Trompie staar sedig na sy ingeduikte skoenpunt en probeer lyk soos iemand met baie probleme. Hy sug sommer weer.
Hy loer kort-kort vlugtig om te sien watter indruk hierdie houding en sy gesug op Katrien maak. Dit lyk nie asof dit juis werk nie, maar uiteindelik vra sy darem die vraag waarvoor Trompie wag: “Watse probleme het jy?”
Trompie vertel haar alles: van hoe ’n goeie kaptein hy nog altyd was en hoe ’n klomp van die ouens hom nou met messe in die rug wil steek. Hy vertel haar van die petisie en die lekkers – Gerrit se gemene, onsportiewe daad – en hoe daar nou ’n verkiesingsveldtog gaan wees.
“Jy weet mos hoe ’n goeie kaptein ek verlede jaar was, Katrientjie, en nou wil hulle wraggies ’n ou soos Ben ou Pen kies. Kan jy dit glo?”
Katrien sit en dink hieroor na, maar sy weet so min van rugby af dat sy werklik nie weet of sy dit kan glo, of nie. Sy wonder weer wat Trompie van haar wil hê.
Hy vertel haar nou van die propagandaveldtog wat hy en sy agente van stapel gaan stuur.
“Die hele Kwaggaberg moet vol plakkate geplak word,” sê hy opgewonde.
“O,” sê Katrien net. Nou verstaan sy. Sy is natuurlik die een wat die plakkate moet maak. Almal praat mos altyd van haar netjiese drukskrif. Sy sê niks nie.
Trompie vertel haar van sy en sy agente se ander planne. Hy gaan die dag voor die verkiesing ’n groot vergadering hou en al die skool se onder-16-ouens toespreek. Hy en sy agente wil ook huisbesoek doen en by almal wat rugby speel en daarom stemgeregtig is, gaan kuier.
“As ’n ou sê hy gaan vir my stem, dan wens ons hom geluk met sy goeie smaak,” sê Trompie. “En as hy nie vir my wil stem nie, dan gaan ons hom – op ’n mooi manier natuurlik – probeer ompraat om van Ben ou Pen te vergeet en liewer vir my te stem.”
Katrien kan nie help om te glimlag nie. Trompie kan so geesdriftig raak oor dinge.
“Ons sal daardie Gerrit wys. Ons gaan hom op sy plek sit!” Trompie slaan met sy regtervuis in sy linkerhand om sy woorde te beklemtoon.
“Wie is ‘ons’?” vra Katrien.
“Ek en my agente en al my vriende natuurlik.”
Trompie voel hy het haar nou genoeg van sy planne vertel. Sy hoef mos nie alles te weet nie.
“Jy is natuurlik ook een van my vriende, Katrientjie,” sê hy en glimlag so aangeplak dat dit lyk of hy grynslag.
“Is ek?”
“Natuurlik, ja.” Trompie kyk haar aan met ’n houding wat sê besef-jy-wat-’n-groot-eer-is-dit?
Toe Katrien niks hierop sê nie, gaan Trompie voort: “Ek is seker jy sal ook graag met die verkiesingsveldtog wil help, siende dat jy so ’n goeie vriendin van my is, nè?”
“Hè?”
“Ek sê, jy wil natuurlik ook help, nè?”
“Ek het nie so gesê nie.”
“Nee, maar ek het.”
“O.”
“Ja.”
Trompie kyk vies na haar. Probeer die meisiekind miskien snaaks wees?
Katrien besluit in die stilligheid sy en ’n paar vriendinne moet seker maar die plakkate vir Trompie-hulle maak. Seuns is slordig en hulle sal dit net opmors.
“Sal jy die plakkate vir ons kan maak, Katrientjie?” vra Trompie nou reguit. Hy kyk met ’n smekende uitdrukking op sy sproetgesig na haar.
“Ek sal seker maar moet,” antwoord sy gedwee.
“Heng, dankie, Katrientjie!” Trompie gryp haar hand en skud dit om haar geluk te wens met haar verstandige besluit.
“Ek’s nou haastig,” sê hy dan saaklik. “Ek sê jou môre watse sêgoed jy op die plakkate moet sit. Ek en my agente hou vanaand vergadering.”
