Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу

      Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!”

      – Filippense 4:4

      Geloof en gebed het baie krag, maar moenie die krag van blydskap en ’n opregte glimlag onderskat nie. Dit is meer aansteeklik as masels – toets dit gerus op ’n onvriendelike gesig! En die wonder is, daar is nie nadele aan verbonde om blydskap te versprei nie. Dit lig die gemoed van die gewer én die ontvanger.

      Ek het ’n rukkie gelede ’n baie insiggewende artikel oor depressie gelees. Een van die gratis teenvoeters vir depressie, volgens hierdie artikel, is om te leer glimlag – selfs al voel jy glad nie op daardie oomblik lus om te glimlag nie. Fake it till you make it.

      Daar is bevind dat jou serotonienvlak styg wanneer jy glimlag. Jy kry ’n gratis lift wanneer jy jou mondhoeke opwaarts laat krul in plaas van afwaarts. Selfs al kan jy aanvanklik net een tand wys, en nie al twee en dertig nie, sal selfs ’n piepklein glimlag jou gemoed ligter laat voel.

      Het jy al vandag geglimlag? Of is jou mond in ’n dun en onversetlike potlootstrepie getrek? Dalk is dit dan tyd om ’n tand te wys. As gelowiges het ons die opdrag ontvang om bly te wees omdat ons aan die Here behoort. Hierdie opdrag word selfs herhaal sodat ons dit ernstig sal opneem.

      Dink net aan die impak wat jy met jou glimlag op ons land kan hê. As ons elkeen net kan leer om een ander mens elke dag met ’n blye glimlag van die Here te groet, kan dit ’n hele land vol bruisende sonskynmense tot gevolg hê!

      Bruisgebed vir ’n ligter gemoed: Here, help my om elke dag bewustelik te glimlag tot eer van u Naam.

      Vitamien L

      Leerbaarheid

      Julle weet dat mense wat baie van hulleself dink, terwyl hulle niks is nie, hulleself bedrieg.

      – Galasiërs 6:3

      Wat my opval tydens my reis deur die lewe, is hoe opgepof en alwetend mense soms kan wees. Hulle weet alles oor braaivleis, politiek, rugby, musiek, maar veral oor geloofskwessies. Hierdie alwetendheid veroorsaak hewige konflik, rusie en skeuring in gemeenskappe, kerke en tussen medegelowiges.

      Soms verskeur alwetende mense mekaar soos ’n trop wildehonde, sommer oor beuselagtighede. En elkeen wat “alwetend” is, glo hy of sy is reg en verdedig sy of haar siening met skuim om die mond. Meestal vind hierdie gesprekke totaal sonder die Here se liefde en sagmoedigheid plaas, met slegs ’n koppige en ekkerige karperd voor elke wa.

      ’n Alwetende gesindheid kan gevaarlik en selfs misleidend wees. Sulke mense kan maklik die pot van genade mis sit. Ek sien gereeld hoe alwetende mense twis oor God se Woord en dit aanhaal asof hulle geestelike tennis teen mekaar speel. Hierdie mededingende geestelike aanslag kan vermink en verwond en verskeur. Dit kan lei tot geestelike hoogmoed, veroordeling, hartsverset – die teenoorgestelde van Jesus se voorbeeld van liefde en genade.

      Ek neem nie deel aan die kampioenskap van die alwetendes nie. Ek glo net God is alwetend. Hy is die alwetende, allesomvattende en almagtige God. Hy ken ten volle. Die mens, met ons blindekolle en stowwerige lense en gebrekkige insig, ken slegs ten dele.

      Op my knieë in nederigheid voor Hom, as ’n feilbare mens, ’n gebreekte skulpie, ’n nederige nie-alwetende leerder, kry ek die bruistablet wat my gees laat sing.

      Bruisgebed vir geestelike groei: Here, ek lê my alwetendheid neer en kies om leerbaar en ’n ewige student van U, die Leermeester, te bly.

