Hierdie keer is dit Ben Roux se oë wat spottend oor die teekoppie se rand na haar kyk. “’n Spesiale liefde vir die teater … suster?”
“Ja. Nogal,” is die ongestoorde antwoord.
Piet Venter glimlag haar breed toe. “Wel, suster, jy sal nie glo hoe bly en verlig ons almal voel nie. Ons was skoon op ons senuwees toe suster Eloff bedank. Dokter Ben is ’n man wat baie hoë eise stel, maar ná vanoggend kan ek nou weer snags gerus slaap!”
Die blou oë bly bedaard. “Ek is reeds bewus daarvan dat dokter Roux baie hoë eise stel, dokter Venter. Ek hoop maar net dat die toekoms sal bewys dat ek wel aan sy eise sal kan voldoen. Dankie vir die tee, matrone. As u my sal verskoon …”
Maar haar selfversekerdheid is net ’n masker waarin sy haar klee soos wat sy haar uniform aantrek. Hier diep in haar roer die onrus terwyl sy werktuiglik voortgaan om die teater weer in orde te kry, die operasielys vir die volgende dag en elke instrument noukeurig na te gaan. “Die lewe het my geleer om niemand te vertrou nie,” het sy hom hoor sê. Is dit moontlik dat Ben Roux vir altyd buite haar bereik is? Wil sy hierdie man wat geen vertroue in sy medemens, en veral in ’n vrou, het nie, hierdie man met die stroewe, strak gesig, met die skerp, koue, agterdogtige oë, die verbete mond, die vreemde grys langs sy slape … wil sy hom terughê? Het sy hom nog lief, só lief dat dit die moeite werd is om haar aan verdere seer en selfs vernedering bloot te stel deur op Rondekuil aan te bly, daagliks saam met hom te werk, die veroordeling en verbittering in hom jeens haar te verdra?
Waar Ben van die hospitaal af wegry, is ook sý oë somber. Dan verskyn daar ’n gestaltetjie in sy gesigsveld toe hy die draai by die verpleegsterstehuis vat en ’n handjie word vrolik na hom gewaai.
“Tata, oom dokter Ben!”
Voordat hy dit besef, het hy reeds teruggewaai, het daar vir ’n vlugtige oomblik ’n versagting op sy gesig gekom. Maar dan verdwyn die gemoedelikheid en sy gesig word net nog meer ongenaakbaar. So gou … só gou het sy vergeet … En hy … vyf jaar lank al probeer hý vergeet …
5
In die dae wat volg, kom niemand agter dat daar ’n spanning tussen die chirurg en sy teatersuster is nie. Weliswaar is dokter Ben uitermate noulettend, en het niks meer as professionele dialoog met sy teatersuster te wissel nie, maar die nuwe suster se kalme gang, haar ongeërgdheid teenoor die gevreesde dokter Ben se knorrigheid, bring mee dat alles rustig daaraan toe gaan.
Die onderstrominge wat daar is, is net tussen hulle twee. Sedert die dag in die skropkamer toe sy hom en sy nuuskierigheid goed op hul plek gesit het, het hy nie weer probeer delf nie.
Dat sy blik wel soms op haar rus wanneer sy nie kyk nie, weet sy, maar sy laat niks blyk nie. Hoe Ben Roux ook al verander het, kom Marlene agter dat hy, ondanks sy ongeërgde, afsydige houding, tog nuuskierig is, tog wonder …
Maar voorlopig pas dit haar. Eers moet sy haar teenoor hom bewys, hom oortuig dat die ou Marlene van wie hy weggevlug het, nie meer bestaan nie. Eers daarna, wanneer hy hierdie nuwe vrou aanvaar en, as so ’n wonderwerk ooit sal gebeur, weer leer vertrou het, sal sy sy nuuskierigheid bevredig.
Sy weet dat hy brand om te weet hoekom sy na Rondekuil gekom het. Hoekom sy juis hiér, waar hy is, ’n betrekking aanvaar het. En omdat die tyd beslis nie nou ryp is om daardie vraag te beantwoord nie, het sy geen ander keuse as om hom op ’n afstand te hou nie.
Daardie eerste nag ná haar herontmoeting met Ben het sy slapeloos lê en rondrol. Die emosies wat in haar was, kon sy nie peil nie. Was dit liefde vir Ben wat die pyn in haar laat klop het? Sy het sy beeld, die ou beeld van jare gelede, probeer oproep, maar die beeld wat deur die jare so helder in haar bly lewe het, het meteens vervaag by die herontmoeting. Die nuwe, vreemde Ben het daardie Ben verdring.
Sy het die verlede naarstiglik probeer terugroep, maar dit was asof sy ’n totale vreemdeling met hierdie nuwe man wou assosieer. Sy het na Rondekuil gekom om háár Ben terug te vind, háár Ben wat ten spyte van soveel rusie en misverstand, so teer en liefdevol, so hartstogtelik teenoor haar kon wees. Maar sy het ’n totale vreemdeling in sy plek aangetref. Sy kan geen teerheid, of selfs hartstog, assosieer met die man wat sy vandag ontmoet het nie. Dis of daar ’n klipharde kors om hom is.
