Dalk is dit omdat hy sien hoe baie Paul Hough hier kom, en hoe besitlik hy sorg dat sy net langs hom sit, langs hom stap en met hom praat. Dat daar ’n soort angstigheid in Paul se houding ingesluip het, kan ’n mens nie miskyk nie. Paul is ’n aansienlike man, maar Alfons is ’n man wat selfs die ouer vroue hul jare laat wegwens. Beskeie, maar tog met ’n skoon, oop selfvertroue, maak sy sjarme en treffende voorkoms skoonskip onder Die Vallei se vroueharte. Selfs die mans hou van hom en sorg dat hulle net liggies spot met hul vroumense omdat hulle so op loop gaan oor dié seun.
Ook Karel benader sy dogter met die nodige takt, só dink hy.
“Luister, Danientjie, is jy nou doodseker dat jy nie piekniek toe wil gaan nie?”
Sy kyk skuinsweg op en ’n laggie pluk aan haar mond.
“Is my wynmakerpa doodseker dat hy hierdie jaar die ou Shirazstokke gaan vervang deur Cabernet Sauvignon, hm?”
Karel hap na sy asem, staar verstom na haar.
“Ek weet nog nie, maar wat het dit met …”
“Wel, ek weet ook nog nie, Pa!” val sy hom glimlaggend in die rede.
“Kom tog!” por Jacomien haar man aan en hy wil-wil nog met sy koppige dogter argumenteer, toe trek Jacomien hom al aan die arm die huis uit. En toe hulle buite in die straat is, waar daar al klompies-klompies mense aanstap strand toe, sê sy: “Los haar uit, Karel, my man! Sy weet self nog nie wat in haar binneste aangaan nie, maar laat ek jou vertel, sy is doodverlief op Alfons. Was nog altyd …”
“Wel,” sê Karel prosaïes, “hy is ’n doodgawe kêrel. Ek het niks teen hom nie!”
“Ek het ook nie. Maar só eenvoudig is dit nie. Alfons is ook ’n ietwat geheimsinnige soort mens en buitendien dink ek nie hy is juis gaande oor haar nie!”
Karel gaap haar aan en tas in sy baadjiesakke na sy pyp.
“Maar hoe kan hy dan nie?” begin hy vervaard, besef betyds dat hy ietwat belaglik klink, maar sien die res van sy woorde in sy vrou se sagte oë: Hoe kan ’n man nie verlief wees op ons Danien nie? Sy is dan so mooi … so dierbaar … so alles. Vir ons … “Kom,” sê hy, en dié slag is dit hy wat haar arm neem en styf ingehaak met haar strand toe loop, ’n vae beklemming in sy hart.
By die huis maak Danien haar oë toe en leun agteroor in die stoel. Die stilte vou krakerig om haar toe. Die dak kraak en die mure en deure en alles. ’n Houthuis leef, sê haar pa altyd met genoeë. Maar vanaand wens sy die huis wil stilbly. Doodstil. Want elke geluidjie maak ’n gedagte in haar los, en sy wil so graag net vrede hê. Maar verniet.
Sal ek gaan? wonder sy vir die soveelste maal. Sal ek my mooi aantrek en glimlaggend loop beaam hoe gaaf dit is dat Alfons terug is? Dit sal tog nie net ek wees wat so ingenome is nie. Daar is die mooie Fenella Bezuidenhout wat gedurig om hom draai as ons klomp soggens op die strand is, en die fraai tweeling van die Greunens wat hul eenderse pare blou oë nie van hom kan afhou nie. Waarom sal ek nou juis die moeite doen?
Maar sy kom ook later agter dat sy so gespanne soos ’n snaar bly sit en haar oë draai kort-kort in die rigting van die muurhorlosie wat haar ma juis van die plaas af hierheen gebring het omdat dit so hard tik en luid elke kwartier uitbeier soos ’n wafferse katedraalklok. Sy wip soos sy skrik toe die eerste bong-bong opklink en vlieg sommer op. Toe sy haar weer kom kry, spring sy die trappe drie-drie boontoe en sonder om ’n tweede gedagte aan die implikasie daarvan te gee, stort sy en trek ’n goudgeel sonrok aan wat haar hare soos gesponne koper laat lyk en lig soos ’n madeliefblaar aan haar sit.
Toe sy die voordeur agter haar toetrek, hang die son net agter die berg en die vakansiehuise lê gebaai in ’n rosige nagloed. Dit gaan nog lank lig wees en voordat dit heeltemal donker is, gaan almal nog die heerlike aand ten volle benut. Daarom, dink sy vroom, kan ek mos nou nie tuis sit nie.
