“Watse ding?” vra Rooie.
“Dat ek nie ’n goeie kaptein is nie. Het jy dit met jou eie oë op die petisie gesien staan, Rooie?”
Rooie verseker Trompie hy het.
“Wel,” sê Trompie en tik-tik met sy regtervuis in sy linkerhand, “dis tyd dat daai suinige ou Gerrit ’n les geleer moet word. Hy kan nie sommer sulke nonsens oor my skryf nie.”
“Gerrit is nie meer so suinig nie, Trompie,” sê Blikkies luiweg.
“Nie?”
Blikkies byt sy kougom met sy voortande vas, trek dit met sy duim en wysvinger ver voor by sy mond uit en ryg dit weer met sy tong in. Dan sê hy weer: “Nee, Gerrit is nie meer so suinig nie. Hy het hierdie kougom vandag vir my gegee.”
Dis eienaardig, dink Trompie, dat Gerrit sommerso vanself vir Blikkies kougom gee. Gerrit se pa het die lekkergoedwinkel op die dorp en Gerrit het altyd lekkers, maar hy deel dit nooit met ander kinders nie. Hy is baie suinig.
“En hy het vir ’n hele klomp ander ouens ook lekkers gegee,” voeg Blikkies by. Hy probeer nou om die stukkie kougom so te kou dat hy sy tandmerke duidelik daarop kan sien.
“Heng,” sê Dawie en kyk vies na Blikkies, “ek het nie gedink jy sal lekkers by ’n ou soos Gerrit vat nie. Hy’s dan ons aartsvyand.”
Dawie is twee jaar jonger as sy drie vriende, maar hy is besonder intelligent en daarom is hy ook in dieselfde klas as hulle. Hy het die woord “aartsvyand” in ’n boek gelees. Hy hou daarvan en besluit om dit weer te gebruik.
“Ja-nee, dit is wat hy is,” sê Dawie en probeer om sy piepstem grof te maak, “ons aartsvyand.” Hy slaan nou ook met sy regtervuis in sy linkerhand soos Trompie altyd doen.
“Ek hoop nie jy het jou siel aan hom verkoop nie,” sê Rooie bars.
“Wat de drommel bedoel jy?” vra Blikkies en hou vir ’n oomblik op kou. Maar dan val hy weer met mening weg.
“Dis wat ek ook wil weet,” mompel Trompie. Dit lyk mos vir hom of hulle nou van die petisie-besigheid afgedwaal het. Of het hulle?
“Daar staan ook in die petisie,” vertel Rooie vir Trompie terwyl hy vies na Blikkies kyk, “ouens wat lekkers wil hê, moet net vir hom wat Gerrit is, vra. Sy pa het mos die lekkergoedwinkel en hy is altyd bereid om vir sy vriende lekkers te gee. En die ouens wat hy as vriende beskou, is dié wat op die lys teken dat hulle vir Ben sal stem en nie vir jou nie.”
Blikkies kou stadiger. Hy lyk verbaas.
“Gerrit het vir my niks van ’n petisie gesê nie,” sê hy. “Hy sou dit natuurlik nie gewaag het nie.”
“Hy wou jou seker eers sag maak,” sê Dawie. “Dan sal hy jou later vra om die petisie te teken.”
“Ek sal mos nooit so iets doen nie,” sê Blikkies en voeg droog by: “Maar ek wens die ou wil aanhou om my te probeer sag maak deur vir my kougom te gee. Hy sal my nooit sag genoeg kry nie.”
Trompie is nou effens bekommerd. Blikkies sal natuurlik nooit teen sy Grootkaptein draai nie, al gee Gerrit ook vir hom hoeveel kougom, maar wat van al die ander ouens? Trompie is seker baie van hulle wat vir hom sou gestem het, kan op só ’n manier omgekoop word om vir Ben te stem.
“Gerrit moes al baie lekkers weggegee het,” sê Rooie, “want daar is al baie name op die lys.”
“Ons moet iets doen,” sê Blikkies. “Ons kan nie net so stilsit nie.”
Rooie en Dawie stem volkome met hom saam. Hulle voel ook hulle moet iets doen. Rooie sien nie kans om vir die A-span te speel as Ben ou Pen sy kaptein gaan wees nie. Dan gaan hy sowaar liewer vir die onnie sê hy wil in die B-span speel!
