'n Tuin vir Tessa. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321091
Скачать книгу
ection>

      

      Helena Hugo

      Lux Verbi

      Opgedra aan my vriendin

      Rhona Peens wat uit ondervinding weet hoe God gebede verhoor.

      Here, U is my lewe,

      U sorg vir my.

      Wat ek ontvang,

      kom alles van U af.

      – Psalm 16:5

      1

      Dis halfvyf, Woensdagoggend 23 Mei, sien Tessa op haar selfoonskermpie.

      Sy wat so vas kon slaap, slaap die laaste tyd sleg en skrik vroeg wakker, dikwels voor Altus. Soms sluimer sy weer in en kom eers by wanneer hy lankal sy koers gekry het – voor sesuur om die spitsverkeer te ontglip. Hy groet altyd, soen haar op die wang. Selfs al reageer sy nie, vererg hy hom nie. Hy is ’n goeie, geduldige man, haar Altus.

      Sy hoor hom in die badkamer, stortkrane wyd oop. Die koulike getjilp van ’n tuinvoël beur saam met die winter teen die kantgordyne, vleg sy deuntjie deur die waterval van Altus se stort. Hul dubbelbed het in die nag afgekoel. Sy het haar plekkie warm gebroei en is nie skaam om langer te lê nie. Altus raak benoud in ’n bed met te veel komberse. Hy hou veral nie van elektriese komberse nie en skakel dit vroegaand af. Die winter is vir hom ook nog nie koud genoeg om die ondervloerse verwarmers aan die gang te kry nie. Onnodig en ongesond, sê hy, en sy is geneig om saam te stem. Wat haar bekommer, is dat hy wat so vrygewig was, elke dag suiniger raak. Hy het wel aan haar erken dat dit steeds nie goed gaan met Equestris nie, maar bygevoeg dat Heyns Voere en sy persoonlike bankbalans nog stewig staan. Tensy hulle onbehoorlik spandeer, het hy haar verseker, sal alles uitwerk. Die ekonomie is op en af en niks kan te ver vooruit beplan word nie, dus sal hulle hul oorsese vakansie voorlopig moet uitstel.

      “Die seuns sien vreeslik uit na ’n wit Kersfees,” het sy hom herinner.

      “Ons hou dit solank tussen ons. Oor ’n maand of twee verbeter die situasie en dan het ons hulle verniet teleurgestel. Ek wil jou net nie heeltemal in die duister laat nie.”

      “Ten minste weet ek nou hoekom jy deesdae so aandring op besparing.”

      “Help my in die algemeen tot dit beter gaan, maar bekommer jou nie oor die werk nie, dis my verantwoordelikheid.”

      Sy het dit daar gelaat, hom nie te veel uitgevra nie, net meer moeite gedoen om die tydjies tuis vir hom aangenaam te maak. Eintlik hoef sy nie saam met hom op te staan nie, maar vanoggend wil sy die perkoleerder gaan aanskakel voordat hy homself moet help. Hy begin nie sy dag sonder koffie nie – ’n gewoonte wat hy by sy oorlede pa aangeleer het. Geen boer kan die rooidag sonder Boeretroos en beskuit aandurf nie, ook nie lande toe ry as hy nie ’n fles vol saamneem nie. Altus kon gevolglik nog nooit die stad se oggendverkeer invaar sonder ’n goeie skeut kafeïen nie. Nog is het einde niet. Daar is, volgens sy sekretaresse, geen mens op kantoor wat meer koffie drink as meneer Heyns nie. Of dit goed is of nie, moet die mediese wetenskap nog uitklaar. Intussen sorg Tessa dat sy die beste mengsels koop en hom dikwels met die duurste bederf.

      Sy kry koud, maar as sy hom vandag wil voorspring, sal sy die komberse moet afgooi. Te laat! Die badkamerdeur gaan oop en hy kom in ’n stoomwolk uitgestap, ’n badhanddoek om sy onderlyf, sy hare so nat druppels val op sy skouers. Sonder om haar raak te sien, loop hy reguit na sy helfte van hul instapklerekas.

      Waar is sy gedagtes, wonder sy terwyl sy haar voete in haar pantoffels steek en haar winterjapon aantrek. Winkels sluit een na die ander. Syne verkoop luukse artikels en die invoerbesigheid waarop hy hom die laaste tyd toespits, gee hom oneindige probleme. Hy werk hom nog oor ’n mik, het hom laas nag weer in sy studeerkamer teruggetrek en nie eens van die rekenaarskerm af weggekyk toe sy die koffie langs hom neersit nie. Dan wil hy hê sy moet haar nie bekommer nie!

      “Dis halftwee,” het sy versigtig vermaan en hom in die nek gesoen.

      “Hoekom is jy dan nog op?”

      “Ek het TV gekyk,” het sy gejok.

