“Julle sê net so omdat hy nie vir julle lekkers gegee het nie,” sê Blikkies vererg.
“Ons sou dit nie gevat het nie,” sê Dawie vroom, maar sy ondeunde ogies vonkel. Hy weet mos hulle sou.
“Gerrit het jou nou in sy kloue,” sê Rooie sedig.
“Dis reg,” stem Trompie met Rooie saam. “Hy het jou mos ’n guns gedoen deur vir jou kougom te gee – en nou moet jy vir hom ook ’n guns doen.”
“Watse guns?”
“Jy moet die petisie teken.”
“Ga!” sê Blikkies vies. “Laat hy daai ding net na my toe bring, dan sal hy ’n ding sien wat hy nie graag wil sien nie!”
Trompie, Rooie en Dawie weet dit is waar. Blikkies sal nooit vir iemand anders as Trompie stem nie. Hulle weet ook as Gerrit vir hulle lekkers aangebied het, sou hulle dit gevat het sonder om te voel hulle skuld hom nou ’n guns. Rooie gaan selfs sover om vir Blikkies te sê as Gerrit weer vir hom lekkers gee om hom sag te maak sodat hy die petisie moet teken, moet hy die goed onder hulle vier verdeel!
“Maar alle grappies op ’n stokkie,” sê Dawie, “wat gaan ons doen? As ons nie vinnig inspring nie, is Ben ou Pen sowaar vanjaar kaptein.”
“Ek het nou net aan iets gedink,” sê Trompie, maar hy trek ’n vies gesig asof hy nie veel van die plan hou nie.
“Wat is dit?” wil Dawie dadelik weet.
“Ons moet vir Gerrit met sy eie plan vang,” sê Trompie.
Sy drie vriende kyk hom vraend aan. Hulle verstaan nie.
“Ons moet vir die ouens vir wie hy lekkers gee, ook lekkers gee,” verduidelik Trompie, “maar nog meer as wat hy vir hulle gegee het.”
Die drie dink nou hieroor na. Dit klink nogal na ’n goeie plan. Die ouens sal dan mos nie vir Ben stem nie, maar vir Trompie. Die groot probleem is egter – en hulle sien dit sommer dadelik in – dat so ’n storie baie geld gaan kos. En geld is mos maar ’n skaars ding vir die Boksombende.
“Ons kan nooit kompeteer teen ’n ou wie se pa ’n lekkergoedwinkel het nie,” sê Dawie.
“En daar is te veel ouens wat ons moet probeer terugkoop,” sê Rooie. “Ek het daai lys met my eie oë gesien – daar is baie name op.”
Trompie is mismoedig. Vanjaar is so ’n groot rugbyjaar en dit lyk sowaar of hy nie eens kaptein van sy span gaan wees nie.
“Kom ons slaan die ou aartsvyand bloedneus,” sê die wraaksugtige Dawie skielik. “Kom ons maak hom só bang dat hy belowe om vir al die ouens wat die lys geteken het te sê hulle moenie meer vir Ben stem nie, maar vir Trompie.”
Die ander drie hou nogal van hierdie plan. Hulle sal dit geniet om Gerrit bloedneus te slaan.
“Maar dit sal nie rêrig werk nie,” sê Trompie met ’n sug. “Almal sal Gerrit jammer kry en selfs die ouens wat hy nie omgekoop het nie sal dan teen my draai. Hulle sal sê ek is ’n boelie wat ouens dwing om vir my te stem – en wie wil nou so ’n kaptein hê?”
“En Gerrit is ’n klikbek,” herinner Rooie hulle. “Hy sal vir die onnies gaan sê, en dan word ons gelooi.”
Nee, al wil hulle Gerrit ook hoe graag bloedneus slaan, besef hulle dit sal dom wees.
“Daar is net een ding wat my kan help,” sê Trompie ná ’n oomblik.
“En wat’s dit?” vra Blikkies en skuif nader aan Trompie. Rooie en Dawie skuif ook nader om te kan hoor wat hierdie een ding is.
“Ek glo,” sê Trompie ernstig, “ons skool se ouens – die onder-16’s – is nie almal so sleg dat hulle met lekkers omgekoop kan word nie.”
“Daar is baie name op daai lys, Trompie,” waarsku Rooie weer.
