Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624056492
Скачать книгу
my nou boeglam geskrik.”

      “Jammer, maar hoekom staan jy hier? Jy was gister ook hier, nie waar nie?”

      “Hoe weet jy?”

      “Ek het perdespore hier gesien en het juis weer vanoggend kom kyk wat aangaan, want ek kon nie begryp waar dit vandaan kom nie.”

      Ansie glimlag verleë. Natuurlik! Die kennersoog is gou om ’n spoor raak te sien, veral as dit een is wat nie daar hoort nie. “Ja, ek was hier. Ek het net kom loer wat julle alles aanvang.”

      Don frons. “Maar hoekom? Jy kan mos openlik kom kyk.”

      Sy sug. “Ag, jy weet hoekom. Lochner . . . Jy weet tog hy het hierdie vreemde ding oor die filmspan. Hy het my verbied om hierheen te kom terwyl hulle hier is.”

      “Ja.” Hy skud sy kop. “Dis vir my die eienaardigste ding . . . Ek is heeltemal dronkgeslaan oor die man se houding. En nou het hy jou ook die Lodge verbied. Dan weet hy nie jy is hier nie?”

      “Nooit! Hy sal die aapstuipe kry! Nee, hy is dorp toe en ek het my kans waargeneem. Gister was hy veld toe. En hy sal nog ’n keer stuipe kry as hy uitvind ek kan perdry en ek doen dit alleen.”

      “Ja, ek weet. Hy laat Charlene nie eens toe om alleen te ry nie. Maar daar moet ek met hom saamstem. As iets gebeur, kan dit ’n lelike ding afgee. Maar kom nader, Ansie. Jy ís nou hier . . .” glimlag hy.

      Ansie rem terug toe hy haar arm neem. “Liewer nie, Don, dankie. Charlene sal hom vertel . . .”

      “Sy is nie hier nie. Sy is saam met hom dorp toe. Hy het haar kom oplaai.”

      “O.” Dan bestyg sy haar perd, maar hou haar gedagtes vir haarself. Die grootmeneer van Friedesheim is darem gou om ’n plaasvervanger te kry. Sy wonder of hy Charlene saamgevra het nadat sý nie wou saamgaan nie, en of dit maar in elk geval sy plan was om haar ook saam te neem. In daardie geval is sy dankbaar dat sy nie saamgegaan het nie. En sý mag nie haar voete op Hunters Lodge sit nie, maar grootmeneer kan darem, want van die skone Charlene kan hy nie wegbly nie. Van ergernis kap sy sommer met die hakke teen die perd se flanke en hulle kom op ’n stewige pas die werf binne.

      “Waarmee is hulle nou besig?” wil sy weet toe hulle die trappe bestyg.

      “Met binnetonele. Kom, ek gaan wys jou.”

      “Sal hulle ons toelaat?”

      “Natuurlik. Dis baie gawe mense. Ek hou van die klomp. Jy moes gesien het hoe hulle die braaivleis en pap geniet het!”

      Ansie vind dat Don die waarheid gepraat het. Hoewel daar hier en daar ’n geamuseerde blik na haar hare is – en sy verkwalik hulle nie daaroor nie – kom hulle vir haar maar soos doodgewone mense voor. Op die oog af kan sy werklik nie sien hoe enige van hulle ’n bose invloed op haar kan uitoefen nie. Die vyf hoofspelers is duidelik hardwerkende mense wat net een ding voor oë het en dit is om ’n sukses te maak van wat hulle doen. Jack Stone, die regisseur, vind sy ’n toegewyde man; iemand wat perfeksionisme nastreef en die kameramanne, die beligting- en klankoperateurs en die grimeerkunstenaars soos marionette orkestreer. Rod Anderson, die manlike hoofspeler, is beslis baie aantreklik. Die belangrikste byspeler, Graham McFarlane, lyk na ’n goedige mens en selfs die een wat die skurk speel, kom vir haar heel aangenaam voor. Die twee hoofaktrises, Lucille Landini en Rachel Stewart, is albei beeldskoon en talentvol. ’n Gawe, professionele klomp mense bymekaar, is haar finale slotsom. Wat op aarde kan Lochner teen hulle hê? Natuurlik, sy weersin is nie teen hierdie spesifieke klomp gerig nie. Dis maar ’n ou spook uit die verlede wat hom vandag nog so rondjaag. Dit kan niks anders wees nie.

