Trompie knik met sy kop om te wys hy verstaan. Hy kan homself skop. Die pouse wat hy wou gebruik om vriendelik te wees en vir almal te wys hoe ’n gawe ou hy is sodat hulle vir hom moet stem, is nou na die maan.
Die onderwyser beveel Trompie bars om te sit en hy maak so. Hy raap sy pen op. Hoe gouer hy met die sinne begin, hoe gouer sal hy klaarkry.
Die volgende woord waarmee hy ’n sin moet maak, is “gevolgtrekking”. Trompie kyk peinsend na hierdie tweede woord. Hy dink hy weet wat dit beteken.
Hy kyk op en sien net mooi hoe Gerrit vir ’n seun agter hom lekkers gee. Daai ou sal nou ook seker vir Ben ou Pen stem, dink Trompie. Hy wonder of Gerrit besef wat hy besig is om te doen. As hy so aanhou moeilikheid soek, gaan hy Trompie dwing om hom bloedneus te slaan sodat hy met hierdie mislike speletjie moet ophou.
Trompie dink hieraan toe hy die sin wat hy met “gevolgtrekking” moet maak, neerskryf. Hy skryf:
Party ouens dink hulle is snaaks en soek moeilikheid, en die gevolgtrekking is dat hulle dan bloedneus geslaan word.
Trompie lees die sin weer en glimlag. Hy is in sy skik. Hy dink dit is ’n wonderlike sin. Hy besef glad nie dit is hopeloos verkeerd nie.
Trompie skryf vinnig – en gedurende die pouse skryf hy nog vinniger. Dit is mos nou sy eie tyd wat hy so sit en mors. Hy wil so gou as moontlik klaarkry. Hy wil vriendelik buite gaan rondstap sodat almal kan sien hoe ’n gawe ou hy is en dan vir hom stem.
Die woorde waarmee hy sinne moet maak, is egter moeilik en dit hou hom feitlik die hele pouse besig. Toe hy klaar is, maak hy vinnig spore buitentoe, maar die klok lui en die leerders moet weer in klas toe kom. Trompie loop vererg na die vierkant waar hulle rye vorm.
Hy gaan staan by Rooie, Blikkies en Dawie. Hulle lyk ook afgehaal.
“Wassit met julle? Julle het mos lekker pouse gehad.”
“Ek sê vir jou, Trompie,” sê Dawie en lyk omgekrap, “daar is groot moeilikheid in die land.”
Rooie en Blikkies knik om te wys hulle stem volkome saam met Dawie.
“Wat het nou weer gebeur?” wil Trompie weet.
Dawie is die een wat verduidelik. Hy praat vinnig. Hy vertel vir Trompie hoe Gerrit sommer oop en bloot by die fietsafdakke staan en lekkers uitdeel het en hoeveel ouens daar om hom saamgedrom het. Dit het gelyk of hulle almal die petisie onderteken. Hulle gaan nie vir Trompie stem nie, maar vir Ben ou Pen.
“Ons vriendelikheid was alles verniet,” brom Rooie.
Trompie is teleurgesteld. Hy het darem sowaar nie verwag die ouens sal vir iemand anders stem net omdat hulle verniet lekkers kry nie. Hy is nog meer teleurgesteld toe hy hoor Sarel Marais was een van die spul wat by die fietsafdakke staan en lekkers eet het.
“Het julle met julle eie oë gesien Sarel teken die lys?” vra Trompie.
Nee, erken hulle, hulle het dit nie met hul eie oë gesien nie, maar hulle is seker hy het geteken, want hoekom het hy dan saam met die klomp daar gestaan en eet?
“Die wêreld is darem maar vals,” sê Trompie met ’n swaar sug.
Rooie, Blikkies en Dawie stem saam.
“Dis hoekom ons hierdie vriendelikheidstorie moet los,” mompel Rooie. “Ons moet, soos Dawie sê, die … die …” Rooie kan die woord wat Dawie elke keer gebruik het al weer nie onthou nie en kyk nou weer na hom vir hulp.
“Die aartsvyand,” help Dawie.
“Ditsem, die aartsvyand,” sê Rooie. “Ons moet die aartsvyand woes beveg!”
Trompie kyk nadenkend na die aartsvyand wat ’n entjie voor hom in die ry staan. Gerrit glimlag breed. Hy is duidelik tevrede met homself. Hy het pouse baie lekkers weggegee en baie ouens oorreed om te teken dat hulle nie vir Trompie sal stem nie, maar vir Ben ou Pen.
