Goeie nuus. Jy kan vandag opstaan.
Ek weet ek moet begin praat, maar ná so ’n lang tyd is ek bang vir wat uit my mond gaan kom. Dalk kwaak ek soos ’n padda, dalk piep ek soos ’n muis …Hier het mens nooit nodig om hardop te praat nie, en ek wou nie my stem voor Orpheus toets nie. Nie voor iemand wat ek so bewonder nie.
Verkies gedagteruiling, maar jy moet praat, sê Lethe sonder klank. Normaal vir mense, deel van gesondwordproses.
Ek sit regop, maak my keel skoon. Vorm eers al die klinkers stemloos met my mond om die spiere wat so styf voel los te kry. Mens besef nie hoeveel energie dit neem om te praat nie.
“My naam is Kara.”
Ek hou van my stem. Dit voel vir die eerste keer of ek regtig terug is in my lyf. Ek glimlag vir Lethe, ek hou van haar ook.
Gedagteruiling beter. Orpheus sal tevrede wees, sê sy net en trek die laken van my bene af.
Ek sien nou eers dat hulle alles ontkoppel het wat aan my lyf gekoppel was. Ek is weer in beheer van my eie liggaam en die gevoel van vryheid is onbeskryflik. My liggaam is slimmer as enigiets wat hulle kan doen. Nou sal ek regtig gesond word.
Jy vertrou jou eie lyf. Goed, sê Lethe en help my om my bene van die bed af te swaai.
Versigtig. Nog baie swak.
My bene is stokkiedun onder die sagte broek.
Duiselig?
“Bietjie. Maar ek sit elke dag vir tye regop.”
Dis belangrik dat ek so gou moontlik my vryheid terugkry. Ek moet vir haar wys wat ek kan doen. Moenie val nie, moenie gly nie, moenie …Ek het skielik lus om ’n deuntjie te neurie, maar dit sal bietjie vreemd wees.
’n Staalgreep onder my arms. Lethe is verbasend sterk, al is sy so fyn.
Waarom voel die vloer na niks? Iets is verkeerd, dit moenie só voel nie …
“Hoekom voel ek nie die vloer nie?” Ek hoor hoe my stem bewe.
Vloer en liggaam selfde temperatuur. Vloer aangepas vir eerste aanraking, niks fout.
Dan is dít die rede, dankie tog. “Wel, dis onnatuurlik en ek hou nie daarvan nie.”
Als om my is wit. Ek sal mal word sonder ’n venster buitentoe. “Is hier nie ’n venster in hierdie plek nie?”
Sal jou wys.
Lethe lei my na een van die mure. Stadig, afgemete, gespanne …
’n Paar treë van die muur af word ’n ronde deel in die middel skielik deurskynend. Ek voel hoe my knieë knak. Ek snak na asem …ek is nie meer op Aarde nie!
7
Shaka
Dis ook nie die ogies van ’n vlees nie. As my polser nog gewerk het, het hy nou lekker vinnig gelaai met die hartklop wat ek hier uitpluk, dan kon ek als opsoek. ’n Vlees met gloeiende oë?
Die wind is weg, ek moes lankal vuur gemaak het. Gaan dit sommer nou doen. Waar’s daai stokkies …Eers soek jy maatjies en nou’s jy bang, kyk hoe bewe jou hande. Dit lyk groter as ’n dassie of rot, maar nie noodwendig gevaarlik nie. Wat het die polsers gesê, watse diere is nog oor?
Kan nie nou lekker dink nie. Eers net die vuur aan die gang kry. Wat is dit met hierdie plek? Eers is hier niks behalwe insekte nie en toe skielik bring ’n valk vir my ’n vis en nou kyk geel oë vir my.
Maar dit was nie uit die bloute nie. Ek het dit aangetrek. Begin soek daarvoor, kommunikasie gesoek.
Daar’s hy, ’n vriendelike vlammetjie …Nou lekker gaan sit asof ek my hande wil warm maak, dan kyk na die ogies. Ek is honger. Duiselig. Kan nie nou daaraan dink nie. Moet eers die oë-wat-in-die-donker-gloei oplos.
Met die vlamme voor my sien ek minder. Daar’s die ogies weer. Dis nou verder weg. Bang vir die vuur.
Ek sal maar net hier moet sit en wakker bly tot die son opkom. Dis seker ’n nagdier, sal weggaan as die son uitkom. Nou net wakker bly en nie aan kos dink nie.
Fluit. Fluit ’n deuntjie …Nee, daai is ’n Vryheidsdag-een, ek haat hulle. Wat is daar nog? Gogo se liedjie saans met slaaptyd toe ek klein was …
8
Shivani
Sleep. Oor ’n grotvloer. Glad, sag. Nee, dis nie ’n droom nie. Ek’t geslaap, maar ek’s nou wakker …
Die lakenman! Daar was aanhoudende gille – my eie. Toe niks.
Nou sleep hy my in die donker rond, ek hoor hom asemhaal. Hoe lank sleep hy my al? Afrol en terughardloop …hy klink moeg en oud, roggelend …My foslig?
My polse is vas! Die lakenman het my polse …en my enkels …
Hy’t gestop. Net sy asem. En die geluid van water! Meer lug as voorheen? Ek weet nie, ek snak al weer na asem … Dis grotdonker en my oë raak nie gewoond daaraan nie.
“Wŏ xiànzài rēng tale!”
Hy gaan my gooi? Gaan hy my gooi? Sy stem weerklink oor ’n groter afstand as ’n grottonnel.
“Yīgè zhēnzhèng de rén?!”
Daar is nog iemand! Ver onder ons, die weerklank slaan bo ons vas …Oud, jonk, manlik, vroulik? Als grotstemme. Meer mense, moeiliker om weg te kom.
Lakenman sê nou hy glo ek is ’n mens – of ek dink dis wat hy sê. Hy praat ’n Chinese dialek wat vir my vreemd is.
Nou praat ’n derde iemand! Beslis jonger …
Die lakenman is sterk. Sy asem blaas in my gesig.
Hy brom onderlangs, kreun. Lig my op.
Ek’s in die lug!
Iemand gil …dis ek.
Onderstebo?
Vryval. Gil. Ruk. Bande om my maag ook.
Al Kxûm se kwaadste woorde rol uit my mond. Kwaad-bang – kan dit nie keer nie. Die lakenman bind mense met toue vas! Hy bind hulle vas en neem hulle sonder hulle toestemming iewers heen! Hy gooi mense!
Meer kwaad as bang, soveel meer kwaad as bang …Hoe kan mens …
“Màn man de lăorén!” Dis die jonger een se stem.
Iemand lag. Nie meer so ver onder my nie …
Ek hang. Sak stadig. Hoor water, ruik grotwater. Alles ruik anders. Dis soos niks wat ek voorheen …
Sak nog, vinniger …hang weer.
Iemand haal asem oor my. Meer as een persoon.
“Wŏ yŏu tā …” sê die een.
“Wŏ yěyǒu tā. Màn man bǎ tā fàngxià …” sê die ander een.
Hulle sit my in ’n boot neer. Ek hoor die water onder en om my, ruik dit, voel dit wieg. Ek het al op ’n verbode polsfiksieruim gesien hulle behandel mense en diere só.
“Aaa!” skree ek. “Julle gaan jammer wees hieroor, julle gaan só jammer wees!”
Maak geraas in jou eie taal asof jy geen beheer het nie …maar jy hét nie beheer nie …