“Hoe weet ek of jy jou gaan gedra?” vra hy kwaai.
“Jy weet nie,” sê sy stout en kry goedige laggies van haar aanstaande skoonouers. Dat Karel en Jacomien Fouché klaar ’n baie sagte plekkie vir haar in hul hart het, is duidelik.
“Ek sal haar oppas,” sê Danien glimlaggend. “En ons sal mooi ry.”
“Ja, julle mag maar my motor leen,” gooi Karel Fouché oplaas sy stuiwer in, en almal lag.
Maar toe hulle bo in Danien se kamer is, vra Anel reguit: “Gaan ons inkopies doen?”
“Onder andere,” sê Danien duister.
“Goed, ek help jou net omdat ek die weë van die liefde ook ken.”
“Dankie.” Sy glimlag. “Kom help my wonder watter rok om môre aan te trek.”
En toe die twee meisies knap ná ontbyt groet om te vertrek, lyk hulle al twee só fleurig dat Frans opnuut begin gis oor die wysheid daarvan dat hulle alleen gaan. Maar Jacomien paai haar koppige seun met ’n paar goed gekose woorde, en eindelik ry hulle weg met Danien aan die stuur.
“Ek moet sê,” begin Anel, “dat jy, in my ouma se idioom, soos ’n nuwe sikspens lyk. En dis nie net die blou rok nie. Daar’s ’n kyk in jou oë wat ek nie ken nie.”
“Hm.” Danien glimlag net.
Heelpad Plett toe praat hulle min. En toe hulle indraai na die fraai, bedrywige kusdorp, sê Danien net: “Ek laai jou by die kunsgalery af. En ek dink ons moet afspreek dat ek jou vanmiddag so teen vieruur weer by die restaurant net langs die galery kry. Reg so?”
“Reg,” kry Anel grootoog uit, maar vra niks verder uit nie.
Maar toe Danien oplaas by die arkade instap op pad na die versteekte leerwinkeltjie, klop haar hart in haar keel. Ek moet my kop laat lees, dink sy vervaard. Dit pas nie by my styl om mans op geheime plekkies te ontmoet nie!
Nog voordat sy by die deur van die winkeltjie kan ingaan, tree Alfons van agter die repiesgordyn wat die ingang versper, te voorskyn en neem haar stugswygend aan die arm.
“Kom,” sê hy net en begin aanstap na waar die arkade voor ’n toe houtdeur uitmond. Hy maak dit oop en met ’n vinnige blik na agter, stoot hy haar voor hom uit. Daar staan ’n klompie motors in ’n vierkant geparkeer. Sy herken sy klein, elegante sportmotor tussen die ander. Dié slag is die swart kap opgeslaan.
Sy kry haar asem terug toe hy haar haastig inhelp en omdraf na die bestuurskant toe. Toe hy in is en die motor aanskakel, sê sy styf: “Dis glad nie my styl nie, hoor! Ek doen nie sulke …”
“Daar is glad nie nou van styl sprake nie, Danien,” val hy haar skerp in die rede, en trek seepglad weg soos iemand wat vinnig maar onopgemerk ’n plek wil verlaat.
Sy bly afgehaal doodstil toe hy met fronsende konsentrasie deur die vakansieverkeer bestuur. Sy merk dat hy af en toe in die truspieëltjie kyk en met verskerpte blik, asof hy iets agter hulle gewaar. Toe hulle op die grootpad is, kyk sy ook eenmaal om en ’n laggie trek aan sy mond.
“Toe maar, daar’s niks,” sê hy net asof dié woorde sy hele optrede verklaar. Hy draai by ’n bospaadjie in, volg ’n kronkelende laan en draai weer skerp links by ’n draadhek in. Dieper in die dennewoud hou hy stil, en toe hy die motor afskakel, draai hy hom stadig na haar.
Toe hul oë ontmoet, is daar emosie tussen hulle, só kragtig dat Danien stom sit onder die aanslag daarvan. Sy vergeet van die vreemd-gejaagde rit; van die stil, broeiende bos rondom hulle, en toe hy sy arms om haar skuif, gaan sy gewillig. Hy sê haar naam oor en oor voordat hul lippe ontmoet, en sy hou hom krampagtig vas.
Sy het geen gedagtes nie, is net bewus van ’n geweldige golf van gevoel waaraan sy haar onwillekeurig oorgee. Tog weet sy een ding: dis waarop sy gewag het. Weg is die vae verlange wat haar nog heel vakansie teister. Want ondanks sy vreemde geheimsinnigheid, ondanks alles wat haar logika vir haar uitspel, voel sy volkome geborge.
