Trompie dink nou aan nog ’n sin wat sy pa vir hom neergeskryf het en sê: “Vriende, laat ons die probleem koel en besadig in oënskou neem.”
“Jissie, Trompie,” skree Rooie, “het jy ’n woordeboek ingesluk?!”
Die seuns skater soos hulle lag. Trompie lag ook.
Wanneer almal tot bedaring kom, gaan hy verder: “Ek was laas jaar die onder-15’s se kaptein en ek het my bes gedoen. Ons het nie die beker gewen nie, maar ons het mooi rugby gespeel – en dit is belangriker as om te wen. Ons was ’n gelukkige span, julle weet dit. Ons het baie pret gehad.”
Trompie wys nou met sy vuil wysvinger na Gerrit en sê: “Die een wat kamtig Ben ou Pen se hoofagent is, was natuurlik nie ’n lid van daai span nie, so ek weet nie hoekom hy so baie te sê het nie.”
“Skande!” skree ’n klomp van Trompie se ondersteuners.
“Gerrit sê ek was selfsugtig,” vervolg Trompie. “Miskien was ek, maar dis nie te sê ek gaan vanjaar weer so wees nie. Julle ouens wat dink ek het te veel op eie houtjie probeer doen, moet onthou: ’n mens leer baie in ’n rugbyseisoen en ek is nie iemand wat oor en oor dieselfde foute maak nie.”
“Onthou ook ’n bietjie,” gaan hy voort, “almal van julle, ek het al ’n jaar ondervinding as rugbykaptein – en watter ondervinding het Ben? Niks nie! Hy’s ’n goeie haker en ’n gawe ou – maar ’n spankaptein? Nee, ek kan Ben ou Pen nie in daai rol sien nie.”
Ben staar nou weemoedig voor hom uit. Hy knik ’n paar keer stadig. Hy stem heeltemal saam met wat Trompie van hom sê. Hy wil in elk geval nie eintlik kaptein wees nie. Dit is Gerrit wat hom omgepraat en aangehits het.
“Ek sê vir julle,” sluit Trompie nou af, en hy dink aan nog ’n sin wat sy pa gisteraand neergeskryf het, “bly op die bekende weë! Hou wat julle het! Stem vir ’n ervare man! Ons gaan vanjaar mooi rugby speel – wenrugby! Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”
Hy gaan sit onder dawerende applous. Feitlik die hele saal herhaal nou die kreet: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”
Gerrit, Ben en hul ondersteuners lyk maar mismoedig. Trompie het ’n geweldige aanhang. Baie van die spelers wat lekkers by Gerrit gekry en die petisie geteken het, roep nou saam uit: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”
Die seuns is beïndruk met Trompie. Hulle voel dit was grootmoedig en edel van hom om niks van die omkopery te sê nie en dit wen vir Trompie heelwat nuwe ondersteuners. Min weet hulle hy het in werklikheid heeltemal vergeet om dit te noem!
Sarel bedank die sprekers wat opgetree het in ’n hoogdrawende toespraak en verseker hulle daar sal nou baie meer helderheid onder die stemgeregtigdes heers. Dit sal nou vir hulle duidelik wees vir wie om te stem en vir wie nie. Daar is nog ’n paar minute voor die klok lui en die seuns kan nou vir die kandidate vrae vra as hulle wil.
Gerrit Moerdyk het nog nie moed opgegee nie en is dadelik op die been.
“Meneer die voorsitter,” sê hy plegtig, “ek wil graag vir Trompie iets vra.”
Trompie staan op.
“Seker, Gerrit,” sê hy vriendelik en vryf sy hande in die lug voor hom.
“Onthou jy die onder-15A’s het verlede jaar teen Hoërskool Saamwerk van Johannesburg gespeel?”
“Ja, ons het twee keer teen hulle gespeel. Ons het een wedstryd gewen en een verloor.”
“Dis reg,” sê Gerrit smalend. “Ek wil met jou praat oor die een wat ons verloor het. Onthou jy die telling?”
Trompie kyk fronsend na Gerrit. Waarop stuur hy af?
“Ja, ons het 10-5 verloor.”
“Dit is reg, Trompie,” en dan harder, sodat almal hom duidelik moet hoor, sê Gerrit: “die telling was 10–5 en daar was nog net ’n minuut speeltyd oor. Toe het Ben ou Pen die bal soos blits gehaak. Dit het tot by jou, op buitesenter, getrek. Daar was ’n gaping wat die binnesenter vir jou gemaak het en jy het daardeur geskiet.”
