Die daggaboer. Jean-Pierre de Kock. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jean-Pierre de Kock
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798177474
Скачать книгу
op te tel?

      Hy kan hom net indink hoe lyk die badkamers. Om nie van die slaapkamers te praat nie! Verbeel jou wat daai varke als in sy skoon beddens aangevang het. Tien teen een net so met vuil grondvoete geseks tussen sy wit linne. Dalk moet hy eenvoudig die beddegoed aftrek en weggooi.

      Sêra het hom gewaarsku oor die wit. “Djy’s mal, hoor! Vir wat sit mens sulke light linen op ’n bed? Djy gaan was dat djy hop.”

      Maar hy wou nie hoor nie. ’n Mens wil mos hê die plek moet netjies lyk. Wit laat niemand wonder of dit skoon is nie.

      En nou? Pleks hy vir haar geluister het.

      Anderkant die bloekoms bereik hy sy klein pondok, die ou Sprinter-karavaan waarby hy houtmure en ’n dak aangebou het vir ’n ekstra vertrek. Elke spyker self ingeslaan, van die sinkplate tot die houtvloer. Nou nie ’n paleis nie, maar oorgenoeg vir hom.

      Toe hy in die deur gaan staan en sy blik oor die binneruim laat vee, voel dit of hy weer kan asemhaal. Die orde van alles, elke ding op sy regte plek, laat sy dwarrelende gedagtes bedaar. Die yskas wat met krag vanaf die sonpanele links in die kombuis tjirr, die bietjie skottelgoed netjies gewas in die droograk, die formica-kombuistafel wat steeds blink van vanoggend se afvee.

      In die sitgedeelte regs lê niks rond om of op die rusbank nie. Die maroen strepe van die mat, die koffietafel en die boek oor stadstuine wat bo-op die hopie tydskrifte lê, is alles haaks. Die boeke en CD’s in die klein regop boekrak netjies en alfabeties gerangskik, soos dit altyd is.

      Verligting. Dís hoe mens leef. Nie soos daardie barbare nie.

      Hy tel sy selfoon op wat langs die deur bo-op die radio laai, rol met die kontaklys af. Sy duim vee oor Sêra.

      Dit lui nie lank nie. “Ja?” antwoord sy.

      “Hallo, Sêra?”

      “Ja.”

      “Kan jy my hoor?” Op die agtergrond is die gehum van ’n masjien.

      “Ja, man. Is dit Lennet?”

      Hy sug binnetoe. Nie eers die moeite gedoen om te kyk wie se naam op die skerm staan nie.

      “Ja. Sêra, jy moet kom. Dis ’n gemors hier. Vyf studente het die hele plek opgedonner. En ek kry mense vanaand … belangrike mense. Sal jy kan kom?”

      “Ek sallie kannie.”

      “Wat? Hoekom nie? Moet ek jou kom haal?”

      “Nee. Ek sallie kan kom helpie.”

      “Maar ek het jou nodig! Asseblief, man. Ek sal jou self kom haal. Moet ek jou by Abraham kry?”

      “Die vis loop, ek kannie kommie. Ekkit mos laas ge-explain.”

      Sy het, ja. As die visfabriek op jou kan vertrou as hulle op kort kennisgewing bel, is hulle later meer geneig om vir jou ’n permanente kontrak te gee.

      “En djy pay anyways tight.”

      “Ek sal meer betaal, ons kan praat. Asseblief, Sêra, net vandag.”

      “Sorrie, nie vedaggie.” Die foon gaan dood.

      Fok.

      Dis nou al wat hy nodig het. En juis op die dag wat hy dit die minste kan bekostig.

      Hy wil haar terugbel, besluit dan daarteen. Dis nie asof hy haar oorreed gaan kry nie.

      Hy sit die foon terug op sy plek en stap deur die woonarea, bestyg die twee trappies na die karavaan. Val neer op die opgemaakte bed. Dis halfelf, maar die dag voel reeds lank. En nie net omdat hy al van kwart oor vyf op is nie.

      Sy selfoon lui. Seker Sêra wat nou iewers ’n vriendin se dogter of buurvrou se iemand anders uitgekrap het wat kan kom. Haar gat. Sy sal ook net opdaag as die visfabriek staan. Dán kan sy vriendelik en ontfermend wees. Maar laat ’n trôler net by die hawe in.

      Hy maak sy gesig in sy kussing toe en skree. Hard en lank tot sy longe leeg is. Voel rustiger toe hy sy asem stadig deur die materiaal intrek.

