Destyds was almal maats. Hulle was goeie plattelandse kinders wat in groepies van plaas tot plaas gekuier het, sport en kultuur by die skool beoefen en kerkfunksies getrou bygewoon het, die ellendige Drikus soos ’n skaduwee altyd in die omgewing. Ná matriek is hulle saam Stellenbosch toe waar hy amok gemaak het onder die meisies, en haar en Altus eindelik in vrede gelaat het. Goeie tye, so onthou sy dit.
Noudat sy daaraan dink, dit was ook kortstondig. Sy is huis toe nadat sy graad gevang het sodat sy haar pa kon help om haar ma wat siek was, te verpleeg. Nooit kans gekry om haar beroep te beoefen nie, dit ook nie gemis nie. As enigste kind was haar ouers vir haar belangriker as skoolhou. Haar ma het haar en Altus se troue in ’n rystoel bygewoon. Sy het geleef tot sy haar eerste kleinkind gesien het. Haar pa is twee maande ná haar ma oorlede. Hom dood getreur, het almal gesê.
Om haar ouers so kort ná mekaar te verloor, was die grootste verlies van haar lewe. Geen groter verlies, het sy geglo, sou haar ooit weer tref nie. Altus was daar vir haar, hy kon haar troos, want sy pa en sy ma is in sy graadelf-jaar in ’n motorongeluk dood. Toe eers kon sy hom ook beter verstaan. Hulle het mekaar liefgehad en die plaas was hul droom.
Ook daardie idille is wreed versteur …
Tessa het vergeet om te eet. Daar val ’n traan in haar koffie. Laas nag het sy in haar slaap gehuil, haar wakker gehuil van teleurstelling in hom, maar ook in haarself. Sy was kwaad, maar ook spyt omdat sy nie haar humeur kan beteuel nie.
Noudat sy hier sit, hy weg is sonder om te groet en die dag ongenadig voor haar uitstrek, verwyt sy haarself. Hoekom hom wat sy so liefhet aanval, terwyl hy haar ondersteuning nodig het? Hy het dit tog reggekry om goed geld te maak en toe sy sake deurmekaar loop, lank die spreekwoordelike wolf van die deur af weggehou. Hy het hard gewerk en haar en die seuns hul gemaklike lewe gegun, later van tyd op skuld vir hulle gegee wat hy nie het nie. Dit maak haar skaam vir haarself, dat sy so ondankbaar kan wees.
Ewald is reg, sy is siek en lus vir niks. Die roosterbrood wat sy gesmeer het is onaangeraak, die koffie in haar koppie koud. Sy sal moet opstaan en aantrek en iets doen om haar houding teenoor Altus te regverdig. Sy wonder nog wat, toe Anna se teenwoordigheid tot haar deurdring.
“Tessa, ek groet jou. Het jy my gehoor?”
Sy lig haar ken, kyk in die moederlike gesig op. Anna Matseba. Sy en Petrus is van Hammanskraal. Hul oudste seun boer daar met bokke en skape op die stukkie grond wat hul voorouers van die hoofman gekry het. Soms praat hulle oor die lewe op die plaas. In goeie jare is daar genoeg water en kos vir diere en plante, ander jare swaarkry en sukkel en uithou en aanhou.
“Môre, Anna.”
“Hoekom eet jy nie jou toast nie?”
“Ek is nie honger nie.”
“Jy lyk of jy niks geslaap het nie.”
“Ek het wakker gelê.”
“Is jy siek?”
“Ek kon nie slaap nie, dis al.”
“Waar loop jy vandag, gaan jy uit? Winkels toe?”
“Ek gaan nêrens.”
“Nou, dan klim jy in die bed en slaap.”
“Goeie raad, Anna, dankie.”
“Voor jy loop, ek wil jou dankie sê vir die ses honderd rand. Dit was baie nodig, baie dankie.”
Tessa glimlag flou, die moegheid trek haar skouers af, dit vloei soos modder in haar are. Wat sê hulle vir die Matsebas? Hoe verduidelik jy vir hulle dat die rande opgedroog het, die werk ook?
“Die vensterwassers kom eers môre, jy kan goed rus.”
