“Jy praat deur jou nek! O, laat staan dit tog maar. Hier hou ’n motor stil.”
Die res van die aand is ’n volslae mislukking. Die gasheer probeer nie eens ’n joviale front voorhou nie. Inteendeel. Sy gedrag grens kort-kort aan onbeskoftheid.
“Ek sien hier staan ’n nuwe motortjie voor die deur. Is dit Johan s’n?”
“Nee. Dis myne. Ek het ons groot motor ingeruil.”
“Die Mercedes? Verkoop? Hoekom?”
Hy kyk mevrou Gerber vas in die oë. “Omdat ek nie bo blink en onder stink wil wees nie.”
“Daniël!”
Haar man kyk haar koel aan. “Is daar iets verkeerd? Dis die waarheid. Vra Paul Gerber. Hy sal weet waarvan ek praat.”
’n Swaar stilswye sak neer. Dis algemeen bekend dat hierdie argitek deesdae allerhande eierdanse moet uitvoer om die uiterlike vertoon te handhaaf.
Daniël lig sy glasie, kyk oor die rand na die geskokte gesigte oorkant hom. “Sien, ek ry liewer in ’n goedkoop motor en geniet my lewe as om met ’n Mercedes te spog en van pap en derms te moet lewe. Ek …”
“Daniël! Dis genoeg! Jou taal!”
“Wat’s verkeerd met my taal? Dis goeie, verstaanbare Afrikaans. En ons gaste weet presies wat pap en derms is, vrou. Dis deesdae ’n algemene item op die spyskaart in die snobbuurte.”
’n Stoel val byna om soos een van die gaste opvlieg. “Kom, Emmie. Ons moet liewer huis toe gaan.”
“Paul … Emmie, nee, wag …” Rina swaai woedend na haar man wat steeds rustig aan sy glasie sit en teug. “Wat dink jy doen jy, Daniël Pohl? Jy vra hierdie mense onmiddellik om verskoning!”
“Dit sal die dag wees, my vrou. Ek vra nie verskoning vir die waarheid nie. En dit is mos die waarheid, of hoe?”
“Tot siens, Rina. Dankie vir … die aand.”
Nog twee stoele word agteruit geskuif. Dis ’n stywe stem wat sê: “Ek verseker jou, Daniël, ek en my vrou eet nie pap en derms nie.”
Dié woorde maak egter geen indruk nie. “Miskien nie, maar by jou eie huis drink jy goedkoop wyn en wanneer jy by jou vriende kom, is jy skielik net ’n whisky-drinker.”
“Daniël! Ek …” Rina se stem breek stomp af in haar keel. ’n Oomblik lank is almal te verbysterd om enigiets anders te kan doen as om na die gasheer te staar. Dan bars Rina histeries los: “Jy is dronk! Jy is van die duiwel besete!”
Hy spring so vinnig op dat die stoel omslaan. “Nee, ek is nie!” Hy gooi die glasie wyn met geweld stukkend teen die oorkantste muur. Sy oë flits woedend van die een na die ander. “Ek is net siek en sat van al hierdie leë vertoon, al die valsheid, hierdie blink … niks!”
Eers ’n hele ruk later kom hy weer van buite af in. Vanuit die skuilte onder die oorhangende takke van die boom in die hoek van die tuin het hy die laaste gaste sien vertrek. Toe die motors om die draai verdwyn het, het Rina omgedraai en die huis ingestap. Hy het die een sigaret ná die ander opgesteek, die rook met diep hale ingetrek …
Toe Daniël eindelik die moed bymekaarskraap om terug te draai en by die voordeur in te stap, kry hy haar by die groot eetkamertafel. Sy sit verwese en staar na die feesmaal voor haar wat nog onaangeraak is, behalwe die voorgereg wat halfpad geëet is. Sy het lankal opgehou met huil …
Hy huiwer skuldig in die ingang na die eetkamer. Hy het hom erger as swak gedra. Sy optrede was onvergeeflik.
“Rina …” Haar kop lig en hul oë ontmoet oor die afstand. “Ek is jammer.”
Sy kan hom net met ’n woordelose verwyt in die opgeswelde oë sit en aankyk.
Hy gee ’n tree nader, die smeking duidelik in sy stem. “Ek is jammer. Ek weet nie wat in my gevaar het nie.”
Haar stemtoon is koud en ontegemoetkomend. “Jy moet liewer uitkom met wat jou pla en so vreemd laat optree, Daniël. Ek is nie bereid om so voort te gaan nie.”
