Hy knik net sy kop, knel sy hande voor hom saam. “Sy slaap nou. Bel my as dit nodig is, maar ek dink sy sal nou deurslaap.” Hy staan op, kyk op haar af. “Goeienag.”
“Nag, Ben en … dankie. Baie dankie,” sê sy, haar oë vol dankbare trane.
Hy knik net, sê by die deur: “Jy het soos altyd vanaand pragtig gelyk, al is die rok op Rondekuil gekoop. Nag, Marlene. Slaap gerus.”
Sy hoor die woonsteldeur saggies agter hom toegaan en dan druk sy haar gesig in die kussing en huil asof haar hart wil breek.
7
Soos Ben voorspel het, is die koors die volgende oggend gebreek en is Tinkie heelwat beter. Marlene is egter dankbaar dat dit Sondag is, sodat sy haar veiligheidshalwe nog ’n dag in die bed kan hou.
Toe Ben, vergesel van Hennie en Josephine, die oggend ná kerk by haar woonstel instap, moet sy haarself ernstig betig oor die spontane gevoel van teleurstelling omdat hy nie alleen gekom het nie.
Regtig, ek is erger as ’n bakvissie, gesels sy kwaai met haarself en beantwoord sy vraag half stug.
“Nee, sy het toe die res van die nag baie rustig geslaap. Sy is sommer baie beter, maar ek dink ek sal haar maar vandag nog in die bed hou.”
“Miskien sal dit beter wees, ja.”
Hennie lyk teleurgesteld. “Ons het gedink jy en die kleintjie kan saam plaas toe kom. Ons gaan almal vandag daar eet.”
Maar Marlene skud haar kop beslis, heimlik dankbaar dat dit nie moontlik sal wees nie. “Dankie, Hennie, maar ek dink ons bly maar vandag tuis. Baie dankie vir die uitnodiging, in elk geval. Sê groete op die plaas.”
Die dag strek leeg voor haar uit, hoewel sy haar bes doen om opgewek voor te kom en vrolik met Tinkie te speel. Sy wonder hoe lank Josephine gaan kuier …
Toe daar laat die middag ’n ligte klop aan haar woonsteldeur opklink, begin haar hart opgewonde bons. Op pad voordeur toe moet sy haarself weer vermaan. Hoekom sal hy so vroeg terugkom net om te hoor hoe dit met Tinkie gaan? Hy het mos vanoggend gesien sy is so te sê gesond. Natuurlik is dit seker maar een van die susters.
Sy kan die man voor haar net aanstaar, sodat Herman Henning se glimlag verdwyn en hy liggies begin frons. Hy kon sweer hy het teleurstelling in haar oë gelees.
“Is ek ontydig of glad nie welkom nie?”
“Herman! My aarde, Herman!” Sy tree spontaan vorentoe en hy neem haar in ’n stewige omhelsing.
“Ek het die indruk gekry ek is nie welkom nie.”
Sy skud haar kop en druk haar gesig teen sy bors vas sodat hy nie die skuld in haar oë kan lees nie. Agter sy nek strengel haar vingers saam en die man wat om die hoek kom, verstil in sy spore.
“Natuurlik is ek bly om jou te sien! Hoe kan jy nog vra! Maar dis so onverwags!”
“Ja, ek het besluit om jou te kom verras. Ek verlang so verskriklik na jou, Marlene, en … jou briefies is so niksseggend. Ek het besluit om self te kom kyk wat hier aangaan. Mis jy my ook?”
“Natuurlik. Maar kom binne. Tinkie sal vreeslik bly wees om jou te sien. Sy is vandag in die bed, was gisteraand ’n bietjie koorsig …”
Die deur gaan agter hulle toe en Ben draai in sy spore om. Sy oë rus op die registrasienommer van die vreemde motor wat voor die verpleegsterstehuis geparkeer staan. Dan stap hy na sy eie motor en trek baie bedaard weg.
Tinkie is bly om oom Herman weer te sien, maar haar aandag is verdeeld. Sy kry eers vandag kans om met haar nuwe pop te speel en sy wens stilletjies dat oom Herman liewer môre gekom het. Sy is nog glad nie uitgespeel nie. “Ek was siek,” kondig sy aan en hou haar pop omhoog. “Oom dokter Ben het haar vir my gegee, kyk!”
“Dis ’n baie mooi pop,” speel hy saam, maar sy oë gaan dadelik na Marlene. “Hoe gaan dit hier met … die ander mense?”
