Horrelpoot. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624052289
Скачать книгу
Langs Heleen se leunstoel, gestoffeer met faux luiperdvel, is ’n snuifhoutboks wat nog deur ons oom Wallie gedraai is, ek herken die ding.

      “Ek sal sorg dat jy by my siener uitkom om ’n voorspelling te kry, want ek sien jy gaan nie na my luister nie. Ek kyk in jou oë en ek sien jy’t jouself in ’n foolishness beyond words vasgeloop. Moenie gaan nie, Marlouw. Ek gee om vir julle, en vir jou ook.” ’n Emosie oorval haar sodat die sensitiewe toy pom met keffies teen haar wolpantoffel opspring.

      Jocelyn kon nie meer helder dink nie, het ek daardie dag gereken. Nog later, toe ek besef dat Jocelyn my teen die waansin gewaarsku het, het ek my “rekening” hersien. Ver heen op daardie reis, diep in die binneland, het ek besef hoe naby ek aan die waansin gekom het. En al het ek uiteindelik nie mal teruggekeer nie, sou die gevolge van daardie reis my altyd bybly.

      Maar nou, sal ek eers Jocelyn se siener besoek voor ek vertrek? Mammie kon ook so grondig twyfel en eerder haar vertroue op tekens plaas. Op haar doodsbed, haar vel soos uitgewaste moeselien, het sy voorspel hoeveel dae ná haar dood Pappie sou bly lewe. Op haar aandrang moes ek dit net so in haar Bybel neerskryf, langsaan Psalm 23, langs “die groen weivelde”, het sy versoek. Sy het dit tot op die dag reg gehad.

      “Marlouw, kom hierso, kom laat ek jou palms sien.”

      Ek loop stadig na Jocelyn, sy het haar massa swart breiwerk op die toonbank langs haar opgebondel.

      Van vandag af maak ek vrede met Jocelyn. My hart het tog nooit teenoor haar verhard nie. Sy bleik haar omdat mense dalk iets oor haar gaan kry om te beskinder. Wat sê hulle nie alles wanneer jy hulle nie kan hoor nie? Ek lê my regterhand in hare soos sy gevra het.

      “O, ek sien iets soos ’n yslike rugbyveld met spelers, holderstebolder. Daar is plasse, daar is ’n hele klomp woelwaters. En jy’s iewers tussenin. Kyk, hier loop jy sommerso deurmekaar.” Sy volg ’n lyn met haar nael, die lyn vertak en hou op en ’n tweede een loop regs ondertoe. “Hierso kan jy die los gemaal sien. Die reëls is totaal vergete.”

      Ek weet dit gaan oor my voet, maar sy kan haar nie sover bring om dit te sê nie.

      “Dis Koert se digression dié. Laat hy dit vir homself regmaak.” Sy fluister, haar asem vol spoeg en vanilla: “Laat hy self terugkom, as hy wil. Jy sal hom nie maak kom nie, Marlouw.” Sy hou my hand in hare, nie in die minste ongemaklik so digby my nie. En ek ook nie by haar nie.

      “Jocelyn?” My stem breek sodat ek moet wegkyk van die liefde wat sy vir my gee. Haar hart is soveel groter as myne, Jocelyn Albertse kon my ma gewees het.

      “What, my darling?”

      “Ek moet gaan, dis al wat ek weet.” Ek kyk buitentoe. Die water het nou oor die swembadrand gestoot en begin dam op die grasperk wat die bad omraam. Die gras skyn slymgroen deur.

      Sy bring my hand tot teenaan haar kloppende hart en laat rus hare nog lank bo-op myne. “Dis sy eie besluit, dis sy digression waarop hy homself gevat het. Orraait, Marlouw? Onthou dit net.”

      Ons kyk albei op toe ons die voordeur hoor. Jocelyn laat my hand los. Henrie skiet uit die kombuis weg en blaf vir die bekende voetstappe. Dit sal Heleen wees. Ek retireer, Jocelyn neem weer haar breiwerk op. Heleen sal ons waarneem soos sy daaraan gewoond is.

      “Is jy sterk genoeg hiervoor?” Sy wys met die breinaald na my voet: “Hulle sal jou nie respekteer nie. Dis nie ’n marshmallow-land waar almal ewe soet wag sodat die wit meneer eerste kan inklim nie. Het jy al gedink hoe daardie mense jou gaan sien? Jy kan ’n victim word.” Sy praat vinnig om klaar te maak. “Ek bedoel nie om jou te beledig nie, Marlouw,” toe sy sien hoe ek na haar kyk.

