“Soos wat?” vra sy, en haar stem klink skerp bó die suising van die see.
Hy los haar stadig, sit terug teen die koud geworde duin. “Soos dat jy sal ophou om vir my lief te wees.”
“Ek sal nooit!” roep sy gedemp-driftig uit. “Nooit, hoor jy?” Met dié dat sy vooroor leun om hom aan te raak, verloor sy haar balans in die los sand van die skuinste en tuimel vooroor bo-op hom. Hy gryp haar vas en lag, en toe sy weer voel, rol hulle al twee met die duin af tot onder. Toe hulle tot stilstand kom, hou hy haar nog ’n oomblik hartstogtelik teen hom aan, toe trek hy haar orent en vee met sy hande haar hare en los sandkorrels uit haar gesig.
“Kom,” sê hy sag, “kom ons gaan loop in die vlak brandertjies.”
“Om af te koel?” spot sy.
“Beslis, ja,” antwoord hy amper bedees. “Jy gaan vreeslik gou na my kop toe.”
Hulle draf ligvoets oor die breë strand en sy sien dat die maan in die loop van hul gesprek teen die duin uit die see geklim het. Die water en die sand is koel en silwerig. Hand aan hand staan hulle ’n ruk met hul voete in die skuimerige soom van die see. Toe sê sy: “Vertel my, Alfons?”
“Ek kan werklik nie, my liefste.”
“Waarom nie? Vertrou jy my dan glad nie? Dink jy dat ek nie jou probleme saam met jou sal kan hanteer nie?”
“Dis nie dit nie. Maar soms is die lewe te gewigtig vir ’n mens. Dan moet jy stilbly en verduur en jou verpligting so goed moontlik nakom. En as dié verpligting jou absolute swye eis, dan moet jy dit gee. Al is dit ook hóé moeilik.”
Sy stem het streng geword, en hy het haar hand laat los.
Moenie, dink sy paniekerig, moenie van my af weggaan nie. En sy draai haar na hom, skuif haar arms om sy lyf en druk haar kop soos ’n kind teen hom aan. Sy voel hoe hy haar dadelik vashou, sy mond op haar hare druk en prewel: “Vertrou my in hemelsnaam net.”
“Goed,” sug sy swaar. “Goed dan.”
Die nag het ’n blinkblou glans gekry. Die maan sweef hoog bo die berg en ’n koel windjie waai ’n mistigheid van die kim af aan toe hulle eindelik stadigaan terugstap. Maar bo-op die duin hou hy haar terug.
“Danien, as ek dalk nie kans kry om jou te kom groet voordat ek weer teruggaan nie, moet jy net weet dat ek elke oomblik wat ek nie by jou is nie, aan jou sal dink.”
“Teruggaan?” fluister sy. “Wanneer dan?”
“Weet nie,” sê hy kortaf. “Dalk sommer gou. Nog voor Nuwejaar. Maar, my lief, ek het nie vergeet dat dit Kersfees is nie.” Hy klink opeens verleë en vroetel in sy broeksak om ’n klein pakkie, in silwer papier, uit te haal. “Dis joune. Ek wil hê jy moet dit dra om jou aan my te laat dink. Sal jy?”
Sy neem dit sprakeloos by hom, hou dit naby haar gesig om mooi te sien toe sy dit oopmaak. En haar asem dam in haar keel. Op haar hand lê daar ’n ragfyn kettinkie. Dit glim blink in die maanskyn. Byna soos silwer sandkorreltjies aan ’n spindraadjie. En daar is ook ’n dun silwerringetjie met ’n fraai krulpatroon wat dit antiek laat lyk. Hy vat dit uit haar palm en neem haar regterhand om dit aan haar vierde vinger te steek. Die kettinkie kry hy met ’n bietjie sukkel om haar nek vasgemaak.
“Nou’s jy myne,” sê hy tevrede. En toe eensklaps: “Wat het Paul vir jou gegee? As dit iets persoonliks is, moet jy dit teruggee.”
Sy lag. “Niks persoonliks nie. Net ’n silwerkraffie en ses kelkies vir wyn.”
“Hm …” sê hy nadenkend. “Jy kan dit as ons eerste trougeskenk beskou. En soen my nou.”
Sy doen dit met sóveel oorgawe dat hy behaaglik sug toe hulle weer aanstaltes maak om te loop. Maar dis tog of daar ’n beswaardheid aan hom kleef, want hy praat niks verder nie.
Net voordat sy wil indraai na hulle huis toe, sê hy weer: “Ek weet nie wanneer dinge sal regkom nie. Dis nie in my hande nie. En ek weet nie wanneer ek jou weer ná die vakansie sal kan kom sien in die Kaap nie. Sal jy moed hou en uithou?”
