“So drie maande gelede.”
“Die seuns se perde staan nog daar.”
“Ek huur vir hulle blyplek.”
“Hulle gaan aan asof Kleinplasie nog ons s’n is! Vat tot maats soontoe om te braai.”
“Ek het met die nuwe eienaars ooreengekom om hulle vir ten minste ’n jaar lank te akkommodeer.”
“Dis oneerlik.”
“Ek het beplan om die hoewe langsaan te koop, maar dis deur die mat.”
“Asof ek jou kan glo! Gaan jy Drikus konfronteer?”
“Ek wag nog vir die skriftelike verslag. Ek moet bewyse hê.”
“Ek kan nie verstaan hoekom Walter dit nie vroeër raakgesien het nie.”
“Hy was verlede jaar oorsee en sy firma het ’n jongeling gestuur wat teen sy oogvelle vasgekyk het. Die mannetjie sal dissiplinêr verhoor word. Walter reken die grootste skade is in die laaste ses maande aangerig. Drikus, ons neem aan dit is hy, het die boeke so gekook dat ons in der ewigheid nooit uit die skuld sou kom nie; winste afgesyfer, kontant weggesteek, geld vir homself gevat, nie maandeliks by die trust inbetaal nie. Die prokureurs het aanmanings gestuur wat hy glo geïgnoreer het. Ons het ’n stel aggressiewe skuldeisers en hulle soek nou hulle pond vleis. Vreemd hoe nuus trek. Nie een van hulle is meer bereid om te onderhandel nie en dit het by die voorbok begin. Ek het nie geld nie, die dam is leeg.”
“Leeg gesteel?”
“Lyk so.”
“Deur ’n skelm wat jou goedheid uitgebuit het.”
“Hy is my vriend.”
“Wat nie ’n snars vir jou omgee nie. Bloedsuier is ’n beter woord.” Tessa is so kwaad sy kan haar stem hoor styg.
“Have a heart, vrou, die ou het probleme.”
Sy kan haar ore nie glo nie. Dat Altus steeds vir Drikus wil instaan, gaan haar verstand te bowe.
“Probleme? Watse probleme? Hy ry met ’n Porsche en woon in ’n hotel in Sandton.”
“Hulle het hom uitgeskop.”
“Goed so, die tronk wag vir hom.”
“Vir my ook as ek my nie bankrot laat verklaar nie.”
“En dan?”
“Dan verkoop hulle ons huis, ons karre, al ons ander besittings, betaal ons skuld en ons begin van voor af.”
“Ons sal darem seker iets oorhou?”
“Ek twyfel.”
Nog slegte nuus. Tessa kan voel hoe die bloed uit haar kop wegvloei. Hulle het baie besittings, baie wat nog op huurkoop is, die huis se paaiemente is hoog, haar kar is nie afbetaal nie. Hoe werk dit? Niemand wat sy ken, is al deur so ’n vernederende proses nie, maar sy het stories gehoor van hoe die balju uitkom om jou goed op te skryf, dat jy niks vir hom kan wegsteek nie, dat hy alles vat en net die klere aan jou lyf en ’n matras op die grond vir jou los.
“Wanneer?” vra sy, haar mond kurkdroog.
“Ek moet nog eers ’n hofaansoek indien.”
Tessa dink nie aan die ontwerpersmeubels en kunswerke wat die binnehuisversierder namens hulle aangekoop het nie. Sy dink aan die rooshouttafel en -stoele in die ontbytkamer, die Victoriaanse lessenaar en die koperlampe wat honderde jare al in die Heynse se besit is, al die ander kosbaarhede wat sy deur die jare bymekaargemaak het; skilderye wat sy self uitgekies het, Venesiese glas, Persiese matte, haar mooi goed wat so doeltreffend op die regte plekke in die huis geplaas is. In die kluis is juwele wat sy net vir spesiale geleenthede uithaal en wat Altus ten duurste verseker het. Daardie stukke moes sy in besonderhede beskryf, van haar ouma se pêrels tot die Cartier-halssnoer wat Altus verlede jaar vir hul twintigste huweliksherdenking gekoop het. Spontaan roep sy uit: “Wat van ons erfgoed? My juwele!”
“Weet nie. Ons is swaar verseker, dit kan die balju op die spoor sit.”
