Hy gaan sit, kyk na die pragtige, sterk seun voor hom. Hy voel die pyn in sy hart ’n bietjie versag. ’n Seun met soveel potensiaal … Maar hulle het begin wegdryf van mekaar. Hulle moet meer dinge saamdoen. Dis noodsaaklik dat pa en seun tyd in mekaar se geselskap deurbring.
“Jou ma sê daar was vanaand ’n onaangenaamheid by die Stockenströms.”
“Ja, Pa.” Johan laat sy blik sak.
“Wat het gebeur?”
“Ek het daar gekom soos gewoonlik … en toe maak Elna se pa die deur oop en sê … hy dink ek moet maar liewer gaan.”
Daniël kyk ’n oomblik skuldig weg. “Ja. Het hy nog iets gesê?”
“Ek het bly staan, want ek kon nie verstaan wat hy bedoel nie. Toe sê hy die vriendskap tussen my en Elna dra nie hul goedkeuring weg nie. Dit moet vanaand nog beëindig word. Hy wil my nooit weer naby sy dogter sien nie. Toe … toe draai ek maar om en loop.” Die opstand en verwarring is duidelik leesbaar in sy oë. “Maar ek verstaan nie, Pa! Ek weet nie van iets wat ek verkeerd gedoen het nie. Ma …”
“Ja? Wat sê jou ma?”
“Ma sê … sy sê Pa het iets gedoen … iets in verband met die winkel. Sy wou nie eintlik sê wat dit is nie.”
Daniël se mondhoeke kry ’n wrang trekkie. Ja, pak maar die skuld op Pa se skouers. Hulle is breed. “Ek sal jou presies vertel wat gebeur het, my seun.”
Johan kyk sy pa verslae aan toe hy eindelik stilbly. “Maar hulle is ryk mense, Pa!”
“Johan, ek wil jou waarsku. Leer vanaand hierdie les: om ryk te wees en om voor te gee dat jy ryk is, lê soms wêrelde uitmekaar. Veral deesdae. Jy moet nie alles glo nie. Wees versigtig vir die baie blink. So dikwels is alles wat blink nie goud nie, maar skuld. Skuld se blink skilfer gou af, en dis ’n liederlike kleur wat onder daardie dun lagie blink versteek lê.” Daniël sug. “Daar is nog iets waarteen ek jou vanaand wil waarsku, Johan. En dit is valsheid. Moenie voorgee wat jy nie is nie, my seun. Een of ander tyd word jy uitgevang. Verstaan jy?”
“Ja, Pa.”
Hy staan op. “Nog net een puntjie en dan is die preek verby!” skerts hy liggies, maar raak onmiddellik weer ernstig. “Jy moet altyd só leef, my seun, dat jy met jou gewete kan saamleef.”
Hy is ’n oomblik stil, terwyl hy by homself dink: Só het ek probeer leef, maar nou word ek daarvan beskuldig dat ek ’n ander vrou aanhou … moet ek verduidelikings gee oor wanneer en hoekom ek oor Houtbrug gery het; hoe ’n duik aan my motor gekom het waarvan ek niks weet nie.
“En as jou gewete skoon is – maak nie saak waarvan jy beskuldig word nie – na die hel met hulle!” Hy stap uit, roep terug oor sy skouer: “Hier staan ’n tafel vol kos wat jy maar kan kom verorber, Johan. Nie ek of jou ma of ons gaste was vanaand juis honger nie. Kom geniet dit!”
Johan kyk eers verbaas na die tafel toe hy die eetkamer instap, dan vraend na sy ma. “Wat is verkeerd? Hoekom het julle nie geëet nie?”
“Soos jou pa gesê het … ons was nie eintlik honger nie. Skep vir jou in dat ek kan afdek.”
“Wat is verkeerd, Ma?”
“Ag, niks nie, my seun. Niks. Toe, skep vir jou in. Ek wil afdek.”
Hy staar sy ma vertwyfeld agterna terwyl sy stadig in die rigting van die kombuis stap. Grootmense is snaaks. Hulle dink mos kinders is blind en doof. Maar iets is beslis nie pluis nie. Iets is nie lekker tussen sy ma en pa nie. Dan trek hy sy skouers op. Ag, nou ja … dit sal seker weer regkom. Hy val met mening aan die versmaaide kos weg.
Dis tragies dat soveel hartseer in ’n huwelik veroorsaak word net omdat mense te trots is om eerste die minste te wees. Dis ook in dié nag die geval met die Pohl-huwelik. Reeds verwyderd en in ’n groot mate vervreemd van mekaar, gaan die laaste kans om hierdie breuk te heel onbenut verby.
