Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
geforward soos ’n kettingbrief of trend. Grootmaatstyl soos McDonald’s se take aways.

      Ek moet bely, dié fabriektendens is nie altyd ’n bruistablet vir my siel nie; soms irriteer dit my selfs.

      Iemand wat egter moeite doen om vir my één sinnetjie te stuur wat hulle self uitgedink het, laat my gees bruis. Dit hoef nie ’n meestermanuskrip te wees nie. “Hoe gaan dit met jou, Susan?” is goed genoeg vir my. Die ware omgee is die boodskap wat deurkom.

      Om gedurig net tweedehandse sêgoed te sirkuleer, laat ons geestelik afstomp. Wees oorspronklik. Raak stil by die Here, dink aan iemand wat swaarkry, en gee iets uit jóú hart se oortuiging volgens jóú vermoë.

      Bruisgebed vir geestelike groei: Vader, help my om ander mense met my eie opregte woorde uit my hart te bemoedig.

      Vitamien I

      Invloed

      Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.

      – Kolossense 1:29

      Ek het al twee keer die magtige Vaalrivier in volle vloed by my huis buite Parys in die Vrystaat ervaar. Ek het gesien hoe die rivier sy walle oorstroom, hoe die water oor die grasperk en swembad kruip en al met die paadjie langs en met die trappies op na die voordeur aanrol. Dis vreesaanjaend.

      Inwoners van die natuurreservaat is aangeraai om die landgoed, wat tussen twee vertakkings van die rivier lê, te verlaat, anders sou hulle dalk ’n tyd lank afgesny kon word. Die brug oor die rivier, waaronder ’n dubbeldekkerbus gewoonlik pas, is deur die watermassa toegespoel.

      Ek het angstig na die stygende watermassa gekyk en gegryp na die enigste life jacket wat ek ken – die Een wat riviere en hemel en aarde gemaak het. ’n Kalmte het onmiddellik my innerlike gevul.

      Ek dink vandag aan mense in geteisterde rampgebiede van die wêreld. In die droë woestyngebiede. Die slagoffers van siklone, tifone, aardbewings of emosionele of liggaamlike geweld. Mense wie se lewe in puin lê – mense sonder hoop.

      En skielik sien ek die Vaalrivier se vloed met nuwe oë. Ek besef die nodigheid van ons goddelike IN-vloed om oor ander se pynlike landskappe te vloei.

      Mag God se sagte Gees van genade jou hart se keerwalle oopbreek en jou wese met sy goedheid oorstroom. Mag dit jou beweeg om ’n bruisende en genesende rivier te wees – oral waar jy invloed in ons land het.

      Bruisgebed vir oorvloed: Help my, Vader, om elke dag bewustelik te kies om ’n goeie invloed op ander mense te hê.

      Vitamien N

      Nederigheid

      Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid.

      – Spreuke 11:2

      Nederigheid beteken nie om ’n swak selfbeeld of geen selfrespek te hê nie. Dit beteken nie dat jy gedurig koponderstebo deur die lewe sluip soos ’n straathond nie. Dit beteken nie om niks van jouself te dink en ’n “ek is minderwaardig”-naambordjie om jou nek te hang nie. Nederigheid is ook nie om jouself laer as ander te ag of om jouself as die stert in plaas van die kop te beskou nie.

      Inteendeel.

      Ek glo nederige mense het ’n gesonde selfbeeld en is bewus van hulle potensiaal en talente en ontgin dit deur harde werk. Maar nederige mense is baie bewus daarvan dat alles genadegawes van God is, wat binne ’n oogwink weggeneem kan word. Daarom kyk werklik nederige mense nooit af na ander wat “minder” voorregte ontvang het nie. Hulle kyk op in nederige afhanklikheid.

      Selfaangedrewe presteerders se hooffokus is die eie ek. Hulle is so beïndruk met hulleself – hulle pogings, harde werk, dryfkrag, geld en voorspoedige lewe. Dit kan lei tot selfvoldaanheid en meerderwaardigheid. Sulke presteerders “vergeet” maklik om vir die Here dankie te sê vir sy hand van guns.