“Ek steel my eie juwele voor ek dit vir hulle gee!”
“Ek sal die lys nagaan. Miskien is daar stukke wat vrygespring het. Ons kan van die meubels en so-aan betyds verwyder, nie alles is opgeskryf nie.”
“Jy was baie deeglik, soos jy soms kan wees.” Tessa kan nie keer dat die bitterheid in haar stem deurslaan nie. Altus lyk afgetakel, hy lyk siek, maar sy gee nie om nie, dis alles sy skuld.
“Ons sal plan maak,” probeer hy lamlendig walgooi, “ons erfgoed red. By vriende stoor voor die balju toeslaan. Dis nie heeltemal eerlik nie, maar almal doen dit.”
Trane wel in Tessa se oë op. “Ek skaam my dood.”
“Ek ook, ek is jammer.”
“Jammer sal ons nou niks help nie. Ek is so kwaad, ek kan Drikus verwurg.”
“Dit is nie net hy nie.”
“Maak nie saak nie, hy het gesteel.”
“Ek het verkeerde besluite geneem, ek het die mark verkeerd gelees.”
Tessa wil opstaan. Sy voel dronkerig en steier omtrent orent. “Ek gaan bad en slaap.”
“Ek gaan koffie maak.”
“Koffie!” gil sy so skielik sy skrik vir haarself. “Is dit al waaraan jy kan dink? Gaan koffie jou uit hierdie gemors help? Nee! Kry dit in jou kop, koffie is nie die antwoord nie! Wat sê jy vir die seuns, het jy aan hulle gedink toe jy die mark gelees het en jou besluite geneem het? Ek kan dit dalk nog hanteer, maar hulle is jonk.”
Altus lig sy hande in ’n moedelose gebaar. “Tess, ek het probeer.”
“Nie hard genoeg nie!”
Hy wil haar keer, maar sy loop om hom, klim die trap na hul slaapkamer met knakkende knieë, haar hande al klouende aan die trapleuning. Hoe verwens sy nie die ellendige spiraal wat die simpel argitek uitgedink het nie. Hulle moes nooit hierdie huis gekoop het nie, nooit van Kleinplasie af weggetrek het nie. Sy sou soontoe kon teruggaan, maar nou behoort die koel grasdakwoning aan iemand anders en Altus vertel haar vannag!
4
Rusies kom en gaan. Sy en Altus het die goue reël toegepas en selde kwaad vir mekaar gaan slaap. Vanaand staan sy voor hul kamerdeur en wonder of hy die moed sal bymekaarskraap om die bed met haar te deel. Sy kry die gevoel dat sy hom ook nie naby haar wil hê nie. Woedend trek sy die deur agter haar toe, sluit dit, gee een tree weg, gaan terug en sluit dit weer oop. Haar emosies is in so ’n warboel, sy draai in die kamer rond en kan nie besluit of sy vir hom moet wag of dadelik teruggaan en hom om verskoning vra vir haar slegte reaksie nie. Dis tweeuur in die nag toe sy in die koue bed klim, die komberse oor haar kop trek en eindelik aan die slaap raak, net om kort-kort wakker te skrik en rusteloos rond te rol.
Toe sy vroegoggend met ’n kopseer bykom, is hy ook nie langs haar nie. Te oordeel aan die voorkoms van sy kant van die bed, het hy nie kamer toe gekom nie. Seker in sy studeerkamer op die bank geslaap, ás hy geslaap het. Laat hy weg wees en sy gemors gaan opklaar as hy kan! Sy is lus en bly die hele dag in die bed, maar besluit tog om op te staan voor die kinders begin wonder of sy siek is en Anna opgedraf kom met ontbyt op ’n skinkbord.
Ferdie is nie aan tafel nie. Ewald is sy vrolike self.
“Môre, Ma, lekker geslaap? Hoekom lyk Ma so moeg?”
“Dis die oorgang van die seisoen, dit vang my.”
“Ma moenie nou siek word nie. Ons selgroep is Saterdag hier. Het Ma onthou?”
Sy het belowe om vir hulle lasagne te maak. “Toe maar!” beloof sy weer eens. “Ek steek vandag nie my kop by die deur uit nie.”
“Dankie, Mammie! Ma is die beste!”
Hy