“Ja, maar onthou, daar is baie ouens wat stem. Ou Bles het mos afgekondig al die ondersestienspelers gaan vir die A-span se kaptein stem, want die ou gaan kaptein van al drie die spanne wees – van die A-, die B- en die C-span. So dis drie spanne se ouens wat gaan stem, en dan ook nog die ouens wat nie eens in die C-span kan plek kry nie. Daar is by die honderd onder-16’s – en elkeen van hulle kan stem.”
Trompie se drie vriende dink hieroor na.
“Hoeveel name dink jy is op daai lys, Rooie?” vra Dawie. “Vyftig, sestig of sewentig?”
Rooie sit met ’n groot frons. Hy dink ernstig oor hierdie belangrike vraag. Uiteindelik skud hy sy kop. Nee, hy kan nie sê of dit vyftig, sestig of sewentig is nie. Hy kan net sê dit is baie name, dis nou maar wors.
“Jammer jy’t die name nie getel nie,” sê Blikkies droogweg en versit sy kougom behendig van die een kies na die ander.
“So wat is jou plan, Trompie?” vra Dawie uiteindelik. “Moet ons vir eers niks doen nie?”
“Nee, nie niks nie,” sê Trompie. “Luister, dan sê ek julle.”
Rooie, Blikkies en Dawie sit nou aandagtig en luister. Hulle wil weet wat hulle te doen staan.
2
Trompie kry teenkanting
Trompie praat ernstig. Hy sê weer vir sy vriende hy is seker die meeste van die ouens kan nie sommer met lekkergoed omgekoop word nie. En sover hy weet, is hy gewild in die skool en almal behalwe miskien Gerrit Moerdyk weet mos hy was verlede jaar ’n goeie kaptein.
Trompie erken hy het dalk vyande, maar wie in die lewe het nie? Dit sal in elk geval maar net ’n paar wees. Die Boksombende het in die verlede party ouens geïgnoreer of min notisie van hulle geneem en daardie ouens sal miskien met lekkers omgekoop kan word. Maar volgens Trompie is dit net hulle en sy paar vyande wat die petisie sal teken.
“Al die koshuisouens sal natuurlik ook vir Ben ou Pen stem,” sê Dawie.
“Ja, maar selfs van hulle is daar baie wat vir my sal stem,” hou Trompie vol. “Al wat ons moet doen, is om die volgende paar dae baie vriendelik te wees met al die onder-16’s van wie ons nooit eintlik notisie neem nie. Ons moet so gaaf wees dat hulle sal sê: ‘Heng, Trompie en sy Boksombende is darem agtermekaar ouens!’ Dis so maklik soos dit.”
“Dink jy rêrig hulle sal dan vir jou stem?” vra Rooie twyfelagtig.
“Ja,” antwoord Trompie, “en as ons baie vriendelik is en baie moeite met hulle doen, sal die ouens wat al klaar die lys geteken het, spyt wees dat hulle dit gedoen het. Hulle sal ons vriendskap bo ’n paar lekkers verkies en vir Gerrit sê hulle speel nie meer saam nie. En die ander ouens wat Gerrit nog gaan vra om die petisie te teken, sal natuurlik almal weier.”
Trompie is ’n optimis. Hy glo vas sy eenvoudige plan sal slaag. Rooie, Blikkies en Dawie is nie sulke optimiste nie. Hulle luister fronsend na hul Grootkaptein.
Blikkies voel as hulle ouens in die verlede sleg behandel het en nou skielik oorvriendelik met hulle is, sal die ouens agterdogtig word. Hulle sal mos sommer sien die Boksombende is net agter hul stemme aan.
Dawie en Rooie stem saam met Blikkies.
Rooie dink ook dit is nou te laat om kamtig vriendelik te wees met spelers van die C-span en ouens wat nog nooit ’n span gehaal het nie.
“Dis te laat, ouens,” sê hy dramaties. “Ek sê vir julle, daar is baie name op daai lys. Dis nou maar wors. Ek het dit met my eie oë gesien.” Rooie knip-knip sy oë om te wys hy weet waarvan hy praat.
Dawie sê nou weer hulle moet die aartsvyand se slinksheid met drastiese optrede beveg. Hulle moet hom