’n Rilling glip by haar ruggraat af toe sy antwoord: “Ek sal … Jy moet ook.” Maar net toe sy wil nagsê, onthou sy van die gordel wat sy vir hom gekoop het. “Wag onder die stoeppaal,” sê sy opgewonde, “ek gooi vir jou ’n presentjie af! Ek hoop jy hou daarvan!”
“Ek sal.” Hy glimlag en soen haar nag. Hy bly doodstil in die donkerte staan totdat haar kamerlig aangaan en sy op die balkon uitkom, toe vang hy die pakkie wat sy afgooi rats.
“Geseënde Kersfees,” fluister sy. “Dis al ná twaalf, weet jy?”
“Geseënde Kersfees, Danien,” fluister hy terug en blaas vir haar ’n soen.
“Sien jou môre,” sê sy eufories van geluk, en wag totdat sy gestalte weggesmelt het in die donkerte.
Maar toe sy saam met haar mense in die houtkerk sit, sien sy hom nêrens nie. Hy is nie by die vroeë diens nie, en toe sy saam met Frans en Anel ná die tweede diens daar verbystap op pad strand toe, sien sy hom ook nie. Hy was dus nie een keer in die kerk by hierdie diens wat so getrou deur Die Vallei se inwoners bygewoon word nie.
Dis feitlik ongehoord dat die óú ingesetenes daarvan wegbly, en ook Frans merk fronsend op: “Ek sien nie vir Alfons nie. En ek moet jou sê, Danien, ek probeer hom met moeite begryp.”
Toe weet Danien met beklemming dat ook Frans opgemerk het dat Alfons nog nie een maal in die kerk was dié vakansie nie. En vir ’n óú Valleier is dit vreemd.
5
Die eerste paar weke van die nuwe kwartaal vlieg om. Maar nie sonder dat Danien van elke uitmergelende sekonde weet nie. Dis nie dat die skoolhouery onaardig is nie. Maar net dat sy heeltyd in twee geskeur voel.
’n Deel van haar gaan verheug op in die spontane wisselwerking tussen haar en die kinders. Sy het ontdek dat sy dit geweldig geniet om met hulle te werk en om Frans en Duits vir hulle oop te maak.
’n Skugter graadtwaalf met ’n dik bril het dit sommer die eerste week al vir haar kom sê: “Juffrou maak dit vir ons lekker. Was u al in Frankryk en Duitsland?”
“Ja,” het sy huiwerig erken. “Ek was gelukkig genoeg om eenmaal saam met ’n studentetoer te kon gaan. Maar ’n mens hoef natuurlik nie oorsee te gaan om die wonder van ’n taal te ontdek nie, Pierre.”
“Nee, maar dit sal darem baie lekker wees om te gaan en self te verstaan wat die mense praat.”
“Dit is so, ja.” Die seun het tevrede by die klaskamer uitgestap. Op daardie oomblik het sy gewens dat sy die hele klas op ’n oorsese toer kon neem net om die plesier daarvan te hê om hulle dop te hou. Sy kan haar so goed voorstel hoe baie die kinders só iets sou geniet … En dié gedagte het in haar agterkop bly steek.
Maar die hele aanpassing in die losieshuis, die hope nasienwerk en voorbereiding van elke dag, eis sy tol, en sy het nie veel kans om oor opwindende vooruitsigte te peins nie. Wanneer sy nog ’n tydjie het om haar eie gedagtes te dink, maal dit om die afgelope vakansie in Die Vallei. En sodra sy daaraan toegee, betrek dit haar met ’n bedwelmende soetheid wat haar traag laat terugkeer na die werklikheid. Hierdie Desember het daar ’n droom waar geword; dit weet sy. Dalk bly dit net ’n herinnering; dit vrees sy.
Een Vrydagmiddag laterig vlug sy soos gewoonlik dié tyd van die dag na buite om in die ruim tuin van mevrou Breda se losieshuis te gaan sit. Mevrou Breda is ’n weduwee in haar laat sestigerjare wat nie kans sien om die huis waarin sy meer as veertig jaar lank gewoon het, te verruil vir ’n ouetehuis nie, en daarom verhuur sy stelle kamers aan twee of drie loseerders. Danien was gelukkig genoeg om so ’n stel kamers op die boonste verdieping te huur, omdat mevrou Breda ’n vriendin van ’n vriendin van haar ma ken.
Sy hou van die ou dame en ook van die twee ander loseerders. Hilda Gouws is ’n onderwyseres by