      “The mind is its own place, and in itself can make a heaven of hell, a hell of heaven,” herhaal hy oor en oor. Probeer onthou waar hy die aanhaling gehoor het.

      Enigiets om net vir ’n oomblik te vergeet dat die gastehuis voor vanaand sal moet skoon.

      2

      “Klop-klop-klop!”

      Hy dog eers hy verbeel hom – bloot ’n klankinsetsel in sy sluimering wat sy onderbewuste vir hom uitgedink het.

      Maar die stem kom nader. Só naby dat hy die sigaretasem kan ruik.

      “Jy lê dam laat, nuh?”

      Lennet ruk om van waar hy op sy maag aan die slaap geraak het. ’n Breë glimlag met goud wat aan die vier boonste voortande blink, begroet hom.

      Hy skiet regop. “Wat de moer soek jy hier?”

      “Chill, my broe. Dis mossie hoe jy ’n business associate groetie.” Everest buk eerbiedig en hou sy regtervuis in ’n rastagroet uit.

      “Kom uit my fokken huis uit!” Lennet klap die vuis weg. “En jy’s g’n rasta nie, man.”

      Everest trek terug, die goud verdwyn agter toe lippe. “Iemanit mettie vekêre voet uittie kooi geklim. Maa is orraait. Sallittie nog kop toe vattie. Sê jou wat, ek blom solankies binne, kom jy uit wanne jy ready is. Miskienit jy tien dai tyd jou maniere truggekry.”

      Hy verdwyn met die karavaan se trappies af.

      Lennet hoor hoe die rusbank se vere onder sy effense gewig meegee toe hy gaan sit. Hoe de hel het Everest hom opgespoor?

      Die bank kraak toe Everest oorleun om die radio aan te sit. Witruis klink oor die luidsprekers terwyl hy vir ’n stasie soek. KFM. Nee. Radio 2000. Nee. RSG. Nee. Dan weer terug na KFM. ’n Vrouestem sanik oor lost emotions.

      Lennet kyk vervaard rond vir iets om homself mee te verdedig. Vir ingeval dit nodig sou wees. Hy trek die laai langs sy bed saggies oop. Die kort snoeiskêr met die fyn lemme bied nie veel nie. Maar soos hy haastig deur die res van die inhoud vroetel, besef hy dis die naaste wat hy nou aan ’n handwapen gaan kom.

      Wat van die messe in die kombuislaai? Demmit! Hopelik het Everest homself nie daaraan gehelp nie.

      Lennet skud sy kop. Raak hy nou te paranoïes? Hy probeer luister vir beweging in die sitkamer. Maar al wat hy hoor, is musiek en die geluide van Everest wat ’n boodskap op sy selfoon tik.

      Lennet swaai sy bene van die bed af, weeg die skêr in sy hand. Dit voel te lig, en die dun lemme wat skerp punt, is skaars ’n duimlengte lank. Maar wat kan hy doen? Hy moet iets hê om mee terug te veg.

      Desnoods is daar darem nog sy vuiste ook. Nie dat hy sy kanse hoog ag as hulle handgemeen sou raak nie. Everest is nie juis wat jy ’n swaargewig-teenstander sal noem nie, maar as dinge op ’n bakleiery moet uitloop, is hy amper seker dat Everest met sy straatslim maniere die oorhand sal hê.

      Wat soek die man hier? Everest weet goed hoe belangrik sy privaatheid vir hom is. En dat hy nié hier welkom is nie, watter goeie business associates hulle ook al mag wees.

      Lennet sit toe-oë, sy pols tik ritmies teen sy voorkop. Dink, dink, dink. Hy moet die situasie reg hanteer. Hierdie kan alles opneuk, alles waarvoor hy gewerk het. En daar’s nie enige kans vir weghol en oor begin nie.

      Sy kaftan het nie sakke nie en hy het nie onderklere aan nie, daarom steek hy die skêr by sy regterheup in die lapgordel in. Hopelik sal die band dit daar hou. Hy maan sy skouers om te ontspan en dwing ’n stadige teug lug by sy longe in. Gevolg deur ’n lang uitasem om sy hartklop te laat bedaar.

      In die sitkamer sit Everest gemaklik agteroor, arms wyd en oop op die rugleuning van die bank. Sy deodorant en die reuk van Camel Lights hang soos mis in die vertrek. Hy is netjies aangetrek in stywe swart jeans en ’n kersierooi blokkieshemp met wit letters op die sak: Born to love. Hare kaal geskeer