Ten spyte van die vorige slapelose nag, kon ook Ben nie aan die slaap raak nie. Wat het sy hier kom soek? Hoekom juis Rondekuil? Nog steeds bly dit vir hom ongelooflik dat sy nou ’n gekwalifiseerde verpleegster is, ten spyte daarvan dat hy vandag saam met haar gewerk en self gesien het hoe bekwaam sy is. Maar … Marlene ’n verpleegster! Ná matriek het sy in geen beroep belanggestel nie. Sy was net ’n verwende rykmansdogter en dis al. En as sy haar dan vir ’n beroep wou bekwaam – om watter rede kan hy nie dink nie – hoekom dan juis so ’n veeleisende beroep kies? En tog, hoe sy streng oog ook al gesoek het, kon hy niks vind waaroor hy kon kla nie. Sy is, om heeltemal eerlik te wees, ’n teatersuster so na sy hart!
Ook die dae wat hierop volg, bevestig dat hy hom onnodig verknies het oor suster Eloff se vertrek. Hy het waarlik ’n bekwamer teatersuster in haar plek gekry. Waar suster Eloff elke bevel soos ’n masjien uitgevoer het, toon sy nuwe teatersuster dat sy ook vir haarself kan dink. Soos daardie eerste dag toe hy, ontwrig en ontsteld in sy gemoed, die verkeerde instrument geroep en sy sonder aarseling die regte een in sy hand geplaas het.
Maar dat dit Marlene is wat nou saam met hom werk, wat nou daagliks die regte instrument in sy hand plaas … Dis of sy verstand gewoon net weier om hierdie feit te aanvaar. Marlene wat nooit tyd vir ander mense gehad het nie, wat altyd weggevlug het uit ’n siekekamer, wat naar geword het as sy bloed sien, wat kwaad geword het as hy haar nie na dinees kon vergesel nie … wat gelewe het vir die stad en sy vermaak en geweier het om, selfs ten koste van hul huwelik, ’n tree daaruit pad te gee om hom na Rondekuil te vergesel … Dis nou sý wat saam met hom werk!
Maar sy het nie alleen gekom nie … Wanneer die sirkelgang van sy gedagtes by hierdie feit kom, is dit asof hy ’n skalpel in sy eie hart druk. Sy het nie alleen gekom nie. Sy het haar kind saamgebring, hare en die ander Roux s’n … Dié man wat haar so gou en so maklik laat vergeet het – wat blykbaar so sonder slag of stoot sý plek in haar lewe en in haar hart ingeneem het.
Maar hoekom dan na Rondekuil kom? Hier begin en eindig sy gedagtes, die sirkel voltooi. Wat het sy hier kom maak?
Soos die dae verbygaan, tel Marlene hier en daar brokkies en stukkies oor Ben se lewe op, genoeg om haar te laat besef dat, indien sy werklik vir Ben Roux wil terugwin, daar ’n harder stryd vir haar voorlê as wat sy tot dusver gedink het. Hulle vertel haar hoe die hubare dames van Rondekuil hul uiterste bes gedoen het om Ben van sy vrygesellewe te verlos, en hoe hy hardkoppig deur die jare teengeskop en elke keer as oorwinnaar uit die stryd getree het. Almal dink dit is omdat hy nie sy eerste vrou kan vergeet nie. Maar sy weet van beter.
Dis die gedagte aan háár wat hom elke keer die oorwinning besorg het. Dit was sy verbittering en geskokte vertroue in haar – en deur haar in haar hele geslag – wat hom die strikke van die dames van Rondekuil laat vryspring het. Dit was nie liefdevolle herinnering wat hom van ’n ander vrou weggehou het nie, maar verbittering.
Ná ’n week op Rondekuil besef Marlene dat sy ’n gek was, dat sy al die jare ’n droom nagejaag het. Want dié Ben wat sy onthou en na wie sy teruggekom het, was iemand wat kon vergewe, wat nie sou toelaat dat verbittering hom oorrompel nie, wat groot genoeg sou wees om die verlede agter te laat en weer met vertroue ’n nuwe toekoms vir hulle en hul kind te skep. Maar soos haar pa heimlik gevrees het, lyk die werklikheid soveel anders.
Sy het nooit ’n vaste voorstelling in haar gedagtes gehad van wat presies sou gebeur nadat sy op Rondekuil aangekom het nie. Vaagweg het sy egter ’n prentjie van begrip, van nuwe waardes en herwaardering van mekaar gehad. As Ben net eers die nuwe, volwasse Marlene gesien en leer ken het, sou die verlede met sy teleurstelling wegval en sou hulle tot ’n nuwe ontdekking van mekaar kom.
Maar só maklik sal dit nie gaan nie, besef Marlene teen die einde van