“Die kinders … Dit gaan ’n verskriklike skok wees.”
“Ja. Ons sal hulle seker dadelik moet vertel voordat hulle dit in die koerante lees of oor die nuus hoor. Vanaand nog.”
Sy oë gaan pleitend, hulpsoekend na haar. “Maar wat sê ’n mens? Hoe vertel jy jou kind so iets oor ’n telefoon? Hoe vertel jy jou kind so iets terwyl jy hom vas in die oë moet kyk?”
“Ons sal hulle móét laat weet. Miskien moet ons hulle maar liewer net vra om dadelik huis toe te kom.”
“Ja. Dalk is dit die beste. Sal jy die dogters bel?”
“Goed. Ja, ek sal. Maar wat van Johan? Jy sal hom self moet vertel wanneer hy netnou terugkom. O, Daniël, ek gló dit nie! Sulke dinge kan mos nie met óns gebeur nie!”
“Ek weet. Ek het dit al ’n honderd keer vir myself gesê: So iets kan mos nie met Daniël Pohl gebeur nie! Maar … dit het.”
’n Rukkie later praat Rina met haar oudste dogter oor die foon.
“Delia, Ma bel eintlik net … Jy moet asseblief dadelik huis toe kom.”
“Hoekom, Ma? Is iets verkeerd?”
Sy sluk swaar. “Ja, my kind. Dis baie dringend. Jy moet so gou moontlik kom.”
“Wat is verkeerd, Ma? Is iemand siek? Het iets gebeur?”
“Nee, my kind, ons … Niemand is siek nie, maar iets het gebeur. Kom tog net sodra jy kan, Delia! Vanaand nog!”
“Maar, Ma, ek kan onmoontlik nóú hier weg! Pieter-hulle is nog altyd in die boord en …”
“Kom alleen.”
“Pieter sal nooit toelaat dat ek alleen in die donker ry nie. Ma weet dit. Ek sal môre kyk of ek deur die dag ’n plan kan maak. Wat is dit dan, Ma? Hoekom kan Ma my nie oor die foon …?”
“Delia, jy kan nie môre eers kom nie. Luister na my! Ek en jou pa moet jou vanaand nog sien, vannag nog, vóór môreoggend. Môre sal dit te laat wees.”
“Te laat vir wat? Ma jok vir my. Is Pa siek, of … was iemand in ’n ongeluk? Wat het gebeur, Ma?”
“Ek kan jou nie nou vertel nie. Kom net huis toe, Delia? Kom asseblief net vanaand nog huis toe!”
Dan is Maryke aan die beurt.
“Ek skryf môre ’n belangrike toets, Ma. Ek kan nie nou huis toe kom nie. Ek is besig om my voor te berei. Wat gaan aan?”
“Vergeet maar van die toets, my kind. Jy sal dit nie môre skryf nie.”
“Maar ek móét! Dit tel vir die eindeksamen! Ma …”
“Maryke, jy moet vanaand nog huis toe kom! Dis ’n bevel!”
“Maar …”
“Geen maars nie!” Dan bars die snikke uit die oorvol boesem los. “Kom net huis toe, my kind! Kom huis toe!”
Skielik is Johan by. Hy staar verbaas na sy snikkende ma wat die telefoon neergooi en sy pa wat haar teen hom vastrek, sy gesig so wit soos ’n laken.
“Ek gaan eers jou ma versorg. Dan wil ek met jou praat, Johan. Jy gaan nie weer vanaand uit nie.”
“Maar wat is verkeerd? Het iets gebeur …?”
“Netnou. Ek sal netnou verduidelik. Laat ek eers jou ma in die bed help.”
Eers toe Daniël seker is dat die kalmeerpille hul werk begin doen, laat hy sy vrou, wat met stywe oë voor haar uitstaar, in die bed agter. Hy stap na sy seun se kamer, druk die deur agter hom toe. Met sy seun se vraende blik op hom gerig, bid hy instinktief: Here, gee my die regte woorde. Ek weet nie hóé ek dit aan hom moet vertel nie.
“Daardie duik aan die Mercedes waaroor ek vroeër vanmiddag met jou gepraat het … Ek weet jy het niks daarmee te doen nie, my seun. Ek glo jou. Maar daardie duik het my in groot moeilikheid laat beland …” Hy aarsel, maar móét dan voortgaan en met die wrange feite vorendag kom.
