“Volgende grot eet ons en slaap!” roep hy terug sonder om sy spoed te breek.
Dit kan enigiets beteken. Ek wag dat Johann vra hoe ver die grot is, maar hy doen dit nie.
Ek strompel-hardloop voort. Baie mense wat ek ken, sou nie so ver kon volhou nie – Kara, Amber …Kxûm sou kon, Vega sou kon. Gelukkig kom jy in ’n tipe sone waar jy net kan aanhou. Effens buite jou liggaam, effens dieper in jou liggaam …net verby die armlengte van verstaan.
!Kwabba-an het gestop en ek dias amper in hom in.
“Hier stop en slaap ons,” beduie hy.
Die grot waarin ons staan is sirkelvormig, iets tussen ’n saal en ’n kamer.
Ek gaan sit op my knieë. Johann sak tot op sy hurke. !Kwabba-an swaai die sak van sy skouer af en haal ’n waterbottel en die opgerolde haarsakke uit.
“Rol hierdie uit, ons gaan nou slaap. Dis nog ver.”
Terwyl ons op die slaapsakke sit en om die beurt die waterbottel aanstuur en aan gedroogde sampioene kou, begin !Kwabba-an praat. Dis asof hy jare se praat in hom opgekrop het en nou loslaat.
“Die geskrifte in die Stigtersgrot is in Khoekhoegowab, ’n skryftaal wat van die vroegste tye bestaan het. Driehonderd jaar gelede het die Khoe dit van voor af ontwerp, want hulle het nie geweet dit bestaan reeds nie. Daarom kon die Khoe-setlaars die geskrifte in die oorspronklike taal lees. Dit sê daar is ’n element in die grot gevind wat ’n transformerende invloed op mense het. Maar hulle was nog nie gereed om dit te gebruik nie, dus moes dit bewaar word vir latere geslagte.”
“Hoe bedoel jy ‘transformerend’?” !Kwabba-an gebruik outydse woorde. Ek voel sleg om hom te onderbreek, maar ek moet verstaan.
“Dit verander mense. Dit maak dat hulle oor groot afstande kan sien en kommunikeer, selfs oor lewe en dood heen. Die element is ontgin en weggevat – hulle dink verder Noord. Hier was min spore daarvan oor, net genoeg om die Shifu heldersiende te maak. Heldersiende maar steeds dom …sonder wysheid.”
“Hoekom het jy besluit om nou bogronds te gaan?”
“Die opdrag kom al van my oor-oupagrootjie af. Elkeen se pa het dit vir hom oorvertel: As ’n vrou van die bogrond hier aankom, het sy jou kom soek. Dan is dit tyd. Dis tyd dat jy saam met haar teruggaan en die element vind, sodat alles wat asemhaal weer vrylik kan kommunikeer.”
!Kwabba-an het klaar gepraat. Hy kruip in sy slaapsak in, doof sy foslig en draai op sy linkersy, weg van ons af.
Ek en Johann lê in die donker met ons sampioene en herkou aan sy woorde.
14
Kara
Daar is nog ||Hui !Gaeb-mense in hierdie wentelstasie. Ek moet vir Lethe oortuig om my verder te laat rondloop as net ’n paar gange.
Waar slaap Orpheus? Slaap hy ooit? Dis ’n grillerige idee, dat hulle dalk nooit slaap nie …Fokus, Kara. Jy moet weer jou mense onthou en jou rigting kry. Vir Lethe oorreed …
Kan nie rondloop voor jy nie weet wat jy nie weet nie.
“Lethe! Ek het jou gevra om nie my gedagtes te lees sonder my toestemming nie!”
Jammer.
Sy is goed. Sy het stilletjies agter my ingekom en ek kon geen pluk aan my gedagtes voel nie.
Nou sien ek eers wat sy in haar hande hou – ’n paar takkies fynbos. Dit tref my soos iets fisies. My hart, my asem, my maag …alles reageer op die blomme. Ek gryp dit by haar en druk dit in my gesig. Dit ruik na alles wat vir my belangrik is, alles wat my tuis laat voel. En bietjie na brand.
Orpheus stuur dit. Hy sê jou kamer is te bleek.
Ek kan nie dadelik praat nie. Die oomblik is net te groot.
