“Omdat ek nie langer ’n bed deel met ’n man wat vrouens op straat molesteer en kinders vir die pret doodry nie.”
“Ma!”
Die oë kyk uitdagend vas in haar dogter se geskoktes. “Goed. Dis seker ’n bietjie kras. Hy het dit seker nie vir die pret gedoen nie, net uit frustrasie omdat ’n vrou vir hom nee gesê het.”
“Ma! Hou asseblief op!”
“Jy het daarmee begin. Verskoon my. Daar is nog ’n klomp goed wat …”
“Nee!” Hierdie keer spring sy voor haar ma in. “Hoe durf Ma sulke dinge kwytraak … en dit oor Pa!”
“My liewe kind, wag eers totdat jy al die feite van hierdie smerige saak ken, dan praat ons weer. Dis baie edel van jou om soveel vertroue in jou pa te stel, maar moet asseblief tog net nie dieselfde sentiment van my verwag nie.”
Maryke se gesig verstyf. Sy lyk skielik heelwat ouer as twintig. “Ek sou dink ’n man se vrou, veral as hy al feitlik ’n kwarteeu saam met haar leef, behoort dié een te wees wat die nodige vertroue in hom het.”
Die ouer vrou se lippe smaal. “Julle kinders met al jul wysheid! Omdat julle op universiteit is, het julle die wêreld se kennis in pag. Julle ken die lewe, weet presies wat reg en verkeerd is. Julle is volleerd, ook wat die lewe betref. Maar julle besef nie dat ’n mens die lesse van die lewe tot die dag van jou dood leer nie.” Die oë is bitter. Die stem ook. “Julle besef nie dat ’n mens feitlik vyf en twintig jaar lank met ’n mens kan saamlewe en hom nog nie ken nie. En op ’n dag ontdek jy ’n … faset van hom wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Soos wat ek vandag moes uitvind dat ek Daniël Pohl nog nooit geken het nie; dat hy ’n totale vreemdeling vir my is.”
“Soos hy seker vandag dieselfde van Ma moes uitvind. Kom sit, Ma. Asseblief. Kom sit hier op die bed by my en vertel my hoekom … hoekom is Ma vandag skielik ook vir my ’n vreemdeling? Ek ken nie hierdie mens voor my nie. Dis nie my ma hierdie nie, nie soos ek haar al twintig jaar ken nie. Ma …?”
Dan kom die bitter trane en harde woorde. Maryke luister bleek en woordeloos hoe haar ma die legkaart – waarna haar pa verwys het – stuk vir stuk inmekaar laat pas.
“Neem jy my nog kwalik dat ek na ’n ander kamer oortrek, dat ek nie kans sien …?”
“Nee. Maar nie om die rede wat Ma dink nie. Ek besef net dit sal ’n klug wees as Ma en Pa vanaand een bed moet deel. Want as ’n man en vrou saam op een bed slaap, beteken dit net een ding: hulle is ’n eenheid, en dit is Ma en Pa nie meer nie.”
“Dis nie my skuld nie, Maryke.”
“Nee, Ma. Dis nie Ma se skuld nie. Maar is dit Pa s’n?”
“Ek het jou nou net die hele storie vertel! Maar jy was nog altyd nader aan jou pa as aan my. Jy wíl dit nie glo nie!”
“Ek erken saam met Pa: Ma se legkaart pas goed inmekaar. Maar wat van die een stukkie wat nêrens inpas nie? Die legkaart kán nie reg wees nie.”
“Watter stukkie?”
“Pa se skoon gewete.”
“Ag, Maryke! Gló jy dit regtig nog ná …”
“Ek glo dit, want my pa het nog nooit vir my gelieg nie. Twintig jaar lank het hy my nog nooit teleurgestel nie. Ma het hom vyf jaar langer as ek geken as ’n man van sy eer. Hoekom glo Ma hom dan nie?”
“Maar die bewyse …”
“Ondanks bewyse. Ek wil nie weer klink soos ’n universiteitstudentjie wat dink sy is volleerd en alwetend nie, Mamma, maar geloof is net iets werd as jy ook ondanks alles kan glo. Ek wéét Pa het dit nie gedoen nie. Hy het dit nie gedoen nie, Ma!”
