Amper dog ek my foslig is nie in my rugsak nie. Dan sou ek moes omdraai en weer in die ander vaskyk as ek nie in stikdonker wil rondvoel nie.
Tweede grotingang wat met soetdoringtakke toegemaak is …Wat steek hulle tog alles hier weg? Hier ook deur, ek is moeg vir goed wat toegesmeer word deur die ouer geslagte. Al wat hulle vir ons gee, is hulle stories, en jy kan dit nie altyd gebruik nie.
Net nie weer ’n doring in my hand kry nie, die goed brand soos /ae-b. Dit ruik baie anders hier. Ek moet dalk stadiger loop – minder lug, muwwer lug. Ons kan hierdie tonnels gebruik om nuwe soorte swamme in te teel. Dis donkerder en dieper, ek is seker dit sal goed werk. Sal met Kamisoa daaroor praat …
Iets is …anders. Wat is dit? Hoekom kriewel my nek skielik? Dit gebeur net as ek …
Daai geluid …’n grottrollie? Hier is tog niemand nie, die ingang is toe. Dit klink soos die gedonder van ’n ou moltrein …O mdisi, wat bewe die grond so? Is dit die skaliegasskudding waarvan die storieverteller gepraat het? Dit gebeur mos al vir honderde jare nie meer nie?
Wat dit ook al is, ek moet dadelik hier uit kom.
Die donderslag klap diep onder my. En in die oomblik wat dit deur my lyf ruk en my ingewande skud, weet ek dis nie ’n storie uit my verbeelding nie. Hierdie gebeur nou en dit gebeur met my …
Die grotvloer kraak voor my oop en ek snak van skok. Die reuk slaan my asem weg, ’n soutreuk, en iets wat skerp-anders is as die muwwe grotlug.
Spring. Selfs in ’n droom moet ek nou spring – of val saam met hierdie stuk grotvloer! Arms, vingerpunte, klou net, klou, jy is sterk.
Trek jouself op. Hardloop.
Ek kan nie, hierdie grotgang loop afdraand!
3
Shaka
Dias, die polser is sat. Ek weet dit, maar ek hou aan karring. Vergeet meestal ek het nie meer een nie, maar in tye soos nou as ’n ou ’n soort valkie wil opsoek …
Plaas dat hulle dit nog soos in Gogo se tyd in ’n ou se pols ingeplant het. Dan kan dit mos niks oorkom nie, behalwe as jou hart ophou klop. Toe neuk hulle met die terug-aarde-toe-filosofie en mag jy niks meer inplant nie. En kyk waar sit ek nou. Met net my geheue.
As die polser ingeplant was, kon hulle my sonar-helix as my hart ophou klop, of te vinnig klop …Maar wie is “hulle” in elk geval? Daar’s niemand meer oor nie.
So ek moet probeer onthou. Fotografiese brein. Gogo het gesê dis wat ek het, maar ek wil dit nie gebruik nie. Waar het ek al voorheen die valkie gesien wat my daai keer met die vis teen die kop kom pot het …Waar?
Hierdie gelê op my rug maak my altyd vaak, veral as my maag vol is. Vol vis. Rou vis soos wat hulle nog geëet het voor mikroplastiekkanker. Mense het kanker gekry van allerhande goed, tot hulle mos …wat was dit nou weer? …daai vreemde krewe se gepolariseerde lig-oë gebruik het om die siekte op te spoor. Wat as ek nou kanker kry van al die vis wat ek so …
Eina, mdisi! Jy weet jy moenie vinnig regop sit onder die skuiling nie – die tak bliksem nou al lank hier deur die seil. As ek kanker kry van die vis is ek op my eie. Geen pro-liggame hier op die eiland nie. Lê liewer weer. O ja, die valkie. Waar het ek hom gesien op my polser? Skyngramme, kwantumfoto’s …
Swerfvalk! Dis ’n swerfvalk. Geel bene en pote, geel rondom die oë. Wit bors, grys rug, bruin oë. Maar hulle eet kleiner voëls en insekte, nie vis nie! Hoe de mdisi het die valkie geweet ek moet vis kry? Nog nooit weer so baie geëet soos daai dag nie. Ek voel die laaste week nogal dunnerig …en swak en slaperig.
