Die daggaboer. Jean-Pierre de Kock. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jean-Pierre de Kock
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798177474
Скачать книгу
oor die beddens getrek gewees het nie. Eintlik kan hy nie help om beïndruk met homself te voel toe hy met die instap alles so netjies en op hulle plek sien nie (veral nie ná daai barbare hier was nie). Selfs die twee aardrose en paar takkies heide wat hy sommer haastig in ’n blompot gedruk het, vertoon nou heel skaflik op die eetkamertafel.

      Hy het Chloe nog net ’n paar keer ontmoet, maar iets aan haar fyn wipneusie en die bruuskheid van haar snedige opmerkings irriteer hom net. Boonop vermoed hy dat sy ook nie so geneë is met hom nie. Wat seker haar besluit om nie saam te kom nie aangehelp het.

      Maar wat ook al tussen haar en Konrad gebeur het, het sy broer duidelik ontstem. Toe hy oor Chloe gevra het … daar was defleksie, die wond blykbaar nog rou.

      Ou Konrad het mos ’n manier om hulle te kies.

      Eers was dit die Rus in Londen. Wat was haar naam nou weer? Kort en skraal, met lang, krullerige brunetlokke. O ja, Renata. Innemende seegroen oë.

      Twee jaar bly hulle saam in Engeland: hy die dokter, sy die grafiese kunstenaar en hoopvolle romansier. Salig met mekaar en die lewe. Besoek selfs Suid-Afrika om Pa te ontmoet.

      Net ses maande getroud, toe skei hulle.

      Renata was ’n prettige enetjie, maar na Lennet se mening nie maklik om mee getroud te wees nie. Wispelturig is nie die woord nie. ’n Humeur wat kan opvlam uit niks, en die volgende oomblik weer so mak soos laagwater. Dis moontlik haar eksentrieke aard wat Konrad aangetrek het, juis omdat dit so ver verwyder is van sy eie koersvaste persoonlikheid. Sy lyk natuurlik ook na hul ma, maar daaroor durf niemand mos iets sê nie.

      Maar wat Renata gekort het in bestendigheid, het sy voor opgemaak in vriendelikheid. Selfs meer so as daar iets te drinke was. Of liewer, verál as daar iets te drinke was. Sy sou aandagtig na jou breedvoerige verduideliking luister oor die wyn se geure en kleure waarop sy bedag moet wees, en dit net daarna in haar keel afgooi asof dit ’n vodkasopie is. Waarna sy laggend haar leë glas sou uithou vir nog. Wakker en regop tot laat in die nag.

      Wel, dis die indruk wat Lennet gekry het, die twee keer wat hy haar gesien het. Die eerste keer toe hy vir hulle in Londen gaan kuier het, en ’n jaar later met die sprokiesagtige kasteeltroue in die Skotse Hoogland.

      Die egskeiding was flink, maar Lennet kon nooit uitvind wat presies alles daartoe bygedra het nie. Daar was definitief ’n tot-hier-toe-en-nie-verder-nie-gebeurtenis. Dan en wan as hy sy broer gebel het, het hy probeer uitvis wat verkeerd geloop het. Maar dit was nie iets wat Konrad wou deel nie. Hy het dit styf teen hom vasgehou, en doen dit nog steeds. Lennet moes op die ou end berus met: “Dit moes net nooit gewees het nie.” Alhoewel hy vermoed daar was ’n derde party betrokke.

      Konrad kom die kombuis binne met ’n koelboks wat hy voor die wasbak neerplak. “Het jy een of ander hippiemanier om die vuur aan te steek?” vra hy terwyl hy weer uitstap stoep toe. “Of is hier actually Blitz?”

      Lennet lig die swaar boks met moeite tot op die toonbank. Duidelik genoeg kos ingepak vir ’n gesin. “Links teen die braaiplek se muur is ’n houertjie waarop staan ‘Vuuraanstekers’. Die Blitz en smalletjies is daarin.”

      Smalletjies, wat ’n lekker woord, dink hy. Gebruik mense dit nog?

      Lennet begin die kos uitpak.

      Alle geval, dit lyk of Konrad met Chloe wil regmaak wat met Renata verkeerd gegaan het. Sy broer was lief vir Renata, dit weet hy. En wat ook al werklik daar gebeur het, het Konrad geruk. Nogtans het hy kort daarna ’n tweede huwelik aangepak. Met nuwe ywer, al is Chloe soos sy is – ’n regte bitch.

      Lennet onthou hoe ontsteld sy pa was toe hy vir die jonggetroudes in Kanada gaan kuier het (Chloe was skaars twee maande ná die troue swanger). Die ou man was gretig om sy eerste kleinkind te ontmoet, maar dit was gou duidelik dat Chloe haar eie manier het van dinge doen. As Oupa net in die rigting van die baba kyk, was sy by met die handsteriliseerder en vermanings. Pasop vir die koppie, moenie te veel swaai nie, sit die lig af, sit hom nou weer terug in sy bedjie, sit sagter die rugby, hou daai gordyne toe, moenie met hom Afrikaans praat nie.

