Die twee aspekte wat onweerlegbaar teen hom getuig, is die uitkenningsparade en die motor. Daardie silwergrys Mercedes met die onverklaarbare duik en die feit dat dit so skielik verkoop is – en dít op so ’n gerieflike tyd vir sy eienaar!
Con Conradie kon nog twyfelagtige punte rakende die uitkenningsparade in sy kliënt se guns uitwys. Die vrou het in haar getuienis gesê sy het die voorstel wat aan haar gedoen is, summier van die hand gewys. Daar was nie ’n lang woordewisseling nie. Sy kon die man dus nie lank in die gesig gekyk het nie. Kan sy regtig sweer dat die man in die beskuldigdebank werklik die skuldige is nadat sy hom feitlik net een enkele minuut in die motor gesien het?
“Ja! Ek sal sy gesig nooit vergeet nie.”
“Hoekom nie? Watter kenmerke is so uitstaande aan sy gesig?”
“Hy het my kind doodgery!”
“Maar eers daarna, ná die gesprek. Jy het gesê jy het nie weer na hom gekyk nie. Jy het begin wegstap nadat jy hom afgejak het en die volgende waarvan jy weet, is dat daar ’n slag was. Die waentjie is uit jou hande geruk en teen die brugmuur vasgepen. Toe het jy hom hoor wegjaag. Is dit nie so nie?”
“Ja.”
“Hoe kan jy dus sweer daardie man is die skuldige as jy skaars na hom gekyk het?”
Die swart oë het gegloei van haat. “Dit ís hy! Ek onthou hom! Die grys teen die slape …”
“Daar is honderde mans in die stad met grys teen die slape. Jy kan nie net op grond daarvan …”
“Dit is hy! Ek sweer dis hy!”
In sy pleidooi het advokaat Conradie weer probeer: “Wat werklik op die brug gebeur het, is dít: Die hoofgetuie in die saak het met haar baba in die stootwaentjie aangestap gekom oor Houtbrug. ’n Motor het eensklaps langs haar stilgehou. Sy het terloops opgekyk en toe geskok geluister na die voorstel wat aan haar gedoen is. Sy is ’n ordentlike vrou en was diep geskok dat so iets met haar kon gebeur. Sy het gesê dit was die eerste keer in haar lewe dat sy op straat voorgekeer is en dat so ’n voorstel aan haar gedoen is. Sy het die persoon summier afgejak met die woorde: ‘Gaan soek dit op ’n ander plek. Jy is by die verkeerde adres.’ Sy het diep ontsteld haar kop weggedraai en vinnig begin aanstap sonder om een keer om te kyk. Die volgende oomblik was daar ’n slag. Al wat die vrou kan onthou van wat gebeur het, is dat dit ’n silwergrys Mercedes-Benz was wat by haar stilgehou het. ’n Silwergrys Mercedes-Benz. En ’n man met grys teen die slape het met haar gepraat. Sy sê sy kan sweer die man se oë was blou, dieselfde blou as dié van die beskuldigde. Maar is dit ’n feit? Hoe goed onthou enigiemand die kleur van ’n ander persoon se oë as hulle net ’n paar woorde gepraat het en dan van mekaar wegdraai? En dan is hulle nog totale vreemdelinge vir mekaar. Hierdie getuie het tydens dié verhoor al vir die hoeveelste keer in my oë gekyk, maar toe ek haar gevra het om haar oë toe te maak en vinnig te sê wat die kleur van my oë is, kon sy dit nie doen nie. Hoekom sal sy dan die kleur van iemand na wie sy skaars gekyk het se oë so goed kan onthou dat sy kan sweer dis die beskuldigde s’n? In hierdie hofsaal sit hoeveel mans met grys teen die slape. Sy het ’n motor gesien, ’n man met grys teen die slape en blou oë … maar dit was nie die beskuldigde wat sy gesien het nie! Sy was in ’n toestand van skok en verontwaardiging. Haar emosionele toestand op daardie oomblik, en nadat haar kind doodgery is, maak van haar ’n onbetroubare getuie.”
Die duik aan die Mercedes en die skielike besluit om dit te verkoop kon hy nie so maklik weg- en regpraat nie.
Natuurlik weet almal, die regter inkluis, dat ’n mens se motor skrapies opdoen en dat jy nie altyd weet waar en wanneer dit gebeur het nie. Maar ’n pertinente duik aan die voorkant wat slegs die gevolg van ’n taamlike slag kon wees, sal enige motorryer onthou. Niemand anders het aan sy motor se stuurwiel geraak nie, behalwe hy self, het die beskuldigde onder eed getuig.
Hoe kan so ’n duik sommer vanself daar verskyn sonder dat die eienaar die vaagste benul het waar dit vandaan kom? Die advokaat vir die verdediging sal sekerlik saamstem dat dit ’n baie gerieflike tyd vir sy kliënt was om meteens oor sy finansiële vermoëns te besin, en nadat hy al amper twee dekades net met Mercedes-Benz-motors ry, ruil hy dit skielik in vir ’n goedkoper en meer ekonomiese motortjie wat beslis nie by sy status pas nie.