Moet dit haar troos? Maar Anna bedoel dit goed. “Jy dink ook aan alles, nè Anna?”
Anna gee ’n laggie. “Jy’t gesê hierdie huis is ook my huis.”
Wat ons albei binnekort sal moet opgee. “Werk jy nie te hard nie?”
“Nooit! Saans is ek bietjie moeg, dan slaap ek die moeg weg.”
Die slaap van die onskuldiges wat op eerlike wyse hul brood verdien, dink Tessa toe sy opstaan, of die slaap van niksvermoedende slagoffers? Sy voel vanoggend of sy nagdiens gedoen het, sy wat haar tyd verwyl met boeke en blomme, wat werk as sy inkopies doen en met Anna se hulp kook en bak!
Vensterwassers? Hulle word in kontant betaal. Sy het vergeet om vir hulle geld uit te hou en is nie lus om bank toe te gaan en haar laaste kontant te trek nie. Moet sy hulle bel en kanselleer? Onmoontlik. Sy en Anna kan nie die drieverdiepinghuis se vensters sonder hulp was nie! Sy kan nie en sy wil nie. Sy haat vensters was en vloere vee en stoof skoonmaak, selfs skottelgoed was. Bak en kook sal sy graag, solank ander hande agterna opruim en skoonmaak. Selfs op die plaas was daar hulp.
Hoe verafsku sy die ellendige glaskasteel met sy betonpilare en kurkmure, al die vensters en trappe – dié trap! Volgens die argitek is dit ’n meesterstuk wat hy nie sonder die hulp van ’n ingenieur kon verwesenlik nie, vir haar ’n hindernisbaan wat sy daagliks tot drie, vier keer moet voltooi. Sy haal dit en klim dit en gaan val op die bed neer.
Die nag se gestoei met haar gewete het sy tol geëis. Sy is so lam ’n rukwind kan die dak bokant haar afpluk, haar saam opskep en wegwaai, sy sal slaap.
Here, ek gee oor. Vat my weg, vat my asseblief weg.
Soos dryfhout, dink sy by haarself. Die meditasie-instrukteur beveel dit aan. Hy sê as jy nie kan slaap nie sê vir jouself jy is dryfhout met geen wil van jou eie. Die rivier vat jou saam. Jy rus op die water, jy dobber deur stroomversnellings, word meegesleur deur die vloed. Jy is deel van die tydlose, eindelose gang van die rivier, van rus en slaap en ewigheid.
Soms hoor sy die instrukteur, soms haar eie stem fluisterpraat soos water.
Slaap, slaap, slaap.
Dis onfeilbaar. Elaine het haar omgepraat. Sy is toe saam met haar na Damin se klasse vir meditasie, ontspanning en slaapterapie.
“Tessa? Tessa, slaap jy?”
Sy lê op die sponsmatrassie in die ontspanningsklas en het dit reggekry om so goed te ontspan dat sy binne minute vas aan die slaap geraak het. Elaine is veronderstel om haar op te help. Dit is haar vriendin wat oor haar buk. “Het ek jou nou wakker gemaak?”
Sy kom te stadig by. “Ons is nie in die klas nie, of is ons?”
Elaine skud haar kop. “Dis elfuur in die oggend in jou eie huis.”
“Het ek so laat geslaap?”
“Anna is bekommerd, sy dink jy is siek.”
“Ek is nie.”
“’n Mens slaap nie soos ’n klip in die middel van die dag sonder rede nie.”
“Daar is jy reg, ek het rede.” Sy sit regop, haal diep asem. “Kan ek ’n draai in die badkamer loop? Het jy tyd om te kuier? Ek moet met iemand praat.”
“Ek gaan kry solank vir ons tee.”
“Dankie, Elaine. Bring dit asseblief boontoe na my werkskamer. Ondertoe het die mure ore.”
“Dit klink ernstig.”
Tessa sug. “Dit is.”
Op pad badkamer toe begin sy twyfel en bid in haar hart: Doen ek die regte ding, Here, moet ek haar vertel? Sy is my vriendin, soos ’n moeder vir my en sy kom asof sy gestuur is. Maar sy ís gestuur, anders bel sy gewoonlik om te hoor of ek tuis is. Ek sien