Dit gaan nie goed met die hofsaak nie. Haar pa het haar en Johan natuurlik verbied om hul voete by die hof te sit, maar die koerante lewer daagliks verslag van wat daar aangaan. Wat dit vir haar erger maak, is dat Jan saam met ’n studentegroep na Malawi is. Sy het sy morele bystand so nodig … Toe hy aanbied om iemand anders in sy plek te laat gaan, was dit egter sý wat glad nie daarvan wou hoor nie. Dis beter as sy en die predikant se seun mekaar in hierdie tyd nie sien nie, het sy besluit. Maar dis nie maklik nie, en die beklemmende onsekerheid word elke dag erger …
Hoe die arme Johan deur sy eksamens kom, weet sy nie. Sy doen haar bes om hom te help, maar sy weet dat haar jong broer ook deur ’n bitter tyd gaan. Die doodskoot vir hom was die feit dat hy nie eens genomineer is vir die nuwe leerlingraad nie. En almal het ’n paar maande gelede nog verwag dat hy die skool se volgende hoofseun sou wees … Daardie aand het Maryke haar broer vir die eerste keer volwasse trane sien huil. Sy kon niks anders doen nie as om maar net saam te huil.
Delia het ’n vreemdeling by die Pohl-huis geword, hoewel Maryke weet dat sy hul ma een of twee keer by die Malans besoek het. Maar haar voete was nog nooit weer oor haar ouerhuis se drumpel nie. Sonder dat daar ooit daarna verwys word, weet Maryke dat dit een van die dinge is wat diep, diep spore in haar pa se hart trap.
Hy het haar nie vertel van daardie een besoek van sy oudste nie. Ook hy het ’n vreemdeling geword – ’n stil, ingetoë vreemdeling met ’n sluier voor sy oë.
Dit het deel van Daniël se daaglikse roetine geword om ure lank met ’n uitdrukkinglose gesig en starende oë agter ’n toe kantoordeur te sit en tob. Een oggend het die deur skielik oopgegaan sonder dat iemand eers geklop het. Hy het nie dadelik opgekyk nie. Dit kan nie ’n probleem met ’n kliënt wees nie, het hy geweet. Want Daniël Pohl Beperk is nie meer ’n gesonde onderneming nie. Die finansiële klimaat het niks daarmee te doen nie, het hy ook geweet. Die mense het begin om straf uit te deel.
Daniël Pohl se sake word geboikot.
Die besef dat die sakeonderneming wat hy vanaf die grond opgebou het en wat sy groot trots was, besig is om tot niet te gaan, was ook een van die diep wonde wat nie wou ophou bloei nie. Hy besef lankal dat hy dit moet verkoop – nie net omdat mense hom nie meer ondersteun nie, maar ook omdat die koste verbonde aan die hofsaak hom daartoe dwing. Maar sy hart wil dit nie aanvaar nie, klou vas aan iets wat deel is van sy trots en selfbeeld.
Toe hy uiteindelik opkyk en sy dogter voor hom sien staan, was daar geen vreugde in sy oë nie. Anders as gewoonlik, het hy nie in blydskap opgespring en haar teen hom vasgedruk nie. Hy het net stil na haar gesit en kyk, opgemerk hoe die oë van hom wegskram … en die pyn binnekant hom was oorweldigend.
Op haar beurt het Daniël Pohl se eersteling ook net woordeloos staan en kyk na die man wat drie en twintig jaar lank al haar pa is, en so ongelooflik verander het. Sy het met ’n skok besef hoe vinnig hy verouder het, erger nog as haar ma.
“Môre, Pa.”
“Môre, Delia.”
Hy het haar nie gevra om te sit nie, gewéét sy wil nie sit nie. Stilswyend het hy gewag om te hoor wat die doel van hierdie besoek in weke aan haar pa was – min wetend dat sy self daaroor gestaan en wonder het. Toe sy teen haar beterwete en planne vir die dag hier kom stilhou het ná haar besoek aan haar ma, het sy gedink sy weet waarom. Êrens het daar tog iets geknaag. Daniël Pohl is en bly haar pa. Dié feit kan nie betwis word nie. Sy kan darem nie heeltemal van die toneel verdwyn nie. Maar sy het ’n paar goeie verskonings om aan te voer. Dis wat sy eintlik wou kom doen. Verskonings aanvoer hoekom haar pa sonder sy oudste se liefde en bystand in hierdie krisis moet klaarkom. Sy het hom nog altyd as ’n redelike mens geken. Hy sal met haar saamstem dat haar optrede die beste is.
