HELENE DE KOCK
Keur 3
Vuurvliegie
Sewende somer
Windspoor
Human & Rousseau
1
Die Desembervakansie in Die Vallei volg die ou patroon: Soggens stoot die sonlig oor die bergkamme en spoel oor die klompie strandhuise wat knus in die kom tussen berg en see lê. En stadig kom daar roeringe. Gordyne word weggeskuif, pap- en broodgeure meng met die seeluggie en koffiedrinkers verskyn op balkonne. Van hul flukse bure keer uitasem terug van ’n vroeë strandstappie en stamp hul sandvoete sommer in die straat skoon terwyl hulle mekaar voorkeer vir ’n oggendgeselsie.
Almal hier ken mekaar. Jare lank al kom hulle hier vakansie hou. Hul kinders ken mekaar ook en al die huise het name. Dis mooiklinkend en paslik, en selfs vreemdelinge wat Die Vallei besoek, voel amper tuis as hulle dit lees. Kannie Kla, Kom Weer, Lekkerbly, Vuurvliegie, Onder die Kalander en Seepampoentjie. Soms bly besoekers verwonderd en half verlangend voor so ’n huis staan. Geborgenheid spreek uit die tuine vol blou en pienk krismisrose wat meestal vlak by die stoepie groei. Veral die houthuise adem ’n soort beleënheid wat ’n mens laat drome droom.
Maar teen teedrinktyd vergader al wat leef in Die Vallei op die breë, eindelose strand. Meeue kom sit vlak by die sambrele, wag op ’n happie, en honde (wat, streng genome, daar verbode is) hap spelerig na die klein brandertjies of streep vervaard agter van die ouer manne aan op pad na die visplekke.
As die son reg bo die water staan, is dit nog net die vasbyters wat onder die sambrele bly om toebroodjies te eet en louwarm koffie uit flesse te drink. Die ander skuif weg na hul koel slaapkamers, versadig gebaljaar en wel wetende dat die berge en die see met sy hoë, wilde branders wat skuimend op die wit sand breek, môre nog daar sal wees. Want vanmiddag sal hulle na die strandmeer gaan om op kleinerige seilbootjies te vaar of hul vernuf op seilplanke teen dié van hul tienerseuns te beproef.
Teen die strook hoë duine wat strand en dorp skei, lê ’n klompie jongmense. Hulle is al van vroeg af hier, en dis nou bra tyd om die sambrele se hoek te verander om meer skadu te kry, want ’n paar roer al onrustig op hulle vrolik gestreepte handdoeke. Sonbrandolie help ook net tot op ’n punt en dan word ’n mens kaiing gebraai.
“Nou vergaan ek,” kla Danien Fouché en kyk kwaai om haar rond. “Julle manne vat al die skaduwee vir julle!”
Dis ’n óú klagte en niemand steur hom juis aan haar nie.
“Ek loop sommer,” dreig sy.
Hier en daar lig daar ’n lui ooglid.
“Nou toe nou,” sug Paul Hough en kom stadig op sy elmboë orent. Hy bekyk haar met sóveel ooglopende genoegdoening dat sy vererg opstaan en haar handdoek uitskud. Nie dat sy nie sy kykery gewoond is nie, maar nou is dit te warm vir enigiets wat ’n erkentlike blos verdien.
Haar broer, Frans, lig sy kop en kyk haar onbewoë aan.
“Aangesien jy in elk geval gaan loop, bring sommer vir ons klomp iets saam om te drink, jong. Ek’s nou te lui om huis toe te loop. En sê sommer vir Ma ons sal teen skemer eers tuis wees. Ons gaan netnou Klippiesbaai toe loop en dan gaan ons later ’n bietjie rivierop roei.”
Danien hink op twee gedagtes. Sy kan haar nou vir hom vererg dat hy so lekkerlyf is, maar aan die ander kant is dit nie ’n slegte idee nie: om hier op die strand ’n ligte ietsie te eet en te drink en dan ál met die rotse langs die paadjie tot by Klippiesbaai te volg. Dis ongelooflik mooi daar en sy wil juis ’n klompie klippies optel. Dit skep so ’n mooi effek saam met potplante.
“Goed,” sê sy opeens inskiklik. “Ek sal gaan kos haal ook.”
“Moet ek saamkom?” vra Anel traag. Sy is Frans se verloofde en loer net skrams van onder haar groot strooihoed na Danien, duidelik niks lus om nou in die warm son te loop kos haal nie.
“Nee toe maar, wat,” sê Danien en glimlag vir haar. “Jy en Frans het gisteraand so laat van Plettenbergbaai af teruggekom dat jy seker nie die krag het nie.”