Dan is Trompie vinnig daar weg. Hy het nie tyd om hier te mors nie. Hy is ’n besige man. Daar wag baie werk.
Hy kom by die dahlia wat oor die tuinpaadjie hang en voel weer ’n byna onweerstaanbare drang om die ding te skop, maar hy hou hom in. Hy weet mos Katrien hou hom dop. As hy die blom skop, sal sy sommer weier om die plakkate te maak.
Trompie se ouers is nie vanaand tuis nie en Rooie, Blikkies en Dawie kom na hom toe. Hulle kan net ’n halfuur lank bly.
“Ons moet vinnig praat, ouens,” sê Trompie. Hy wou die vergadering eers ’n amptelike een van die Boksombende maak, maar dit neem te veel tyd. Dan moet hy die ouens eers tel om te kyk of al vier die lede teenwoordig is en dan moet daar oor feitlik elke ou dingetjie gestem word. Nee, hulle moet opskud.
Dit neem nie te lank om hul program van aksie op te stel nie. Trompie skryf die voorstelle puntgewys neer:
1.Plakkate – oral!!
2.Vertel vir almal Trompie is ’n goeie rugbyspeler – en ’n goeie mens! Ouens wat vir Trompie gaan stem, moet help en met die goeie werk aangaan en op hul beurt vir ander vertel hoe ’n goeie rugbyspeler en mens Trompie is.
3.Huisbesoek – Trompie se naam moet die volgende paar dae op almal se lippe wees.
4.As Gerrit weer begin met sy storie oor Trompie wat selfsugtig rugby speel, of lekkers uitdeel om ouens mee om te koop, moet die Trompie-kamp vir almal vertel hoe laag die opposisie gedaal het en hoe gemeen hulle is.
5.Trompie moet ’n vergadering van al die onder-16’s toespreek.
“Ek moet môre vir Katrien sê wat om op die plakkate te skryf,” sê Trompie. “Ons beter vinnig dink.”
Hulle sit in Trompie se kamer en elkeen het ’n potlood en ’n vel papier.
Dawie stel voor hulle moet plakkate hê vir die straathoeke, die kafee en die poskantoor en op hierdie plakkate hoef daar net te staan:
STEM VIR TROMPIE!
Maar Dawie voel daar moet ander plakkate ook wees, veral vir die kennisgewingborde by die skool, wat iets meer op het en nie so vervelig is nie. Trompie, Blikkies en Rooie stem saam met hom. Die vier vriende sit nou en dink.
“Dis jammer jy’s nie ’n vroumens nie,” sê Dawie en kyk peinsend na Trompie.
“Hoekom?” vra Trompie dadelik opgeruk.
“Want dan kon ons ’n plakkaat gehad het wat sê …” Dawie skryf dit met ’n groot glimlag neer en wys dit dan vir Trompie:
WIE’S DIE QUEEN TROMPIE TOERIEN!
“Moenie simpel wees nie,” brom Trompie. “Ek’s g’n niemand se ‘queen’ nie!”
Rooie is besig om vinnig te skryf. Toe hy klaar is, kyk hy op en sê: “Hoe lyk dié vir julle?” Hy glimlag breed en lees:
TROMPIE VIR KAPTEIN IS SO REG SOOS ’N PIL VIR PYN!
Trompie, Dawie en Blikkies dink dit is nogal glad nie sleg nie. Dit kan op ’n kennisgewingbord by die skool geplak word.
“Ek het een!” roep Trompie uit. Hy skryf dit opgewonde neer en lees dit dan trots:
HOMPIE KEDOMPIE – STEM VIR TROMPIE!
Die Grootkaptein se vriende wens hom geluk met sy digterstalent. Hierdie sêding gaan by baie plekke opgeplak word. Dawie voorspel dit gaan oor die volgende paar dae ’n soort slagspreuk in Kwaggaberg word: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”
Dawie is eintlik die slim een, maar hy kan glad nie aan ’n gepaste slagspreuk dink nie. Uiteindelik kom hy darem met ’n poging vorendag. Dit is nie eintlik ’n slagspreuk nie, maar dit kan by die skool opgeplak word as Gerrit weer met sy omkopery begin.