Snak. Rouxnette Meiring. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rouxnette Meiring
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085355
Скачать книгу
regtervoet haak aan iets vas, pluk my lyf onder my uit. Ek val weer op my hande.

      “Kā!” glip dit uit soos ek Kxûm soms hoor sê.

      Ek probeer regop kom, maar iets sit aan my enkel vas. Die foslig het weer afgegaan. My hande gly oor die klam grotvloer …maar nou agteruit.

      Iets sleep my aan my enkel! Ek probeer my naels in die grotvloer inslaan, maar dis te glad.

      “ ≠a!” skree ek terwyl ek op my maag agteruit gesleep word, magteloos en woedend.

      Tot die grotsaal om my oopgaan. Wie of wat aan my enkel trek, het daarmee opgehou.

      Wat nou? Woede, vrees. Ek lê stil, hiperbewus van enige geluid. Ek moet omdraai en kyk. Skuif my kopstuk reg en knip die foslig oop dat ’n straal lig voor my uitkring.

      A! Ek weet wie dit is!

      Kxûm. Ek kon gedink het as iemand my sou kry of kom soek, sou dit sy wees. Sy’t my voorheen al sonder geluid agtervolg en dan skrikgemaak – baie irriterende gewoonte wat sy het. Ek ontspan heeltemal, voel hoe my lippe begin lag toe ek omrol.

      Haar lyf is afgeëts onder ’n wit katoenlaken wat sy om haar gedraai het. Haar humorsin is bekik, maar ek gee nie om nie!

      My oë fokus in die dowwe lig. Dis nie Kxûm nie!

      Dis so lank soos sy, hoewel skraler en manliker …die kleur van die grotwande, maar half deurskynend …lang ligte hare …skrefiesoë …

      Ek weet ek gil aanhoudend, maar ek hoor niks.

      Tot my asem opraak.

      Hy het ’n string hare in sy hand, geweef in ’n sterk tou wat nou slap om my enkel lê.

      Toe dit weer stil in die grotsaal is, praat hy.

      Sy stem is skor en hy wag dat elke woord klaar weerklink voor hy die volgende een uitspreek. My Chinees is nie goed nie, maar ek verstaan wat hy sê.

      “Kom na Yaodong. Die Shifu wag.”

      5

      Kaleb skud sy kop verward. “Kan ek jou vertrou?”

      Hy kyk weer na waar die goue dynserigheid begin, die sagte oorgang, die drumpellig van ’n stad waar niks jou ooit pla nie …behalwe dat niks jou ooit pla nie. Tot hy sy teleskoop weer ontdek het.

      “Hoekom dink jy moet jy enigsins daardie vraag vra?” sê Ya-ya.

      Sy lyk vir hom totaal anders. Sy is bleek soos die Lug-Eurasiëvrou wat in die lugskip oor die Tsavo gevlieg het. Haar oë is vaalblou en effens vergroot en sy lyk moeg. Waar is die sprankelende Ya-ya met die blink hare en blas vel?

      Hy kan nie glo sy lyk so vaal net omdat sy die blomkranse afgehaal het nie. Sy het dan nou ’n wit storie met ’n kappie aan …Waar is die romp? En haar bolyf lyk skoon plat onder die wit ding.

      Wat is dit met die teleskoop? wonder hy. Wat hom eers hierheen gelok het en toe weer gewys het iets hier is verkeerd. Maar Ya-ya moet dink die teleskoop is onskadelik.

      “Ek verstaan nie wat aangaan nie,” begin hy huiwerig. “Ek het net gewonder oor Kara en Mohlomi en toe sien ek die lig lyk anders daar teen die einder, en toe …”

      “Sj …Dit was my skuld.” Sy vat sy gesig tussen haar hande.

      “Wie is jy, Ya-ya?” vra hy bekommerd. “Ek besef nou eers ek weet niks van jou nie …en dat dit my nooit gepla het nie.”

      Sy kyk ernstig na hom. Daar is donker skaduwees onder haar oë en sy lyk so verwese. Skielik voel alles koud en kaal en sy tande begin klap opmekaar.

      “Kom ons gaan terug, jy sal warmer wees daar.” Sy sit haar arm om sy skouers en begin stap na waar dit goud gloei.