      Naderhand wou hy nie eers meer naby “verdomde Engelse” klein Daniel kom nie. “Dis asof sy dink ek’s te Derdewêrelds om aan haar kind te vat, Lennet! Magtig, ek het darem self twee kinders grootgemaak.”

      En “magtig” was so na aan ’n vloekwoord as wat sy pa ooit sou kom.

      Die groot knak het gekom toe Chloe ná die derde dag van die kuier aankondig dat sy vir Oupa ’n kamer bespreek het by ’n gastehuis net buite die dorp. Gesê met daardie aantreklike glimlag van haar. Arme Konrad moes vir die res van sy pa se vakansie tussen die B&B en sy eie huis jaag om die vrede te bewaar.

      Konrad die vredemaker. Laat niemand sê hy probeer nie.

      Lennet ruik die sigaretrook wat van die stoep af ingewaai kom. Hy glimlag. Ná al die jare rook die dokter nog steeds. Onverwags bring die reuk ook Everest se besoek vanoggend terug. Maar hy wil nie nou dááraan dink nie.

      “Gaan jy vir ons ietsie ingooi of wat?” roep Konrad van die braaiplek af. “Daar’s Coke en Klipdrift in die koelboks.”

      “Ek bring.”

      Lennet drink net brandewyn as hy sy broer sien. Afgesien van ’n witblitssopie al om die maand by oom Loeser kan hy nie eers onthou wanneer laas hy enige alkohol gedrink het nie.

      Hy klief die stuk vleis op sy bord sonder entoesiasme, vol weersin vir die Genuine Texan Steak wat Konrad hier aangebring het. ’n Hele kilogram daarvan in ’n verseëlde plastieksak, deurdrenk met ’n rooibruin marinade. Boonop is die reeds versuipte vleis ná elke draai van die rooster met nog ’n laag sous beloon.

      Kos sonder oordadige speserye was een van die makliker aanpassings wat Lennet op Tierdrif moes maak. Hy het nog altyd gedink mense, en veral Suid-Afrikaners, gooi gans te veel ekstra soorte sout en sous op hul kos. Soveel te meer met vleis.

      Hy probeer ongemerk die rooibruin sous afskraap, vee sy mes teen die rand van sy bord skoon. Maar steeds sukkel hy om die oorgaar biefstuk afgesluk te kry. Die barbecue is net te oordonderend … te oral. Pleks hy tog maar groente gemaak het soos hy hom voorgeneem het. Want selfs die gekoopte aartappelslaai proe of dit deurweek is van kondensmelk of iets anders wat onhebbelik soet is.

      Nie dat hy vir Konrad enigiets oor die kos sal sê nie. Beter as dít weet hy darem. Veral op ’n aand soos vanaand waar die stiltes tussen elke “Gaan gooi vir ons nog enetjie, toe” oneindig lank voel. En “ons” beteken eintlik Konrad, want Lennet het halfpad deur die tweede glas reeds ’n draai in die kop gevoel.

      Danksy die droë hout was die kole gou reg. Tussen een-sin-antwoorde soos “Ag, die vlug was orraait”, “Ja, dit gaan oukei by die werk” en “Nee wat, ek kyk nie eintlik meer rugby nie” was Konrad se aandag meestal by die vuur en die braai.

      Daarby is Lennet nie een vir wegskram van stilte nie. Allermins. En ja, tussen hulle twee vat dit gewoonlik ’n tydjie om te sinchroniseer ná ’n lang afwesigheid. Veral omdat hul geaardhede so verskillend is en hul lewens so ver van mekaar geleef word.

      Dis asof elkeen eers moet herset en daarop fokus dat hy ’n broer het. Moet delf om te onthou dat hulle ’n herkoms en geskiedenis deel. Eers as die herinneringe herleef word en die vervreemding vervaag, kan hulle hulle vereenselwig met die seuns wat hulle was. Die vyfdag-kriekettoetse in die agtertuin. Die saam fietsry skool toe. Die skelm swem in die buurman se swembad (en die keer toe hulle amper gevang is).

      Toe Lennet weer ’n slag vra waar Chloe en Daniel dan is, is die bot antwoord: “Ag, net ’n ou meningsverskilletjie.”

      Nou hoe werk jy met dit? Hy kan sy broer net so wel hier los en huis toe gaan. Sodat Konrad op sy eie met sy gedagtes kan stoei. Hy kan liewer môre terugkom as om hier afwagtend te sit en hoop dat iets konstruktiefs gepraat of gedoen gaan word.

      Soos hy en die taai steak verder handgemeen raak, glip die vurk en moet hy net keer of sy bord kantel af na die teëlvloer. Maar nie eers sy skielike ruk-en-balanseertoertjie trek sy broer se aandag nie.

      Dié se bord is skoon geëet. Waar