Aan die einde van sy relaas lê Daniël sy hand smekend op sy seun se skouer. “Johan, laat dit wat nou met my gebeur het, ook vir jou ’n les wees. ’n Mens dink mos altyd dis dinge wat met ánder mense gebeur. Maar dit kan ook met jóú gebeur. Dis wat ek bedoel het toe ek vir jou gesê het ’n mens moet só lewe dat jou gewete skoon is. Dis ’n bitter swaar ding wat my getref het, maar ek glo ek sal daaroor kom en dit oorleef, want ek wéét my gewete is skoon. Onthou dit. Pa se gewete is skoon.”
Dis die identiese woorde wat hy later die aand gebruik toe sy twee dogters, sy skoonseun en Jan Reynders, Maryke se vriend, hom verslae en sprakeloos sit en aankyk.
“Wat ek vroeër vanaand aan Johan gesê het, sê ek ook aan julle. Ek hoef julle seker nie van my onskuld te oortuig nie. Volgens die advokaat is daar getuienis teen my, maar een ding weet ek: my gewete is skoon.”
Later is die mans ’n oomblik alleen. Delia en Maryke is by hul ma in die kamer. Daniël benut die geleentheid om hulle die verdere verdoemende getuienis teen hom te vertel. Die ander twee trek hul asem geskok in.
“Maar hoe kan sy sê dis Pa as dit nie Pa was nie? Wat kan dit haar baat om ’n onskuldige man aan te wys? Die moordenaar van haar kind bly dan juis skotvry. Besef sy dit nie?” vra ’n diep bekommerde Pieter Schellink. Hy wil liewer nie dink aan wat hierdie saak vir hulle almal inhou nie. Wat gaan sy ouers hiervan sê?
“Daar is so baie dinge in hierdie saak wat my dronkslaan, Pieter. Ek kan jou nie sê hoekom sy my drie keer ná mekaar as die skuldige aangewys het nie, want ek weet voor my siel ek was nie die man in daardie Mercedes nie. En tog … Sy was so oortuig van haar saak en het baie beslis en selfversekerd voorgekom. Dit het voorwaar gelyk asof daar by haar nie die geringste twyfel bestaan dat ék die skuldige man is nie. En daardie duik aan my motor … Nee, my verstand staan stil. Ek het besluit om hierdie besonderhede vir eers vir die ander, selfs vir Johan, weg te steek. Ek vertel julle maar alles sodat julle kan weet dinge lyk eintlik baie sleg.”
Pieter wil dit nie hardop sê nie, maar hy kan homself ook nie keer nie: “Wat is … wat is die moontlike vonnis vir so ’n geval?”
Daniël is eers stil. Liewe hemel, waarvan praat ons?
“Con Conradie sê enigiets van tien jaar tronkstraf tot lewenslank. Dit hang alles af …”
’n Ruk later kom die twee susters te voorskyn. “Sy slaap nou. Pa, ek sal bly as … Pieter kan vir my klere …”
“Nee, Delia. Dis nie nodig nie. Jou plek is by jou man en kind. Ek sal in die volgende dae dikwels tuis wees. Erlank is betroubaar. Hy sal die sake kan hanteer. Nee. Gaan terug saam met jou man.”
“Pappa, ek kan maar …”
“Nee, Maryke. Dankie, maar jy moet ook teruggaan.” Hy trek sy dogter teen hom vas, ’n uitdrukking van pyn op sy gesig. “Gaan skryf môre daardie toets, my kind. Dis vir jou toekoms. Laat ons so normaal moontlik voortgaan soos mense met ’n skoon gewete – want ons is nie skuldig nie. Julle hoef nie jul koppe in skaamte te laat sak of êrens te gaan wegkruip nie; watter bewyse daar ook al teen my gevind word, ek het dit nie gedoen nie.”
Dis makliker gesê as gedaan. Dit vind elke lid van die Pohl-gesin in die dae wat volg maar te deeglik uit.
Soos almal verwag het, is al wat koerant en nuusbulletin is die volgende dag vol van hierdie sappige, sensasionele storie.
Daniël Pohl is die man wat betrokke is by die Houtbrugsaak.
Wie