Bloed, dunner as water. Charné Kemp. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Charné Kemp
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075479
Скачать книгу
en fisieke mishandeling laat ’n heeltydse wrok, frustrasie en woede wat onder die oppervlak prut.

      Sielkundiges wat geraadpleeg word, hoor dikwels die kind kon dit net nie meer hanteer nie. ’n Sneller soos ’n afjak of vernedering breek die spreekwoordelike kameel se rug. Daarom het die kind sy ouers om die lewe gebring.

      Bezuidenhout sê in een geval waarby hy betrokke was, was die seun se ouers geskei. Die ma het geweier dat die seun sy pa ooit sien. Sy het dit as straf teen die pa gebruik. Die seun het sonder sy pa, en die belangrikheid van ’n pa-figuur, grootgeword. Hy moes egter die rol van die pa oorneem in die slaapkamer en sy ma seksueel stimuleer. Hy is gedurig verneder. Hy mag nooit uitgegaan, vriende huis toe gebring het nie. Veral nie ’n vriendin nie. Die ma het hom gedurig vergoeding belowe, maar dit dan weerhou as straf.

      As jy dit met ’n kind doen, bou daar iets in hom of haar op, meen Bezuidenhout. Die kind koester só ’n wrewel en is so gefrustreerd dat hy eintlik ’n tydbom is. As die regte snellers opduik, kan ’n situasie ontaard wat tot moord kan lei. Die kind wat langtermyn fisieke en emosioneel mishandeling verduur, kan moontlik mettertyd uit frustrasie en woede reageer.

      Die kind wat mishandel is, is dikwels erg emosioneel en veral ontstoke. Soms kan die kind sy woede projekteer en iemand buite die gesin leed aandoen, net om beheer terug te kry. Die kind se innerlike en uiterlike beheer is deurmekaar en hy smag na ’n balans in sy lewe. Deur iemand anders seer te maak bring ’n mate van verligting en balans.

      Kenners moet bepaal in watter soort lewensbaan die kind grootword. Nie alle kinders in soortgelyke omstandighede sal moord pleeg nie, te danke aan ander faktore soos hul genetiese samestelling en ander omgewingsfaktore.

      Ofskoon seuns dikwels vuurwapens gebruik as hulle ’n familielid vermoor, is dit meer ongewoon dat dogters na vuurwapens sal gryp en skiet. Sy sal gewoonlik haar kêrel se hulp inroep.

      Vroue kan ook kognitief en emosioneel deur kêrels beïnvloed en gemanipuleer word. Dit het in die geval van Nicolette Lotter en Phoenix Racing Cloud Theron gebeur. Albei se kêrels se invloed het ’n groot rol in die daaropvolgende tragedies gespeel.

      Mathew Naidoo was agter geld aan. Hy het besef sy vriendin, Nicolette, se ouers, Johnny en Riekie Lotter, is welgesteld – hulle het vakansiehuise en motors gehad wat hy begeer het. Hy het sy volgelinge, Nicolette en haar broer, Hardus, met godsdiens geïndoktrineer en gemanipuleer. Dit is ironies dat godsdiens gebruik is om moord te pleeg, want die Lotter-sibbe is in ’n godsdienstige huis grootgemaak.

      Hoewel Nicolette nie so jonk was nie (26), was sy beïnvloedbaar. Jong mense en tieners kan maklik deur romantiese liefde gemanipuleer word.

      Kenners moet egter versigtig wees om nie ’n bloudruk te skep om moontlike gevalle vooraf te identifiseer nie. Daar is gesinstragedies waarvoor die motief ondenkbaar was.

      Schalk du Plooy was ’n aanneemkind wat baie liefde gekry het. Hy het sy aanneempa wreed vir dwelmgeld vermoor. Sy pa het geweet van sy dwelmprobleem en het alles gedoen om hom te help, maar dit was vergeefs.

      Daar kan ’n legio redes wees vir ouermoord.

      In baie gevalle gee die ouers hul kinders alles wat hulle begeer. In ’n stadium besef die ouer hy of sy het die kind te veel bederf. Die dag wanneer die ouers dan hul voet neersit en “tough love” toepas, soos in die geval van Schalk du Plooy, word sterk snellers ontketen. Die kind kan nie glo die krane is skielik toegedraai nie. Dit ontlok groot woede in die kind.

      Emosionele mishandeling en swak binding tussen ouer en kind of verwaarlosing speel ook ’n belangrike rol. Kinders wat honger ly, nie gebad word nie, vuil skool toe gestuur word waar hy of sy gespot word, bou dikwels ’n wrok op. Indien een of ander sneller bykom, kan die kind die grense oorsteek.

      Geldelike gewin is ’n rede vir ouermoord. Riaz Kadwa, wat sy pa en ma in 2005 in Johannesburg doodgeskiet het, het in ’n welvarende Moslem-gesin grootgeword. Riaz het vir sy pa gejok en gesê hy studeer nog nadat hy reeds sy studies laat vaar het. Hy het intussen vuurwapen-, skopboks- en karatelesse geneem en gedurig geoefen. Sy pa het agtergekom iets is nie pluis nie.

