Die daggaboer. Jean-Pierre de Kock. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jean-Pierre de Kock
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798177474
Скачать книгу
loer, net om seker te maak. Daar is iets desperaats aan hoe hy telkens na die foon gryp, dink Lennet, maar weer eens is daar geen boodskap of oproep nie.

      Die foon gly terug in sy bêreplek en Konrad neem weer sy geboë posisie in. Peinsend, sy kop gestut op sy hand terwyl die sigaretkooltjie langs sy gesig al langer raak. Die rook trek reguit op in die stil nag.

      Sou hy nog weet van die sigaret? Maar sy broer staar net verlore in die vlamme, wat al hoër brand danksy die hoeveelste hand vol stompies wat netnou opgegooi is. Môre laat ek hom self kap, besluit hy.

      Dan kom Konrad skielik regop, sy rug styf. Asof hy pas ’n besluit geneem het en seker is oor dié ding. Hy neem ’n teug uit sy halfvol glas en ’n laaste trek van die sigaret, blaas dit met ’n sug uit en skiet die stompie vuur toe.

      “Sorrie, kleinboet, ek sit nou hier en bejammer myself net. En eintlik het ons soveel om oor te praat, nè?” Hy gee die vlamme ’n laaste kyk voor hy na Lennet draai. “Wat sê jy nog? Hoe gaan dit regtig hier op Tierdrif? Is jy gelukkig hier in die middel van nêrens?”

      Dankie tog, die openingsbal is geboul. Hy hoop net Konrad sien nie die bord met die halfgeëte steak wat hy onder sy stoel versteek het nie.

      “So, is jy?” Meer kortaf, terwyl Lennet nog soek na ’n antwoord.

      “O, ja. Nee … Nee, ek’s gelukkig hierso. Wil nie op ’n ander plek wees nie.” Vir wat strompel hy so oor sy woorde? Hy kan waaragtig nie dronk wees nie. Of is hy?

      Konrad grinnik. “Om eerlik te wees, ek het nooit gedink jy gaan so lank uithou met die hippiebesigheid nie.”

      “Ek’s nie ’n hippie nie,” antwoord hy te vinnig.

      “Ja, oukei, sorrie. Ek probeer nie lelik wees nie, Lennie. Ek verstaan maar net nie hoe dit werk nie, dis al. Hoe jy dit doen nie. Ek meen, dis orraait vir ’n vakansietjie of so. Ons het self ’n plekkie langs ’n meer waarheen ons naweke ontsnap. Maar om permanent so te leef … Hoe kan jy werklik gelukkig wees hier? So met niks en niemand nie?”

      Hy vroetel vir nog ’n sigaret in sy cargo-broek se sak, sy postuur nou gemaklik en ontspanne in die wit plastiekstoel. Wenkbroue gelig, wagtend op ’n antwoord.

      “Dis … uhm … dis moeilik om te verduidelik.”

      “Maar probeer. Ek wíl verstaan.” Tjiek-tjiek en die sigaret brand.

      “Ek onthou eenkeer toe ek by World of Birds in Houtbaai was,” begin Lennet. “Ek het mos gereeld soontoe gegaan, geld geskenk ook. Ek’s mal oor die voëls, en om hul stories te hoor by die mense wat daar werk. Vergiftigde aasvoëls wat gered is. Uile wat raak gery is, maar wat oorleef het … Daai tipe ding.”

      ’n Tarentaal vlieg iewers verskrik uit sy slaapplek op.

      “Hoe ook al, in die park is daar ’n bordjie wat vra: Is die voëls gelukkig hier? Aan die onderkant staan die antwoord dan: Geluk is nie ’n emosie wat voëls ervaar nie. As die inwoners van die park kos en beskutting het, veilig voel en van hul beserings herstel het, is aan al hul behoeftes voldoen en is dit die naaste wat hulle aan geluk kan kom.”

      Konrad gooi die laaste sluk drank in sy keel af. Met die glas se neersit dans die twee ysblokkies eensaam op die bodem. Dan lag hy. Gemoedelik.

      “Jy kan partykeer so weird wees, kleinboet. Maar oukei. In fact, ek dink nie jy’t enigsins my vraag geantwoord nie, maar dalk wil jy net nie daaroor praat nie.”

      “Ek wíl. Miskien druk ek my verkeerd uit. Dis net … my definisie van geluk is anders hier. Met net eenvoud, met al die luukses en onnodighede weggestrip. Ek verlang nie na iets anders nie. Ek leef bloot dag vir dag om in my basiese behoeftes te voorsien. Om seker te maak my plante produseer kos, om my dak reg te maak as dit lek. Jy leer om net te wéés, verstaan? Nie te wonder oor eendag nie. Geluk hier is om bloot te leef.”

