Die bedroefde meisie kan haar net stil aankyk voordat sy in die moederlike omhelsing toegevou word.
Dominee Reynders bel Daniël by die werk. Laasgenoemde eien die stem onmiddellik, maar hy hou syne so onpersoonlik moontlik.
“Hallo, dominee.” Hy weet waaroor dit gaan. Predikante lees immers ook koerant. En Maryke het op die koop toe ’n verhouding met sy seun. “Ek sal halfses tuis wees, dominee. U is baie welkom. Tot siens …”
Daniël wil eers sy vrou bel om haar te sê dat Chris Reynders om halfses daar sal wees, maar dan besluit hy daarteen. Rina sal in elk geval tuis wees. Sy is te bang … en te skaam om haar neus by die voordeur uit te steek.
’n Paar minute ná vyf sluit hy sy kantoordeur, min wetend dat nie een van sy werknemers veel uitgerig het nie. Self het hy die hele dag agter sy lessenaar en ’n toe kantoordeur deurgebring. Hoe hy die leë ure omgekry het, weet hy nie …
Terwyl hy op pad huis toe is, kry Rina ’n oproep van haar oudste dogter. Met ’n strak gesig luister sy na die snikkende stem.
“Ma, dis mos nie waar nie? Dit kan mos nie wees dat daardie vrou Pa uitgeken het nie?”
Al die bitter ure wat verby is, maak haar stem hard. “Ja. Dis waar, Delia.”
“Ma! Dis nie waar …”
“Dis waar, Delia. Sy het hom drie keer uitgeken. Jou pa het dit vir ons verswyg.”
“Waar … waar het Ma dit dan gehoor?”
Daar is ’n kortaf, bitter lag. “By Emily. Emily het my alles vertel. Sy ken die vrou … Rosy is glo haar naam.”
’n Lang en geskokte stilte hang tussen hulle. Dan verbreek Delia dit uiteindelik.
“Ma, Pieter wil nie hê … ek moet nou huis toe kom nie. Hy sê dis beter as ek eers daar wegbly. Verstaan Ma?”
Dit voel vir Rina asof haar dogter ’n mes in haar hart steek. “Ja, my kind, Pieter is reg. Bly maar liewer so ver weg as moontlik van hierdie … smerige besigheid.”
Delia sluit haar oë aan die ander kant. Weer dáárdie woord. “Ek is jammer, Ma.”
“Tot siens … my kind.”
Sy hoor die voetstappe agter haar, maar draai nie om nie.
Hy kom nader, maar voordat hy haar met die gebruiklike soen kan groet – wat hy vandag graag sou wou doen omdat hy haar so opreg jammer kry – beweeg sy vinnig weg.
“Delia het so pas gebel.”
“O? Wat sê sy?”
Sy vermy sy oë, druk ’n kussing om haar hande besig te hou. “O, niks.”
“Gaan dit … goed?”
“Ja, dit gaan goed.” Sy stap na die deur. “Verskoon my. Ek moet na die aandete gaan omsien.”
Hy frons. Iets is nie pluis nie. “Is Emily nie hier nie? Is sy êrens heen?”
“Nee. Sy is weg.”
“Weg?”
“Ja.” Sy swaai om na hom, haar oë kil en gevoelloos. “Sy het vanoggend haar geld gevra. Sy wil nie langer hier werk nie. Sy ken jou … daardie vrou. Mary het ook geloop.” Sy sluk hardop voordat sy vervolg: “Sy voel nie meer veilig hier nie.”
“Wat probeer jy sê?”
“Dis nie ék wat so sê nie … dis ander vrouens wat allerhande dinge te sê het.”
Hy draai van haar af weg, sluit sy oë. “Ek wil niks meer hoor nie.”
Rina staar na sy rug. “Nee. Dis nie jy wat dit hoor nie. Dis ek wat alles moet aanhoor.”
“My vrou, laat ons liewer nou stilbly …”
“Ja, dis goed so. Stilbly is ook ’n antwoord.”
