“En wat gaan jy daaraan doen?” vra Saartjie en glimlag nog steeds vriendelik.
Galpil sit so aandagtig na haar en kyk en droom so oor hoe mooi sy is dat hy skoon vergeet wat hy vir haar gevra het of waaroor hulle praat.
“Hè?” vra hy nou bot.
“Ek sê ek is snaaks. So wat gaan jy daaraan doen?”
“Ek sê net jy moenie probeer om met mý snaaks te wees nie,” brom Galpil. “Dis al wat ek sê.”
“En as ek probeer – wat dan?”
“Wag maar net, jy sal sien.”
“O.”
Saartjie speel heerlik toneel. Sy kyk na Anna en Lina wat proes van die lag op die bankie langs haar en sê: “Ek is nou so bang dat ek nooit weer sal probeer om snaaks te wees nie. Die Groot Held van Papbroekland het mos gepraat.”
Anna en Lina skater nou soos hulle lag. Gert en Piet wat langs Galpil sit, kan ook nie hul lag inhou nie.
Galpil lyk bekaf. Hy kyk vies na Saartjie en sê: “Jy moenie my name en goed noem nie, hoor!”
“En as ek dit doen? Wat sal jy dan doen?” vra Saartjie vermakerig.
“Wag maar net,” antwoord hy dreigend, “jy sal sien.”
Saartjie kyk hom uitdagend aan. “Ek sê weer – jy’s die Groot Held van Papbroekland!”
Galpil gluur woes na haar. Hy weet self nie wat dit is wat sy sal sien nie. Sy is ’n meisiekind en hy kan mos nie aan ’n meisie slaan nie. As sy nou ’n seun was, dan het hy haar kesj lankal vir haar gegee en dan sou sy ’n ding gesien het – of liewer hý, want die sý sou dan mos ’n hý gewees het!
Maar Saartjie is ’n sy en nie ’n hy nie – en boonop nogal ’n pragtige sy met bekoorlike kuiltjies in haar wange as sy glimlag. Wat kan Galpil doen?
Hy brom nou maar net iets van meisiemense wat dink hulle is snaaks en aspris moeilikheid soek omdat hulle weet ’n man kan nie aan ’n meisie slaan nie.
Al mompel hy dit onderlangs, hoor Saartjie, Anna en Lina hom duidelik.
“Jy’s nie ’n man nie,” sê Saartjie smalend. “Jy’s ’n ou vrotvel!”
“Hè?” Galpil swaai weer om en gluur selfs nog woester as vroeër na haar. Hy bal sy vuiste onwillekeurig. Sy gaan nou sowaar te ver.
“Dis wat ek sê, ja,” herhaal Saartjie kil. “Jy’s ’n vrotvel van ’n papbroek omdat jy almal teen Ou Duifie opsteek. Sy’s net ’n arme, weerlose vrou – dis hoekom jy die moed het om dit te doen. Jy’s te bang om dit met een van die mansonderwysers te waag.”
Galpil wil weer verduidelik dat nie een van die ander mans- óf vroueonderwysers hom en hul klas al ooit so onregverdig soos juffrou Nortjé behandel het nie, maar dan bedink hy hom. Dit help tog nie om met Saartjie te stry nie.
Hy sê nou net vies: “Ek wil nie met jou praat nie, maar ek sê net vir jou een ding – ek en die ander ouens sal vir Ou Duifie ’n les leer! Sy gaan nog jammer wees sy’t by ons kom skoolhou!”
Dan draai Galpil sy kop en kyk weer voor hom. Saartjie kan nou maar te kere gaan en sê net wat sy wil. Hy weier om verder te luister.
Maar Saartjie bly stil. Sy besef dit sal nie help om Galpil verder uit te trap nie. Sy wil hê hy moet afsien van die plan om Ou Duifie se lewe so te versuur – en hy sal dit beslis nie doen as sy aanhou om hom sleg te sê nie.
Saartjie besluit om ’n ander taktiek te volg. Sy sal later ernstig oor die saak moet nadink.
Dié middag is Saartjie se pa ook aan die eettafel. Hy is ’n chirurg en die dae wanneer hy nie by die hospitaal in die stad is nie, werk hy in Lynnekom waar hy ’n spreekkamer in die hoofstraat het.
Die hele gesin sit aan tafel, behalwe Saartjie se twintigjarige broer Kris. Hy is ’n mediese student aan die universiteit en kom feitlik nooit vir middagete huis toe nie.
