Egipte. Sfinks. “Wie is die mens, Lethe? Wat het julle aan hom gedoen?!”
Sj …
Die deur skuif oop en Ylena kom in. Sy oefen steeds haar emosies. Oor haar gesig flits agterdog, simpatie, verontwaardiging, moederlikheid, jaloesie …en dan glimlag sy.
As ek nie so ontsteld was nie, het ek nou uitgebars van die lag. Sy onthou darem dat ek nie daarvan hou om telepaties met haar te kommunikeer nie.
“Wat doen julle?” vra sy en probeer seker nuuskierig lyk.
Ek voel roekeloos. As dit Lethe só lank geneem het om sulke belangrike inligting vir my te gee, sal ek myself uit hierdie plek moet kry.
“Wat is ’n luyïs hier by julle, Ylena? Op Aarde was dit ’n goggatjie wat lank gelede uitgesterf het.”
Haar gesig raak totaal uitdrukkingloos. Ek is bly. Dit beteken dis iets belangriks.
15
Kara
Sintetiese fynbosreuk. Hou op, Lethe. Maak my naar. En hou op om my dop te hou.
Ek is so pateties as dit kom by telepatie, ek weet nie of my gedagtes ooit by haar gaan uitkom nie. Waar in die wentelstasie sy ook al sit en my dophou.
Ek dink tog die reuk gaan weg. Nou is dit net die vreemde wentelstasie-reuk. Of is dit ’n Andromeda-reuk? Dalk die materiaal waarvan alles hier gemaak word, ek moet tog onthou om Lethe te vra wat dit is.
Dis tyd om uit hierdie kamer te kom. Vandag gaan ek op ’n ontdekkingsreis. Al is dit seker vooraf deur Lethe georkestreer.
Die gange is spierwit soos my kamer. Skerms skuif voor my oop soos Lethe of Orpheus dit geprogrammeer het. My beweegruimte is groter as wat dit al ooit was vandat ek hier aangekom het. Steeds …van die skerms bly toe en raak ondeursigtig as ek naby kom.
Iets pluk aan my gedagtes.
Dis ’n Andromeda-vrou wat verbystap. Ek verstaan nie wat sy kommunikeer nie …iets van ons gaan laat wees. Sy het wel nie eintlik na my gekyk nie, maar ek voel gevlei dat sy dink ek kan een van hulle perfekte wesens wees.
Die skerm links van my raak deursigtig toe sy naby kom. Dit gaan oop en ek gee twee reusetreë en glip agter haar in. Sy pluk nie weer aan my gedagtes nie en ek bly staan tot sy weg is.
Sou Lethe agtergekom het ek is iewers waar ek nie moet wees nie?
Hierdie gang het heelwat meer syskerms as die ander gange waarin ek al was. Almal is ondeursigtig, so ek kan net vorentoe gaan. Ek is dalk nou in ’n area wat nie vir my spesifiek geprogrammeer is nie, so dis moontlik dat meer skerms turkoois sal wees. Soos die een nou hier voor my. Dit raak deurskynend toe ek nader kom en ek glip deur.
Hier ruik dit anders …
Een van die syskerms skuif oop. Ek kyk af toe ’n figuur uitkom, maak of ek vinnig op pad is iewers heen. Maar in daardie oomblik hoor ek iets. Ek is nie dadelik seker van die klank nie, maar dit tref my op dieselfde plek as die fynbosreuk vroeër in my kamer. Dis iets wat deel is van alles wat vir my belangrik is …Wat is dit wat ek gehoor het?
Wie ook al by die syskerm uitgekom het, is reeds weg en die skerm is toe. Grys. Ondeursigtig. Beslis toe.
Ek gaan staan met my neus daarteen asof ek wil ruik wat ek gehoor het. Dan tref dit my, soos toe ek skielik van Egipte onthou het. Sonnetjie en Sonnetjie – twee voëltjies met daardie naam. Hulle liedjies het altyd gevarieer, maar die tema was dieselfde. Waar het ek voëltjies met die naam Sonnetjie geken?
