Trompie Omnibus 7. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798178655
Скачать книгу

      “And what’s that?”

      “That thing you just said – that Me- … Me- …”

      “Merlin?”

      “Yes, Miss, ’n magieseun, a boy with a little stomach.”

      Die klas bars uit van die lag. Die juffrou ook. Trompie weet nie waaroor almal so uitbundig skater nie, maar hy lag maar saam. Hy probeer nou die indruk skep dat hy dit met opset gesê het, net om hulle te laat lag.

      “Oh, Trompie, you’re priceless,” sê die onderwyseres en vee eintlik die trane uit haar oë soos sy lag. “Merlin was a magician.”

      O, is dít wat Dawie gefluister het, dink Trompie.

      Hy probeer nou verduidelik dit is wat hy gesê het – “magician”. Dis die woord daai. Dit beteken mos ’n towenaar. Selfs hy weet dit.

      Trompie se verduideliking help hom egter nie. Juffrou Carelse het heerlik gelag, maar sy voel hy moet gestraf word. Hy moet tweede pouse in die klas agterbly en die bladsye uit die boek King Arthur lees. Sy sal hom dan weer daaroor uitvra.

      Trompie is baie ongelukkig, maar wat kan hy doen? Hy loop vandag sowaar al twee pouses mis. Met eerste pouse moes hy sinne uit sy duim sit en suig en met tweede pouse moet hy ’n Engelse boek oor konings, wit perde en towenaars lees. En dit terwyl hy saam met die ander buite in die vars lug kon gewees het.

      Is daar dan geen regverdigheid in hierdie wêreld nie? Is pouses dan nie daar sodat uitgeputte kinders wat senuweewrakke is van al die harde skoolwerk ’n bietjie kan speel en ontspan nie? Hy sug swaar. Ja-nee, die wêreld is maar moeilik.

      Tweede pouse lees Trompie die bladsye uit King Arthur en vind die verhaal nogal interessant. Daar is nog ’n paar minute van die pouse oor toe hy klaar is. Hy stap haastig buitentoe. Hy wil nie ’n senuweewrak word van al die skoolwerk nie.

      Op die skoolgrond moet hy vir Blikkies, Dawie en Rooie vertel wat alles in die kleedkamer gebeur het. Blikkies en Dawie is net so teleurgesteld soos Rooie was. Hulle dink ook Trompie moes die aartsvyand bloedneus geslaan het.

      Trompie sê nie veel nie. Gerrit het hom, soos Sarel sou sê, stof tot nadenke gegee. Hy het nie geweet so baie ouens beskou hom as ’n selfsugtige rugbyspeler nie. Hy kyk peinsend na sy drie vriende. Hy wil graag weet hoe hulle oor die saak voel.

      “Dink julle ek is selfsugtig?” vra hy sommer op die man af.

      “Hè?” Dit is natuurlik Rooie.

      “Dink julle ek is selfsugtig op die rugbyveld? Wil ek te veel op my eie doen?”

      Rooie, Blikkies en Dawie kyk na mekaar. Trompie wag vir ’n antwoord. Sy vriende aarsel. Trompie kan sien hulle voel ongemaklik en dit is vir hom duidelik hulle dink ook hy speel selfsugtig.

      “Miskien so ’n bietjie, Trompie, jy weet,” sê Rooie uiteindelik, “maar dis darem nie so erg dat die ouens sommer kan sê jy’s nie ’n goeie kaptein nie.”

      Dawie en Blikkies stem saam met Rooie. Dit is glad nie so erg nie.

      “Onthou, Gerrit hou nie baie van jou nie en jy ook nie van hom nie,” sê Blikkies. “Dis nie net omdat jy kamtig selfsugtig is dat hy die petisie opgestel het nie. Al was jy ook hóé ’n goeie kaptein sou hy nog steeds probeer het om iemand anders in jou plek te kry.”

      “Van wanneer af is hy so bekommerd oor die A-span?” wil Rooie nou weet. “Hy’s dan self te vrot om ’n plek daarin te kry!”

      Trompie sê niks, maar hy voel nie lekker oor die hele affêre nie. Volgens Sarel is daar baie seuns wat die petisie geteken het sonder dat hulle juis in die lekkers belanggestel het. Die lekkers was maar net ’n bysaak. Wat gaan Sarel vanmiddag voorstel? Hy wat Trompie is, wil so graag vanjaar weer die kaptein wees.

      Net ná skool kom die seuns in Rooie se buitekamer bymekaar: Trompie en sy drie vriende, Sarel, Gerrit en twee van sy trawante. Die Boksombende groet Gerrit en sy vriende baie nors.