Trompie besef nou daar is werklik ’n moontlikheid dat hy nie as kaptein gekies gaan word nie. Gerrit is vir die petisie verantwoordelik en baie seuns sal graag met hom wil vriende wees as hy nou ewe skielik links en regs lekkergoed begin uitdeel.
“Daar’s groot moeilikheid in die land,” mompel Trompie.
“Dis wat ek ook sê,” beaam Rooie. En te oordeel aan Dawie en Blikkies wat so herhaaldelik knik, is dit presies wat hulle ook sê. Daar is beslis groot moeilikheid in die land.
Trompie besef daar moet iets gedoen word – en vinnig ook. Die rugbyvergadering is volgende week en dan word die kaptein gekies.
Die Boksombende se Grootkaptein gaan sit nou weer en staar met ’n frons op sy voorkop voor hom uit.
Dit is ’n minuut of twee lank doodstil in die kamer, dan sê Dawie: “Wat doen jy, Trompie?”
“Ek dink.”
“O.”
“Ja.” Trompie kyk na Dawie om seker te maak sy vriend probeer nie miskien snaaks wees nie. Dawie kyk egter met ’n onskuldige gesig na Trompie en vra soet: “Waaroor dink jy, Trompie?”
“Oor wat ons kan doen om Gerrit se petisie en omkopery stop te sit.”
“Ons moet definitief iets doen!” sê Blikkies terwyl hy heerlik kou aan die kougom wat Gerrit vir hom gegee het.
Almal stem saam hulle moet iets doen – maar wat?
“Ons moet die aartsvyand se slinksheid beveg!” sê Dawie en gluur woes terwyl hy hard met sy vuis op die tafel slaan. Hy hou soveel van die sin dat hy lus is om dit te herhaal – saam met die dramatiese gebaar. Hy besluit egter om dit nie te doen nie. Die ander seuns kyk hom vies aan. Hy maak dit vir hulle onmoontlik om te dink as hy so hard op die tafel slaan.
Die vier vriende sit nou ernstig oor hierdie probleem en nadink. Rooie word eerste moeg om so stil te sit. Hy kan nie dink wat hulle moet doen om Gerrit uit te oorlê nie. En in elk geval, Trompie is mos die Boksombende se Grootkaptein. Hy moet die dinkwerk doen.
Rooie staar nou weer aandagtig na sy wikkelende tone en probeer om hulle te wikkel sonder dat die twee groottone ook beweeg, maar tevergeefs. Elke keer as dit vir hom lyk of hy dit regkry, begin die groottone stadig wikkel en ’n oomblik later beweeg hulle net so vinnig soos die ander tone.
Dawie het nou ook opgehou dink. Trompie se hond, Boesman, lê op die matjie voor die bed. Dawie sit op die bed en kielie Boesman se maag met sy skoenpunt. Hy wil sien hoe lyk ’n hond wanneer hy lag. Hy kan nie onthou dat hy al ooit in sy lewe ’n laggende hond gesien het nie. Maar Boesman plof-plof net met sy stert op die vloer. Dit lyk nie regtig of hy wil lag nie.
Blikkies dink ook nie meer nie. Hy is nou weer besig om met sy duim en voorvinger die kougom ver by sy mond uit te trek en dit dan weer met sy tong terug te ryg.
Trompie probeer dink, maar Rooie se gewikkel, Dawie se gekielie en Blikkies se gespeel met die kougom irriteer hom.
“Ek wens julle wil stilsit,” sê hy vies.
Hulle kyk verbaas na hom.
“Maar ons sit mos stil,” sê Dawie.
“Nee,” sê Trompie. “Jy kielie vir Boesman en Rooie wikkel sy tone en Blikkies trek die kougom – wat hy nie eens behoort te gevat het nie – nes ’n bobbejaan voor hom uit. Hoe kan ’n mens dink, hè?”
“Maar ons is stil. Ons maak nie ’n geraas nie,” sê Dawie.
“Wat bedoel jy – die kougom wat ek nie eens behoort te gevat het nie?” wil Blikkies weet.
“Ek bedoel wat ek bedoel,” snou Trompie hom toe. “Jy moes dit nie gevat het nie.”
“Wat moes ek gedoen het?”
“Jy moes vir Gerrit gesê het hy moet gaan doppies blaas.”
“Sou