      Hoe meer seën ek in my lewe ontvang, hoe minder selfvoldaan raak ek. Ek is baie bewus daarvan dat ek nie “beter” is as ’n verslaafde, ’n alkoholis, ’n minder gegoede mens of iemand van ’n ander kultuur of seksuele oriëntering nie. Ek is ook nie “beter” as iemand met ’n laer IK of minder kennis nie.

      Al my voorregte het ek deur God se genade ontvang.

      Bruisgebed vir nederigheid: Here, help my om nooit selfvoldaan te wees nie, maar altyd nederig en afhanklik van U te bly – tot eer van u Naam.

      Vitamien W

      Wysheid

      Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig.

      – Spreuke 2:6

      Wat dink jy is wysheid? En wie dink jy het wysheid? In die diereryk kry ons baie voorbeelde van wysheid. Eekhorings is wys – hulle versamel kos in die somer en berg dit sodat hulle genoeg het in die dorre wintermaande. Die mier is wys – hy werk getrou sonder dat ’n baas hom opcheck of aanspoor.

      Wysheid is nie jou verstandelike vermoëns nie. ’n Slim mens is nie noodwendig wys nie. En wyse mense het nie noodwendig ’n buitengewoon hoë IK nie, maar eerder ’n hoë EI (emosionele intelligensie).

      Wysheid is goddelike verstandigheid. Dit is die vermoë om ’n verskeidenheid uiteenlopende situasies en persoonlikhede op te som en op so ’n manier op elkeen te reageer dat die uiteindelike uitkoms goed is.

      Wyse mense weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Wyse mense kan luister, ook na teregwysings. Hulle is leergierig en hou by hulle beloftes. Hulle kan aanspreeklik gehou word vir die foute wat hulle maak.

      Wyse mense kan konflik goed hanteer. Hulle hanteer ’n probleem sonder om iemand se karakter aan te val. Hulle besef wanneer konfrontasie dreig en kan vinnig onderskei of ’n gesprek sinvol sal wees en of hulle eerder moet terugstaan van ’n sinlose ego battle met ’n onwyse mens.

      Wyse mense het geleer om nie net op hulle eie beperkte insigte staat te maak nie, maar om die Here se raad te volg in al hulle battles en besluitnemings.

      Bruisgebed vir wysheid: Maak my leergierig, Vader. Ek wil wysheid aanleer deur Spreuke te bestudeer en uit te leef én Jesus se lering te volg. Tot eer van u Naam.

      Vitamien K

      Klere

      Daarom moet julle die volgende klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.

      – Kolossense 3:12

      Watter vrou hou nie van mooi klere nie! Die meeste van ons hou van shop as ons begroting dit toelaat en om volgens die nuutste stylvolle modes aan te trek. Ek self gee baie aandag aan my klere. Toe my seun getrou het, het ek na baie, baie rokke gekyk voordat ek met my dress code tevrede was.

      Maar, soos die vere nie die voël maak nie, maak ons klere ook nie die vrou nie. Die oorheersende fokus op ons uiterlike lei dikwels daartoe dat ons ander mense op hulle (stylvolle en duur) baadjie takseer. Dat ons soms selfs ’n bietjie neus in die lug is wanneer hulle uiterlike nie aan ons voorgeskrewe voorkeure, smake en brands voldoen nie.

      Namate die jare aanstap, besef ek al meer die waarde van mooi innerlike klere wanneer iemand in my geselskap is. Ons innerlike klere het die manier om ons uiterlike klere te oorskadu en die grootste blywende indruk by ander agter te laat. Dit kan óf ’n bruistablet vir die mense in jou geselskap wees óf ’n downer.

      Deesdae is vroue wat hulleself aantrek met ’n bruisende persoonlikheid waaruit liefdevolle deernis, nederigheid en vriendelikheid straal vir my die heel mooiste. As ek moet kies met wie ek my ruimte moet deel – ’n vriendelike vrou in ’n sweetpak of ’n ysprinses in ’n ontwerperspakkie – kies ek beslis eersgenoemde. ’n Warm en innemende mens klee die mense om haar met haar lieflike innerlike uitrusting.

      Bruisgebed vir mooi klere: Help my, Vader, om heel eerste ’n hart aan te trek wat opregte liefde, deernis en vriendelikheid uitstraal. Tot eer van u Naam.

      Vitamien