Trompie knik met sy kop. Hy onthou die wedstryd nog soos gister. Ou Bles, die rugbybreier, het hom daarna goed die kop gewas. Trompie weet nou waarop Gerrit afstuur. Hy voel effens ongemaklik.
Gerrit praat verder: “Jy’t veld op gehol met die bal onder jou arm en ons, die toeskouers, het ons almal hees geskree. Weet jy hoekom het ons ons hees geskree?”
“Nee,” sê Trompie bot.
Die seuns in die staal sit en luister belangstellend.
“Ek sal jou sê, Trompie,” gaan Gerrit voort, “ons het ons hees geskree van blydskap en opgewondenheid, want ons was seker van ’n drie onder die pale. Ons was doodseker ons gaan Saamwerk wen! Dís hoekom ons so geskree het.”
Trompie voel ’n warm gloed in sy gesig.
“Maar wat het toe gebeur?” vra Gerrit skerp.
Voor Trompie kan antwoord, antwoord hy die vraag self: “Ek sal jou sê wat gebeur het: jy het oopgelê na Saamwerk se doellyn toe. Net hulle heelagter was voor jou, en langs jou was jou boesemvriend, die blitsige Blikkies. Ons het gejuig en geskree omdat ons al kon sien hoe word die bal agter die pale geplant. Daarna sou die maklike doelskop definitief oor gewees het en dan sou die eindfluitjie blaas en ons sou Saamwerk met twaalf punte teen tien geklop het.”
Trompie skuif ongemaklik rond.
Gerrit is nog nie klaar nie. “Blikkies het die hele tyd mooi langs jou gebly, Trompie. Al wat jy moes doen, was om reguit op die heelagter af te storm en dan vinnig na Blikkies uit te gee sodat hy kon oordraf en die bal agter die pale neersit. Maar het jy dit gedoen?”
Trompie antwoord nie. Hy kyk vies na Gerrit en mompel iets oor ou koeie uit die sloot grawe.
“O, nee,” sê Gerrit smalend en kyk nou reguit na die seuns in die saal, “die wonderlike Trompie het dit nie gedoen nie. Nee, hy wou die drie self gaan druk. Hy was te selfsugtig om die bal vir Blikkies te gee. Hy is mos kaptein – hy moet self die punte aanteken. Dis hoekom Saamwerk se heelagter hom met bal en al geduik het. Is ek reg, Trompie? Is dit wat gebeur het?”
Dit help nie om dit te ontken nie. Trompie sê stroef: “Ja, dis wat gebeur het.”
“Nou ja, ek sê dis die selfsugtigste spel wat ek nog ooit op ’n rugbyveld gesien het, en ek is nie die enigste een wat so dink nie! ’n Man met baie jare se ondervinding in rugby en een van die WP se heel beste senters ooit sê ook so. Ek praat van meneer Roux, ons breier. Ek het met my eie ore gehoor hoe sê hy Trompie ná die wedstryd sleg. Ontken jy dit?” vra Gerrit en beduie beskuldigend na die verslae Trompie.
“Nee,” antwoord Trompie gedwee. “Ou Bles hét my uitgetrap.”
“Daar het julle dit,” sê Gerrit met ’n selfvoldane glimlag vir die seuns. “Wil julle ouens so ’n selfsugtige speler as kaptein hê terwyl julle ’n onselfsugtige, hardwerkende en briljante haker soos Ben ou Pen kan kry?”
Gerrit gaan sit. Dit is stil in die saal. Trompie kan aanvoel dat baie van die seuns nou weer teen hom draai.
Dan spring Dawie op. Hy sê hy wil ook vir Trompie ’n vraag vra.
“Was jy spyt toe jy daardie drie teen Saamwerk weggegooi het?”
“Bitter spyt, ja,” antwoord Trompie.
Dawie sit en Blikkies is dadelik op die been. Hy skuif sy kougom van die een kies na die ander toe en sê: “Ek is die blitsige vleuel van wie Gerrit gepraat het. Ek was langs Trompie toe hy deurgebreek het. Onthou jy dit, Trompie?”
“Natuurlik, ja.” Trompie glimlag.
“Wel, ek wil net sê ek weet meer van wat daar gebeur het as Gerrit, al het hy hom kamtig so hees geskree.” Blikkies