      “Soos ’n afvlerkvoël? In ’n hok?” Spottend.

      Poephol, dink Lennet.

      “Nee, ek is nie ’n afvlerkvoël nie. Maar miskien het ek hier geleer om nie alles te oordink nie. Nie heeldag te probeer meet of ek werklik gelukkig is nie. Daar was dae, veral aan die begin, wat ek gedink het miskien moet ek alles oppak en teruggaan. Liewer weer in ’n werk gaan sit wat ek haat, die verkeer, die afhanklikheid van tegnologie, ’n huis en ’n kar koop wat ek nie regtig kan bekostig nie.”

      Hy haal diep asem. “Maar die onsekerhede het al minder geraak, tot waar dit nou alles so ver en ondenkbaar voel. Dis soos wanneer jy ophou rook. Aan die begin dink jy heeldag aan hoe lus jy vir ’n sigaret is. Maar soos die tyd aangaan, raak die onttrekking al minder. En die periodes wat jy voel jy kan nie meer uithou nie, raak al korter. Tot jy jouself later nie eers met ’n sigaret in die hand kan indink nie.”

      Hy hoop nie Konrad dink hy probeer vir hom preek oor sy rokery nie. Hoekom sal hy wat Lennet is nou oordeel?

      “Ag, moenie kwaad raak nie, kleinboet. Ek speel mos maar net. Doen jou hippie-ding. Maar weet net, jy gaan eendag spyt wees. Eendag as hierdie hele land uitmekaarval. Of as jy jouself beseer en nie weer kan opstaan nie en hier’s niemand om jou te help nie. Of as jy as ou man in ’n plaasaanval aangerand word.” Konrad gaap lank. “Hoor maar net wat ek vir jou sê.”

      Hy antwoord nie, en sy broer slaan hom speels teen die boarm. Hy probeer maak of dit nie seer was nie.

      “Pa lyk sleg, nè?” raak Konrad skielik ernstig. “Ek kan nie dink hy’t so vinnig agteruitgegaan nie. Ek meen, hy’t my herken, maar hy was aanvanklik so deurmekaar dat hy dog ek werk daar.”

      Lennet knik. “Ja, nogals.” Hy wil nie verder uitwei nie.

      “Hoe gereeld gaan jy soontoe?”

      “Seker … Ag, ek kan nie nou presies onthou nie.”

      “Wat kan jy nie onthou nie? Ek vra hoe gereeld jy gaan, nie wanneer laas jy daar was nie.”

      Lennet vee oor sy gesig. Demmit, hier kom dit nou.

      “Ek bedoel, ek was ’n tydjie terug daar. Dis moeilik om tyd te vind. ’n Mens moet seker meer gaan.”

      Konrad frons. “Wat bedoel jy met ’n tydjie terug? Wanneer laas was ’n tydjie terug?”

      “Ek weet nie, man. Ek … uhm … seker …”

      “Was jy al vanjaar daar?”

      Vir die soveelste maal wens Lennet dat hy die vermoë gehad het om die regte ding op die regte tyd te sê. Dalk ’n skerpsinnigheid wat die waarheid sal verdoesel en die spanning op Konrad se gesig sal temper tot ’n blote glimlag. Of miskien ’n oortuigende leuen.

      Maar hy sit opgeskeep met ’n kop wat eers weke ná die tyd aan die perfekte antwoord sal dink. So al wat hy nou het, is die waarheid. En dáárvan gaan Konrad nie hou nie.

      “Nee, ek was nog nie hierdie jaar daar nie.”

      Konrad se mond val oop. In eerlike ongeloof.

      “Bedoel jy … So jy was nog nie één keer daar nie?” spoeg hy die woorde uit. “En laas jaar? Kon jy darem laas jaar ’n tydjie vind in jou verskriklike druk skedule? Huh? Om net tagtig kilo’s te ry om by jou pa uit te kom?”

      Doller as kopaf kan dit nie, besluit Lennet. Kon hy nie maar net gelieg het nie?

      “Nee, nie sedert Junie laas jaar nie.”

      Konrad gryp na sy hempsak. Iets, dalk ’n stampie wat soos die foon se vibrasie voel of ’n padda wat onwetend die luitoon nageboots het, het hom laat dink daar’s ’n boodskap. Maar nee, weer eens niks. En dit stook sy irritasie net verder.

      “Ba!” lag hy skielik. Op daardie manier wat net die een kant van sy gesig laat optrek.

      Die stilte wat volg, voel vir Lennet oneindig. Fermata op die rus.

      Dan kom dit.

      “Jy’s selfsugtig, Lennet.”

      “Selfsugtig?