Rina slaap alleen in die groot hoofslaapkamer, lê alleen in die groot dubbelbed wat vannag nie so sag soos gewoonlik voel nie. Soos sy rondrol en omdraai en elke nou en dan opstaan, sal ’n mens sweer dis ’n brandnetelveld waarin sy lê. Maar ’n mens kry so min huwelike waarin daardie hemelbed nie in ’n stadium onverwags vol dorings raak nie. Die Pohls is niks anders as ander mense nie. Ook by hulle groei die bed wat hulle nou al feitlik vyf en twintig jaar lank deel byna oornag vol duwweltjies. Dit is nie vir Rina aangenaam om alleen op daardie bed te lê nie. Maar trots weerhou haar daarvan om op te staan, na haar man te gaan en te sê sy is jammer. Dit is asof sy ’n soort pynlike genot uit haar selfkastyding put …
Ook vir Daniël voel sy weelderige meubels vannag net soos die jaar toet se knopperige klapperhaarmeubels. Skuif jy af van die een knop, beland jy net op ’n ander een. Op die ou end staan jy maar op en gaan dwaal buite rond. Jy kyk na die sterre en wonder of hierdie ou tranedal die moeite werd is. Jy sukkel en spartel jou lewe lank om êrens te kom – ter wille van jouself, jou vrou, jou kinders. Dan kom jy daar waar jy wou wees … en dis glad nie so watwonders nie, glad nie soos jy jou dit voorgestel het nie. En as jy eers dáár is, begin die groot gespartel … om daar te blý. Dis baie makliker terwyl jy nog klim. Om jou balans op die spits te behou en nie af te val nie, is ’n groot kuns.
Dan begin die groot ellende. Jy besef hoeveel groter jou verantwoordelikhede is. Jou geld is veel minder werd as vroeër. En die wedywering word al sterker. Op ’n dag besef jy met ’n skok dit is geen grap om vir ’n suksesvolle sakeman aangesien te word nie. Want die eise wat aan jou gestel word, is glad nie billik nie.
Die ouderdom haal jou in en jy het net nie meer dieselfde lewensdrif en vuur nie. Jou huwelik is omtrent ’n kwarteeu oud en reeds lankal van al die glans ontneem. Waar eers begrip was, is nou net agterdog. En ná al die jare van lief en leed waarin julle een bed gedeel het, moet jy op ’n nag in die tuin ronddwaal terwyl jou vrou alleen lê en slaap … Dis alles so belaglik, maar jy draai nie om, stap na jul kamer en vra om verskoning vir jou gedrag nie.
Jy wag totdat die skemerlig van ’n nuwe oggend verskyn. Dan eers sluip jy die huis binne – amper soos ’n moeë, sku hond. Jy moet gaan bad en skeer vir die dag wat voorlê
Jy drink net ’n koppie koffie, en sê kortaf by die kombuisdeur aan die kok dat jy nie ontbyt wil hê nie. By die voordeur word jy nie teruggeroep vir die gebruiklike ritueel van die piksoentjie nie. Die lang nag wat verby is, het tog duidelik gewys dat dit sinloos is – soos so baie ander dinge in die huwelik.
By die werk gekom, sluit jy die deure oop. Jy groet jou werknemers, stap na jou kantoor en sit en wag dat dit tien voor nege moet word. Dan sê jy in die verbygaan aan een van die klerke jy sal ’n paar minute lank uit wees en ry na die polisiekantoor …
Daniël voel selfbewus en ergerlik toe hy die aangewese vertrek binnestap. Die ongemak groei aan toe hy die verbasing in die oë van twee van die mans in die ry sien. Hy ken hulle van geen kant nie, maar dis duidelik dat hulle weet wie hy is.
Hy neem sy plek stilswyend en met ’n strak gesig in. Sy blik ontmoet ’n kortstondige oomblik dié van sersant Lukas. Die boodskap is duidelik: Daar is minstens een man in die ry wat die speurder graag sou wou wurg …
Asof in ’n droom, sien Daniël die vrou wat eers by die deur huiwer, dan stadig binnestap. Hy hou sy oë stip voor hom gerig op ’n klein vuil kolletjie teen die oorkantste muur. Hy is haastig. Wanneer kry sy klaar?
Onwillekeurig gly sy blik weg van die vuil kol teen die muur, ontmoet hare. Hy staar terug, kyk dan weer weg.
Toe die vrou opstaan, dink hy dis verby en ontspan effens.
Maar dit is nie. Sy stap nader … en dan word ’n hand skielik op sy linkerskouer geplaas.
3
Dis ’n steeds verslae en verslane man wat opkyk toe die seldeur oopgaan en die prokureur binnestap.
“Daniël …” Ook die prokureur se oë is vol verbystering.
Die