Rina staan op, skud haar kop. “Ek is dankbaar dat jy so voel, Maryke. Jou pa sal voorwaar iemand soos jy in die nabye toekoms nodig hê … iemand wat hom glo. Maar ek kan nie. Ek kán nie, Maryke! Moet dit asseblief nie van my verwag nie.”
Rina loop verwese by die deur uit, af met die gang. Maryke staar voor haar uit, staan dan op toe haar ma met ’n nuwe bondel klere inkom. Daar is niks meer tussen hulle te sê nie.
“Johan …”
Hy lig nie sy kop van die boek af op nie. “Ja?”
“Groet jy nie?”
“Hallo, sus.”
“Johan …” Sy stap nader, sit haar hand onder sy ken en dwing hom om na haar op te kyk. “Ag, Johan, jy glo mos nie dat Pa skuldig is nie, nè?”
“Nee. Ek kan nie glo hy het dit gedoen nie, maar …”
“Maar wat?”
“Dis … moeilik.”
“Moeilik om te glo Pa het dit nie gedoen nie?”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Dis moeilik vir ons almal … die lewe, bedoel ek. By die skool …” Sy knik. Sy verstaan. “Pa sê God is sy getuie dat sy gewete skoon is. Ek glo hom. Pa is nie ’n man wat sweer nie.”
“Ja.”
“Maar gaan hy loskom? Al die leidrade wys in Pa se rigting.”
“Ek weet. Hoe … by wie het jy dit gehoor?”
“Ma en Pa het vanmiddag baklei. Hulle het gedink ek speel tennis. Ek kon nie help nie. Ek het gehoor … gehoor hoe Ma alles opnoem.”
“Hoekom het jy nie gaan tennis speel nie?”
Hy skud sy kop. “Ek speel nie meer nie.”
“Johan!”
“Ek kan nie, Maryke! Jy het nie die vaagste benul … die atmosfeer, die kyke.”
“Maar jy is die skool se kampioen!”
“Nie meer nie. Roelf du Toit het my gister liederlik geklop. Ek kan my aandag by niks bepaal nie!”
Sy sug. Dit kan sy ook goed verstaan. “Wat het jou sportonnie gesê?”
“Niks. Maar ek kan nie anders voel oor die saak nie.”
Maryke draai om. “Ma is aan die oortrek na die vrykamer. Ek sal gaan kyk wat daar vir aandete te maak is.”
“Ek is nie honger nie. Asseblief, sus, ek kom nie tafel toe nie. Sê maar ek leer.”
Sy knik. “Goed, boetie.”
Maar op die ou end kom niemand by die etenstafel aansit nie. Vir die eerste keer vandat Maryke kan onthou, is nie een van die gesinslede aan tafel toe sy die koue vleis en slaaie opdra nie.
Later moet sy dit maar weer afdra. Ma het gesê sy is nie honger nie, sy gaan bad en slaap. Pa het van buite af ingekom en gesê hy het slaap meer nodig as kos. Hy is tot die dood toe moeg.
“Roep maar jou ma en Johan. Ek gaan lê.”
“Johan leer. Hy wil nie eet nie. En Ma het reeds gaan lê … in die vrykamer.”
Pa en dogter se oë ontmoet mekaar. Dan draai Daniël om.
“Nag, my kind.”
“Nag, Pa.”
Hy druk die slaapkamer se deur agter hom toe, skakel die lig aan en kyk lank na die groot, leë dubbelbed voor hom. Toe begin hy uittrek, gaan lê op sy kant, en skakel die lig af … en weet dat sy pad vorentoe ’n alleenpad gaan wees.
5
Maryke doen die volgende oggend haar bes om Emily, Mary en haar ma se plek vol te staan in die groot huishouding. Sy is dankbaar dat sy besig kan bly, hoewel sy gou agterkom dat sy nie al die spookgedagtes met handewerk kan besweer nie.