Hulpeloos kyk hy haar aan, nie in staat om ’n woord uit te kry nie. Hoe verduidelik hy dit alles aan haar? Hy voel deesdae so verward. Wat laat hom so optree? vra hy homself af. Is dit die ontdekking dat iets tussen hom en sy vrou verdwyn het, iets wat kwalik herwin kan word? Is dit omdat hy soggens in die spieël kan sien die goue jare skuif stadig maar seker in gister in; die fleur en die daarmee gepaardgaande stukrag en lewensdrif neem noodwendig ook af? Of dalk is dit die wete dat die stygende inflasiekoers en die swak ekonomiese toestand hom al hoe erger begin raak? Dan moet hy nog sukkel met ’n speurdertjie en sy vermetele vrae wat hom met ’n voorval wil verbind waaraan hy nie eens in sy wildste drome skuldig kan wees nie. En môreoggend moet hy nog die vernedering ondergaan om deel te hê aan ’n uitkenningsparade …
Hy wil haar so graag al hierdie dinge vertel; morele bystand van haar kry, maar … haar oë vertel hom dis reeds te laat. Hulle het te lank gelede al opgehou om werklik met mekaar te praat. Hulle is nou daar waar hulle dinge vir mekaar begin wegsteek …
Hy skud dus net sy kop, en sy spring op. Haar oë flits woedend.
“Ek wil weet wat aangaan, Daniël! Nóú! Wie is sy?”
Hy kyk haar verstom aan. “Sy? Watter sy?”
“Die ander vrou in jou lewe, natuurlik.”
“Ander …? Jy is van jou sinne beroof!”
Sy stap nader, haar gesig bleek en gespanne. “Nee, dis jy wat skielik waansinnig geword het, nie ek nie. Alles dui daarop dat daar net een rede kan wees vir hierdie vreemde optrede van jou. Jy het gesê jy het nie finansiële probleme nie. Dus …”
“Dus kan dit net ’n ander vrou wees.” Sy stem is vol opstand. Al sy goeie voornemens om die vrede te probeer herstel, is daarmee heen. “Dis jou klomp ledige vriendinne … Dis húlle wat al die gif in jou pomp. Het ek jou al ooit enige rede gegee om my van so iets te verdink?”
“Nee, maar so het talle ander mans ook nie, totdat hul vrouens moes uitvind wat regtig agter hul rûe aangaan. Jou hele optrede toon duidelik dat jy ons lewe saam só onaangenaam wil maak dat ek later om ’n egskeiding sal moet vra – of dadelik instem as jy om een vra. Jy hoef nie soveel moeite te doen nie, Daniël. Jy kan my maar net sê as ek moet loop. Ek sal gaan.” Haar oë pen syne vas. “Wel? Wil jy ’n egskeiding hê?”
“Rina …” Hy sluit ’n oomblik sy oë. “Daar was nog nooit egskeidingspraatjies tussen ons nie …”
“Wel, daar is nou. Die keuse is joune. Die antwoord is ewe eenvoudig: dis ja of nee.”
“’n Egskeiding is die laaste ding op aarde wat ek begeer. Miskien is dit eerder jy wat die vraag moet beantwoord. Dit klink asof jý die een is wat dit wil hê.”
“Nee. Dis nie ék wat die lewe vir ons saam ondraaglik maak nie.”
“My vrou …” Hy neem haar saggies aan die skouers. “Waar kom jy aan hierdie vergesogte gedagte van ’n ander vrou? Wanneer, om liefdeswil, moet ek tyd hê vir so iets? Ek kom elke middag reguit van die werk af huis toe en dan is ons altyd …”
“Wat van die talle vergaderings wat jy bywoon?”
“Maar dit is vergaderings! Jy weet tog in watter verenigings ek dien …”
“Laat staan maar, Daniël. Ons weet tog albei as ’n man wil rondloop, loop hy rond. Hy máák tyd daarvoor.”
“Maar ek wil nie rondloop nie en ek het dit nog nooit oorweeg nie! En as jy nie my woord daarvoor wil neem nie, glo dan maar wat jy wil. Ek kan niks daaraan doen nie. Maar ek moet sê, ná al die jare saam is jou vertroue in jou man darem prysenswaardig!”
Hy draai om en stap uit. Rina bly roerloos staan, ’n bitter trek om haar mondhoeke.