Trompie Omnibus 7. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798178655
Скачать книгу
om te aarsel. “Baie het dit uit eie vrye wil geteken omdat hulle ook soos ek voel – jy’s ’n goeie rugbyspeler, maar nie ’n goeie kaptein nie.”

      Trompie is nou heeltemal uit die veld geslaan. Kan dit regtig so wees? Is dít wat baie ouens van hom dink – dat hy ’n goeie rugbyspeler is, maar nie ’n goeie kaptein nie? Hy onthou nou weer hoe baie hy al in die verlede gekritiseer is omdat hy kamtig te selfsugtig gespeel het. Hy het hom nooit aan die praatjies gesteur nie, maar dit lyk sowaar of dit baie ernstiger is as wat hy gedink het.

      Gerrit lyk nou glad nie meer soos ’n aartsvyand nie. Hy lyk maar net soos ’n ou wat skrikkerig is dat iemand hom bloedneus gaan slaan.

      “Jy weet, Trompie,” sê Sarel wat die toneeltjie staan en dophou het, “ek dink daar steek baie waarheid in wat Gerrit sê.”

      “O, so jy’s ook teen my?” sê Trompie smalend vir Sarel. “Ek dog jy’s my vriend.”

      “Ek is, Trompie, en ek is glad nie teen jou nie.”

      “Het jy die petisie geteken?”

      “Nee, ek het nie. Gerrit het vir my lekkers gegee, maar ek het my naam nie op die lys gesit nie.”

      “Hoekom het jy nie – as jy dan ook dink ek is ’n vrot kaptein?”

      “Ek dink nie jy is ’n vrot kaptein nie. Ek dink maar net – soos baie ander ouens ook – jy was verlede jaar te selfsugtig. Ek is seker jy sal dié seisoen minder so wees, veral noudat die petisie dit pertinent onder jou aandag gebring het. En ek glo jy sal ’n beter kaptein as Ben ou Pen wees, al is jy ook selfsugtig wanneer jy in besit van die bal is. Dit is hoekom ek die petisie nie geteken het nie.”

      Sarel Marais se pa was jare lank ’n ambassadeur in Amerika hy en sy vrou het daar vir hul seun Afrikaans geleer. Sarel is baie intelligent en hy praat soms sulke hoogdrawende taal dat Kwaggaberg se kinders hom nie mooi verstaan nie. Maar al hy praat ook soos iemand wat spraaklesse neem, hou Trompie en sy vriende van hom. Hy het ook mos reeds bewys hy is ’n uitstekende atleet.

      Trompie weet nie wat om te dink nie. Hy kan die aartsvyand wat glad nie eens soos ’n aartsvyand lyk nie, mos nie sommer sy kesj gee en dan bydam nie. Maar aan die ander kant het Gerrit baie dinge van hom gesê.

      “Ek stem nie saam met hierdie petisie wat Gerrit teen jou opgestel het nie,” gaan Sarel voort, “maar een ding staan soos ’n paal bo water – daar is ouens wat dit nie net teken omdat Gerrit vir hulle lekkers uitdeel nie. Hulle dink eerlikwaar die span sal vanjaar beter vaar as jy nie die kaptein is nie.”

      Trompie is heeltemal dronkgeslaan. Sarel is mos ’n slim ou. Trompie kyk hom met ’n diep frons aan en vra dan: “Wat moet ek doen?”

      “Ek sal jou sê wat jy moet doen, Trompie – en vir jou ook, Gerrit – want hierdie onsinnige en onsportiewe petisie moet nou end kry.”

      “Laat ons hoor,” sê Gerrit en klink glad nie so gretig soos Trompie nie. Daar is reeds baie handtekeninge op die lys. Gerrit weet hy het die hef in die hand.

      3

      Die vredemaker

      Sarel wil net begin verduidelik wat hulle te doen staan toe hulle iemand in die gang wat na die kleedkamers toe lei, hoor aangehardloop kom. Die deur word hard oopgestamp. Dit is Rooie.

      Hy kyk verbaas na die drie. Hulle kyk net so verbaas na hom. Dan kyk Rooie rond en lyk effens teleurgesteld.

      “Ek dog hier’s ’n bloedbad in die kleedkamer,” brom hy. Hy was seker Trompie is besig om die aartsvyand goed op sy plek te sit – en Trompie het dit sowaar nie gedoen nie. Gerrit staan hier blakend gesond voor hom.