“O, goed, heeltemal goed. Ek werk lekker, vind dit baie stimulerend.”
“Dis nie wat ek bedoel het nie en jy weet dit.”
Haar oë huiwer voor syne. Dan sug sy saggies. Herman moes nie so gou al gekom het nie … “Ja, ek weet, maar ons praat liewer later daaroor. Hoe gaan dit tuis?”
“Goed. Hulle verlang natuurlik ook baie, nes ek. Het baie groete en liefde laat weet.”
“Dankie.” Dis stil, en Marlene wonder wat haar makeer. Dis of sy niks het om oor te gesels nie. “Kan ek vir jou iets te drinke kry? Wanneer het jy gekom?”
“Nou net. Ek het gedink ek sal maar eers hier stilhou en hoor … ek bedoel, uitvind of ek ’n paar dae kan bly.”
“Het jy verlof geneem?”
“Ja. So vier dae.”
“O, maar dis gaaf, Herman!”
“Is dit, Marlene? Is jy seker?”
Sy lag en hoop maar dit klink oortuigend. “Moenie laf wees nie. Natuurlik is dit wonderlik! Ek is net so jammer ek sal deur die dag moet werk.”
“Dit maak nie saak nie.” Hy glimlag, maar dis of dit nie sy oë bereik nie. “’n Koppie koffie sal nou lekker smaak.” Marlene is dankbaar om onder sy speurende oë uit te kom. Terwyl sy koffie maak, sien sy hoe haar hande bewe en sy kan nie begryp wat haar makeer nie. Van wanneer af is sy senuweeagtig in Herman se geselskap? Hy is ’n wonderlike vriend – die enigste wat sy het – en hy was nog altyd baie na aan haar, altyd so simpatiek en begrypend. Hoekom wens sy dat hy liewer nie gekom het nie?
Dis gemeen van haar.
Terwyl Marlene onnodig lank draai in die klein kombuisie, het Tinkie heelwat te vertelle van al die nuwe dinge wat sy al gesien en ervaar het sedert hulle op Rondekuil beland het. “Oom Hennie” en “oom dokter Ben” se name kom dikwels voor en hy luister aandagtig, sy oë peinsend.
“En toe sê hy hy sal vir ons geld leen, maar toe sê ek vir hom Mamma sal nooit dat ons geld by hom vat nie en toe sê hy Mamma is hardgebak …”
“Tinkie!” Marlene kom binne met koffie en sy kyk die kleintjie streng aan, ’n blos op haar wange. “Jy het darem ’n vreeslike los mond! Jy is erger as ’n praatsiek papegaai. Oom Herman wil nie al daardie kaf hoor nie!”
“Inteendeel. Dis nogal … onderhoudend.” Hy neem die koffie by haar. “Dankie. Dit sal lekker smaak. Tuisgebakte beskuit ook!”
“Ouma Tabaksfontein het dit gegee, ’n hele blik vol. Sy stuur altyd vir ons saam met oom Hennie of oom dokter Ben.”
“Tinkie, asseblief. Hou nou ’n slag jou mond en drink jou melk.”
“Hoekom so fyngevoelig, Marlene? Sy gesels maar net, vertel van al die nuwe mense en … vriendskappe wat julle intussen gesluit het.”
Marlene kyk hom half vererg aan. Herman moenie sarkasties raak nie.
“Wat makeer, Marlene? Jy lyk ontsteld. Mag ek nie weet van oom Hennie met die skapies en varkies of van oom dokter Ben wat ’n pop gekoop het nie?”
“O, in hemelsnaam, Herman, moenie jy ook begin nie!” Dan byt sy haar onderlip vinnig vas. “Ek is jammer. Ek het verlede nag sleg geslaap met Tinkie wat nie gesond was nie en … Ag, los dit. Jy lees te veel in Tinkie se gebabbel. Daar is geen danige vriendskappe gesluit nie. Hennie is net ’n gawe jong boer wat ons eendag uitgeneem het plaas toe om vir Tinkie al die diere te gaan wys omdat sy nie sulke goed ken nie. Dis al.”
“En jy sou gisteraand saam met hom gaan dans het as Tinkie nie siek was nie.”
Haar oë gaan beskuldigend na Tinkie wat die twee grootmense geïnteresseerd vanuit die bed dophou. Sy verstaan nie heeltemal nie, maar dit lyk vir haar hier gaan ’n lollery kom. Hoekom is Mamma kwaad omdat sy vir oom Herman vertel het?
“Ja,