Stadig maar seker kom Trompie ook tot die gevolgtrekking dat hy drasties sal moet optree en moet vergeet van vriendelik wees met almal as hy kaptein van die rugbyspan wil wees.
“Ons sal sien,” sê hy vir sy vriende net voor hulle in gelid klaskamer toe marsjeer.
Die volgende periode het hulle Engels en die onderwyseres laat die leerders ’n paar bladsye in hul voorgeskrewe boek lees. Sy sal die laaste tien minute gebruik om vrae te vra oor die gedeelte wat hulle gelees het.
Dit is ’n ideale kans vir Trompie om, soos hy nou vir Rooie fluister, “groot goed” te dink. Die Engelse boek lê oop voor hom, maar hy lees nie. Hy sit en dink aan die petisie en aan hoe ’n mens – soos Dawie sou gesê het – die aartsvyand se slinksheid kan beveg.
Trompie besluit uiteindelik daar is net een ding wat hy kan doen. Hy moet Gerrit onder vier oë kry en hom so erg die skrik op die lyf jaag dat die vent die petisie stopsit. Maar Gerrit is deesdae baie astrant. Trompie twyfel of dit so maklik sal wees om hom met dreigemente bang te maak.
Die Boksombende se Grootkaptein kyk nou peinsend na Gerrit waar hy in sy bank sit en lees. Die ou het die afgelope jaar geweldig gegroei. Hy is nie meer so kort en vet soos op laerskool nie. Sê nou maar net – en Trompie raak yskoud by hierdie gedagte – hy gee Gerrit sy kesj en Gerrit gee sy kesj terug en hulle baklei en Gerrit wen! Nee, Trompie skud onwillekeurig sy kop, hy wil nie eens aan so ’n nare ding dink nie.
Maar hy moet nogtans met Gerrit praat om te sien wat hom te doen staan. Trompie hoop die ou sal op sy teken reageer sodat hulle kan gesels.
Hoërskool Kwaggaberg se leerders het baie tekens waarvan die onderwysers onbewus is. As ’n seun byvoorbeeld kamer verlaat en wil hê ’n ander ou moet hom volg, kyk hy na die ou, vat aan sy oor en skud dit so effens. As die ander ou dan ook aan sy oor vat en dit effens skud, beteken dit: “Goed, gaan jy – ek kom.”
Maar sal Gerrit kom? Trompie kyk aandagtig na hom. Dit lyk of Gerrit verdiep is in die voorgeskrewe boek. Hy hou mos van Engels en kry altyd die hoogste punte daarin.
’n Paar minute lank probeer Trompie Gerrit met sy gedagtes dwing om om te kyk. Dit werk egter nie. Gerrit hou aan met lees en Trompie hou aan om hom net strak aan te staar.
Dan kug Trompie en toe dit nie werk nie, blaas hy sy asem deur sy saamgeperste lippe en maak ’n plofgeluid. ’n Hele paar kinders kyk op en na Trompie toe – Gerrit ook. Gelukkig was die geluid nie so hard dat die onderwyseres dit gehoor het nie.
Trompie trek ’n gesig en beduie Gerrit moenie verder lees nie. Die seun kyk vraend na Trompie. Dan vat Trompie met sy hand aan sy oor en skud dit so ’n paar keer.
Gerrit aarsel. Hy weet Trompie gaan die kamer verlaat en wil hê hy wat Gerrit is, moet hom volg sodat hulle kan gesels. Hy weet ook waaroor Trompie wil praat – die petisie.
Al is Gerrit effens skrikkerig besef hy Trompie sal hom nie sommer hier by die skool bydam en slaan nie. Nee, dit sal veilig wees. Hy gaan hoor wat Trompie te sê het. Hy wat Gerrit is, het mos die hef in die hand. Hy weet hoeveel seuns nie vir Trompie gaan stem nie – alles danksy sy omkopery met die lekkers.
Gerrit lig sy hand, vat aan sy oor en pluk so effens daaraan. Trompie moet maar gaan – hy sal kom.
Juffrou Carelse is die Engels-onderwyseres. Die kinders noem haar Ou Kareltjie. Sy is altyd daarop gesteld dat daar in haar klasse net Engels gepraat word.
Trompie staan op, maak keel skoon en sê hard: “Please, Miss.”
“Yes, Trompie?” Die juffrou kyk op van die stapel boeke wat sy nasien.
“Can I leave the room, Miss?” vra Trompie. “Very thirsty, you know, Miss.”
Trompie glimlag trots. Ja-nee, hy is ’n ou wat Engels soos ’n regte Engelsman kan