Oplaas sit hy terug en trek haar nader sodat haar kop onder sy ken lê. En hy sê: “Ons het al twee lankal gehoop … of eintlik geweet dat dit sal gebeur, nie waar nie?”
“Ja,” sê sy bedaard. “Ek wou dit net nie aan myself erken nie.”
Hy lag sag en vee met sy vingers oor haar wang.
“Ek ook nie. En ek was so dwaas om te dink dat ek hierheen kon kom en jou weerstaan.”
Sy lig haar kop om hom pertinent aan te kyk.
“Jy het dit ál die vorige vakansies heel goed reggekry.”
En hy lag nog breër.
“Ek het geweet dat jy daaroor gaan wonder … Ag, Danien, ons het mekaar nét vakansies gesien. En ons was albei nog te jonk vir ’n vaste verhouding en dit terwyl ons die meeste van die tyd honderde kilometers van mekaar af was …”
“Ag so,” val sy hom met ’n glimlag in die rede, “dan het jy alles fyn uitgewerk, nè? Wanneer jy verlief sou raak en so aan. Jy weet, daar is ’n gesegde wat lui: Hy wat net die koste bereken, sal nooit ’n ploeg in die grond steek nie.”
Hy vat haar gesig meteens dringend in sy hande vas.
“O nee,” sê hy half gesmoord, “jy moenie só dink nie! Ek het hoegenaamd nie die koste bereken nie. Veral nie nóú nie! Wat my tot op hierdie oomblik voortgedryf het, was skone verlange na jou. Ek het jou lief, Danien.” En toe hy haar lank en driftig soen, val al die twyfel weer weg.
Nog voordat sy weer ’n vraag kan opper, is dit hy wat dringend wil weet: “En jy? Het jy my ook lief?”
“Natuurlik,” sê sy amper paaiend, want dis of ’n soort angs in sy donker oë geklim het. “Ek het jou baie lief van baie lankal af.”
Hy vou haar teen hom toe en sy voel die sterk klop van sy hart onder haar wang. So gelukkig was ek nog nooit, dink sy. ’n Mens kan nie gelukkiger wees as dit nie.
“Tant Fienie het altyd gesê sy het jou toeka al vir my uitgekyk,” sê hy, en daar is ’n effens weemoedige klankie in sy stem. “En sy het my ook altyd gemaan om nie te haastig te wees met jou nie. Meisies met sulke bokkie-oë en fyn gebaartjies moet ’n man nie sommer vasgryp nie, het sy gesê. Jy moet draaie om haar loop sodat sy weet van jou, aanmekaar weet van jou totdat sy begin verlang dat jy nader moet kom.”
“Dié tant Fienie van jou …” Danien glimlag half ontroerd. “Sy was so ’n besondere mens. Ek wens ons kon haar nou vertel van ons.”
Hy verstil. Sy voel dit in sy arms wat skielik stywer span, hoor dit aan die intrek van sy asem.
“Ja …” sê hy aarselend. “Maar dit kan nie. Net so min as wat ons dit nou kan waag om enigiemand anders van ons twee te vertel.”
“Waarom nie?” vra sy meteens kil-nugter. En sy wikkel haar los uit sy greep. Toe sy opkyk in sy gesig, is daar weer die somber trek om sy mond, en die troebelheid in sy oë. “Alfons,” sê sy hard en dringend, “wat is dit? Is jy in die moeilikheid?”
Weer huiwer hy, maar toe skud hy sy kop. “Nee, ek gee jou my woord van eer dat ek nie in een of ander moeilikheid is nie. Net in ’n baie, baie moeilike situasie. En moet my in hemelsnaam nie vra wat dit is nie. Ek kan nie … mag jou nie sê nie.”
Daar sak ’n stilte tussen hulle, dik soos onweer. Haar blik gaan gekweld oor hom. Die sterk, vierkantige ken, sy reguit neus en hoë voorkop, en sy mond wat nou onversetlik gesluit is. Net die weerlose somberheid in sy oë weerspreek die strengheid van sy gelaat.
“Ek verstaan nie,” fluister sy half betraand, en byt op haar lip om die eensklaps brandende teleurstelling hok te slaan.
“Ek weet,” antwoord hy sober, en kyk haar vierkant aan. “Maar, Danien … vertrou my, asseblief. ’n Mens hoef nie alles te weet om volkome te vertrou nie. Ek het jou verskriklik