“Geen probleme nie,” sê sy en wonder hoe sy dit regkry om so glad te jok. “Julle?”
“Aan die hardloop, maar verder goed.”
Die orrelis kom groet en vra die lys van liedjies.
Tessa gaan sit op haar gewone plek, in die tweede ry van voor. Martie Harmse los Elaine se stoel oop, maar leun oor om te vra hoe dit gaan.
“Goed, dankie.” Tessa wys na die leë stoel. “Elaine is nie hier nie.”
“O, maar ek sit nou al. Gee jy om as ek nie naderskuif nie?” Martie is sleg oorgewig, stoele verwissel is seker nie maklik nie.
“Als reg, as jy nie omgee dat ek ook in my hoekie bly nie.”
Martie haal haar Bybel uit sy leertassie. “Het jy gehoor van Alana se dogter?”
“Nee.”
“Haar man het haar uit die huis geskop, toe kom trek sy met kindertjies en al by Alana-hulle in.”
“Ek dag Alana is siek?”
“Siek van senuwees. Al drie daai kindertjies is ontwrig en ongehoorsaam, maak en breek so ver soos hulle gaan. Sy moes haar hele glasversameling wegpak, die hondjies word aan hulle nekke rondgedra. Alana-hulle kyk nou uit vir ’n woonstel vir die dogter sodat sy en Freek en die arme hondjies ten minste weer normaal kan leef.”
Dis hartseer, wil Tessa sê, maar Martie kry nie end nie. “Sy moes hulle in die eerste plek nooit ingeneem het nie.”
“Dit is haar dogter en sy is in die nood.”
“Ek sal vir myne ’n kamer bespreek in ’n gastehuis. Moeilikheid is, hulle bring jou in die skande en dan loop jy vir die res van jou lewe met ’n reputasie. Haai, jy moenie gaan oorvertel nie. Dis net, Alana huil by my en dit raak eens te veel. Bid maar vir hulle.”
Tessa knik, hoewel sy nie by skinderstories betrokke wil raak nie.
Die orrelis speel: “God is hier teenwoordig, heilig is die Here”.
Die geroesemoes bedaar, dun vrouestemme sing al lesende die woorde op die skerm.
Hy is wel teenwoordig, so het Tessa geleer, Hy is hier en ook by Alana en haar dogter en die kindertjies. Hy is by Altus en Walter wat dalk al uitsluitsel het oor Altus se boeke. Laat dit tog ’n wettige fout wees, ’n oorsig wat reggestel kan word, bid sy in haar hart.
“Ons is swak en sondig,
maar ons lied verkondig:
U’s die bron van alle lewe,
U is Heer, U regeer.
Lei ons al ons dae
na u welbehae.”
Haar kommer versmelt saam met die laaste woorde. Dankbaar sak sy in haar sitplek neer. Dis goed om hier te wees, tussen gelowige vroue wat op hul manier vir mekaar en vir ander omgee – die meeste van hulle in elk geval.
“Ons bid saam,” sê Petro.
Sy wag en dit raak so stil jy kan ’n speld hoor val.
“Here Jesus, ons is saam om stil te raak by U, om ons gedagtes op u Woord te rig, hande te vat met mekaar, wyer te kyk as ons eie klein kring.”
Sê nou dis Drikus wat Altus besteel, sê nou die winkel is aan die vou? Altus het verantwoordelikhede, die personeel se salarisse, soveel paaiemente en rekeninge wat betaal moet word. Sy werk nie, sy kan nie bydra nie, sy kan finansieel nie help nie. Hoe gebeur dit? Kon Altus nie betyds keer nie of kan hy vandag nog?
Tessa voel skuldig toe Petro “Amen” sê. Waarom het haar gedagtes so gou al weer weggehardloop? Hoekom gaan haal sy die las wat sy pas gelos het en hou haar gedagtes daarmee besig? Sy is hier om Bybelstudie te doen, nie om haar bekommernisse te vertroetel nie!
Sedig gaan sit sy saam met die ander en maak haar Bybel oop by Matteus vyf.
“Ons kyk van vandag af vir die volgende paar weke na die saligsprekings van ons Here Jesus. Matteus vyf vers drie. Iemand wat dit vir ons wil lees, die een vers?”