Anel lag net lui, ook gewoond aan Danien se geskoor. Frans het al ingedut en hoor nie eens nie.
“Ek sal saam met jou kom,” sê Paul Hough en staan op.
Dis op die punt van Danien se tong om sy aanbod te bedank, maar sy het nie die hart nie. Paul is bepaald die gaafste man wat sy ken. Vroeër was hy die gaafste seun, maar die afgelope paar vakansies het sy besef dat sy die kwalifikasie sal moet verander. Paul het ’n man geword wat koppe laat draai. Lank en skraal gebou, maar met ’n direkte kyk in sy blou oë en ’n glimlag wat harte wen.
“Nou kom,” sê sy luiters, en hy val langs haar in.
Hulle loop met een van die smal oopgetrapte paadjies oor die duin tot in die eerste straat en stap ’n ruk in stilte.
Toe raak hy liggies aan haar hand en vra: “Jy het nog niks gesê van jou voorgenome skoolhouery nie, Danien. Sien jy uit daarna?”
“Met gemengde gevoelens, jong. ’n Mens is tog traag om van die kampus afskeid te neem, nè?”
“O ja,” gee hy toe. “Dit het my ’n hele ruk gekos om te besef dat pasiënte nie so vol kwinkslae soos studente is nie!”
Sy lag lekker. Paul is ’n dokter wat die afgelope jaar saam met ’n paar van sy studentemaats in ’n groot praktyk in Kaapstad werk en sy weet dat dit nog maar hotagter met die klompie gaan.
Dit stem haar eensklaps mismoedig. Ons het almal nog soveel te leer, dink sy. Wanneer gaan ’n mens eendag, eendag alles weet? wonder sy. En sal dit ooit goed wees om alles te weet? Dis sulke snaakse vrae wat haar deesdae bang maak vir die toekoms. Dit en die onbekendheid van die jaar wat kom … Sal sy ooit gelukkig wees by die groot skool in Kaapstad?
“Ek is bly jy kom Kaap toe,” sê Paul meteens asof hy haar gedagtes kon volg. En toe sy verbaas opkyk, sien sy iets in sy wakker blik wat haar skigtig maak, sodat sy vervaard wegkyk.
Sy ken hom só goed. Net so goed soos al die ander daar op die strand. Sedert hul kleintyd hou hul gesinne saam hier vakansie. Elke April, Julie en Desember. Vanuit die uithoeke van die land trek hulle vakansies op om ’n groot familie hier in Die Vallei te vorm, en dan val die verhoudings in bekende voeë asof hulle nooit weg was van mekaar nie.
“Danien?”
Hy hou haar aan die arm terug en trek haar onder die skadu van ’n denneboom in. Sy oë gaan soekend oor haar sodat sy ’n blos voel kom. Dit is anders dié vakansie, flits dit deur haar kop. Dis nie net ’n gevoel nie. Dinge is aan die verander.
“Wat?” vra sy byna onhoorbaar.
“Frans sê my daar is niemand in jou lewe nie. Ek bedoel … nie ’n spesiale iemand nie …”
“Nee,” sê sy en gooi haar digte bos rooibruin hare terug oor haar skouers. “Nie juis nie …”
“Wat beteken dit?” wil hy direk weet.
Sy lig ’n skouer. “Ag wat, Paul, dit beteken net dat ek nie haastig is nie, en op die oomblik voel dit vir my asof ek wag en wag op iets. Wat, weet ek nie. Ek dink dis wat ’n faseverandering aan mens doen. Gister was ek ’n student en môre, oormôre moet ek voor ’n graadtwaalfklas staan en die Duits en Frans wat ek so naarstig mee geworstel het, moet glad van my tong af rol. Ek is bloot bang, dink ek.”
’n Stadige glimlag groei in sy oë en laat sy mondhoeke krul. Toe lig hy sy skraal, bruingebrande hand en raak aan haar wang.
“Toe maar,” sê hy sag, “ek sal daar wees as dit vir jou te erg word.”
Dis of die skielike emosie wat voelbaar tussen hulle is, vir haar te veel is. Sy draai haar weg en sê oor haar skouer: “Dit sal gaaf wees, hoor!”
Tuis by Meeue, een van die boserwe teenaan die voet van die berg, vind hulle haar ouers op die patio onder groot koeltebome. Karel Fouché skud net sy kop toe hy hoor hulle gaan op die strand eet en raak terstond weer verlore in sy lekker dik vakansieboek. Haar ma, Jacomien,