie en Liesbet sê jy het vanmiddag ook nie geëet nie. Wat makeer?”
Ek wens ek het self geweet, antwoord sy swygend. Ek moet van lotjie getik wees. Ek verstaan myself nie meer nie. Hardop antwoord sy: “Niks.”
Hy kom nader na die bed, sy oë skerp. “Voel jy siek? Is jy warm?”
Sy hét ’n hoofpyn ontwikkel, maar sy weet dis van frustrasie en niks anders nie, maar sê dan: “Ek het net ’n ligte hoofpyn.”
“Drink jy jou malariapille gereeld?” vra hy streng en steek ’n handpalm na haar voorkop uit.
Sy ruk terug asof ’n slang haar wil pik. “In hemelsnaam, moet ek nou jou verlof dáárvoor ook kry? Mag ek nie meer op my eie ’n hoofpyn ontwikkel sonder jou toestemming nie?”
Hy lyk skoon uit die veld geslaan deur hierdie onredelike aanval. Dan verstyf hy merkbaar, sy gesig strak en styf, so ook sy stem: “As daar een ding is wat ek nie kan vat nie, is dit ’n sogenaamde kunstenaarstemperament, want dis niks anders as ’n tekort aan selfbeheersing en skone beduiweldheid nie. Moenie daardie speletjie met mý probeer nie, Anna. Jy gaan die slegste daarvan afkom.”
Sy staar na die deur wat agter hom toeklap. Die man praat in raaisels. Vir haar kom sê sy het ’n kunstenaarstemperament, wat eintlik beteken dat sy geen selfbeheersing het nie en bloot beduiweld is . . . Maar sy voel tog skaam. As hy hierdie skielike beduiweldheid van haar nie verstaan nie, kan sy hom dit nie verkwalik nie, want sy verstaan dit self nie. Sy het skielik soos handomkeer verander van die meisie wat hier op Friedesheim aangekom het. Tóé kon sy skaars boe of ba sê. Het met alles saamgestem, toegelaat dat hy vir haar besluite neem, haar lewe reël. En nou skielik, noudat sy weer mens voel, is sy opstandig en weerbarstig, ja, selfs onbeskof. Hy het verwys na die ware kleure wat sy begin wys noudat sy oor die ergste skok is . . . Is dit maar soos sy werklik is? wonder sy bekommerd. Sy staan op en stap na die spieël.
Vir die eerste keer in ’n lang tyd bekyk sy haar eie spieëlbeeld weer aandagtig. Die onbekende gesig van daardie eerste dag toe sy tot haar sinne gekom het, kyk steeds terug na haar. Haar gesig is nie meer bleek nie, maar bruingebrand en voller en haar hare is nie meer netjies kort nie, maar uitgepluis en stoppelrig. Maar die gesig bly steeds onbekend vir haar. Weer kom die gedagte soos daardie eerste dag in haar op: Dis nie ek nie. Ek ken hierdie vrou nie! En noudat sy meer van haar geaardheid leer ken, kom die gevoel nog sterker na vore: Dis nie ek nie! Ek sal nie mense sommer afjak nie, my sonder selfbeheersing deur onverklaarbare gevoelens laat rondslinger nie. Dis nie soos ek is nie en dis nie soos ek wil wees nie!
Weer pak ’n benoudheid in haar saam, net intenser as tevore. Dis vreeslik om nie te weet wie jy werklik is nie, en, soos sy begin uitvind, wát sy werklik is nie!
Weer vertel haar nugter verstand haar dat sy hier moet padgee. Haar lewe op Friedesheim is ’n beklemmende sirkel van dag tot dag bestaan. Sy word gedwing om te leef soos iemand sonder ’n verlede, maar sy leef ook soos iemand wat geen toekoms het nie. Sy leef net vir die hede. Om soggens op te staan, saam met Lochner veld toe te gaan, vanaand moeg terug te keer, moeg maar gelukkig, te stort, te eet en in die bed te klim en te slaap. Dit kan nie so voortgaan nie! Geen wonder sy begin van haar trollie af raak nie! Maar dan – en die kommer verdiep in haar – sy weet nie eens verseker of sy al ooit daarop was nie! Volgens wat sy uit Lochner se op- en aanmerkings moet aflei, was haar lewe tot voor die ongeluk ook nie juis een van stabiliteit, selfbeheersing en onbesprokenheid nie. Volgens hom was sy maar ’n moeilike entjie mens, versot op die stadsliggies. En sy het ware kleure en dit klink nie na kleure waarop sy trots kan voel nie. En nou het sy nog ’n kunstenaarstemperament op die koop toe. Glad nie ’n kombinasie wat by die vaal gesiggie met die groot, bekommerde oë in die spieël pas nie.
Dis ’n baie verwarde en steeds bekommerde jong meisie wat die volgende oggend doelbewus lank draai om Lochner kans te gee om veld toe te vertrek. So graag as wat sy saam met hom wil gaan, so min moed het sy om hom vanoggend in die oë te kyk. Sy is ook te bang om ’n hele dag in sy geselskap deur te bring, te bang dat sy weer iets sal sê wat hom ontstig, of nog erger, weer sal toelaat dat haar kunstenaarstemperament oorneem en haar al dieper in die warm water laat beland. Daarom bly sy in die bed lê en laat weet saam met Liesbet wat die oggendkoffie bring dat sy moet sê sy gaan nie vandag saam veld toe nie. Natuurlik het sy min hoop gehad dat hy dit summier sal aanvaar en ’n paar oomblikke later hoor sy sy voetstappe doelgerig in die rigting van haar kamer kom. Sy vlieg soos ’n vlakhaas uit die bed en storm die storthokkie binne, draai die krane oop en begin sing, nogal nie onaardig nie, sodat leef en beef vergaan.
Maar sy behoort haar neef beter te ken as dit. ’n Harde klop aan die halfdeursigtige glasdeur van die stort laat haar die hoë noot halfpad insluk en sy hoor die bevel duidelik bokant die geluid van die vallende water.
“Kom uit! Ek wil met jou praat.”
Die glasdeur gly effens oop en ’n handdoek word vir haar uitgehou. Sy gryp dit, drapeer dit vinnig om haar en tree dan by die stort uit.
“Genade! Kan jy ’n mens nie eens in die stort in vrede laat nie?” glip dit al weer uit.
Hy ignoreer die parmantigheid, vra kortaf: “Is jou hoofpyn oor?”
“Ja.”
“Ja, dankie.”
Sy aarsel, gehoorsaam dan maar: “Ja, dankie.”
“Jy voel glad nie siek vanoggend nie?”
“Nee . . . dankie.”
“Hoekom wil jy dan nie saamgaan veld toe nie?” kom die gevreesde vraag.
Sy gryp wild in haar gedagtes rond. Sy kan nie sê sy wil briewe skryf nie, want sy ken niemand vir wie sy ’n brief kan skryf nie. Sy kan nie sê sy het hoofpyn nie, want sy het nou net gesê sy het nie. Sy . . .
“Los maar. Jy hoef nie jou verstand so te breek net om leuens uit te dink nie.”
“Ek wou nie jok nie!”