Ena Murray Keur 17. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624084938
Скачать книгу
jy gaan jouself siek maak! Nee, kom nou, probeer bedaar.” Carla se oë straal opregte jammerte uit. “My arme vriendin!”

      Rina skud haar kop, vee met die laken se punt oor haar oë. “Ek het vanoggend gedink ek het klaar gehuil … daar is nie meer trane in my liggaam oor nie. Maar hulle loop sommer vanself. ’n Mens wonder waar dit alles vandaan kom …”

      Haar bewende hand word gerusstellend toegevou. “Ek is so jammer, Rina. Vir julle almal. Ek wens ek kon help, iets vir julle doen.”

      “Daar is niks wat jy kan doen nie, Carla. Niemand kan ons help nie. Dis net iets wat … deurleef moet word, en ek weet nie hoe nie.” Eindelik kry sy dit reg om vas in haar vriendin se oë te kyk. “Kan ’n mens so iets werklik aanvaar? Sou jy kon?”

      Carla kyk weg, soek na woorde. “Ek … weet nie.” Die oë keer terug, amper pleitend. “Maar alles sal weer regkom, Rina. Die werklike skuldige sal uitkom. Hy sál! Dis ondenkbaar dat Daniël vir ’n ander se daad moet boet. Dit sal nie gebeur nie!”

      “En as dit sy eie daad is?”

      Stilte. “Rina … jy kan tog nie jou eie man verdink nie! Jy moenie dat die duiwel jou allerhande dinge wysmaak nie. Dis …”

      “Die duiwel het my niks wys te maak nie, Carla. Sy het hom herken … uitgewys op ’n uitkenningsparade.” Sy laat sak haar oë voor die geskokte blik. “Ja. Dis die waarheid.”

      “Dit … Rina, dit kán nie waar wees nie!”

      “Dit is, my liewe vriendin. My man hét ’n vrou op straat gemolesteer en dit wás hy wat haar kind doodgery het omdat sy geweier het om hom sy sin te gee. Dis kort en klaar soos sake staan.” Sy kyk verbitterd op. “Dit help nie om te lieg nie … soos Emily ook gesê het.”

      “Emily?”

      “Ja. My gewese kok.”

      Maryke se oë het al opgehou met brand en al die skottelgoed is weggepak toe Carla Malan haar in die kombuis gaan soek.

      “Kind, jou ma vra of ons nie ’n bietjie tee kan kry nie, asseblief.”

      “Natuurlik, tannie. Ek bring nou.”

      “Maryke …”

      “Ja, tannie?”

      “Jou ma … sy is baie ontsteld.”

      “Ja, ek weet.”

      “Dink jy nie sy moet eers ’n rukkie wegkom nie?”

      Maryke knik. “Dit sal dalk die beste wees, maar waarheen? En sy is nie in ’n toestand om nou alleen te wees nie.”

      “Nee, natuurlik nie. Kan sy nie vir eers ’n rukkie na Delia toe gaan nie?”

      “Delia …?” ’n Wrang trek speel om die jong mond. “Nee, Delia is buite die kwessie.”

      “O, wel, wat dan van jou? Die universiteit sluit oor ’n week.”

      “Ek kan nie. Ek moet by my pa bly. Hy het my nou nodiger as Ma.”

      “Ek wonder, Maryke. Jou ma het jou miskien nodiger. Sy gaan deur ’n vreeslike sielestryd.”

      Die kortaf laggie het ’n effens histeriese klank in. Ja. Ma het haar gif klaar gesaai. Hierdie vrou glo nou vas Daniël Pohl is skuldig. “En wat van my pa? Dink tannie nie dit is erger vir hom nie? Want hy is onskuldig, tannie Carla, dit maak nie saak wat enigiemand sê nie. My pa ís onskuldig!”

      “Natuurlik, kind. Dalk is dit die beste as ek haar maar ’n rukkie by my laat kuier. Dink jy jou pa sal omgee?”

      ’n Bitterheid wat nie by so ’n jong mens pas nie, skemer deur in die antwoord: “Nee, tannie. My pa sal nie omgee nie.”

      Die uiteinde van die saak is dat Rina Pohl met twee tasse langs haar in die gang staan, gereed om te vertrek. Ma en dogter se oë ontmoet. “Waar is Johan?”