      Hulle was ’n uitgebreide gesin. Riaz se vrou en suster was tuis ten tyde van die moord op sy ouers. Aanvanklik het Riaz verskillende weergawes aangevoer van wat gebeur het. Eers het Afrikaanssprekende mans met klapmusse hulle aangeval en die kluis oopgebreek. Daar was Krugerrande in die kluis en op die betrokke dag het Riaz se oom nog munte in die kluis gebêre.

      In die Moslem-geloof is dit ’n skande en vernedering dat sy pa ’n buite-egtelike verhouding gehad het en hy moes dit wreek. ’n Ander weergawe was dat sy pa sy ma geskiet het en Riaz het toe sy pa uit self­verdedig­ing geskiet. In nóg ’n weergawe het sy ma sy pa geskiet, en toe haarself.

      Riaz is skuldig bevind en gevangenisstraf opgelê. Daar was geen versagtende omstandighede nie, want hy het nie berou getoon nie. Die regter het in sy uitspraak bevind sy pa het vir 20 minute geroggel, maar Riaz het niks gedoen om hom te help of hulp te ontbied nie.

      Miskien is daar ooreenkomste met die Don Steenkamp-geval van Griekwastad, wat sy ouers en suster doodgeskiet het. Steenkamp het sy suster ook verkrag.

      Daar was getuienis dat sy lollery met sy suster aan die lig sou kom, dat hy nie meer wou skoolgaan nie en eerder wou boer. In die hof is aangevoer dat Steenkamp eers buite rondgeloop het terwyl hy daaroor gedink het, en is toe die huis binne om die vuurwapens uit die kluis te gaan haal.

      Moontlik is die seuns in bogenoemde gevalle alles toegelaat, maar later is die krane toegedraai.

      Ouers wat moor

      Wanneer ouers so ver gaan as om hul kinders vermoor, is dit vir mense ondenkbaar.

      Alles het dan so normaal voorgekom. Die pa het met duiwe geboer, hy was vriendelik en was altyd by die straatbraai. Hy het gereeld kerk toe gegaan en was ook ’n lid van die buurtwag. Niemand het ooit gedink hy sal ’n vlieg skade aandoen nie, sê prof. Christiaan Bezuidenhout.

      Maar toe verloor die man sy werk. Sy finansiële beleggings verloor hul waarde. Hy dobbel alles wat oor is uit. Hy raak desperaat.

      Die betrokke persoon se denke verander van deduktief na induktief, van die breë perspektief na die spesifieke. Daar is nie meer hoop nie. Hy is lief vir sy vrou en kinders, maar glo dit sal beter wees as almal saam na die hiernamaals gaan. Dit is ’n beter plek vir almal. Hy rasionaliseer dit en maak die ondenkbare daad van gesinsmoord “sagter” en regverdigbaar. Hy pleeg dan ’n sogenaamde uitgebreide selfdood, want sy vrou en kinders is deel van hom, sy besittings.

      In die meeste gevalle weet sy gesin nie wat hy beplan of wat in sy kop aangaan nie. Hulle het geen inset of keuse nie.

      In nog ’n soort gesinsmoord wat bekend staan as moord-selfdood, of ekspressiewe gesinsmoord, stap die pa by die huis in en vind sy vrou met die buurman in die bed. Hy reageer impulsief en tree oombliklik op. Hy loop na die kombuis en kry die broodmes en steek hulle herhaaldelik met die mes.

      In dié ekspressiewe moord is die man só blind van woede dat hy deur rooi lense na alles om hom kyk. Hy maak almal voor hom dood – sy vrou, die buurman, dié se vrou en haar ouma en die kinders. Hy gaan van plek tot plek om almal dood te maak. Hy is so kwaad dat hy nie kan afkoel nie. Hy probeer homself ook doodmaak.

      As hy self oorleef en hof toe gaan, kan hy nie onthou wat gebeur het nie.

      “Ek kan nie onthou nie, toe ek weer sien, is ek rooi van die bloed,” sal die oortreder aanvoer. Hy sal dan in die verhoor moet bewys hy het onmiddellik en impulsief opgetree, sonder beplanning en sonder opset. As hy egter omgedraai het en kombuis of motorhuis toe geloop het om ’n wapen te gaan haal, en nie onmiddellik sy pistool uitgepluk en geskiet het nie, kan die hof redeneer hy het tyd gehad om af te koel en te dink wat hy doen.

      Dit is die sogenaamde afkoelperiode wat in die Suid-Afrikaanse regstelsel beskryf word en dikwels op opset dui. Die tydsverloop tussen die emosionele insident (toe hy sy vrou en buurman in die bed kry) en die moorddaad is hier van belang.

      Ouerskap