      Vitamien K

      Kompliment

      ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

      – Matteus 12:35

      Dit kikker my gemoed op wanneer iemand vir my ’n opregte kompliment vanuit ’n goeie hart gee. As ’n skrywer wat in isolasie werk, is dit vir my ’n wonderlike aansporing wanneer lesers my laat weet dat hulle ’n boek van my geniet het en dat dit vir hulle iets beteken het. Dit is wind onder my vlerke om aan te hou skryf en my gawes en talente te ontwikkel.

      Ook as aktrise en spreker is dit vir my waardevol wanneer mense aan my bevestiging en erkenning gee. Dit is boustene wat my innerlike mens voed en opbou. ’n Opregte kompliment bou ’n mens op en voeg waarde by jou dag.

      Tog kies so baie mense om eerder hulle monde soos beursies toe te zip en komplimente van ander te weerhou. Hulle swyg soos die graf en gee nooit positiewe terugvoering nie – selfs al hou hulle van iets.

      Dan is daar die derde groep wat verkies om eerder die kritiese lens uit hulle sak en hart te haal. Hierdie klakouse is uit gewoonte alewig op soek na iets in ander wat hulle kan afskiet en kritiseer – al is dit net die kleur van ’n rok of ’n neusring wat hulle nie geval nie.

      Aan watter groep behoort jy? Opregte komplimente is gratis bruistablette wat ons as ’n lig en seën kan gebruik. Dit laat mense bruikbaar, menswaardig en geliefd voel. Moenie snoep wees nie – gee vandag nog ’n mooi kompliment weg.

      Bruisgebed vir beter verhoudings: Here, gee dat ek elke dag sal kies om mense te komplimenteer en op te bou – tot eer van u Naam.

      Vitamien H

      Herinneringe

      Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.

      – Spreuke 4:23

      Herinneringe is die innerlike foto’s wat jy kies om saam met jou die toekoms in te neem en in jou hart te bewaar. Party foto’s wat ons koester, is mooi. Dit vertel van goeie tye met goeie vriende en dierbare familie. Dit getuig van oorwinnings en seën. Ander is minder mooi en vertroebel jou gemoed wanneer jy daaraan dink. Die grys in-betweens stoor ons om die een of ander rede nie in ons harte nie.

      Maak seker watter herinneringe jy kies om te vergroot, te raam en in jou hart se stoorkamer op te hang. Laat dit jou innerlik bruis? Of het dit die uitwerking van geestelike arseen?

      Ek het baie jare lank swaar aan donker herinneringe in my hart gedra. Vandag, deur die Here se genade, raak ek vinnig ontslae van emosionele rommel wat my wil vergiftig. Ek het geleer ’n lewensalbum met vergrotings van negatiewe foto’s is nie nuttig op my lewenspad nie. Dit dien nie ’n goeie doel nie. Dit beroof my van my sprankel.

      Vandag is die herinneringe wat ek in my hart saamdra baie ligter as ’n paar jaar gelede. Die woede, bitterheid en pyn is vervang deur die Here se genade, liefde en deernis.

      Bekyk ’n slag jou hart se inhoud goed. Maak seker die herinneringe wat jy gereeld uithaal en na kyk, is bruistablette vir jou gees – en nie gifpille wat jou pad na ’n mooi toekoms sal versper nie.

      Want dit wat jy in jou hart saamneem, bepaal jou belewenis van jou reis.

      Bruisgebed vir geluk: Help my, Here, om die mooi herinneringe te vergroot en te raam en die res te laat gaan.

      Vitamien O

      Oorspronklikheid

      Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik.

      – Romeine 12:6

      Is jy oorspronklik? Of gebruik jy gewoonlik ander mense se aanhalings, slagspreuke, pittige sêgoed of Bybelverse wat jy in grootmaat ontvang en aanstuur?

      Ons almal leen soms by mekaar – ’n koppie suiker, ’n boek, ’n hot tray vir ’n spesiale geleentheid. Ek doen dit ook. En ek leen ook soms woorde en geestelike inspirasie.

      Ons almal is nie skrywers van formaat nie, en ons hoef ook nie te wees nie. Maar ons almal is oorspronklike, handgemaakte skeppings uit die Vaderhand. Individue met ’n oorspronklike hart en ’n oorspronklike persoonlikheid waaruit iets oorspronklik kan vloei as deel van die liggaam van Christus hier op aarde.

      Soms