“Wit, Lethe. My kamer is spierwit. Alles hier lyk dieselfde. En skyngramme verskyn en verdwyn voor my in die lug. Niks hier het ’n bekende reuk of ’n klank of ’n gevoel nie. Selfs die kos smaak of dit iets probeer wees wat dit nooit kan of sal wees nie!”
Sy kyk net na my.
“Ek is jammer, Lethe. Dis nie jou skuld nie.”
Ek sit die fynbostakkies in die wit houer met my drinkwater. Die houer is gemaak van ’n materiaal wat ek nie ken nie, wat ek nie kan ruik nie, met water wat nie na water smaak nie. Dalk smaak dit nou na fynbos.
Kan in woudkamer woon, fynbos-kamer, seedorp-kamer – Lug-Eurasië hou al die Aarde-ervarings aan. Orpheus gedink jy sal nie daarvan hou.
“Wel, hy was ten minste daaroor reg. Ek haat skyngram-illusies. Dis leeg …leeg!”
Ek ruik weer aan die fynbos en voel skielik jammer vir die plantjies. Hulle gaan stadigaan hulle geur verloor, hulle herinneringe …En dan alleen doodgaan, soveel li’s van hulle Aarde af.
Lethe kyk net na my. Sy verstaan seker nie my gedagtes nie, weet net ek is ontsteld.
“Sê vir Orpheus dankie, Lethe. En vra dat ek volgende keer self na die fynbos gaan, dan hoef die fynbos nie na my te kom nie.”
Sy draai om, maar net voor die deursigtige skerm oopgly, draai sy terug.
Jy onthou niks van die luyïs nie?
“Die wat?”
Dit lyk of sy besluit oor iets, dan kom sy na my toe.
Konsentreer op my gedagtes. Ek neem jou terug na Egipte.
Beelde begin oor my spoel. Een ná die ander, eers uit fokus, dan duideliker. Die beelde het klank ook.
Lethe buk oor my waar ek op ’n houttrollie lê. Langs die trollie gly ’n paneel in die sontuig oop. Hulle gaan my inlaai! Ek hoor iemand skree. Lethe haal iets uit my bostuk. Dis toegedraai in ’n vreemde materiaal, iets antieks soos …Meteens onthou ek die tonnel onder die piramide. Die droomtablet van koning Thutmosis IV, die saal met die perkamentrolle, die gloeiende Isis-beeld onder die sluier, die vreemd kloppende, warm diamant-seester in my handpalm. ’n Egiptiese kind wat sê: “You have to find them before other god-beings catch you with your gift. You must give the gift to your initiated.”
Ek voel duiselig. Die herinneringe slaan my soos golwe in Buitengrag rond …
Konsentreer, Kara, dis belangrik.
“The sleeping beings,” sê die kind. “If there are no sleeping beings from your city yet, they will start sleeping soon. Look out for the sleeping beings.”
Kara!
Ek sien hoe Lethe die perkamentpakkie diep in die sand langs my trollie indruk. Dan haal sy nog iets uit haar lyfpak se sak …’n harpie! Sy sit die harpie bo-op die perkamentrol neer in die sand, vee dit toe sodat niks uitsteek nie. Die trollie gly tot in die sontuig met my wat daarop lê, my oë toe, hulpeloos in die hande van niemense wat my ver van my Aarde af gaan wegneem. Lethe kyk op toe iets deur die Egiptiese kinders by ’n klipdeur ingesleep word. Een van die Andromedane probeer hulle keer, maar ’n ander wys hy moet hulle los – hulle het vir my.
Einde van terugflits. Lethe druk ’n sitspons onder my in, net toe my bene in elk geval meegee.
Waarvoor is die luyïs? Weet dis belangrik, maar nie hoekom.
Ek besef skielik sy kon nie my gedagtes lees terwyl sy besig was om haar herinneringe aan my oor te dra nie! My eerste geheim op hierdie wentelstasie! Ek kan nie my enigste geheim so gou weggee nie. Fokus op iets anders.
“Wat is dit wat die kinders by die deur ingesleep het?”
Weet nie naam. Hy het jou beskerm.
“’n Mens? Wie was dit? Lewe hy nog? Wat het julle