“Wat de duiwel bedoel jy daarmee?” Hy swaai woedend om. “Vandat ek hier ingekom het, is daar iets wat jy vir my wil sê. Nou ja, sê dit en kry klaar daarmee! Hou op om met woorde te speel …”
’n Klop aan die voordeur laat hulle swyg. Daniël vee moeg oor sy gesig. “Dis dominee Reynders. Hy het gebel en gesê hulle wil ’n draai kom maak.”
Hy nooi die pastoriepaar binne. Toe Chris en Bets op die rusbank in die sitkamer gaan sit, kry hulle dit beswaarlik reg om die kommer in hul oë weg te steek. Hier is beslis groot probleme. En wie weet of daar enigsins ’n oplossing bestaan …
“Hoe gaan dit, Rina?”
“Soos jy in die koerante kan lees, Chris.” Die stem klink gevoelloos. Die ervare man word egter geensins om die bos gelei nie. “Hulle lieg darem ook nie altyd nie.”
“Ek glo nooit wat ek in die koerante lees nie,” sê hy.
’n Siddering trek deur Daniël Pohl se liggaam en hy wend hom na die ander vrou met ’n wrangheid in sy stem. “Wil julle nie iets drink nie, Bets?”
“Ja, ek sal vir ons gaan tee maak.” Rina staan op, maar Chris Reynders probeer haar keer.
“Ons kan later iets drink, dankie. Kom sit eers …”
Sy kyk oor haar skouer terug. “Dis vir Daniël Pohl wat jy moet preek, my liewe dominee Reynders. Nie vir my nie,” en Rina stap uit.
Daniël skud sy kop en trek sy skouers op in antwoord op die vraag in hul oë. “Ek weet nie. Sy het net skielik … só begin raak. Toe ek netnou by die huis kom, was sy in hierdie vreemde, aggressiewe bui. Ek kan nie dink dat dit net die bediendes se bedanking is wat haar so ontstel nie …”
“Die … bediendes?”
“Ja. Emily, ons kok wat al vyf jaar by ons is, het vanoggend haar bedanking ingedien. Sy ken glo die … vrou … die ma van daardie kind. En die huishulp het saam met haar geloop. Volgens Rita het sy te kenne gegee dat sy nie meer veilig voel hier nie …” Sy oë rek verdwaas toe die volle implikasie van dié woorde hom vir die eerste keer tref. Hy laat sy kop tussen sy handpalms sak. “Goeie genugtig, Chris!”
Man en vrou se oë ontmoet vlugtig. Vir die eerste keer besef die pastoriepaar ook waarvoor hierdie gesin werklik te staan gekom het. Selfs die lewenservare dominee is op dié oomblik nie gereed met ’n vertroostende woord nie. Daniël kyk op en vir die eerste keer vandat sy hel begin het, is daar ’n blink glinstering in sy ooghoeke. “Ek het dit nie gedoen nie!”
Bets lê haar hand vinnig op sy arm. “Ons weet jy het nie.”
“Ek het dit nié gedoen nie!”
“Ons glo jou, Daniël.”
“Ek sweer voor God ek weet niks van hierdie hele ding af nie!”
“God weet dit ook. Bedaar, Daniël.”
“Maar my vrou glo dit!”
“Dis nie waar nie! Sy is al amper vyf en twintig jaar lank jou vrou en sy weet jy sal nie so iets doen nie. Sy glo dit nie, Daniël! Dis … skok … dis ’n natuurlike reaksie wat nou intree ná die skok. Jy mag dit nie ter harte neem nie. Jy kan tog verstaan dat dit vir haar ’n geweldige skok moet wees.”
“Ek weet nie, Bets. Dinge lyk … nie goed nie.” Hy ontmoet die ander man se oë moedig. “Het Jan julle alles vertel?”
“Ja. Maar ek gee jou die versekering dat selfs dít ons nie aan jou onskuld sal laat twyfel nie.”