      Maar hy skud haar arm af. “Ek gaan nie weer terug nie, al verander ek in ys op hierdie vlakte! Mdisi, dink jy ek’s ’n kind wat jy in ’n storiehuis kan aanhou? Ons het ook sulke goed in ||Hui !Gaeb gehad, ek is nie ’n kik nie!”

      Sy kyk vir ’n oomblik na hom met oë wat sê jy ís ’n kik en jy weet nie eers vir hoe lank al nie.

      Dan sien hy hoe sy kwaad raak. En dis weer ’n nuwe Ya-ya, ’n derde een, nie die domerige, swewerige Ya-ya nie. Haar stem is skerp en haar mondhoeke krul venynig.

      “Julle was so vaag in daardie ||Hui !Gaeb-koepel, al het julle gedink julle weet alles! Wêreldwye polsnet? Dit was gesensor! Nuutste tegnologie, geneties gevorderd …maar wat is alles verbied en weggesteek in daai veilige stad van julle? Dink bietjie, Kaleb!”

      Haar oë word weer sag toe sy die verwarring op sy gesig sien.

      “Maar ek gee nie om nie, ek hou van jou.” Haar stem spoel oor hom soos ’n strelende deining. “En ek weet jy hou van my. Kom saam, ons hoef nie hier te bly nie …”

      “Saam waarheen?”

      “Jy voel nog steeds nie wat ek bedoel nie? Daar is soveel wat jy nie ken nie …”

      Hy merk vir die eerste keer die effense swelsel in haar nek, maar herken die beweging toe sy saggies daaraan druk.

      Sy doen dit dikwels, en dan …

      “Kom hier,” fluister sy.

      Haar lippe is op syne en toe dit effens oopgaan, proe hy die bekende metaalagtige smaak. Hoe kon hy dit nie agtergekom het nie!

      Hy stamp haar weg en spoeg ’n paar keer op die grond om ontslae te raak van alles wat nie in sy lyf hoort nie. “Is dít wat jy heeltyd aan my gedoen het?”

      Al drie persoonlikhede speel om die beurt oor Ya-ya se gesig, maar dan haak sy vas by die laaste een.

      “Nee, soms het jy net ’n drankie gekry,” murmel sy. “Ek kon lankal teruggegaan het, toe ek jou twee vriende nie hier kon hou nie. Maar ek wou nie. Kom saam …”

      “Waarheen?”

      Hy weet wat sy gaan sê, maar hy wil dit nie hoor nie. Hy onthou die nag in die tonnel, die verbode mark. Hy onthou sy intense gevoel teen alles wat ||Hui !Gaeb binnesluip, hoe Amber gesê het dit gaan oor intensie en aandag – dat die onsigbare begin gebeur as daar genoeg energie is. Maar hierdie is iets anders …

      “Was jy ooit in ||Hui !Gaeb?”

      “A, Kaleb, my heliumpie …natuurlik! Ek en Vega was laas daar saam met jou en …die donker meisie met die blonde hare en blou oë. Maar moenie nou aan haar dink nie, asseblief.”

      “Jy en Vega was daar toe ek en Amber daar was?!”

      Ya-ya se oë raak weer kil. “Ek het gedink ek werk vir Vega, maar dit lyk of sy eintlik op haar eie wentelstasie is. Laat ek dit vir jou uitspel: sy is van Andromeda en ek is van Lug-Eurasië en ons het sekere …ooreenkomste. Kom saam, Kaleb, daar is soveel om te …ervaar.”

      Hy merk hoe sy elke keer aarsel, asof die woorde net die oppervlak raak van wat sy eintlik bedoel.

      Hy dink vinnig. As hy by Kara en Mohlomi wil uitkom, as hy ooit weer vir Amber wil sien, sal hy Ya-ya moet gebruik. En as hy haar kan oortuig dat hy wel saam met haar sal gaan …

      “Waarmee vlieg ons?”

      Sy glimlag en neem sy hand. “Dis die gesindheid! Nie met ’n swewer nie …Kom kyk.”

      Hy haal diep asem. Dan stap hy saam na waar die goue kol gloei …en dit voel soos die langste en swaarste tog wat hy al ooit aangepak het. Hy weet daar’s ’n kans dat hy nie weer daar gaan uitkom nie. Nie as Kaleb nie.

      6