Soos bewys, het die beskuldigde in daardie stadium geen finansiële nood ondervind nie. Volgens die getuienis gelewer, het dit op die ingewing van die oomblik gebeur. Hy het die eienaar van die motorhawe gedurende die oggend gebel en nie eens oor die prys gekibbel nie. Hy het net beveel die motorhandelaar moet sommer dadelik die motor kom haal en ’n ander een vir hom bring. Dit wil voorkom asof die beskuldigde oorhaastig was om van sy silwergrys Mercedes-Benz met die duik ontslae te raak …
Niks is heilig in ’n hofsaal nie.
Besonderhede oor jou private lewe, selfs intieme besonderhede, word opgehaal, oopgevlek, en tot die been oopgesny. Daar is sy skielike rooklus nadat hy jare lank opgehou het met dié slegte gewoonte. ’n Mens gryp nie ná jare net op ’n dag weer na ’n sigaret as daar nie iets is wat jou hewig ontstel of kwel nie. En die verstrooidheid, wat selfs as senuweeagtigheid beskryf kan word, toe die sigarette gekoop is … Dit is alles tekens van ’n hewige ontsteltenis. Daar is die sekretaresse se getuienis dat haar werkgewer daardie dag erg bekommerd gelyk het. En, meer verdoemend nog, die vrou en vriende se verklarings dat die beskuldigde die afgelope tyd vreemd begin optree het. Die feit dat dit nie goed met sy huwelik gegaan het nie … dat sy vrou die huis verlaat het pas nadat die saak begin het. Ten spyte van die beskuldigde se onbesproke lewe en rekord, dui sy omstandighede tuis en veral die stand van sy huwelik daarop dat hy wel op ’n dag in staat sou kon wees om op ’n brug stil te hou en ’n onwelvoeglike voorstel aan ’n vrou te doen …
Soos taai, klewerige drade word die web met elke hofsitting al hoe stywer en digter om Daniël Pohl gespin. Hy het geen kans meer om los te kom nie. Almal besef dit. Ook die man in die beskuldigdebank … Maar hy kan dit nie glo nie – soos hy steeds nie heeltemal kan glo dat hy by só iets betrokke geraak het nie. Hy luister net met ’n halwe oor na wat om hom aangaan, terwyl hy hier binnekant sy eie vrae begin stel. En in dié private hofsitting sit niemand anders nie as sy Skepper in die beskuldigdebank.
Here, hoe het dit gebeur dat ek hierin beland het? Hoe kan U toelaat dat die ding so ver gaan? Here, U weet tog ek is onskuldig! U weet tog ek het niks met hierdie hele ding te doen nie! Soos sake nou staan, gaan ek boet vir iets wat ek nie gedoen het nie! Bestaan daar ooit so iets soos regverdigheid? Hoekom plaas U ’n onskuldige man in die beskuldigdebank? Gaan U werklik toelaat dat ek dalk tronk toe gaan vir ’n daad wat ek nie gepleeg het nie? Gaan ’n onskuldige man dalk lewenslank in die tronk sit? Wat bly oor van reg en geregtigheid?
Die advokaat en die staatsaanklaer kry antwoorde op hul vrae, antwoorde wat hulle self verskaf. Net die beskuldigde kry geen antwoorde op sý vrae nie … want hy kan nie aan die regte antwoorde dink nie en die Een vir wie hy vra, swyg.
Vir oulaas kry die beskuldigde ’n kans om iets te sê voordat die vonnis gevel word. Hy staan regop, kyk na die man wat vir hom vra of hy nog iets te sê het, sy blik dwaal na sy advokaat, dan na die bruin vrou, die regter … En Daniël Pohl skud sy kop.
Wat sal dit help om dit weer eens hardop te sê? Hy het dit al hoeveel kere gesê … en niemand glo hom nie.
Die regter se opsomming van die misdaad wat teen hom ingebring is, is ’n dowwe gedreun in die agtergrond van sy verstand. Op die voorgrond brand die vurige verwyt, skreeu sy eie stem stom ten hemele: Here! Is dit u finale antwoord?
“… vyftien jaar gevangenisstraf waarvan vyf jaar opgeskort word …”
Sy oë flikker verward. Dis nie waar nie! Dis nie wáár nie! Dis iemand anders se straf, die ware skuldige s’n … Sy oë flits na die openbare sitplekke, vind ’n paar swart oë tussen die starendes. Sy mond vorm die naam, ’n geluidlose hulpgeroep wat nie beantwoord kan word nie: James!
Hy sien die blink waas in die swart oë, die bewende hand wat daaroor gevee word. Dan draai die man sy rug, stap weg …
James!
’n