Saartjie eet ingedagte. Sy dink aan wat sy kan doen om Galpil te laat afsien van sy plan om die wêreld vir Ou Duifie moeilik te maak. Sy weet as hy dit los, sal al die ander seuns ook. Hulle volg hom mos altyd. Dit is nie omdat hy slim is of ’n sterk persoonlikheid het nie. Nee, dit is bloot omdat hy sterk gebou is en goed kan baklei.
Maar hoe dit ook al sy, hy is die leier en as sy hom kan oorreed dat die graadneges hulle beter in Ou Duifie se klas moet gedra, sal die juffrou baie gelukkiger wees. Soos sake nou staan, is die arme onderwyseres diep ongelukkig. Saartjie kan dit duidelik sien en sy wil Ou Duifie help, maar hoe gemaak as Galpil en sy vriende nie saamspeel nie?
Saartjie is natuurlik so gretig om die jong juffrou te help omdat haar gewete haar pla. Sy was ook altyd een van die lawaaimakers in die klas – maar daardie dae is nou verby! As ’n onderwyseres – bloot omdat sy saggeaard en nog onervare is – nie dissipline kan handhaaf nie, dan moet die leerders eerbare mense wees en haar help, eerder as om dinge vir haar nog moeiliker te maak.
Dit is hoe Saartjie nou oor die saak sit en nadink. Sy hou so van die woorde “eerbare mense” dat sy dit onwillekeurig fluister.
“Wassit met jou?” vra Apie wat langs haar sit.
“Hoekom?” Saartjie kyk na hom.
“Vir wat sit en praat jy so met jouself?” Apie wikkel sy sproetneus. “Is jy mal, hè?”
“Moenie laf wees nie,” sê Saartjie saaklik en begin weer eet. “Ek het sommer hardop gedink.”
Apie brom dat enigiemand wat aan tafel hardop sit en dink in plaas van eet, ’n paar skroewe los het.
“Is Ma se kos nie lekker nie, of wat?” vra hy.
“Natuurlik is dit,” antwoord Saartjie.
“Nou hoekom sit jy dan hardop en dink, pleks van eet?”
“Maar ek eet mos.”
Apie draai sy kop en sien sy suster eet wel. Hy het niks meer te sê nie. Hy eet weer lustig verder.
“Hoe gaan dit deesdae met die klavierlesse, Saartjie?” vra haar pa skielik. “Ek hoor jou nooit meer oefen nie.”
“Ek oefen nog, Pappa,” sê Saartjie, “maar nie so gereeld nie. Ons kry baie huiswerk en goed, Pappa weet.”
“Lynnekom se klavierwedstryd is oor twee weke,” sê dokter Baumann. “Jy sal hard moet begin oefen as jy weer in jou afdeling wil wen.”
“Hoekom, Pappa? Dis mos maar dieselfde klomp wat verlede jaar teen my gespeel het. Ons speel nou net in ’n hoër afdeling. Ek het hulle laas keer maklik gewen, so ek sal vanjaar weer.”
“Jy’s lekker wintie, hè!” sê Apie.
Jan en Martha Baumann glimlag.
Dan sê dokter Baumann: “Ek was vanoggend by die nuwe gesin – die Eksteens – wat hier ingetrek het. Hul babatjie is siek, maar dis gelukkig nie ernstig nie. Nadat ek vir die kleintjie medisyne voorgeskryf het, het ek eers saam met die ouers tee gedrink. Hulle is baie vriendelik en gasvry.”
Saartjie wonder wat dit alles met haar musiek te doen het. Sy hoef egter nie lank te wonder nie.
Haar pa sê: “Die Eksteens het ’n dogter wat in Bloemfontein op skool is en hulle dink sy’s die wonderlikste klavierspeler in die hele wêreld. Die meisie het glo al baie eerste pryse op kunswedstryde verower. Haar pa laat haar spesiaal vir die naweek kom om aan Lynnekom se klavierwedstryd deel te neem. Hy sê dis tyd dat die Lynnekommers sien hoe speel ’n ware kunstenaar. Soos ek verstaan, speel jy en die meisie in dieselfde kategorie, my kind.”
Saartjie het natuurlik al by die kreupel dogtertjie Clara gehoor hoe wonderlik haar suster Carolina klavier speel. Dit was toe Clara by Muggie