“Luister,” sê Paul toe sy besluiteloos in die voorste straat vassteek, “ek dink nie jy wil regtig nog ’n ent loop nie. Ek het ’n nuwe Franse CD van Mireille Matthieu gekoop. Miskien wil jy daarna luister?”
“Ek wil, ja.” Sy glimlag berouvol. Dis immers nie Paul se skuld dat sy voel soos wat sy voel nie.
Dit word tog ’n genoeglike aand. En sy kom nie agter dat Paul alles in sy vermoë doen om hom na háár gemoedstemming te skik nie. Hy dra tee aan, maan sy twee tienersussies tot stilte en laat Danien toe om swygend en versonke in haar eie gedagtes na die Franse sangeressie se meesleurende musiek te luister.
Dis al laat toe hy eindelik saam met haar terugstap huis toe, en hy hou haar sagkens op die skemerdonker stoep teë. Sy lig haar gesig woordeloos na hom en hy soen haar eers op haar voorkop en toe op haar mond. Sag en amper terloops asof daar ’n ou vertroudheid tussen hulle is, maar toe hy hom omdraai en wegstap die donkerte in, hoor sy hom fluit. En sy herken die melodie. Dis een van die Franse liedjies waarna hulle geluister het. Maintenant ou jamais. Nou of nooit …
Die huis is al stil. Haar ma-hulle moet al gaan slaap het. Frans en Anel ook, want dis donker in hul kamers. Seker gedaan geswem so in die maanlig, dink sy jaloers, en loop katvoet verby.
Maar sy is skaars in haar kamer, of daar kom ’n luide tikgeluid van die venster af. ’n Klippie, besef sy dadelik. Sou Paul weer teruggedraai het en nou wil hy liewer nie die voordeurklokkie lui nie? Sy maak die balkondeur oop en stap uit.
“Wat is dit?” roep sy fluisterend.
“Kom af hierheen. Ek wil met jou praat.”
Dis nie Paul nie. Onder op die maanwit grasperk staan Alfons.
“Kom nou!” sê hy weer, dié slag effens harder, sodat sy skielik bang is dat die ander sou kon hoor.
Ek sal nie gaan nie, dink sy paniekerig en sien voor haar geestesoog Fenella se heupies soos wat sy aanwikkel water toe.
“Wat’s dit?” vra sy koppig, en leun oor die reling om hom beter te kan sien.
“Is jy doof, Danien? Kom tog nou af!”
“Nee. Dis laat en ek gaan nou slaap.”
“Goed, dan kom ek boontoe.”
“Dapper woorde!”
“Wil jy wed?”
“Nee, ek wil gaan slaap. Buitendien, ek is ’n goeie fee; ek wed nie.”
Daarmee draai sy haar om en maak die deur na haar kamer ferm agter haar toe. Maar sy het skaars die beddeken afgehaal en wou dit net op die stoel langs die bed neersit, of die deur gaan sag oop en Alfons kom luiters binne. Skrik slaan haar reg op die maag sodat sy hom sprakeloos aankyk.
“Ek het met die stoeppaal opgeklouter,” sê hy gewoonweg, en gaan sit op die leunstoel by die venster. Hy strek sy lang bene voor hom uit en vou sy bruingebrande arms agter sy kop. Sy ooglede sak lui oor sy oë en hy beskou haar met ’n fyn glimlaggie. Dit bring haar tot haar sinne.
“Wat makeer jou?” vra sy kwaad. “Dis my slaapkamer dié.”
“Ek weet,” sê hy met spyt, sodat sy hom verbaas aanstaar. “En ek sou dit nie normaalweg vir ’n rendezvous gekies het nie, maar nou ja, jy wou nie afkom ondertoe nie.”
“Rendezvous?”
“Ja. Met my Goeie Fee, sien.”
“Loop soek vir jou ’n ander een om jou stoep te vee, Alfons. Ek is doodseker daar loop baie beskikbare en gewillige feetjies rond op soek na ’n geleentheid om goeie werkies te doen.”
Hy lag sag en staan op, kom tot by haar en neem die deken uit haar hande. Hy sit dit ewe netjies op die voetenent van haar bed neer en toe hy weer na haar kyk, is sy oë vol erns en kommer. Maar sy lig haar ken.
“Ek verstaan jou nie,” sê sy met ’n sug. “Maar jy moet nou loop …”
“Eintlik moet ek, ja, maar nou is dit ook so dat jou slaapkamer die perfekte plek is om met jou te gesels. Niemand sal ooit vermoed dat ek hier is nie.”