      “In die motorhuis.”

      “Dan … gaan ek maar. Maryke, ek móét weggaan … net vir ’n rukkie. Ek moet al die dinge verwerk.”

      Die jong meisie knik net. Woorde is oorbodig.

      Vir die eerste keer vandat die skokgolf die Pohls getref het, versag Rina se oë effens. Haar stem is pleitend: “Moenie my kwalik neem dat ek weggaan nie, maar hier sal ek mal word! Ek moet eers ’n bietjie alleen wees.”

      “Ek verstaan, Ma.” Sy tel die een tas op en begin aanstap voordeur toe.

      Rina kom in die deur van die motorhuis tot stilstand. “Johan, ek gaan by tannie Carla-hulle kuier. Net vir ’n paar dae. Tot siens, my seun.”

      “Tot siens, Ma.”

      “Vat asseblief die tas by tannie Carla.”

      “Ja, Ma.”

      Die tasse word in die kattebak gelaai en die twee vroue klim in. Daar word nie ’n verdere woord gepraat nie. Die motor trek weg. Broer en suster staan stilswyend en toekyk.

      Toe hulle eindelik omdraai, vra Maryke sonder enige gevoel in haar stem: “Hoe ver is jy met die motorhuis?”

      “Amper klaar.”

      “Ek maak gou vir ons tee. Ek moet net eers vir Delia bel.”

      Maryke gaan die huis binne, huiwer ’n oomblik by die telefoon, en skakel dan die nommer. “Delia, ek wil jou net die telefoonnommer gee waar jy Ma die volgende paar dae in die hande kan kry. Sy kuier by tannie Carla-hulle.” Toe sy die gehoorbuis op die mikkie plaas, druk sy haar voorkop teen die koel muur.

      Dit is die begin van die einde …

      Toe die vreemde, stil Daniël Pohl dié middag sy huis binnestap en hoor dat sy vrou weg is, verraai sy oë en uitdrukkinglose gesig niks.

      “Gaan Pa haar nie huis toe bring nie?”

      “Nee.”

      Dit voel vir Maryke asof sy al hoe dieper in ’n bodemlose put sak. “Sy sal terugkom as Pa haar gaan haal.”

      “Dink jy so?”

      “Pa, daar is nie nou meer plek vir valse trots nie.”

      Vir die eerste keer die afgelope dae glimlag Daniël Pohl, maar dis ’n glimlag wat soos ’n mes deur sy dogter se hart sny.

      “My kind, jou pa het nie eens dít meer oor nie.”

      “Moenie so praat nie! Julle twee sal my gek maak! Dis ook Pa se skuld dat Ma weg is. Dis nie net sy wat koppig is nie. Pa wil ook nie verstaan nie!”

      Sy dogter se uitbarsting ruk hom. Maryke is nie iemand wat sommer haar selfbeheersing verloor nie. Die vertrekte gesiggie vertel hom dat sy dogter dit ook nie maklik het nie. Hulle is almal besig om te knak – tot sy kinders ook. Hy voel nie lus om met haar te redekawel nie. As hulle hom net alleen wil laat …

      “Wat wil ek nie verstaan nie, Maryke?”

      “Dat Ma ook maar net ’n mens is en dat haar gevoelens en optrede menslik is. Sy kry ook swaar, Pa. Sy is lief vir Pa! En as Pa haar liefhet, sal Pa haar gaan haal!”

      “Wat sal dit help om haar te gaan haal, Maryke? Wat sal ons daardeur wen?”

      “Julle sal mekáár hê!”

      “Die band tussen ons is lankal geskeur, my kind.”

      Sy word nog bleker as wat sy reeds is. “Wat bedoel Pa?”

      “Is dit nie vir jou vreemd dat jou ma van die eerste oomblik af geglo het ek is die skuldige nie?” Toe Maryke hom net geskok aankyk, vervolg hy: “Normaalweg sal ’n vrou nie maklik so iets van haar man glo nie – veral nie as hulle so lank getroud is en sy nog nie een enkele keer rede gehad het om te dink haar man loop rond nie.”

      Maryke moet instemmend knik. “Ja, dis waar, maar … dis ’n uitsonderlike geval. Pa moet dit tog self