Sunelle Kruger steek haar hand op. Haar welluidende stem weerklink oor die geboë hoofde van die ander vroue.
“Matteus vyf vers drie. Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
“Enigiemand wat iets wil sê?”
Tessa waag dit nie om ’n geluid te maak nie, haar hart loop oor. Sy vou haar hande, verstrengel haar vingers, kyk stip na die woorde, wonder skuldig: Het ons nie dalk te hard gewerk aan ons eie koninkryk nie? Maar Altus is op die kerkraad, hy het inspraak in die gemeentebestuur. Sy werk vir die kerk, skink tee, was koppies, besoek siekes. Hulle gee groot bydraes, die seuns is betrokke, die Here het Ewald geroep om Hom te dien. Is hulle as gesin dan nie geregtig op ’n stukkie van God se koninkryk nie?
“Wat beteken hierdie woorde? Tannie Ansie …”
“Jong mense van vandag werk te hard om aardse goed bymekaar te maak. Die moeder is nie by die huis nie en die kinders word volgestop met sakgeld. Dis nie liefde nie.”
Tannie Ansie het ’n bynes oopgesteek. Petro hou haar hand op. “Tannie Ansie is reg, geld kan nie alles koop nie. Ongelukkig maak omstandighede dit soms nodig vir moeders om voltyds te werk. Die meeste van ons is darem bevoorreg genoeg om net tuisteskeppers te kan wees. Sommige van julle werk skofte en kan ons byeenkoms inpas by julle dagprogram. Sandra, ek sien jy is vandag hier, en jy, Fransien.”
’n Geroesemoes bars weer los. “Ek het verlede jaar eers afgetree!”
“Ek sou eerder ook ’n loopbaan wou hê.”
“Die onderwys maak dit onmoontlik.”
“My man wil nie hê ek moet gaan werk nie.”
“My dogter moet.”
“Goed, ons is dit eens,” keer Petro dat dit handuit ruk. “Ons moet werk, tuis of buite die huis. Maar is ons werk genoeg om ons op ons voete te hou? Nee, God moet ons seën, in alle opsigte. Hy sorg vir gesondheid, opleiding, ’n goeie omgewing. God sorg vir alles. Al swoeg en sweet ons, ons bly van Hom afhanklik.”
Iemand steek hand op. “Kan ons dan alles aan God oorlaat en self niks verder doen nie?”
“Aan God oorlaat, ja, natuurlik, maar nie sonder om ons deel te doen nie. Die eerste stap is om elke dag God se seën op ons arbeid af te bid, die tweede wat daaraan gelykstaan, is om God te eer met ons werk, die oog op sy koninkryk te hou.”
“Ons moet mos swaar kry om eendag in die hemel te kom,” fluisterpraat Martie langs Tessa.
Petro het gehoor. “Martie, het jy vir ons ’n vraag?”
“Nee, niks, ek het niks om te vra nie.”
“Nog iemand?”
Die gesprek kry momentum. Tessa neem nie deel nie.
3
Dis byna middernag. Sy sit met haar selfoon in die een hand, die televisie se afstandbeheerder in die ander. Altus het haar vanoggend gevra om hom nie te bel nie, maar hy het belowe hulle praat vanaand en al wat uitkom, is hy. Haar vermoede dat als nie pluis is nie, het omgeslaan na sekerheid. Daar is iets aan die broei by die werk en hy het nie die durf om daarmee uit te kom nie. Sy het gehou tot tienuur voordat sy hom die eerste keer gebel het. Die foon was afgeskakel en sy het ’n boodskap gelos, gewag, ’n halfuur later weer gebel en haar boodskap herhaal. Nog geen geluid nie.
Dink hy nie aan haar nie, besef hy nie dat sy haar bekommer nie? Hoeveel keer moet sy bel voordat hy aanskakel en antwoord? Of moet sy die desperate ding doen en hierdie tyd van die nag vir Walter en Drikus bel? Selfs die polisie?
Hy weet mos hoe sy haar bekommer as die seuns instem om ’n sekere tyd huis toe te kom en hulle bly nie by die ooreenkoms nie. Altus het al laatnagvergaderings