“Hoe bedoel jy nou?” vra sy, en voel hoe ’n bewing in haar bene begin en boontoe sprei, sodat sy haar hande styf voor haar vasklem. Sy wens hy wil tog nou loop. Behalwe die vrees dat haar ouers sal hoor hoe fluisterpraat sy met iemand, of dat Anel dalk nog sal kom kyk, kan sy hom nie langer hanteer nie. Want sy wil huil. Onbedaarlik en vir altyd huil omdat daar meteens weer ’n onbetwisbare, droewe erns tussen hulle is. Sy donker oë lyk swaar van ’n soort dowwe smart en hy frons kwaai asof hy trane wil keer.
“Wat is dit?” vra sy weer, en hierdie keer kyk hulle oop na mekaar; daar is geen voorgee tussen hulle nie. Dis asof hulle mekaar nog altyd só intiem geken het dat hulle hul gedagtes woordeloos vir mekaar kan aangee, wel wetende dat dit sonder kritiek ontvang en bewaar sal word.
“Danien,” sê hy baie sag, “ek weet nou dat ek dalk nie hierheen moes gekom het nie. Ek moes gebly het waar ek was tot alles verby is …”
“Tot wat verby is?” vorm haar lippe bang die woorde.
Maar hy skud sy kop ferm. “Nee, moet nooit vra nie. Hoor jy my, Danien?”
In sy dodelike erns het hy haar skouers pynlik vasgevat en sy voel die bewing van sy hande in haar eie liggaam afsak. Maar hy pluk hulle gou weer weg asof hy die gebaar berou. En sy staan morsdoodstil. Sy vra nie waarom sy nie moet vra nie. Want sy sien in sy oë ’n stugge, somber vrees, en dit keer haar meer om sy ontwil as haar eie.
“Luister,” sê hy radeloos voor haar stil gesig, “ek vermy jou nie omdat ek jou nie wil sien nie. Ek wil gekgraag met jou praat. En jou vashou. Maar, Danien, dis beter dat nie een van my ou vriende nóú te veel met my geassosieer word nie. Nie Paul nie en veral nie jy nie. Almal sal begryp dat ek soms met Frans kom gesels, want hy en ek het altyd oor alles geargumenteer. Maar miskien moet ek hom ook nie weer besoek nie. Ek wil selfs nie met julle op die strand praat nie.”
Vashou, dink sy, en die begin van ’n laggie roer om haar mond sodat hy haar vervaard aankyk. Hy wil my vashou. En sy is nie seker of sy enige ander woorde gehoor het nie.
“Ek verstaan jou nie,” sê sy rustig. “Maar dis alles reg, Alfons.”
Hy staan ’n oomblik stom met sy hande op sy heupe, skud toe sy kop heftig.
“Nee, dis alles verkeerd, glo my! Maar dit kan nou werklik nie anders nie. Sê my net, is daar iets tussen jou en Paul?”
“Het jy ons afgeloer?” vra sy, en loer van onder haar wimpers na hom, sien met tevredenheid die ergerlikheid om sy mond.
“Ek het natuurlik gesien hoe hy jou probeer soen het,” sê hy styf.
“Wel,” sê sy met ’n breë glimlag, “dan kan jy mos jou eie afleidings maak. Jy as regsgeleerde moet al gekonfyt wees daarin. En jy was nogal ooggetuie ook …”
“Asseblief, Danien!” sê hy skaars hoorbaar, en sy oë smeek openlik dat sy dié speletjie moet staak. Tussen hulle twee is dit oorbodig, weet sy eensklaps helder.
Sy raak baie lig aan sy skouer.
“Daar’s niks tussen my en Paul nie, Alfons. Niks nie.”
Hy staan dit fronsend en oordink.
“Moenie dat hy jou weer soen nie,” sê hy kortweg. “Ek hou nie daarvan nie.”
Daarmee draai hy hom om en loop terug balkon toe. “Nag,” fluister hy net voordat die donker hom insluk en sy sy sagte skuifelgeluide hoor, soos wat hy weer met die stoeppaal afgly ondertoe. Tóé eers loop sy op die balkon uit om turend die nag in te kyk. Maar sy hoor en sien niks. Net toe sy wil terugdraai, merk sy die vuurvliegiespel skuins onder in die struike. Af en aan, af en aan. Hier, daar, hier, daar …
Dis soos hy, dink sy