Maar nou lê al hierdie verskonings soos swaar klippe binne-in haar – en sy kry dit nie met haar tong uitgerol nie. Die swaar skuldgevoel laat die woede in haar opvlam. Sy het nie nodig om verskonings aan te voer nie! Dis hy wat skuldig is! Dis hy wat sy dogter ’n verskoning vir sy gedrag skuld, nie sy vir hóm nie!
“Hoekom het Pa dit gedoen?”
Toe hy haar steeds net stom aankyk, knak Delia se selfbeheersing. “Hoekom? Hoekom tog? Het Pa dan nie één keer aan Ma gedink nie, aan ons … die kinders … en wat van Pa se kleinkind? Besef Pa dat klein Gerhardt sy lewe lank ook Pa se smet sal dra? En besef Pa wat Pa aan my huwelik gedoen het? Ek word nou soos drek deur my skoonfamilie behandel. En my man draai weg van my as ek hom aanraak! Jy het my huwelik vernietig! Jy het my kind se toekoms vernietig! Hoekom? Hóékom?”
Daar is geen antwoord op sulke beskuldigings nie, daarom het hy maar net stom na haar bly staar … êrens binne-in hom ’n deur voel toeklap.
“Ek sal Pa nooit hiervoor vergewe nie! Nooit nie! Nóóit nie! Nóóit nie!”
Sy het snikkend die kantoor uitgehardloop, verby die geskokte werknemers voor wie sy netnou so trots verbygeloop het. Die roomkleurige Jaguar het met skreeuende bande weggetrek.
Daniël Pohl het soos ’n slaapwandelaar in sy kantoordeur gaan staan.
“Roep almal bymekaar, asseblief, Neels. Almal.” Die oomblik van waarheid kon nie langer uitgestel word nie …
’n Rukkie later het hy weer voor hulle gestaan. “Is almal hier?”
“Ja, meneer. Net James is uit met die vragmotor.”
Toe het Daniël Pohl sy personeel ingelig dat Daniël Pohl Beperk verkoop gaan word. Hy waarsku hulle betyds sodat hulle ander werk kan soek. Miskien sal die nuwe eienaar hulle in diens neem. Enigeen wat ’n getuigskrif wil hê, is welkom om te vra. Hy sal dit gee in soverre ’n getuigskrif van Daniël Pohl nog enige waarde het. Toe het hy na agter gestap waar ’n groot vragmotor ingetrek het, en na die man wat uitklim, geloop.
“James …”
“Meneer?”
“Ek het pas vir die ander gesê ek gaan die onderneming verkoop. Dit help nie om daarmee aan te gaan nie.”
Die swart man se blik het geval. Ja, hy weet. Daniël Pohl Beperk kry geen ondersteuning meer nie.
“Jy moet vir jou ander werk soek. Ek sal vir jou ’n baie goeie getuigskrif gee.”
Die donker oë het gelig. Skielik het die professionele verhouding tussen hulle weggeval. Dis twee mans wat jare lank saamgestap het wat teenoor mekaar staan.
“Wat gaan van jou word?”
“Ek weet nie, James. Ek weet regtig nie. Dis byna seker dat ek tronk toe sal gaan. Maar al gaan ek ook nie … Ek kan nie langer met die onderneming aangaan nie.”
Die kommer en teleurstelling is duidelik in die oë te lees.
“Dankie, James, vir hierdie mooi jare wat verby is. Ek waardeer dit, sal altyd daarna terugverlang. Jy was ’n goeie werknemer … ’n ewe goeie vriend. Dankie.”
’n Hand het skielik op sy skouer gerus, die donker oë het ’n taal gepraat wat soos balsem oor die rou wonde gevloei het. “Jy moenie dat hulle jou onderkry nie. Jy moet sterk wees. En James is daar as jy hom nodig het.”
Daniël het die trane vergeefs probeer wegknip toe hy omdraai en wegstap. Een ding het hy geweet: In hierdie hele stad, onder al sy talle kennisse en vriende, selfs sy gesin, is James die één persoon na wie hy hom met vrymoedigheid sal kan wend as hy hulp en bystand nodig kry.
Maar nie James of selfs die beroemde advokaat Con Conradie kan Daniël veel help nie. Nie dat die advokaat nie alles in die stryd gewerp het nie, want met verloop van tyd het hy besef dat hy sy allerbeste sal moet gee om net ’n aanvaarbare vonnis vir sy kliënt te kry. Van loskom was daar geen sprake nie.
Die enigste versagting wat teen die end sal help om lewenslank af te weer, is die feit dat die misdaad nie met voorbedagte rade gepleeg is nie. Die voorstel aan die vrou én die noodlottige