      “Shame man, Marlouw, moenie dít nou van my dink nie. Daardie mense het self soveel behoeftes, dit weet jy. En wat beteken ’n cripple” – dat sy dit kan sê – “se lewe as jy eers so down en out soos hulle is. Ek druk dit maar net op jou hart. Krista sê daar sterwe elke dag baie ma’s en baie jongmeisies en baie kinders. Hulle het al opgehou om hul dooies te tel.”

      Sy kyk my weer reg in die oë: “Nog iets: Sal jy kan cope as jy iets van jouself sien wat jy nog nooit gesien het nie? Het jy die mental strength? Ek weet nie. Wie van ons is sterk genoeg vir sulke goed?”

      “Weet Heleen niks van dié dinge wat jy oor Koert gehoor het nie?”

      “No. And it’s better like this. She loves Koert, she adores him more than anyone else. We must give her hope, Marlouw. That is all she needs. A little bit of hope dat die arme mens weer kan slaap.”

      “En JP?”

      “Mister JP.” Sy trek haar skouers op. Heleen kom binne met die trippelende hond agter haar skene.

      “Ag, jirretjie tog, Marlouw,” en sy mik dadelik na my en soen my op albei wange soos sy dit hier in Brighton leer naboots het.

      “Jocelyn, maak vir ons ’n lekker pot tee. Hoe ver het jy gevorder,” en sy kyk na Jocelyn se breiwerk. “Marlouw, bring jy vir my goeie tyding? Sal ons iets sterkers drink? Haal eerder vir ons ys uit, Jocelyn.” Sy tiek teen ’n pas, haar nek is uitgeslaan.

      “Sit daai broek dan nie te los aan jou nie, Marlouw, ek vra maar net.” Sy probeer lag, haar hande met die geskulptuurde naels word ’n oorlas. Hulle bewe. Sy het tot op haar grense gekom.

      “Ek sal, Heleen. Ek sal gaan kyk of ek Koert kan kry en doen wat ek kan. Ek beloof niks nie – hoe kan ek? – maar ek sal nogtans gaan kyk.”

      “Ag, Marlouw,” en sy omhels my en soen my soos in die ou dae, haar parfuum wolk om my. Sy vee haar gesig af.

      “Hier, ek moet jou dié wys sodat jy kan weet wie’s die Koert waarvan ek praat. Voor julle dink ek het mal geword.” Uit ’n laai in die jungle room kom ’n vel papier met Koert se laaste e-pos daarop:

      Hey die mense van doer onner

      Daar’s a max weight auf maaine Herz . . . hier kom hy

      Ek het doubts oor cummin back to Auzzie, o joi joi

      Booom ***shakalak

      ek wil julle sooo graag uittjek, die ace familie, ek bemin . . . mmm

      Mmmisss julle en Henrie . . . but rite now wis

      ekke

      ek maak net die move cause some people demand dit en dat, aber es ist kein muss . . . Count yours Koert-truly out . . . dis 50/50 ek sê julle bradders, BUT

      is net dat ek sort of a thingy oppie boiler het

      startin’ from scratch in Auzzie isse zero option

      het ek nog nooit geconfirm ek kom one day terug . . . nou hoekom menace party

      bradders en swisters daar by julle my so . . . so confusin!!!

      Ek het courage vir alle decisions op my ace

      How’s that soundin for my JP daddy?

      Ekke vat responsibility for whatever might go wrong

      Vanaf hierso is dit THE option

      includin includin

      takin responsibility vir die mense right here, maaine bradders.

      Die mense die need me like the earth needs the rain

      Ek is nie bang vir making mistakes

      Ekke leer van hulle ’cause ek het hulle self gemaak

      they give me POWER, can youz feel it?

      dis my 1ste keer mos dat ek so voel

      sonder om geswael te gewees het

      as ek nou trugkom sal ek a failure inklok

      Ek wil goed voel, my confidenz = right up there

      love die eternal familie. Runnin out of 02

      miskien vir xmas an’ new years I’ll be cummin, who knows

      you never know, ekke weet nie myself. Dis die waar.

      Koert