Sy voeg haar by twee matriekseuns wat ook ’n draai op die strand gaan gooi. Sommerso vir die wis en die onwis, sê hulle laggend. ’n Mens weet nooit wie loop jy raak nie. Dalk is die oulike Blignautdogters daar, en wie weet wie nog?
Paul kom hulle tegemoet toe hulle die duinpaadjie oorsteek.
“Ek moes jou eerder kom haal het,” sê hy met spyt toe hy haar sien, “maar ek was gou Plettenbergbaai toe saam met my pa-hulle en ons het laat teruggekom. Ek het gedink jy is al op die strand.”
“Dis niks.” Sy vermy sy soekende oë. “Ek was nie baie lus om te kom nie, maar bly ek weg, dink Alfons dalk ek is snaaks.”
“Nee wat, hy sal nie so dink nie,” sê hy, en laat die twee seuns toe om vooruit te loop met die smal paadjie. Toe hulle buite sig is, hou hy haar aan die arm teë. “Ons twee hoef nie te gaan as jy nie regtig lus het nie. Kom ons gaan stap sommer net ’n ent, toe wat.”
Sy kyk op in sy besorgde, gawe oë en ’n toegeneentheid roer skigtig in haar. Dit is ook so dat Paul nie mooi weet hoe hy dit met haar het nie. Die afgelope tyd vermy sy hom, of probeer dit ten minste so onopsigtelik moontlik doen.
“Nou goed,” sy glimlag toeskietlik, “kom ons stap eers ’n entjie en dan gaan eet ons saam met die ander op die strand.”
“Reg,” antwoord hy ingenome, en neem haar hand styf in syne toe hulle omdraai in die smal paadjie en weer die dorp in stap. Ouder gewoonte loop hulle luilekker en verkyk hulle aan die huise, waai vir al die bekendes en hoef maar net hul oë te lig om die beboste berg wat Die Vallei omsluit, te sien. Alles hier is altyd opnuut mooi.
In ’n ruie laan wat reghoekig met die berg loop, hou hy haar in die lang skadu van ’n digte struik terug.
“Is dit vir jou ook so onbeskryflik mooi hier in Die Vallei?” vra hy sag.
“Dit is, ja. Dis of dit selfs mooier word namate ’n mens ouer word en besef hoe ongerep die plek eintlik nog is.”
“Hm … En ek word liewer vir die mense ook.”
’n Skielike skuheid laat haar stilbly sodat hy angstig sê: “Danien? … Hoor jy my?”
“Ek hoor, Paul. En dit is ook so. Mense aan wie ’n mens in die kwartaal nooit dink nie, is vakansies so na aan jou dat jy wil huil as jy dink jy moet weer groet.”
“Juis, maar dis nie van almal ewe waar nie. Ek het die laaste tyd spesifiek aan jou gedink. Selfs meer as gewoonlik.”
“O?” Haar asem raak vlak. Sy wens sy kan voorgee dat sy nie gehoor het wat hy sê nie. En sy is hoegenaamd nie voorbereid daarop toe hy sy hande op haar skouers sit en haar sagkens nader trek nie.
Sy raak slap van skrik toe sy volgende woorde gesmoord kom: “Danien, ek is soveel jare al verlief op jou. Maar jy is so mooi … Só mooi … ek het gedink daar sal duisende op jou spoor wees.”
“Jy oordryf mos nou,” sê sy met ’n kalm glimlag, maar haar oë is wydgesper.
Hy skud sy kop heftig. “Nee. Ek oordryf glad nie. Trouens, ek het al begin dink dat alle mans in jou onmiddellike omgewing blind moet wees. Later het ek begin dink dat dit jy is wat nie kan besluit wie die naaste aan jou is nie, want jy’t dan nooit iemand hierheen saamgebring nie. Byna al die ander meisies het in die een of ander stadium ’n studentevriend saamgebring.” Hy buig sy kop effens om haar speurend aan te kyk.
“Ek … nee, ek het nooit nie, dis waar. Want daar was nie juis iemand wat só spesiaal was nie …” stamel sy. En toe met ’n skielike drif: “Ek glo nie daaraan om ’n man aan ’n lyntjie te hou nie, Paul.”
Daar sak ’n stilte waarin sy vingers stywer om haar skouers klem. Toe sê hy: “Jy is reg. So hoort dit ook. Maar, Danien, ek wil jou bitter graag beter leer ken. Of liewer, anders leer ken. Mag ek?” Voordat sy ’n woord kan sê, kom sy lippe op hare neer en sy arms skuif om haar.
Ons ken