Marlene is onverhoeds betrap en kyk die goedige vroutjie vraend aan.
Sy verduidelik met jammerte in haar oë: “Ek bedoel, is Tinkie se pa kort gelede oorlede?”
Sy sit verslae en vertoon meteens bleek. Sy sien nie kans om hierdie dierbare oumens te belieg nie. Rondekuil het sommer vanselfsprekend aanvaar dat Tinkie se pa oorlede is. Maar goedsmoeds ’n leuen vertel, kan sy nie.
Dis Ben wat haar tot hulp kom. “Dis nie so lank gelede nie, tante.” Hy span sy arms versigtig om Tinkie en staan op. “Ek dink dis huistoegaantyd.” Hy kyk vraend na Marlene. “As jy wil saamry, kan ons Hennie die rit in dorp toe spaar.”
Sy aarsel en Hennie toon duidelik dat hy glad nie omgee vir ’n rit dorp toe nie. Maar Ben gee hulle nie juis kans nie, want hy begin sommer met Tinkie aanstap na sy motor.
“Dis geen moeite om julle terug te neem nie, Marlene. Ek het julle gebring en natuurlik neem ek julle terug.”
“Dit sal eintlik ’n bietjie verspot wees, aangesien ek tog moet teruggaan,” laat Ben oor sy skouer hoor en Marlene besef daar is klaar vir haar besluit. Dit gaan dalk snaaks lyk as sy daarop aandring dat Hennie hulle moet terugneem.
“Dit is al laat, Hennie. Terwyl dokter Roux tog moet inry …”
Hennie kapituleer ontevrede. Hy het nog nie ’n oomblik alleen met haar gehad nie. Hoekom moes Ben juis vanaand kom kuier het? “Nou goed dan, maar ons sien mekaar weer. Werk jy oor die naweek?”
“Net as daar noodgevalle kom.”
“Goed. Dan sien ons mekaar. Ek sal jou bel. Baie dankie vir hierdie aand, Marlene. Dit was wonderlik om jou en Tinkie hier te hê.”
Sy glimlag na hom. “Dis ek wat moet dankie sê, Hennie. Ook aan oom en tante. Dit was heerlik om hier te wees.”
“Dit was ons plesier, kind. Jy ken nou die pad Tabaksfontein toe. Kom kuier vir ons net wanneer jy daarna voel. Julle is altyd baie welkom,” laat oom Jors gul hoor.
By die motor lê Ben Tinkie gemaklik op die agterste sitplek neer en skuif dan agter die stuurwiel in. Hennie buk af en loer by die ruit in.
“O ja, Ben, ek wou jou nog sê. Josephine het laat weet dat sy kom kuier. Sy stuur baie groete.” Dan verduidelikend aan Marlene: “Dis my niggie. Sy kom nou en dan hier kuier en sy is die enigste meisie wat ou Ben al ’n bietjie uit sy dop kon kry.”
Ben se antwoord is om die enjin aan te skakel en ná ’n kort groet weg te trek. Marlene sit doodstil, en meteens het die aand wat vir haar so besonders was, al sy glans verloor. Die feit dat Ben geen spesiale vriendin op Rondekuil het nie, beteken geensins dat hy glád nie ’n vriendin het nie. Die feit dat dié Josephine via Hennie vir hom laat weet dat sy kom kuier, verraai nie juis ’n te hegte vriendskap nie. Tog, as sy die enigste meisie is wat Ben laat ontdooi, sê dit baie, want Ben Roux is nie ’n man wat maklik uit sy dop kruip nie. Dit weet sy ook goed.
Dis baie stil in die motor, en sy probeer nie eens om iets te sê nie. Ná ’n rukkie waag sy dit om na sy profiel te kyk en binne-in haar trek dit weer saam. Ben … Hoe dikwels het sy in die verlede sy gesig gestreel, sy kop innig tussen haar hande vasgehou. Hoeveel keer het daardie lippe hare nie in hartstog opgeëis nie … het sy in daardie arms gelê, gekoester in sy liefde en tot heerlike passie gevoer deur sy liefkosings …
Toe die hospitaal en verpleegsterstehuis voor hulle opdoem, is sy dankbaar. Dit was wonderlik om weer so intiem saam met hom te wees, maar dis beter as dit nie herhaal word nie. Dit bring net pyn mee – die pyn van “te laat”.
“Ek sal haar inbring.” Hy tel Tinkie op en dra haar na die slaapkamer waar hy haar op die tweede bed neerlê.
Dan strek hy orent, kyk vlugtig om hom rond. Sy was al die jare aan soveel weelde gewoond. Pas sy nou werklik aan by die lewe van die gewone, werkende mens?