      Maar daar is ook spoke wat haar begin jaag, besef sy soos die oggend vorder. Die vorige dag se ontsteltenis is terug in haar, vandag net helderder en meer pertinent. Sy kan die feite wat na vore tree terwyl sy die ander dophou, nie ignoreer nie. En nog minder kan sy ’n verduideliking daarvoor gee. Sy weet wat hier voor haar aangaan. Nie bloot net dat hier ’n film gemaak word nie, maar dat sy kennis van die detail het. Sy kyk na die kamera en weet hoe dit werk. Sy kyk na die grimering van die spelers en weet instinktief of dit reg is, en of dit ligter of donkerder behoort te wees. Sy sien die bewegings en die aksies en sy beoordeel dit soos iemand met ervaring. Sy luister na die intonasies in die stemme en stem daarmee saam of verbeter daarop in haar kop.

      Sy voel ’n klamheid in haar handpalms. Wat is dit met haar? Waar kom sy aan al hierdie kennis? Wat weet ’n sekretaresse van beligting en kamerawerk en grimering onder die skerp ligte en intonasies van stemme en al dié dinge wat skielik soos ’n vloedgolf oor haar spoel? Waar kom sy daaraan om tot van die hoofspelers se spel te bevraagteken? Wat weet sy van films maak en toneelspel af?

      Maar sy weet. Sy wéét net. Sy moet haar ’n paar keer streng inhou om nie iets te sê nie, om nie te wil verbeter op wat hierdie professionele mense doen nie.

      Toe daar ’n kort pouse kom en almal dankbaar na ’n koel lafenis soek, kom Jack Stone langs Don en Ansie sit en hy glimlag vriendelik op haar neer. Hy het terloops opgemerk hoe gefassineerd sy alles dophou. “En wat dink jy van alles, Ansie? Ek kan jou seker maar so noem?”

      “Natuurlik.” Sy sluk. Sal sy dit waag? Rachel se grimering hinder haar verskriklik. Dit moet baie ligter wees. Sy is seker daarvan.

      “Wel, jy het my nog nie geantwoord nie. Vind jy dit interessant?”

      Sy weet hy gesels maar net om die tyd om te kry, maar dan hoor sy haarself sê: “Geweldig interessant, meneer Stone. Behalwe net . . .”

      “Ja? En noem my Jack. Ons filmmense dring nie aan op formaliteite nie.”

      Ja. Dit weet sy ook. Dis ook een van die brokke kennis wat sy skielik besit, maar nie weet van waar nie. “Dis net . . . dink jy nie Rachel se grimering is te swaar nie? Ek het nie die draaiboek gesien nie, maar soos ek kon aflei, is sy veronderstel om siek en blekerig te lyk. Die grimering en beligting wat julle gee, sal haar blakend gesond laat lyk. Onthou, ons son het haar al goed bygekom en haar vel is natuurlik donkerder as toe sy in Suid-Afrika aangekom het.”

      Jack Stone kyk haar verward aan, heel onkant betrap. Dan kyk hy terug na die stel voor hulle, na waar die kamera staan, na die beligting. En dan terug na die meisie met die groot oë langs hom wat hom half verskrik vir haar eie voortvarenheid bly aanstaar.

      “Op die aarde, Ansie! Waar kom jy aan . . .?” kry Don dit uit – opreg verbaas.

      “Jy is reg,” val Jack hom in die rede. “Jy is heeltemal reg! Ek gaan beslis nie die regte effek kry nie.” Hy wink die grimeerdame nader. “Edith, maak Rachel se grimering . . .” Dan draai hy sy kop weer vinnig terug na Ansie. “Of kan jy dit doen?”

      “Ek . . . dink so.”

      Jack lyk opgewonde. “Nou goed dan, meisie. Waarvoor wag jy? Gaan doen dit.”

      “Jy bedoel regtig . . .?” Ansie is nou bang. Waarin het haar mond haar nou al weer laat beland?

      “Natuurlik bedoel ek dit, en Ansie . . .” Jack glimlag, “enige ander voorstelle?” Hy sien sy aarsel en dring aan: “Praat, asseblief. Ek wil hoor. Wat het jy nog opgemerk?”

      Haar oë gaan hulpsoekend na Don asof sy verwag hy moet haar uit die penarie verlos, maar dié sit haar vol afwagting en aanstaar, amper asof hy haar vir die eerste keer sien. “Nee, ek . . . ek weet niks van wat hier aangaan nie.”

      “Twak, meisie. Jy is iemand met eerstehandse kennis. Aan watter ateljee is jy verbonde?”

      “Ateljee?” Sy klink asof sy die woord vir die eerste keer in haar lewe hoor.

      “Ja, filmateljee. Of was jy in die teater of waar?” Jack klink ongeduldig.

      “Nêrens . . . nêrens . . .” antwoord sy verbouereerd.

      Don spring vinnig tussenbeide: “Los eers, Jack. Laat sy Rachel se gesig gaan regkry. Toe, Ansie, hulle wag vir jou.”

      Sy is skaars buite hoorafstand of Jack wil weet: “Waar kom dié meisie vandaan? Wat op aarde maak sy hier in die bos?”

      “Stadig,