      Waarheid is, sy het aan die slaap geraak, wakker geword, hom nie in die bed gekry nie, gangaf gesluip, lig by die oop studeerkamerdeur sien uitspoel en gaan koffie maak.

      Terug in die bed het sy gelê en dink aan sy ouers se beesplaas naby Boshof in die Vrystaat, aan die wye vlaktes waar hy gebore is en grootgeword het, en waar hulle hul getroude lewe saam begin het. Saans het hulle vroeg gaan slaap en soggens vroeg opgestaan, saam koffie gedrink, hulle verwonder aan die dagbreek – tot daardie rampspoedige oggend. Ewald was ’n baba wat gelukkig vas kon slaap …

      Ferdie word toe die eerste seun in die geslagslyn van die Heynse van Platkop wat nie in die Vrystaat gebore is nie. Vaalpens, was Altus se troetelnaam vir hom tot hy hulle wel deeglik ingelig het dat sy pens pienk is soos die res van hulle s’n. Klein Ferdie het Ewald “Waldie” genoem en die naam het vasgesteek.

      Haar seuns moes op die plaas kon grootword soos al die Heynse voor hulle, maar dis hulle nie beskore nie. Of hulle dit mis, weet sy nie. Danksy die kleinhoewe, waar Altus perdestalle verhuur, kry hulle tog soms ’n smakie van hul ouers se kinderjare. Geen mens sal glo dat sy ’n perd bloots kon ry of vreesloos kon boomklim en in ’n vol rivier swem nie. Sy swem nog byna elke dag, in hul verhitte swembad. Dis veiliger, gouer en skoner.

      Sy was haar gesig, borsel haar tande, kam haar hare.

      “Jy al op?” vra Altus, wat besig is om sy hempsknope vas te maak.

      “Ek wou jou verras en gaan koffie maak.”

      “Nog nie te laat daarvoor nie, en roer vir jou.”

      Sy weet hy terg, daarom lag sy en draf kastig haastig by hom verby.

      In die koue gang op pad na die trap af ondertoe, tref dit haar nogeens hoe goed hulle hier aangepas het. Ná amper agtien jaar in die stad, is dit seker nie ongewoon nie. Hulle is stedelinge, al is Altus op ’n manier steeds betrokke by die boerderybedryf. Fanaties korporatief sal hy nooit wees nie, maar hy is gebore met ’n mededingende gees en ’n verantwoordelike lewensuitkyk. Hy presteer, of moet sy eerder sê hy byt vas ten spyte van sy droom om eendag terug te gaan plaas toe. Hulle het hier vasgegroei, die laaste vyf jaar in hul nuwe huis – ’n glaskasteel wat glo spreek van sukses, maar haar nie pas nie. Sal sy ooit die argitek en sy medepligtige, die binnehuisversierder, vergeet! Boelies wat hul idees op haar afgedwing het.

      Die kombuis wat deel uitmaak van ’n oopplan-kuierplek is te oop, te ruim, en te glad afgerond. Naatlose staal- en chroomoppervlakke versteek stoofplate, kapblokke, wasbakke, mengers, malers en elke denkbare elektroniese apparaat wat met die druk van ’n knoppie haar werk vergemaklik en vir Anna steeds hoofbrekens gee. Tessa wou die plaaskombuis van haar eerste huis herskep. Die argitekte het egter voet by stuk gehou. Kombuise lyk nie meer soos kombuise nie. Dis nie ’n kuierplek vir die gesin nie. Dis ’n venue waar vriende en vreemdelinge mekaar kan ontmoet en die voorbereiding van etes nie meer agter die skerms gebeur nie, maar deel word van die gesellige samesyn. Anna sê hulle doen dit lankal om die pappot sonder om te sukkel met somme maak en wekkers stel.

      Tessa glimlag heimlik, haar ouma het altyd gesê: “Al stuk gereedskap wat jy in jou kombuis nodig het, is ’n skerp mes.”

      Sy skakel die perkoleerder aan, gaan staan voor die venster en stel die blinders op “Open”.

      Van hier af lyk die erf groter as wat dit regtig is en sy verwonder haar opnuut aan die illusie wat ’n slim tuinontwerper kan bewerk. Met hom het sy goed oor die weg gekom en alles gekry wat sy wou hê. Die patio vloei aaneen met die goed versorgde grasperk en swembad. Op ’n hoër terras steek die tennisbaan se hok bokant die granaatheining uit, terwyl Anna-hulle se huisie agter ’n jasmynheining in die verste hoek van die erf versteek is. Petrus het teen die muur langs plek gemaak en ’n groentetuin aangelê. Hy dra mandjies vol rankboontjies, kersietamaties of vars slaaikoppe aan groothuis toe. Die huishoudelike skoonmakers en die tuindienste doen uitstekende werk, maar sonder hom en Anna sou dit onmoontlik wees om die huis en tuin so netjies te hou.

      ’n