“Dankie, dokter.”
Hy knik net en sy wag. Hoekom loop hy nie? “Marlene …”
“Ja?”
“Hoekom is jy bang om in my oë te kyk?”
Sy lig haar kop. “Hoekom sou ek bang wees?”
Weer haak hul oë vas. En dan, meteens, het hy haar teen hom vasgedruk, voel sy die forsheid van sy liggaam teen hare, voel sy die ou bekende arms om haar knel en dis háár Ben se lippe wat hard en eisend oor hare sluit. Soos van ouds sirkel haar arms om sy nek, knel haar vingerpunte teen sy agterkop, raak sy weg in sy omhelsing, sag en weerloos en volkome vrou.
Net so skielik is haar lippe weer vry, voel sy sy hygende mond teen haar oor en hoor sy hom skor fluister: “Nie weer nie … Nooit weer nie!”
Dan is hy by die deur uit, hoor sy haar voordeur toegaan, hoe sy motor wegtrek.
Lank staan sy so roerloos, haar gekneusde lippe bewend, die groot blou oë droog en dood. Die lewe sterf weer weg uit haar hart, laat dit koud en sonder gevoel. Hy is weg met ’n eed op sy lippe: “Nooit weer nie!”
Sy sak op die bed neer, druk haar gesig in die kussing vas, wag dat die laaste bietjie hoop in haar moet sterf. Maar in die plek daarvan kom dié besef: Ben Roux het nog dieselfde mag oor haar as jare gelede – in sy arms, onder sy lippe, ervaar sy die ekstase waarna sy tevergeefs in Herman Henning se aanraking gesoek het …
6
“Suster! Gee aandag, asseblief!”
Sy skrik merkbaar en die blou oë bo die masker lyk ’n oomblik lank totaal verward. Vlugtig gaan haar blik na die operasietafel, besef sy onmiddellik haar flater, en oorhandig dan die regte instrument.
“Ek is jammer,” prewel sy gedemp.
Net ’n sekonde rus die skerp oë op haar. “Ek is net so jammer dat die nuwe besem nie bly skoon vee nie!”
’n Gespanne atmosfeer heers in die teater en almal wonder heimlik wat aan die gang is. Die bekwame teatersuster lyk nie so kalm soos altyd nie.
Almal praat later oor die groot glips wat sy gemaak het deur ’n verkeerde instrument aan te gee. Dokter Ben lyk so beduiweld soos wat hulle hom lanklaas gesien het. Dat daardie twee vanoggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan het, is seker.
Marlene sug dankbaar toe die laaste operasietrollie die teater verlaat. Dis verby! En sy hoop sy sien daardie buffel vir die res van die dag nie weer nie!
Hoe durf hy haar só verneder voor die hele personeel? Is daar dan geen speling vir menslike tekortkominge in sy samestelling nie? Dis omdat hy ’n robot – ’n koue, gevoellose masjien – geword het dat hy geen foute in ander kan duld nie. Wat het haar gisteraand vir een oomblik laat dink dat sy hierdie man wil terughê? Wat het haar besiel om so weg te raak in sy omhelsing en haar te verbeel dat sy lippe ekstase in haar optower?
Maar diep in haar hart weet sy dat dit nie verbeelding was nie. Sy was gisteraand vir die eerste keer sedert Ben Roux uit haar lewe gestap het, weer volkome vrou. Daarom kon sy vanoggend net nie haar volle aandag aan die operasie wy nie. Sy het na sy hande gekyk, en weer ’n tinteling deur haar voel gaan by die gedagte dat daardie hande haar ’n paar uur gelede vasgehou het, byna wreed oor haar rug gestroop en haar toe pynlik teen hom vasgedruk het. Hierdie arms wat so digby haar beweeg, was gisteraand om haar …
Sou hy geraai het wat in haar gedagtes omgegaan het? wonder sy blosend. Wat dink hy werklik ná gisteraand van haar? Eers het hy gedink sy is verwen tot in die aarde, selfsugtig tot op die been. En nou? Dink hy nie nou dat sy nog by alles ook goedkoop geraak het nie?
In die dae wat volg, probeer sy haar bes om haar professionele waardigheid te herwin deur kalm te bly in sy teenwoordigheid. Sy is nie bewus daarvan dat sy só hard probeer dat sy kortaf en selfs vyandig klink nie. As die chirurg se blik dan skerp en ontevrede op haar rus, gee sy hom ’n uitdagende, kil kyk. Dis byna asof hulle nou openlik vyande geword het, en dit selfs moeilik vind om net beleef