My bene gee skielik pad onder my. Ek sak met my rug teen die skerm af tot ek op die mat sit. My hart klop in my ore. Ek het ’n ma. Hoe kon ek vergeet het ek het ’n ma? Almal het tog ’n ma. Hulle moes iets gedoen het om my te laat vergeet!
Sonnetjie en Sonnetjie was my ma se twee budjies in die Droomhospitaal. Voëltjies wat haar vrolik moes hou, ’n spesiale vergunning van die personeel.
Ek wéét ek het die budjies gehoor. Dit was nie een van die sintetiese reuk/klank/visie-skyngramme waarmee Lug-Eurasië en die Andromeda-wentelstasie so goed toegerus is nie. Hierdie was regtig die Sonnetjies.
Rus bietjie tot die duiseligheid vervaag.
My asemhaling raak nader aan normaal en ek staan op. Ek begin met my vuis hamer teen die ondeursigtige skerm. Ek voel die skokke elke keer as my hand die elektroskerm tref.
’n Alarm gaan af – ’n telepatiese alarm, want my ore hoor niks.
Daar is onmiddellik twee Andromedane by my. Hulle probeer iets sê om my te kalmeer, maar ek begin skree.
“Laat my ingaan! My ma is hier! Ek moet by my ma uitkom!”
My stem klink al meer histeries. Hulle raak nie aan my nie, probeer my net telepaties tot bedaring bring, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking op my.
Als is reg, Kara. Ek is hier.
Dis Lethe. Sy stuur die Andromedane weg.
Wat het gebeur? Hoekom is jy so ontsteld?
“My ma is aan die ander kant van hierdie skerm, Lethe. Ek wéét dit. Ek wil na haar toe gaan!”
Hoekom dink jy so?
“Ek het haar voëltjies gehoor, ek weet hoe hulle sing!”
Jy nog nie heeltemal gesond. Orpheus waarsku: verbeelding en geheue sal mekaar probeer aanvul. My fout. Moes jou nie so ver laat wegdwaal.
“Ek makeer niks! En ek weier om te loop tot julle my by hierdie skerm inlaat om self te kyk. Julle sal my moet inspuit of wegsleep, maar ek gaan nie vanself hier weg nie!”
Lethe se lyftaal verander, soos wanneer Andromedane mekaar woordeloos roep.
Versterkings. Hulle sal my fisies hier moet wegdra.
Ek voel sy teenwoordigheid voor ek hom sien. My son. Orpheus.
Ek is meteens kalm. Hy doen dit seker aspris, maar ek gee nie om nie.
“Orpheus, my ma is hier. Ek het haar budjies gehoor. Ek wil haar sien, asseblief. Ek mis haar só baie. Sy is die belangrikste mens in my lewe. Asseblief!”
Dit voel of ek vryval in sy oë. Deur sonnestelsels, deur kosmiese musiek. Beelde en klanke, indrukwekkend en groots, speel in sy oë en ek voel hoe ek daarin wegspoel. Nie teen my wil nie, dit neem my net saam …en ek het geen behoefte om die vryval te keer nie.
Kalmeermiddel om jou te laat slaap. Dan gesels ons weer.
Telepatie van Orpheus, wat nooit só met my kommunikeer nie.
Ek voel hoe die swart van ’n diep slaap oor my trek. Dan niks …
16
Shaka
Die son bak ’n ou so half aan die slaap, veral ná Groues vir ons middagete gevang het. Die water wat so oor die rotse voel-voel, lyk lekker …vriendelik. Groues hou nie daarvan as ek swem nie.
Wat het ek gemaak in die dae voor Groues?
En toe Manna later weg is, was dit ook nie so erg nie, want Groues is hier. Kan nie glo dat dit werk nie, telepatie met Manna en Groues. Dis natuurlik die ding van so op die rand wees tussen leef en doodgaan – ’n ou raak desperaat, jy sit alles in.
Groues hou haar kop skeef soos sy die sprinkaan met haar kiestande kou. Ons verstaan mekaar, ek en sy. Sy leer my baie oor