      Sarel is welsprekend. Dit is mos op sy voorstel dat hulle bymekaarkom om te kyk of hulle ’n oplossing kan vind. Hy is dus die voorsitter. Hy begin deur te verduidelik dat dit verkeerd van Gerrit was om ’n petisie op te stel. Sarel voel dit was nie sportief van hom nie.

      Trompie en sy manne knik hul koppe toe Sarel verder sê dit was dalk effens ongehoord van Gerrit om so links en regs lekkers uit te deel toe hy met die petisie begin het.

      “Hy’t dit aspris gedoen,” brom Rooie.

      “Hy sê dit was nie opsetlik nie,” sê Sarel saaklik. “Dit was bloot terloops dat hy lekkers gratis verskaf het. Ons moet sy bewering in goeder trou aanvaar.”

      Die seuns luister oopmond na Sarel.

      “Jissie, Sarel,” sê Dawie, “jy kan die taal darem maar gooi, hoor.”

      “Ek wens hy wil ordentlike Afrikaans praat,” brom Rooie, “sodat ’n ou kan weet wat hy sê.”

      Sarel verduidelik nou – en die Boksombende knik nie meer so heftig om te wys hulle stem saam nie – dat Trompie ook verkeerd opgetree het. Hy wou hom tot geweld wend en Gerrit slaan. Maar as ’n burger van ’n demokratiese land het Gerrit alle reg om ’n petisie op te stel as hy sterk oor ’n saak voel.

      “Dis wat ek ook sê,” beaam Gerrit. Hy en sy twee vriende knik nou op hul beurt kop om te wys hulle stem volkome met Sarel saam.

      “Die probleem is heel eenvoudig,” sê Sarel met ’n handgebaar. “Trompie is vasberade om die onder-16’s se kaptein te word en hy voel Gerrit se metodes om hom te dwarsboom is laakbaar. Gerrit se drastiese metodes om te verhoed dat Trompie kaptein word – ’n petisie en gratis lekkers – het heel waarskynlik die perke van goeie sportmanskap oorskry, maar Gerrit ontken dit. Hy beroep hom op sy reg as ’n burger van ’n demokratiese land. En moontlik het hy gelyk.”

      “Wat de dinges gorrel die ou alles?” vra Rooie vererg. Hy kan nie kop of stert uitmaak van wat Sarel sê nie. Trompie is ook nie seker of hy alles so lekker volg nie, maar hy wil dit nie vir die ander wys nie. Hy skud sy kop net peinsend, asof hy baie diep oor Sarel se uitlatings nadink.

      “Ons neem dus aan,” gaan Sarel voort, “Gerrit se sterk begeerte om te verhoed dat Trompie die A-span se kaptein word, spruit bloot voort uit sy gevoel van lojaliteit teenoor die span. Gerrit wil die beste vir sy skool hê. Hy wil hê die onder-16-span moet die beker wen.”

      “Hulle sál – as ek die kaptein is,” brom Trompie. Hy word moeg om na Sarel se woordevloed te luister. Die ou gorrel gans te veel.

      Rooie luister glad nie eens meer nie. Hy sit en wikkel nou sy tone en probeer om hulle te beweeg sonder dat die groottone ook roer. Hy kry dit nie reg nie, maar dit is pret om te probeer.

      Blikkies het aanvanklik na Sarel geluister, maar het nou ook afgeskakel. Hy trek ’n stukkie kougom lank en dun voor sy mond uit en ryg dit dan weer met sy tong in. Wat Sarel sê, is ver bokant sy vuurmaakplek. Hy probeer dit nie eens meer verstaan nie.

      Gerrit is intelligent en luister belangstellend na Sarel se hoogdrawende uiteensetting van die probleem. Gerrit se twee vriende is nie besonder slim nie, maar hulle probeer die indruk skep dat hulle Sarel volg. Hulle luister aandagtig, al verstaan hulle nie juis veel nie.

      Die slim Dawie geniet Sarel se uiteensetting. Hy verstaan alles en beny Sarel sy wonderlike woordeskat.

      “My voorstel,” sê Sarel peinsend, “is baie eenvoudig.”

      Trompie luister nou met hernieude aandag. Rooie hou op om met sy tone te speel en Blikkies ryg die stuk kougom wat voor sy mond uithang weer vinnig met sy tong in.

      “Praat nou net sodat ons jou kan verstaan,” sê Rooie.

      “Wat verstaan jy nie?” vra Sarel verbaas.

      “Toemaar,” brom Rooie, “praat net Afrikaans, oukei.”