Ek moet iets vir die valkie ook kan doen. Moet onthou om te vra wat as ek hom weer sien …Manna. Ons moet mekaar help, ons is ewe belangrik. Moenie net eenrigting praat nie – dis wat Gogo gesê het oor telepatie. Nog ’n fout van die mens.
Maar wat as die valkie nooit weer kom nie? Dit moet ’n hy wees, hier’s niks hoog genoeg om in nes te maak nie. Wat as hy terug is na sy wyfie en sy nes ver van hier? As ek en die valkie net kon gesels …Nog nie weer vir Manna gesien ná die vis teen die kop nie. Ek is vaak …so vaak …
Mdisi, daar’s Manna weer, hy is terug! Daai ogies wat vir my loer …het ek geslaap?
Nee, jou kloon, dis mos nie ’n valk se oë daai nie! Hoe ver is die oë van my skuiling af …so vyftien, twintig chi? Oë wat gloei in die donker …iets wat ’n ou kan bespring …
4
Shivani
Asem – laat daar net heeltyd genoeg asem wees. My hande rem vergeefs teen die glibberige rotswande. Skerp stalagmiete wat ’n glyende lyf kan oopkerf.
Uiteindelik …die nou gang spoeg my pynlik uit. Ek moet aanhou hardloop.
Blindelings. Vlak grotwater, koes vir stalagtiete. Jou lyf hardloop sonder dat jy dink, Shivani, jy moet stop.
Oorleef. Kalm. Dink. Soos Appa jou geleer het.
Hoekom is dit so donker? Waar is my …My foslig het toegeklap, die donker is deel van die angs.
Sit ’n rukkie op my hurke, ek moet probeer sin maak van wat gebeur het.
Ek is in ’n kleinerige grotkamer, hoog genoeg dat ek regop kan staan. Dit ruik anders hier – muwwe lug gemeng met slierte van die soutreuk soos toe die kraak deur die grot geruk het. Maar genoeg lug vir nou.
Ek sal vinnig by die ander moet terugkom. Water drup oral, maar grotsampioene groei nie vanself nie, en dit lyk nie of hierdie grot ooit gekultiveer is nie.
Goed. Asem rustiger.
Nou kan ek nog drie openinge in die dowwe lig uitmaak. Die gang waaruit ek gekom het, is te glad en te steil om in terug te klim. En wat sou dit help? In die grot waar ek was, was ’n gat besig om te gebeur. Een van die ander drie uitgange dus – iets wat hopelik boontoe lei.
My hande en knieë voel of hulle aan die brand is ná my val, die dorings se steekpyn nou heel weggebrand. Ek hoor weer Kxûm se stem wat vir my skree: “Kaikaisen!” – ek speel grootmens.
My lag klink grotterig, weergalm terug na my. Ja, Appa, ek kan nog vir myself lag, al klink dit soos nou. Dit herinner my ek het ’n stem, al gebruik ek dit nie graag nie.
Nou is dalk die tyd daarvoor.
Ek skyn my koplig in die eerste uitgang af. Dis afdraand. Nie so steil nie, maar af. Ek gaan probeer. Ek kan nie net vir myself lag nie, ek kan darem skree ook.
“Am-ber! …Help! …Kxûm! …Hui te!”
Die eggo’s sterf weg …dit raak grotstil. Net die water drup.
Die volgende uitgang is niks meer as ’n vlak opening wat na ’n skeur lei nie. My dun bene mag dalk daar deurgaan, maar my kop sal vashaak. As ek hier buk en skree …
“Am-ber! …Help! …Kxûm! …Hui te!”
Ek hou my oor langs die skeur, maar die eggo’s sterf weg. Dit raak weer tonnelstil. Net my hart klop, my asem hyg …
Wat is dit?
Die klank van vlerke …agter my. Dis links, nee, voor, of op!
My foslig flits rukkerig deur die grot …niks …Daar!
Weer ’n swiepgeluid. Daar’s iets grys soos die vlerke van ’n vlerhaas in die laaste uitgang!
Vinnig soontoe. My hart klop al weer te wild. ’n Geswiep dieper in die gang, anderkant