      “Ou Kareltjie het my gestuur,” sê Rooie, “om te kom kyk hoekom julle so lank wegbly. Sy’s die dinges in.”

      “Ons sal ons samespreking om ’n bevredigende oplossing te vind tot later moet uitstel,” sê Sarel op sy hoogdrawende manier.

      Rooie kyk verbaas na hom. Hy weet glad nie waarvan Sarel praat nie en al het hy ook geweet, sou hy hom nog steeds nie verstaan het nie. Rooie wil vra of Trompie al vir Gerrit gefoeter het, maar besef dit sal ’n onsinnige vraag wees. Dit is mos duidelik dat Trompie nie vir Gerrit bygekom het nie.

      “Het jy hom ten minste goed sleggesê?” vra Rooie darem.

      Trompie skud sy kop. Die vier seuns stap terug klas toe en Trompie vertel kortliks vir Rooie wat gebeur het.

      Rooie is vies. Hy voel Trompie behoort die aartsvyand nog steeds op sy plek te sit. Dan sal die nonsens met die petisie mos end kry.

      “Waar kan ons vanmiddag vergader om die aangeleentheid te bespreek?” vra Sarel toe hulle naby die klaskamer kom.

      Rooie wil graag by wees, en hy is seker Dawie en Blikkies ook. Hy stel voor dat hulle ná skool in sy buitekamer bymekaarkom. Gerrit, Trompie en Sarel is tevrede. Gerrit sê hy sal ook twee van sy vriende wat hom met die petisie gehelp het, saambring.

      Die vier stap by die klas in.

      “And where have you lot been?” Die onderwyseres kyk Trompie, Gerrit en Sarel kwaai aan.

      “We hef talked a bit outside, Miss,” antwoord Trompie.

      “I take it you have all read the pages I told you to read,” sê sy effens sarkasties, “and that you will be able to answer some questions on them.”

      “Yes, Miss,” sê Gerrit met ’n goeie Engelse uitspraak.

      “Yes, Miss,” sê Trompie bot. Hy het die goed nog glad nie gelees nie. Hy sal nie een enkele vraag kan beantwoord nie.

      Hulle sit skaars of die onderwyseres begin met die vrae. Gerrit het aandagtig gelees toe Trompie sy aandag probeer trek het. Hy antwoord sy vraag sommer maklik in foutlose Engels.

      Sarel het darem ’n paar bladsye gelees en gelukkig is sy vraag op daardie bladsye gebaseer en kan hy dit antwoord.

      Dan kom Trompie aan die beurt. Hy staan met ’n sug op en kyk vinnig om na Dawie wat net agter hom sit. Dawie het die goed mos gelees en is slim. Hy moet help.

      Trompie leun effens agteroor. Dawie sit vorentoe en kruip agter Trompie weg. Hy is gereed om die antwoord te fluister.

      “What was the colour of Lancelot’s horse?” Trompie het nog nooit van Lancelot gehoor nie, laat staan nog dat die ou ’n perd gehad het. Hy leun verder agteroor.

      Dan hoor hy Dawie se stem duidelik: “Wit.”

      “White, Miss,” sê Trompie vinnig en glimlag breed.

      “That’s right, Trompie. Now tell me, who was Merlin?”

      Trompie is uit die veld geslaan. Merlin? Merlin? Dit klink vir hom soos ’n soort vis se naam, maar dit kan darem seker nie wees nie.

      Hy leun agteroor om te hoor wat Dawie sê. Sy hele sproetgesig is geplooi soos hy kamtig ernstig dink.

      Dawie fluister: “’n Towenaar,” en omdat dit lyk of Trompie nie mooi hoor of verstaan nie, voeg hy by: “A magician.”

      “Hè?” vra Trompie onderlangs.

      “A magician,” fluister Dawie effens harder.

      “Come on, Trompie, I’m waiting,” sê die juffrou ongeduldig.

      “’n Wassemiekollit … ’n …” Trompie leun nog verder agteroor. Hy kan nie lekker hoor wat Dawie sê nie.

      “A magician,” fluister Dawie weer.

      Trompie ken nie so iets nie. Hy vergeet skoon dat Dawie vir hom in Engels fluister. Hy besluit om die woord maar te sê soos hy dit gehoor het en soos dit vir hom geklink het en dan vir die beste te hoop.